So onthou familie “terggees” Joost
In ’n aangrypende onderhoud vertel Joost se naastes vir Jana van der Merwe van die laaste dae van sy siekbed en die swaar afskeid toe hy besluit hy kan nie meer nie
DIE mure van die leefarea waar Joost van der Westhuizen in die laaste maande van sy lewe die grootste deel van sy dag geslyt het, is kaal gestroop van die aandenkings van ’n roemryke rugbyloopbaan. Ook die foto’s waarna hy ure lank gekyk het, is weggepak: van sy seun, Jordan (13), wat sokker speel, van sy dogter, Kylie (10), op ’n perd se rug en van die twee op hul pa se skoot.
Hier in sy huis op die Dainfern-landgoed in Midrand, waar die deur na die stoep altyd op somerdae soos vandag oopgestaan het om ’n vars bries in te laat, het die voormalige Springbok op Maandag 6 Februarie ná byna ses uitmergelende jare die stryd teen motorneuronsiekte (MNS) gewonne gegee. Op sy sterfbed was hy omring deur hegte familielede wat hom enduit bygestaan het.
Nou, ’n dag nadat hulle saam met duisende Suid-Afrikaners op ’n amptelike provinsiale begrafnis op Loftus Versfeld van die geliefde voormalige Bokkaptein afskeid geneem het, is sy familie weer hier byeen: sy ouers, Gustav (69) en Mariana (68), sy ouer broer, Pieter (47), en dié se vrou, Marijke van der Westhuizen (33) van Getroud met Rugby-faam, en sy jonger broer, Gustav (40), en dié se vrou, Sonja (40).
In ’n openhartige onderhoud met Huisgenoot vertel hulle van die laaste spanningsvolle dae van Joost se uitgerekte siekbed en van die hartseer afskeid nadat hy besluit het hy wil “huis toe” gaan, maar ook van Joost die terggees en poetsbakker – herinnerings wat hulle tussen die trane deur weer laat lag.
DIT is in die nagtelike ure, eenuur die oggend op Saterdag 4 Februarie, toe Pieter van die gelui van sy foon wakker skrik. Dis Mike Burger (66), een van Joost (45) se versorgers, en hy is paniekbevange. Joost kan nie asem kry nie, sê hy.
Pieter trek vinnig aan en met flikkerende noodligte jaag hy van sy blyplek in Centurion na Joost se huis, wetend sy broer is besig om te versmoor.
Want vroeër die week was daar ook ’n noodoproep. Mike het Pieter die Dinsdagoggend, op 31 Januarie, gebel kort nadat Pieter sy jongste kind by die skool in Centurion afgelaai het. Toe het hy ook met sy noodligte aan na Joost gejaag.
Daardie Dinsdag het Pieter tussendeur sy broer Gustav gebel, en soos in hul kinderdae, toe die twee altyd kragte gemeet het, het hulle omtrent meegeding om by hul broer in nood uit te kom. Joost het die nag deurgebring in die nabygeleë Life Fourways-hospitaal met ’n masker met suiwer suurstof op sy gesig.
Die Woensdagoggend is hy terug huis toe, die krisis verby. Vir eers.
Maar nou, drie dae later, is elke teug lewensnoodsaaklike suurstof opnuut vir Joost ’n stryd. Pieter stel soos die vorige keer sy en Gustav se gebeurlikheidsplan in werking: Eers bel hy die ambulansdiens, dan vir Gustav. Terwyl paramedici Joost stabiliseer, bel Pieter hul ouers.
Die suiwer suurstof wat die paramedici vir Joost toedien, laat hom beter voel en hulle laat ’n draagbare masjien met nog suiwer suurstof vir die nag agter. Die vorige masjien wat hy gebruik het, het hom met net sowat 30 tot 40 persent suurstof gehelp om gemakliker asem te haal wanneer hy dit nodig gehad het ( Joost: Siekte
in ’n nuwe fase, 2 Februarie). Dié masjien met die suiwer suurstof is kragtiger.
’n Paar uur later voel Joost beter en almal gaan terug huis toe. Mike hou Pieter op die hoogte van sy broer se toestand.
Maar teen seweuur die Saterdagoggend bel ’n bekommerde Mike weer. Weer word die nooddienste en die familie ontbied. Met Pieter se aankoms kan hy sien hierdie keer is dit veel erger: Joost is bewusteloos.
Pieter ry saam met sy broer in ’n ambulans met loeiende sirendes hospitaal toe. Met sy aankoms daar is Joost klinies dood, maar dit vertel die dokter eers later vir sy familie, nadat hulle hom bygebring het. Sy toestand is steeds kritiek.
Die Saterdagmiddag is almal om sy hospitaalbed, ook Joost se twee skoonsusters. Sonja het die vorige dag 40 geword en vandag sou die familie dit saam met haar gevier het. Maar pleks van ’n vrolike partytjie waak hulle almal by Joost, wat om sy lewe veg. Gavin Varejes, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbylegendes-vereniging, is ook daar. Hy het inderhaas die oggend uit Kaapstad teruggekeer toe hy die ontstellende nuus hoor dat Joost se toestand verswak het. Ook Johnny Burger, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sportheldesaal, Claire Kaye-Grobler van Joost se J9-stigting en sy oudspanmaat Derick Hougaard het kom afskeid neem. Pieter het Amor Vittone, Joost se vervreemde vrou, gevra om sy geliefde kinders, Jordan en Kylie, te bring om hul pa te groet. Vir die kinders is dit hartverskeurend. Hulle hou hul pa se yskoue hande vas. Veral Kylie kan die trane nie keer nie.
Dan gebeur ’n wonderwerk in die kleine. Joost herwin sy bewussyn en maak sy oë oop. Pieter besef hy wil kommunikeer en jaag na Joost se huis om die spesiale rekenaar te gaan haal waarmee Joost woorde tik deur bloot sy oë te beweeg. Hy is dors, tik Joost, en sy voete pyn.
Daardie nag slaap Pieter op die hospitaal se teëlvloer by Joost in die kamer. Terwyl die siekte Joost die afgelope paar jaar so afgetakel het dat hy nie meer self sy hare kon kam, tande borsel, eet, drink of toilet toe gaan nie, het Pieter Joost help versorg. Noudat die einde nader kom, bly hy by hom waak.
Al slaap Joost rustig, lyk sy oë die volgende oggend vir Pieter moeg, so asof hy vuisvoos geveg is teen die siekte wat van hom ’n gevangenege in sy eie lyf gemaak het. Al wat medici nog kan doen om sy lot in sy laaste dae te verlig, is om ’n opening in sy keel na sy lugpyp te sny en hom permanent aan ’n ventilator te koppel. Die dokter het reeds vir Pieter gesê dit sal die volgende – en laaste – fase in Joost se siekte wees. Hy het ook beklemtoon daar is geen waarborg van hoe lank dit sy lewe sal verleng nie. Sedert die skokdiagnose in 2011 het Joost geen moeite of onkoste ontsien om teen MNS te veg nie – hy het selfs in Londen behandeling ondergaan en hom met bokserum laat inspuit. Ter wille van sy kinders het hy so lank moontlik aan die lewe probeer vasklou. Sal hy nou hierdie laaste reddingsboei vasgryp wat medici na hom uithou?
Vroeg die Sondagoggend pols Pieter hom hieroor. “Ek is moeg; ek wil huis toe gaan,” antwoord Joost. Pieter, wat so ’n hegte verhouding met Joost het dat hulle amper soos ’ n tweeling is, weet sy broer praat nie van sy tuiste in Dainfern nie, maar van die hemel.
Tog bly Joost hom die hele Sondag ’n direkte antwoord verskuldig. Pieter se senuwees knaag. Sê nou hy moet self daardie beslissende besluit neem as Joost weer bewusteloos tussen die lewe en dood ronddobber? “Ek het Joost gevra; ek moet ’n antwoord hê: ‘Moet my nie in daardie posisie sit waar ons vir jou besluite moet neem nie,’ ” vertel Pieter later toe ons met hom gesels.
Daardie nag hou kommer Pieter uit die slaap. Die Maandagoggend kort voor die dokter na hom sou kom, het Joost klaar besluit: Hy wil nie die permanente ventilator hê nie. Vir Pieter sê hy hy is nou
(Van vorige bladsy) moeg. “Hy het baie gehuil en ek het baie gehuil,” vertel Pieter later vir ons. Joost het al ’n ruk tevore vir sy familie gesê hy wil nie in die hospitaal sterf nie, maar by sy huis. Daar langs sy hospitaalbed vra Pieter hom toe: “Is jy reg hiervoor? Om huis toe te gaan?”
Weer roep Pieter die familie bymekaar en dra Joost se wens oor: om huis toe te gaan en daar te sterf. Vir veral hul ma is dit so ’n groot skok dat sy sê sy kan dit nie aanvaar nie. “Ma moet my nou laat gaan,” sê Joost vir haar.
Pieter bel Amor en sê hulle neem Joost huis toe en sy moet die kinders so gou moontlik soontoe bring: Joost wil hulle graag ’n laaste maal groet.
Paramedici bly op bystand toe ’n ambulans hom teen twaalfuur Maandag- middag huis toe neem. Tydens die rit word hy nog suiwer suurstof toegedien. Pieter vra Claire om vooruit te gaan en vir hom ’n hospitaalbed as sterfbed gereed te maak in die leefarea waar hy die meeste van sy tyd deurgebring het. Hulle gaan haal die foto’s van sy twee kinders teen sy slaapkamermuur waarna hy elke aand gekyk het voor hy gaan slaap. Dié stal hulle oral om die bed uit, en ook die foto’s waarmee hy bedags in die leefarea omring was.
Die nooddienswerkers het daarna die suurstofmasker afgehaal, hom neergelê en gemaklik gemaak. “Ek het ingekom en hy het vir my gewys hy wil ons ma en pa sien. Ek het hulle toe laat inkom en my ma het sy voete gevryf.”
Gustav, sy vrou, Sonja, en Pieter se vrou, Marijke, wat inderhaas uit Pretoria gejaag het, het hom ook ’n laaste keer kom groet.
Sy pa en ma was reeds uit die vertrek toe Pieter sien Joost is besig om sy bewussyn te verloor. Toe skree hy almal moet uit die kamer uitgaan.
“Net ek en Gustav het agtergebly. Ek het vir Johan Visser (van J9 en ’n jare lange vriend en getroue versorger van Joost) geskree hy moet die paramedici asseblief roep, want ek kry geen hartklop op die monitor nie, maar kan steeds sy hartklop in sy nek voel.”
’n Paramedikus het Joost weer suurstof gegee. Die trane vloei vrylik terwyl Pieter vertel: “Hy het vir my gekyk en net so gemaak,” en Pieter wys hoe die paramedikus sy kop geskud het. Toe weet hy dis verby; sy broer het sy laaste asem uitgeblaas. “Ek het by Joost gekniel, hom
vasgehou en sy oë toegemaak. Ek het die laken oor hom getrek. Toe het ek na my ma-hulle gegaan. Hulle het net geweet.”
Gustav het by die voet van sy broer se bed gaan staan en deur die glasdeur gekyk na Sonja. Ook sy het die woordlose boodskap verstaan. In stilte het Pieter en Gustav alleen by hul geliefde broer se liggaam bly staan.
Joost is om 13:04 oorlede. Om 13:59 het Amor teruggebel nadat Pieter vir haar ’n boodskap gelaat het en teen 14:15 was sy en die kinders daar.
“Jordan was sterk. Hy wou sy pa sien,” vertel Pieter. “Kylie het baie gehuil.” Saam het Pieter en Amor besluit dit is beter dat die kinders nie hul oorlede pa so sien nie. “Ek is baie bly hulle het later die geleentheid gekry om hom wel by die kerk in sy kis te sien.”
VIR die Van der Westhuizen- familie was Vrydag 10 Februarie ’n dag van afskeid en trane, maar ook van verwondering en dankbaarheid oor die diep spore wat hul goue seun getrap het – nie net op die rugbyveld nie, maar ook in die hart van alle Suid-Afrikaners wat aangegryp is deur sy moedige stryd teen sy verlammende siekte.
Die hele familie is saam in die vertrek waar Joost sy laaste asem uitgeblaas het toe hulle vertel hoe die hartroerende dag vir hulle ontvou het. Eers was hulle net ’n handjie vol familielede wat saam by die NG kerk Skuilkrans in Pretoria bymekaargekom het om Joost in sy kis te besigtig en vir hom tot siens te sê. Daarna was daar ’n honderdtal mense by ’n troosdiens in die Lewende Woord-kerk in Brummeria wat vir die familie, naaste vriende en oudspanmaats gehou is. Dit is gevolg deur ’n openbare gedenkdiens op Loftus Versfeld, waar ’n paar duisend mense die laaste eer aan die geliefde voormalige Bok kom betoon het.
Al was dit vir die familie moeilik om die eens fikse en gespierde Joost in sy kis te sien lê, was daar vrede en ’n rustigheid op sy gesig.
“Dit was vir my baie moeilik,” vertel Joost se ma, Mariana. Toe sy hom in sy kis in die kerk sien lê, het sy vir oulaas nog oor sy hare gevryf en gesê: “Seun, ek is lief vir jou.”
Sy vertel: “Al was dit net sy liggaam wat daar gelê het . . . Ek wou dit nie aanvaar toe hy sê hy wil gaan nie. Ek kon nie. Pieter het vir my in die hospitaal nog geskryf wat hy gesê het: ‘Ma, ek het genoeg ge- suffer. Ek is moeg ge- suffer.’ Toe het Joost begin huil en ek het vir hom gesê: ‘Seun . . .’ Maar ek kon nie my kind net laat gaan nie.”
Mariana het Vrydag by die troosdiens en later op Loftus ’n mate van berusting gekry. “Alles was so wow ; ek kon nie glo my kind was so groot en so gelief nie. Ek weet net dit was die gebede van oral wat ons die krag gegee het om alles deur te maak en daardeur te kom. En dit sal ek vir die res van my lewe onthou. As ek ooit ’n boek sou skryf, sou ek daarmee afsluit.”
‘Ek kon nie opkyk nie. As ek mense gesien het, sou ek ge-crack het’ ‘Dit was soos ’n Braveheartoomblik toe ek sien hoe geliefd hy was’
(Van vorige bladsy)
Sy het deur die jare van Joost se siekte elke week vir hom organiese groente aangery, wat hy teen die einde uurliks deur ’n voedingsbuis na sy maag moes inneem. Sy het ook vir hom kookkos of aartappelslaai, sy gunsteling, gemaak wat hy fyngedruk kon afsluk. “My kinders is my lewe, hulle is my alles en dit was so lekker om Joost te kon help, om aan te dra wat hy nodig gehad het. Veral sy Lindt-sjokolade, wat ek in ’n laai vir sy broers weggesteek het, veral vir Pieter,” skerts sy. Die familie lag saam, soos telkens wanneer hulle met mekaar die spot dryf of staaltjies onthou.
Dan raak Mariana weer ernstig: “Ek kan net sê ‘dankie, Here’ vir my familie. Vir my kinders, vir die steun wat ek gehad het. Die wêreld se steun en gebede. Die steun van oral vir my kind. Ek het dit nie verwag nie . . .”
Pa Gustav sit styf langs Mariana, met wie hy al 48 jaar getroud is. Vra jy hom oor die pad wat hy saam met sy middelkind gestap het, antwoord hy: “Ons het ’n pad met al ons kinders gestap.”
Hy onthou die lang ure langs die rugbyveld wanneer een van die drie iewers gespeel het. “Ons was daar.”
Pieter en Joost verskil net 16 maande. “En toe probeer ons vir ’n dogtertjie,” vertel pa Gustav. Dan laat Gustav jr. hoor: “En toe kry hulle die beste seun wat hulle ooit kon vra!”
