Huisgenoot

Pik se kleinseun ’n sakereus in VSA

Oudmin. Pik se kleinseun Roelof beklee ’n toppos in Silicon Valley. Sy familie vertel van die beskeie man wat al op skool uitgeskiet het

- Deur HILDA VAN DYK

DIT klink so vreemd soos ballet op Loftus Versfeld: ’n grootbaas van Silicon Valley, tuiste van onder meer Google, Facebook en Twitter, wat hou van Blou Bul-rugby en om die braaivuur kuier? Wel, ja – as jou naam Roelof Botha jr. is.

Dié kleinseun van die oudministe­r van buitelands­e sake Pik Botha is onlangs as hoof van die waagkapita­almaatskap­py Sequoia Capital se Amerikaans­e operasies aangestel. Sequoia het tegno-reuse soos Apple, Cisco Systems en Yahoo! op die been gebring.

Volgens die gesaghebbe­nde saketydskr­if Forbes is Roelof een van die top-50waagkapi­taalondern­emers in die wêreld van kommunikas­ietegnolog­ie.

Maar anders as van die ander skatryk en soms eksentriek­e prinse van Silicon Valley is die 43-jarige Roelof jr. se voete plat op die aarde, vertel sy familie. Hy is ’n gesinsman wat in harde werk glo. “Ek werk dag en nag; ek het bloot nie tyd nie,” het hy verskoning gemaak toe ons hom vir ’n persoonlik­e onderhoud nader. En sy ma, die Kaapse kunstenaar Helena Scheibe, bevestig: “Hy beskou homself net as ’n gewone werker. Hy is ’n harde werker en dis hoekom deure vir hom oopgaan.”

Maar hy’t altyd geweet hy wil eendag bo uitkom, vertel sy oupa aan sy ma se kant, Mike van Deventer. “As klein seuntjie het hy op ’n dag laat hoor hy wil eendag baie geld verdien, ‘sommer baie meer as oupa Pik (Botha)’.”

En kyk jy na Roelof jr. se Facebookpr­ofiel, sien jy die sporte van die leer na sukses wat hy geklim het: ’n Lys van topposte by van Amerika se grootste maatskappy­e: PayPal, WhatsApp, YouTube . . . Tans dien hy in die raad van direkteurs van minstens ses maatskappy­e, onder meer die sosiale platform Tumblr. Hy was ook instrument­eel daarin om die soekenjin-reus Google te oortuig om YouTube vir R11 biljoen te koop.

“Hy het nog altyd die vermoë gehad om te sien wanneer deure sal oopgaan,” vertel sy ma. En dit het.

TOE hy aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in die Kaap was, het Roelof jr. die slagspreuk “Second sucks” by sy lessenaar opgeplak. So vertel sy pa, die Pretoriase ekonoom Roelof Botha sr. “Hy wou die beste wees in alles; sport en akademie. Hy is baie mededingen­d.”

En hy was van kleins af honger vir kennis, vertel Roelof sr. Oral waarheen hy saam met sy pa gegaan het, het hy intellektu­ele gesprekke met mense aangeknoop, ook met volwassene­s.

Roelof jr. se oupa Mike vertel hy kon al lees voor hy met laerskool begin het. Hy onthou die keer toe sy kleinseun saam met hom en sy vrou, Hannetjie, na Namibië gery het.

“Ons ken mos nie die plek nie. Soos ons ry, sit my vrou met die kaart en bekyk dit so. In ’n stadium sien Roelfie sy ouma sukkel. Hy sê toe vir haar: ‘Ouma, gee die kaart vir my.’ Toe vertel hy my presies hoe ons moet ry en hoeveel kilometer dit gaan wees.”

Roelof jr. het skaars begin skoolgaan toe sy ouers gemoedelik uitmekaar is. As enigste kind het hy saam met sy ma na Houtbaai getrek, maar steeds gereeld by sy pa en oupas Mike en Pik in Pretoria gaan kuier.

Albei sy ouers het weer getrou en kinders gehad. Volgens pa Roelof was Roelof jr. ’n uitstekend­e oppasser vir sy jonger halfbroers, Dawid en Frederik Botha en Michael Scheibe. “Hy was van kleins af baie verantwoor­delik. Ek kan nie onthou dat ek ooit met hom geraas het nie. As jy

vir hom gesê het wat die reël is, het hy daarby gehou.”

En Helena vertel op skool was dit vir Roelof “maklik om goeie punte te kry”. By die Laerskool Kronendal in Houtbaai is hy destyds van gr. 5 (toe st. 3) direk na gr. 7 (st. 5) bevorder.

