KEER SO DAT ONNIES, KINDERS TE INTIEM RAAK
DIT IS die soort verhaal wat gemeenskappe laat gons: ’n onderwyser en ’n skoolkind wat ’n verhouding aanknoop. Selfs in gevalle waar die leerder nie minderjarig is nie, is so ’n verhouding nie net ’n oortreding van skoolreëls nie; dit druis in teen wat die samelewing as aanvaarbaar beskou.
Die kwessie is weer in die kollig nadat ’n voorheen gerespekteerde onderwyser aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria geskors is omdat beweerde dade van ’n onwelvoeglike aard tussen hom en ’n minderjarige meisie in dieselfde skool aan die lig gekom het.
Ook in die kollig is in hoe ’n mate sulke verhoudings ontstaan omdat die tradisionele gesagsverhoudings in skole minder formeel is as ’n paar dekades gelede – en onderwysers en kinders selfs op platforms soos Facebook en WhatsApp vriendskappe aanknoop.
’n Minderjarige meisie van die NoordVrystaat wat verlede jaar haar hart teenoor Huisgenoot oopgemaak het oor haar seksuele verhouding met ’n onderwyser (’n Soentjie – en toe ’n affair met my onnie, 24 Maart 2016), het van hul vurige seksboodskappe ( sexting) vertel. Die onderwyser word nou van statutêre verkragting aangekla.
In die geval van die Hoërskool Waterkloof is die naam van die onderwyser en die gr. 10-meisie aan Huisgenoot bekend. Hy is in sy 20’s.
Adv. Chris Jansen van Vuuren, voorsitter van Waterkloof se beheerliggaam, het aan ons bevestig ’n “voorval” vroeg in Februarie is “ondersoek, die feite bepaal en die onderwyser geskors. Hy het bedank nadat hy geskors is.”
Chris wou nie oor die feite van die voorval uitbrei nie. Die meisie is steeds in die skool. “Die kind kry berading. Die skool het ook aangebied om vir haar hulp te verleen met betrekking tot be- rading,” sê hy. Hy is nie bewus van enige klagte teen die onderwyser deur die meisie se ouers nie.
Ons het kenners gevra wat ouers, kinders en onderwysers kan doen om te keer dat die grense oorskry word.
’n Leerkrag aan ’n topskool is sy werk kwyt ná ’n beweerde voorval. Kenners sê hoe om grense te stel – ook in die sosiale media Deur HILDA VAN DYK
DIT is oneties vir ’n onderwyser om ’n verhouding met ’n leerder te hê omdat die onderwyser in ’n magsposisie is – al is die kind ouer as 16 jaar, die ouderdom waarop kinders wettiglik seks mag hê, sê Marilet Kotzé, ’n traumaberader en seksterapeut van die Family Focus Therapy Centre in Bloemfontein. Trouens, die misbruik van ’n magsposisie om ’n kind in ’n verhouding in te dwing is vir haar ’n vorm van verkragting.
En al is dit deesdae maklik vir onderwysers en kinders om deur die internet interaksie te hê, is dit onvanpas.
“In vandag se tyd is daar soveel meer toegang vir onderwysers tot kinders en andersom, maar daar moet grense wees tussen hulle.”
Marlize Heppell, ’ n verhoudingsterapeut en sielkundige van Klerksdorp, sê: “Die sosiale media maak dat die grense oor ouderdom vervaag. Jy sien nou jou onderwyseres in ’n bikini . . . op ’n manier
wat jy haar in die verlede nooit sou sien nie. Dan kan jy nog kommentaar ook lewer. Die sosiale media maak dat mense meer openlike toegang het tot mekaar se lewe.”
Onderwysers en kinders praat gemakliker met mekaar, wat daartoe lei dat die gesagsgrense tussen hulle vervaag.
Marlize glo dit is belangrik dat onderwysers die grense stel. Hulle moet kyk wat hulle in die sosiale media plaas en wat kinders van hulle kan sien.
Die sosialemedia-kenner Emma Sadleir stem saam dat onderwysers en kinders op dié platforms makliker persoonlike verhoudings kweek. “Jare gelede sou kinders nie eens hul onderwysers se foonnommer gehad het nie. Nou is hulle saam op WhatsApp.”
Baie skole moedig dit selfs aan deur WhatsApp te gebruik om met kinders, ouers en onderwysers te kommunikeer oor byvoorbeeld sportgeleenthede.
Emma is juis deur talle skole genader om vir personeel en skoliere ’n beleid op te stel met betrekking tot die gebruik van die sosiale media. Die algemene riglyn is vir onderwysers en kinders om nie Facebook-vriende te wees nie en mekaar nie op Instagram te volg nie.
Verder, verduidelik Emma, ontstaan ’n vlak van vertroue makliker deur die sosiale media as in die regte lewe. Dit is makliker vir ’n kind om in die sosiale media met ’n ouer mens te gesels. “Aan die begin kan daar ’n bietjie afstand wees, maar eindelik kan dit vir die meisie voel of die ou haar kêrel is.”
Volgens haar word voorvalle soos verhoudings tussen leerders en leerkragte baie makliker openbaar gemaak omdat soveel mense die sosiale media gebruik. Gesprekke vind nie meer so baie plaas deur mense wat mekaar bel nie; eerder op WhatsApp of Messenger – waar dit met meer mense gedeel kan word.
Oupa Bodibe, woordvoerder van die Gautengse Onderwysdepartement, het bevestig daar was ’n voorval tussen ’n onderwyser en ’n leerder en dat die onderwyser geskors is, berig die gemeenskapskoerant Rekord. “Die departement kan nie voorkom dat afgedankte onderwysers by ander skole om werk aansoek doen nie. Daar word wel register gehou van onderwysers wat weens wangedrag afgedank is.”