Pieter spot dan: “En dié seun het ’n dogtertjie!” Hy wys na sy jongste broer se boepmagie, wat dié probeer intrek. Dis hoekom Gustav sy huldeblyk aan Joost in die begrafnisbrief afgesluit het met: “Lief vir jou. Jou klein, groot boetie. PS: Ek sal Sussie wat ek ingesluk het, oppas.”
Weer lag almal en Pieter vertel hoe Joost, ’n opperste terggees, Gustav altyd gespot het hy dra “hul sussie” .
Vir pa Gustav was die diens op Loftus ’n belewenis. “Ons het geweet hy was bekend, maar ons het nie geweet hy was so bekend nie. Vir hom was die grootste oomblik toe hulle Joost se kis die laaste keer dra na die tonnel waardeur hy talle kere ná ’n wedstryd voor ’n juigende skare van die veld gedraf het. “Ek kon nie opkyk nie,” vertel hy. “As ek mense gesien het, sou ek beslis ge-crack het. Ek het net voor my gekyk; dis al.”
Sumari Botha (20), die dogter van Joost se niggie, het uit Perth, Australië, gekom om die lied Mr. No. 9 op Loftus te sing. Sy het dit vir hom geskryf toe sy 16 jaar oud was.
Sumari se ma, Magda Botha ( 49), wat saam met haar gekom het, was vir Joost en sy broers in hul kinderjare meer soos ’n suster as niggie. Sy het gebars van trots toe haar dogter voor die skare hulde aan Joost bring. En vir Sumi, soos die familie haar noem, was dit ’n bittersoet oomblik.
Al woon die Botha-gesin al 14 jaar in die buiteland, kom hulle elke jaar hier kuier. “Joost was vir my meer soos ’n groot boetie as ’n oom,” vertel Sumi. “Hy sou my Sun City toe vat en op al die slides saam met my gaan en sê: ‘As jy hier afgaan sonder om te skree, dan koop ek vir jou ’n roomys.’ ”
Om haar ma te terg, het hy haar ook haar eerste vloekwoord geleer. Dan sê Gustav: “Joost het dit met al die kinders gedoen!” En weer skaterlag almal.
Vir Marijke, wat die rol van Maryke de Villiers in Getroud met Rugby vertolk, was Joost in die 13 jaar dat sy hom geken het ’n opperste terggees. Sy was “die blondie” vir wie hy poetse gebak het. “Soos die keer by die Dros naby Loftus toe hy tabascosous aan my glas gesmeer het,” vertel sy.
’n Herinnering wat sy altyd sal koester, is dat sy gereeld Joost se voete masseer het. “En ek het dié voorreg tot die einde toe gehad. Op sy laaste dag, die Maandag, het ek vir hom gebid vir kalmte.”
Vir Marijke was die mees hartroerende oomblik op Loftus toe sy kis deur die tonnel gedra word en die skare dreunsing: “Joost! Joost!” “Dit was oorweldigend,
beautiful. Ek het hoendervleis gekry. Dit het vir my soos ’n soort Braveheart-oomblik gevoel om te sien en te voel hoe lief die mense vir Joost was.”
Sonja, Gustav se vrou, het Joost 17 jaar geken. Dit was partykeer moeilik om ’n stoere Cheetah in dié familie van Blou Bulle te wees – met Joost die lojaalste Bul van almal, vertel sy. “Ons het maar ons wedywering gehad. Voor elke wedstryd het ons altyd R100 gewed. Aan die einde moet die verloorder die telling op die R100-noot skryf, dit onderteken en oorhandig. Daar moet ook ’n foto van die oomblik geneem word. Dit was groot rituele.”
As lid van die weermag was Sonja diep geraak toe die polisie op die amptelike provinsiale begrafnis die Suid-Afrikaanse vlag oor Joost se kis drapeer. Sy begin huil toe sy oor die epiese oomblik praat, kompleet met trompetgeskal op die agtergrond vir die rugbyheld wat volksbesit geword het. “Daardie oomblik dat hulle die vlag drapeer, word hy oorgegee in die hande van die staat om van hom afskeid
te neem. En wanneer hulle die vlag afhaal, dit opvou en aan die ouers oorhandig, gee hulle hom weer terug aan die familie,” verduidelik sy.
Gustav sit deurentyd met sy arm om haar om haar te ondersteun. Benewens die poetsbakkery sal hy Joost se oproepe mis om te hoor wat hy die naweek doen en of hy vir hom sal kom braai toe hy al aan ’n rolstoel gekluister was. “Hy het altyd gesê: ‘As jy kan braai, dan gaan ek die hele familie nooi!’ Hy het altyd gesê die ander kan nie braai nie.”
Pieter lag: “Ja, ons het altyd gespot Gustav word net genooi sodat hy vir almal kan braai.” Gustav raak weer ernstig: “Ek het nooit omgegee nie. Ek het altyd vir hom gesê ek braai vir hom. Altyd tjoppies of ’n beesstertpot.”
Saans saam met almal om die vuur was Joost op sy gelukkigste. Gustav en Pieter het in hul broer se laaste jare naweke sy versorgers afgelos en hom self versorg. Soos Gustav ook in sy bedankings ná die troosdiens in die kerk gesê het, dit was veral Pieter wat jare lank sy tyd – ook saam met sy eie gesin – opgeoffer het om na Joost om te sien. “Pieter was basies die hero, al sal hy nou nie saamstem nie,” lag hy weer met ’n traan.
Joost was die peetpa van Pieter se oudste seun, Jaco (21). Eers jare ná sy doopdag sou hy hoor hoe oom Joost sy ouers amper ’n hartaanval gegee het toe hy in die kerk maak of hy die baba laat val. Toe Jaco 18 word, het Joost vir hom sy eerste motor gegee: ’n rooi Golf. Toe Jaco dit voor al sy vriende oopsluit, was dit propvol kondome en hy byna so rooi soos sy nuwe motor!
Pieter se seun Ruan (18) vertel van die kere dat sy oom hom met klere en al in die swembad gegooi het, en sy tweelingbroer, Morné, onthou van die poets wat sy oom Joost hom gebak het toe hy die komkommer in sy soesji met die brandende groen wasabi geruil het.
Wanneer sy vriende hom gevra het hoe dit voel om ’n rugbyheld as ’n oom te hê, het hy hulle altyd gevra: “Het jy ook ’n oom?” vertel hy. “En as hulle sê ja, dan sê ek: ‘Nou, dit voel presies so.’ ”
Gustav se oudste dogter, Marlizé (12), is te emosioneel om oor haar peetpa te praat. Sy bars in trane uit voor sy van sy “truuks” kan vertel. Sy en haar niggie Kylie is baie na aan mekaar.
NÁ DIE glorieryke diens op Loftus is Joost se oorskot veras. Vir pa Gustav is daar nog ’n moeilike dag: sy 70ste verjaardag op 23 Februarie, net drie dae nadat Joost sy 46ste verjaardag sou gevier het.
Ma Mariana vind troos daarin dat Joost vir ewig in haar hart sal voortleef. “Joost het baie van my ma se karaktertrekke geërf,” meen Pieter, soos om vir ander mense iets te wil beteken.
Hulle sal hulle steeds soos Joost met sy J9-stigting, waarvan pa Gustav direkteur is, beywer om die lot van ander MNSlyers te verlig.
Joost se laaste rusplek sal ’n marmernis wees langs sy oorlede oupa Joost se graf op hul familieplaas op die Springbokvlakte in Limpopo, daar waar hy as kind saam met sy broers kleilat gespeel het, waar pa Gustav ’n bal saam met hom rondgeskop het soos wat Joost so bitter graag saam met sy kinders wou doen toe sy bene hom nie meer wou dra nie.
Die familie wil sy as plaas toe neem sodra hulle almal saam daarheen kan gaan. En dan, sê pa Gustav, sal hy dalk eindelik sy geliefde seun kan laat gaan.