En Jeanne Rankin, Roelof se Engelsonde­rwyseres aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, vertel hy was daar ewe intelligen­t en fluks. “Sy bydrae in die klas was altyd baie meer as wat ’n mens sou verwag. Hy het Latyn geneem en ek dink dit het hom baie gehelp in sy analitiese en laterale denke. Roelof was verbaal briljant, sowel as in wiskunde.”

Roelof sr., wat op sy dag vir die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria se tweede span skaak gespeel het, vertel hy het sy seun dié spel geleer. “Toe hy in gr. 8 kom, het hy my die eerste keer in skaak geklop. Hy het my verpletter. Toe weet ek hy verstaan wiskunde. Ek het nooit weer teen hom skaak gespeel nie.”

Dis g’n wonder hy was die beste matrikulan­t in die Wes-Kaap nie. En sy B.Sc.graad en honneursgr­aad in aktuariële wetenskap aan die Universite­it van Kaapstad het hy albei met lof geslaag. Op 22 was hy destyds die jongste gesertifis­eerde aktuaris in die wêreld.

As student het Roelof jr. by sy oupa Pik, toe nog kabinetsmi­nister, in sy Kaapse ampswoning, Newlands House, gewoon. Dan sou hulle tot laatnag oor “diep dinge” praat, vertel Pik. “Roelfie was altyd op soek na ’n antwoord.”

En toe Pik se vrou, Helena, oorlede is, het Roelof jr. hom bygestaan. “Roelof het Helena se een hand vasgehou en ek die ander . . . hy was my rots,” vertel Pik.

Maar Roelof jr. se kop het altyd buiteland toe gestaan.

“In die middel 1990’s, toe die internet gedy het, het ek ’n gevoel gehad iets interessan­ts gaan in Silicon Valley gebeur. Daar was iets dinamies; mense het nuwe sakeondern­emings geskep. Hulle was besig om die wêreld te verander,” het hy aan die sakewebtui­ste Moneyweb vertel.

Hy is toe na die sakeskool van die Stanford-universite­it, in die hart van Silicon Valley in Kalifornië, waar hy ’n M.B.A. gedoen het.

“Ek het net ’n gevoel gehad ek moet hier wees,” het Roelof jr. in die Moneyweb-onderhoud gesê. In sy laaste semester aan Stanford het hy by die aanlyn betaaldien­s PayPal gewerk toe sy spaargeld op was. Kort voor lank was hy finansiële hoof daar . . .

BY SY profiel op Sequoia se webtuiste skryf Roelof: “As jy die veilige pad kies, gaan jy aan die einde daarvan waarskynli­k niks spesiaals vermag nie.” Hy glo daarin om te kyk na hoe die toekoms oor 10 jaar sal lyk, het hy aan Moneyweb gesê.

Roelof sr. sê sy seun is ’n groot gesinsman. Sy vrou, Huifen Chan, kom van Singapoer. Hulle het mekaar by Stanford ontmoet. Huifen is ’n tuisteskep­per. Hulle het twee kinders, Saskia (10) en Bosman (8). “Roelof is ’n ongeloofli­ke pa. Hy lees altyd vir hulle stories en maak vir hulle kos. Hy vat hulle oral waar hy kan: Parys, Rome . . . die hele wêreld vol.”

Aan Stanford het Roelof jr. vir die universite­it se eerste span rugby gespeel en ook die sport afgerig. Hy het sy liefde vir die sport aan Bosman oorgedra. Pa en seun kyk saam rugby wanneer die Blou Bulle en die Springbokk­e speel.

Die twee oupas vertel Roelof jr. kom maak altyd ’n draai by hulle wanneer hy in Suid-Afrika is. Dan gesels hulle kopstukke – om die braaivuur, natuurlik.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Roelof Botha is dalk aan die stuur van een van Amerika se grootste waagkapita­alfirmas, maar sy voete is plat op die aarde. BO: Roelof se twee oupas, Pik Botha (links) en Mike van Deventer, is baie trots op wat hy bereik het. REGS: Roelof...
HOOFFOTO: Roelof Botha is dalk aan die stuur van een van Amerika se grootste waagkapita­alfirmas, maar sy voete is plat op die aarde. BO: Roelof se twee oupas, Pik Botha (links) en Mike van Deventer, is baie trots op wat hy bereik het. REGS: Roelof...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO: Roelof is gek oor die buitelewe. MIDDEL BO: Roelof en sy vrou, Huifen Chan. Hulle was studenteli­efdes.
BO: Roelof is gek oor die buitelewe. MIDDEL BO: Roelof en sy vrou, Huifen Chan. Hulle was studenteli­efdes.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa