MY GEHEUE MAAK MY GEK!
Jill Price kan alle besonderhede van haar lewe onthou vandat sy ’n kind was – tot op die dag en datum. Maar wil ’n mens alles onthou, veral as dit heeltyd onwillekeurig in jou kop afspeel en feitlik enigiets ’n sneller kan wees vir herinnerings?
NOEM enige datum tot so ver terug as 42 jaar gelede, en sonder om in ’n dagboek te kyk kan ’ n Amerikaanse vrou met kleur en geur vertel wat sy daardie dag gedoen het. Wetenskaplikes hoop haar uiters seldsame toestand kan ons nuwe insig in die geheue gee.
VRA jy Jill Price om enige dag in haar lewe in herinnering te roep, kom sy binne ’n oogwink met ’n antwoord vorendag. Wat het sy op 29 Augustus 1980 gedoen? “Dit was ’n Vrydag. Ek is saam met vriendinne, die tweeling Nina en Michelle, en hul gesin Palm Springs toe,” sê sy. “Voor ons daarheen is, het hulle vir bikini-ontharings gegaan. Hulle het deur die hele gedoente geskree.” Jill was toe 14 jaar oud.
Sy is op 30 Desember 1965 in New York gebore. Haar eerste duidelike herinnerings het op 18 maande begin. Destyds het sy saam met haar ouers in ’n woonstel oorkant die Roosevelt-hospitaal in Midtown Manhattan gewoon. Sy onthou die loeiende ambulanse en verkeer en hoe sy graag op die rusbank in die sitkamer geklim het.
Haar pa was ’n talentagent by William Morris en het Ray Charles onder sy kliënte getel. Haar ma was ’n voormalige danseres in ’n verskeidenheidsvertoning.
Toe sy vyf was, het sy en haar bababoetie saam met haar ouers na South Orange, New Jersey, getrek. Hulle het in ’n koloniale drieverdiepingrooibaksteenhuis met ’n groot agterplaas en reusebome gewoon. Jill was dol daaroor.
Toe sy sewe was, is haar pa ’n werk by Columbia Pictures Television in Los Angeles aangebied. Die gesin het in die lente van 1974 daarheen getrek. Teen 1 Julie 1974, toe Jill agt was, het hulle in ’n huurhuis in Los Angeles gewoon. Dit was die dag, sê sy, dat haar “brein geknak het”.
Jill het altyd ’n slag gehad om dinge te onthou. Sy het ook verandering gevrees. Met die wete dat niks weer dieselfde kon wees nadat hulle New Jersey verlaat het nie, het sy die wêreld waaruit sy weg-
geskeur is in haar geheue probeer vaslê. Sy het lyste gemaak, foto’s geneem, elke aandenking, brief en kaartjie gehou. As dit ’n bewuste poging was om haar geheue te oefen, het dit gewerk, dalk beter as wat sy haar ooit sou kon voorstel.
Sy was die eerste mens by wie ’n toestand gediagnoseer is wat nou as uiters superieure outobiografiese geheue (USOG) bekendstaan, iets wat sy met sowat 60 ander mense deel. Sy kan die meeste van die dae van haar lewe so duidelik onthou soos die res van ons die onlangse verlede, met ’n mengsel van breë hale en helder besonderhede. Jill (nou 51) onthou vir elke datum sedert 1980 watter dag van die week dit was; sy onthou wat sy op elkeen van daardie dae ge- doen het, saam met wie en waar sy was. Sy kan ’n herinnering van 20 jaar gelede net so maklik oproep soos een van twee dae gelede. Maar haar herinnerings wel ook onwillekeurig op. Sy sê dit is soos om met ’n gesplete skerm te leef: Aan die linkerkant is die hede; aan die regterkant ’n voortdurende stroom herinnerings wat deur huidige stimuli ontlok word. Soveel herinnerings kan onhoubaar wees: Feitlik enigiets wat sy sien of hoor, kan ’n sneller wees. Voor Jill was USOG ’n onbekende toestand. Tot sy ’n e-pos aan dr. James McGaugh op die Irvine-kampus van die Universiteit van Kalifornië ( UCI) gestuur het. Dit was 8 Junie 2000, ’n Donderdag. Jill was 34. Ook James onthou daardie dag. Destyds was hy direkteur van die Sentrum vir die Neurobiologie van die Leerproses en Geheue, die navorsingsinstituut wat hy in 1983 gestig het. Jill het geskryf sy het ’n probleem met haar geheue. “Elke keer wanneer ek ’n datum op televisie of waar ook al sien, gaan ek outomaties terug na daardie dag en onthou ek waar ek was, wat ek gedoen het, op watter dag dit geval het en so aan. Dit is aanhoudend, onbeheerbaar en uitputtend. Die meeste mense beskou dit as ’n gawe, maar vir my is dit ’n las. My hele lewe speel elke dag in my kop af en dit maak my gek!” James was ’n bietjie huiwerig, maar ook nuuskierig. Hy het haar na sy kantoor genooi .
DIE vorige Kersfees het James ’n reusekoffietafelboek, 20th Century Day by Day, present gekry met die grootste nuusstories van die afgelope 100 jaar daarin. Om Jill se geheue te toets, het hy en sy assistent die boek gebruik om vrae op te stel wat iemand met wonderbaarlike vermoëns moontlik sou kon beantwoord. Hulle het by 1974 begin, die jaar waarin Jill gesê het sy regtig dinge begin onthou het.
Terwyl hy oorkant haar sit, het James gevra: “Wanneer het die Iranse gyselaarsdrama begin?” Ná ’n kort pouse was haar antwoord: “4 November 1979.”
“Nee, dis nie reg nie,” het hy gesê. “Dit was 5 November.” “Dit was 4 November,” het sy volgehou. Hy het ’n ander bron geraadpleeg. Jill was reg; die boek was verkeerd.
Die res van Jill se antwoorde het sy net so vinnig en selfversekerd verstrek, en meestal was dit korrek. Op watter dag het Los Angeles se polisie die taxibestuurder Rodney King aangerand? Sondag 3 Maart 1991. Wat het op 16 Augustus 1977 gebeur? Elvis Presley is in sy badkamer in Graceland dood. Dit was ’n Dinsdag. Wanneer is Bing Crosby dood? Vrydag 14 Oktober 1977, op ’n gholfbaan in Spanje. Jill het dit oor die motorradio gehoor terwyl haar ma haar na ’n sokkeroefening geneem het.
James het toe al dekades lank geheue en leer bestudeer en het nog nooit tevore so iets gesien of daarvan gehoor nie. Jill het skynbaar die sterkste herinnerings gehad wat hy tot nog toe teëgekom het. Sy onthou nadat hulle saam middagete geëet en sy James gegroet het, het hy bui- te die restaurant op die sypaadjie gestaan en “letterlik sy kop gekrap”.
Ná sy eerste ontmoeting met Jill het James ’n span saamgestel om die omvang van haar geheue te bepaal. Gewoonlik is dit ’n moeilike taak om te bevestig of outobiografiese herinnerings akkuraat is of nie, maar “gelukkig het sy dagboek gehou”, sê James. Jill het op 24 Augustus 1980 in alle erns die besonderhede van haar lewe begin neerpen tydens ’n hoërskoolromanse wat sy graag wou onthou.
Jill sê sy herlees nie haar dagboeke nie en met dié dat die navorsers haar met lukrake datums gepeper het, was daar geen rede om te dink sy het haar op hul vrae voorberei nie. Die navorsers van die UCI het haar vertellings oor haar doen en late op ’n sekere dag met haar dagboekinskrywings vergelyk. In party gevalle kon haar ma die herinnerings bevestig.
Mettertyd het dit duidelik geword Jill se outobiografiese geheue is moontlik ongehoord. Maar haar geheue van besonderhede oor gebeure wat nie
‘Die meeste mense beskou dit as ’n gawe, maar vir my is dit ’n las’
persoonlik iets met haar te doen het nie, is nie bogemiddeld nie. Sy onthou die datum waarop die gyselaarkrisis in Iran begin het, want as selferkende “nuusslaaf ” was dit deel van haar persoonlike vertelling oor die dag. Skool, sê sy, was vir haar “’n marteling” – sy kon nie feite en syfers onthou nie – maar het ongelooflik goed gevaar met wetenswaardighede oor televisieprogramme van die 1960’s en ’70’s, haar nostalgiejare. Inligting wat nie met haar of haar belangstellings te doen gehad het nie, het vergete gebly.
Daar was toe nog min wetenskaplike literatuur oor superieure vorme van geheue, en niks oor ’n geheue soos Jill s’n nie. Dit wat wel bestaan het, was meestal oor mense met die vermoë om pi tot 22 514 desimale plekke te memoriseer of die volgorde van ’n lukraak geskommelde pak kaarte te onthou.
Die wetenskaplike konsensus was dat dit danksy oefening en aangeleerde vaardigheid is; strategie eerder as ingebore vermoë.
Mense wat die dag kan sê waarop enige gegewe datum val, kan dit ook doen vir datums buite hul leeftyd, en hulle is gewoonlik outisties. Jill kan nie en is nie. Sover die span van die UCI kon vasstel, het niemand al ooit iets getoon soos haar outomatiese vermoë om haar persoonlike herinnerings op te roep nie.
Op 13 Augustus 2003 het James en sy navorsingspan hul aanvanklike bevindings oor Jill se geheue in ’n groot, oop forum aan die UCI se mediese gemeenskap voorgelê. Jill is genooi om haar geheue ten toon te stel, te wys hoe sy datums en herinnerings in haar kop “sien” en te verduidelik hoe sy tyd voorstel. Vir haar is ’n jaar soos ’n sirkel met Januarie in die 11-uur-posisie en die ander maande wat antikloksgewys daarop volg.
Twee jaar later het die UCI se navorsers Jill gevra om ’n konsepverslag te lees wat hulle oor haar geskryf het. Daarin beskryf hulle haar as sowel “die bewaarder as gevangene” van haar herinnerings.
“Ek het gedink, hemel, as ek nie van beter geweet het nie, klink dit asof dié mens breinskade of iets het,” het sy later gesê oor “AJ”, die skuilnaam wat hulle vir haar gebruik het. “Ek het gehuil toe ek dit lees. Iemand het my eindelik gehoor. Want ek het my hele lewe uit volle bors geskree en niemand het enigiets gehoor nie.”
A Case of Unusual Autobiographical Remembering is in Februarie 2006 in die neurosielkundetydskrif Neurocase gepu- bliseer. “Ons het die fout gemaak om dit ‘hipertimesie’ te noem” – van die Griekse hiper-(“oormatig”) en timesis (“herinnering”). James sê dit was “’n slegte idee, want wanneer jy dit so noem, klink dit asof jy weet wat dit is”. Al wat Jill hulle gebied het, was ’n enkele datapunt, talle beskrywings en geen duidelike begrip van die meganismes agter haar geheue nie. Maar gou daarna sou nog mense soos Jill na vore kom.
Sy onthou 12 Maart 2006 as ’n baie belangrike dag. “Dit was die laaste dag dat my lewe my eie was,” sê sy vir my. Die volgende oggend het die eerste koerantberig oor hipertimesie in die Orange County Register verskyn.
Teen daardie middag het James se assistent nog vyf mediaversoeke om onderhoude met Jill ontvang. ’n Maand later het die universiteit soveel oproepe oor Jill gekry dat hulle haar gevra het om ’n reklameagent aan te stel.
Amper dadelik het e-posse drupsgewys by James se kantoor begin aankom van mense wat gemeen het hulle of iemand wat hulle ken, het dieselfde toestand.
Die tweede mens by wie die toestand bevestig is, is Brad Williams, ’n radioomroeper in Wisconsin. Sy broer het James in 2007 gekontak nadat hy ’n artikel oor UCI se navorsing gelees het.
Die derde is Rick Baron, wie se suster berigte aanlyn oor “AJ” gelees het.
Die vierde is Bob Petrella, ’n oudskerpskertser en skrywer en TV-vervaardiger van werklikheidsprogramme soos Deadliest Catch. Bob het sedert sy tienerjare geweet sy geheue is anders as ander mense s’n. Maar hy het nie gedink dit is so ongewoon nie. “Ek het net gedink dit is soos om ’n rooikop of linkshandig te wees,” sê hy.
Teen 2012 het die navorsers nog net ses gevalle van USOG geïdentifiseer, waarna die toestand hernoem is.
Vyf van hulle – die “geheuetowenaars” Bob Petrella, Brad Williams, Rick Baron, Louise Owen en die aktrise Marilu Henner, bekend vir haar rol in die sitkom Taxi in die 1970’s – het in Augustus 2010 op die Amerikaanse televisieprogram 60 Minutes verskyn in ’n insetsel getiteld “Endless Memory”.
Jill was nie betrokke nie. Teen daardie tyd was sy nie meer anoniem nie, nadat sy in 2008 haar memoires uitgegee het. Sy het ’n renons in mediaverskynings begin ontwikkel, want sy het gevoel dit verlaag haar toestand tot ’n “byvertoning”. Sy het ook nooit enige ander mense met die toestand ontmoet nie.
Dit was die eerste keer dat USOGproefkonyne ander mense soos hulle ontmoet het. En kyk jy vandag na die program, is die skok en vreugde oor hul gemeenskaplike herkenning duidelik. Toe hulle mekaar die eerste keer voor die kameras ontmoet, was daar talle omhelsings. Later, toe hulle die datum van ’n aardbewing in San Francisco gevra is, het hulle byna soos uit een mond geantwoord terwyl party geglimlag het. Amper 19 miljoen mense het die program op Sondagaand 19 Desember 2010 gekyk.
Toe hy ná die uitsending sy rekenaar
‘Hemel, as ek nie van beter geweet het nie, klink dit asof dié mens breinskade of iets het’