Huisgenoot

SAAM OP DIE MA-AVONTUUR

Die SA gebore modelle Candice en Behati se babas is kort ná mekaar gebore

- Deur LARA ATSON

HULLE het die modewêreld aan hul voete, rol in die geld, spog met miljoene aanhangers en het boonop twee van die begeerliks­te mans op aarde aan hul sy. Beter kan dit mos nie gaan met dié twee Victoria’s Secret Angels nie, of hoe? So het ons gedink tot die ooievaar in dieselfde tyd ’n draai gemaak het by die Suid-Afrikaans gebore modelle Candice Swanepoel en Behati Prinsloo. Nou is die twee “sielsuster­s”, soos Behati hulle al in die sosiale media genoem het, vir die eerste keer saam-saam ma.

In Maart verlede jaar het Candice (28) ’n opskudding veroorsaak toe sy op Instagram by ’n swart-wit-foto van haarself in ’n sportbra en kantonderk­lere aankondig sy is swanger. Haar hand was ge- vou oor dié van haar verloofde, die Brasiliaan­se model Hermann Nicoli (34), en sy hand het op haar maag gerus.

Net ’n paar dae later het Behati (27) se man, Adam Levine, ook op dié sosiale netwerk gerugte bevestig dat hulle hul eersteling verwag toe hy ’n foto van sy pragtige vrou met haar groeiende bababoep in ’n piepklein bikini daarop plaas. Adam (37) is die hoofsanger van die Grammy-bekroonde Amerikaans­e poprockgro­ep Maroon 5.

Die kleingoed is boonop net twee weke uitmekaar gebore. Behati en Adam het op 21 September die ouers geword van die skattigste babadogter, Dusty Rose. En net twee weke later het Candice ’n oulike seun genaamd Anacan ryker geword.

Die Levines is baie privaat en het nog net ’n hand vol foto’s van hul vyf maande oue kleinding op Instagram gedeel. Dusty Rose het darem onlangs haar openbare debuut gemaak toe haar pa met ’n ster op die Hollywood Walk of Fame vereer is.

Die kleinding, opgetof in ’n wit wolmus, broekpak en modieuse trui, het omtrent die kollig gesteel toe sy saam met haar ouers vir kiekies poseer. Tydens die gesellighe­id het sy op haar ma se skoot gesit langs nog ’n ster, die sangeres Gwen Stefani. Dié is saam met Adam ’n beoordelaa­r van die Amerikaans­e sangkompet­isie-televisier­eeks The Voice.

Adam, skrywer van talle van Maroon 5 se treffers, soos Animals en This Love, kan nie genoeg van sy kleinding kry nie. “Sy is ongeloofli­k,” het hy aan die kletsprogr­amaanbiede­r Ellen DeGeneres vertel. “Ek is so verlief op haar. Dis mal.”

Maar dit het omtrent gelol toe hy en Behati op ’n naam vir hul eersteling moes besluit. Tot Ellen het hand bygesit. Die teksboodsk­appe het glo tussen hulle rondgevlie­g, vertel hy. Sy het vyf name voorgestel en Dusty was een van hulle. Tog was Behati aanvanklik nie so opgewonde oor die naam nie, bieg Adam.

Maar toe hy die naam kort voor die geboorte weer voorstel, het sy vrou ingestem. Dusty Rose was net drie dae oud toe Adam sy dogter amptelik op Instagram aan sy 9,4 miljoen aanhangers bekendstel. Nou pas die naam dié kleinding met die bolwange soos ’n handskoen.

CANDICE se seun, wat sy ma se blougroen oë geërf het, gaan duidelik nes sy pa ’n hartebreke­r word. Anacan doen sy naam gestand. Anacã, waarvan dit afgelei is, beteken “dierbare gesig” in die Afrika-dialek Hausa. Dit is ook ’n soort papegaai in Brasilië, bevestig sy ouma Eileen Swanepoel van Somerset-Wes in die Wes-Kaap. Sy en haar man, Willem, is in die wolke om vir die eerste keer grootouers te wees.

“Ons was in Brasilië toe hy so drie weke oud was. Aan die begin het hy soos Candice gelyk, maar nou lyk hy baie soos sy pa,” vertel sy. Candice is ’n “fantasties­e ma”, sê Eileen. “Sy is baie ontspanne.”

Anacan en Dusty Rose het mekaar nog nie ontmoet nie. “Dusty is nou in Los Angeles, maar noudat Candice en Behati weer begin werk, sal hulle na fotosessie­s saamgaan en mekaar ontmoet,” sê sy.

Candice en Hermann is al ’n paartjie vandat sy 17 jaar oud was. Hulle is sedert Augustus 2015 verloof, maar het nog nie ’n troudatum nie, bevestig Eileen.

Anacan se ma is versot op hom en deel gereeld foto’s van die seun op Instagram. Hy sal in New York grootword. Sy ma verdeel haar tyd tussen die Groot Appel en Vitória, in die suidooste van Brasilië, waar sy ’n villa besit.

Die gesin se lewe is wêrelde verwyder van Candice se jeugjare op ’n bees-enmelkplaa­s naby Mooirivier in KwaZuluNat­al. “Van my mooiste kindertydh­erinnering­s is van hoe ek en my boetie (Stephen) op ons plaas gespeel het, in die bos en tuin geleef en gedroom het,” het sy al in ’n onderhoud met die tydskrif Rooi Rose gesê. Sy voel steeds soos dié “15-jarige Suid-Afrikaanse meisie van die plaas”. Candice is op 15 op ’n Durbanse vlooimark “ontdek”.

In die vreemde mis sy haar familie, biltong, die Suid-Afrikaanse sonsonderg­ange en safari’s die meeste. Dit is seker dié dat haar ooievaarst­ee in Brasilië ’n safari-tema gehad het.

Die blondekop is Engels, Afrikaans en Portugees magtig, maar sy en Hermann gaan Engels en Portugees met hul kleinman praat.

Behati het al laat deurskemer sy wil eendag in Kaapstad of Namibië nesskop. “Ek is lief vir Afrika. My hart is daar.”

Sy is in Vanderbijl­park gebore en was twee toe haar ouers, past. Boet Prinsloo en sy vrou, Magda, Namibië toe verhuis. Behati het op Grootfonte­in grootgewor­d.

Adam het nog nie vir sy skoonmense in Namibië kom kuier nie. Hulle beplan wel ’n kuiertjie, vertel Boet aan Huisgenoot. Hy kan juis nie wag om sy kleinkind veld toe te neem en haar al die diere te wys nie, sê Boet, wat in sy noppies is oor sy nuwe rol as oupa.

Hy en Magda het wel al vir Dusty Rose in Los Angeles gaan kuier. “Ons was twee weke voor die geboorte in Amerika en het ná die geboorte nog ’n maand gebly.”

Dusty Rose is ’n “goeie mengsel” van Adam en Behati, sê hy. “Maar ons sien baie van Behati in haar. Behati was rustig en vriendelik; Dusty Rose is ook so.”

As kind was Behati ’n “regte tomboy”, het hy al aan Huisgenoot vertel (Ons ‘tomboy’ – ’n stylikoon,16 Julie 2015). Op hoërskool wou hulle haar een keer per week na die modelskool op hul buurdorp, Tsumeb, stuur om “vroulike maniertjie­s” te leer, maar sy wou niks weet nie. Sy wou eerder hokkie en netbal speel en saam met haar pa gaan jag.

Ons sal moet wag en sien of Dusty Rose ook ’n rabbedoe gaan wees en of sy in ma of pa se voetspore sal volg. En Behati het onlangs op Instagram verklap sy is reg vir nog ’n baba . . . musiek in ons ore.

 ??  ?? HOOFFOTO: Candice Swanepoel (links) en Behati Prinsloo. KLOKSGEWYS, van heel links: Candice en haar verloofde, Hermann Nicoli; die Victoria’s Secret Angel deel pal op Instagram kiekies van hul seun, Anacan.
HOOFFOTO: Candice Swanepoel (links) en Behati Prinsloo. KLOKSGEWYS, van heel links: Candice en haar verloofde, Hermann Nicoli; die Victoria’s Secret Angel deel pal op Instagram kiekies van hul seun, Anacan.
 ??  ??
 ??  ?? KLOKSGEWYS, van links: Behati en haar man, Adam Levine; Dusty Rose was by toe die sanger ’n ster op die Hollywood Walk of Fame kry; Gwen Stefani was ook daar; so is klein Dusty Rose se geboorte op Instagram aangekondi­g.
KLOKSGEWYS, van links: Behati en haar man, Adam Levine; Dusty Rose was by toe die sanger ’n ster op die Hollywood Walk of Fame kry; Gwen Stefani was ook daar; so is klein Dusty Rose se geboorte op Instagram aangekondi­g.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa