KLEIN HUURBEGIN, GRÓÓT GEWIN
Die Airbnb-stigters het eers drie matrasse verhuur – nou is hulle biljoenêrs en kan jy amper enige verblyf deur hul maatskappy bespreek
MATRASSE op die vloer, kakkerlakke en papbokse was alles ter sprake by die sukkelbegin van ’n sakeryk wat vandag sowat R390 biljoen werd is. ’n Nederiger ontstaan kan ’n mens jou kwalik voorstel, maar dis die Aspoestertjie-verhaal van Airbnb, die aanlyn onderneming waarmee jy verblyf op amper enige plek wêreldwyd kan bespreek.
In 2007 het twee woonstelmaats in San Francisco, Amerika, gesukkel om hul huurgeld te betaal. Joe Gebbia en Brian Chesky, destyds albei 26 en platsak, kry toe die blink plan om drie matrasse op die vloer as slaapplek te verhuur.
’n Groot konferensie sou kort daarna in hul tuisstad plaasvind en daar was te min hotelkamers beskikbaar. Mense sou desperaat wees vir blyplek, het hulle gemeen. Die twee nywerheidsontwerpers het ’n webtuiste aanmekaargeslaan en gou was drie vreemdelinge vas aan die slaap op hul woonstelvloer.
Vandag, 10 jaar later, hoef Brian en Joe nie meer te raap en skraap vir woonstelhuur nie. Danksy Airbnb se sukses het hulle nou elk sowat R49,4 biljoen in die bank. Daarby het die onderneming einde verlede jaar ook begin met Experiences, ’n diens waar mense unieke ervarings saam met hul verblyf kan bespreek.
Flamenco-dans saam met Spanjaarde, branderplankry nes hulle dit in Hawaii doen of boerewors eet in eg Suid-Afrikaanse styl, is nou ook binne jou bereik met ’n klik, presies soos die verblyf in jou droombestemming. ’n Oornagsukses was Airbnb beslis nie.
KORT nadat hul eerste drie gaste weg is, het Joe en Brian uit hul werk as ontwerpers bedank en heeltyds aan Airbnb begin werk. Deesdae is Joe produkhoof en Brian uitvoerende hoof.
Die maatskappy is in Augustus 2008 amptelik bekendgestel en gebruikers kan nou enigiets van ’ n kasteel, eiland of boomhuis tot iemand se woonstel of selfs net ’n rusbank in ’n huis bespreek. Maar beleggers wou aanvanklik nie aan Joe en Brian se idee byt nie.
Weer het ’n blink plan die twee gered. Dit was verkiesingsjaar in Amerika en hulle verkoop toe bokse pap met illustrasies van die twee presidentskandidate, die Demokraat Barack Obama en Republikein John McCain, as aandenkings by politieke saamtrekke. Hulle het die buite-
kant van die bokse ontwerp, dit self gevou en geplak en toe kommersiële ontbytpap daarin geplaas. Teen sowat R520 stuks het die bokse pap sowat R390 000 ingebring. Dit was indrukwekkend genoeg om ’n belegger te lok wat destyds gesê het die twee se plan is soos “’n kakkerlak wat net nie wil vrek nie”.
Brian het al gespot die bokse pap was hul “laagtepunt. Nêrens in die storie oor Facebook se begin hoor ’n mens Mark Zuckerberg (die stigter) moes in sy woonstel sit en bokse pap aanmekaarplak nie.”
As Brian maar net toe kon weet meer as 150 miljoen mense sou teen 2017 verblyf deur hul uitvindsel bespreek.
“Ons help mense meer vindingryk wees met die ruimte wat hulle reeds het en verbind mense wêreldwyd met mekaar,” het Joe al vertel.
En Airbnb is nie net vir die jong klomp nie, sê die skeppers. “Ons het meer klante wat sowat 55 jaar oud is as mense tussen 18 en 25. Die jonges is net sowat 7 persent van ons mark,” sê Brian.
En dis juis vir ouer huiseienaars dat Airbnb ’n welkome ekstra inkomste bied. Brian vertel van ene Harrison, ’n Amerikaner wat die boomhuis verhuur wat hy vir sy seun gebou het toe dié klein was. Met die R1 350 per dag wat hy daarmee verdien, kon hy sy huisverband afbetaal.
Dit klink byna te goed om waar te wees: Jy skep eenvoudig ’n profiel op die webtuiste en laai foto’s en besonderhede van jou tuiste op.
Gaste meld op hul beurt op die webtuiste aan, gebruik soekfunksies om hul voorkeure te stel en nader jou as hulle belangstel.
Die besoeker betaal die fooi aan Airbnb, wat ’n deel daarvan as diensfooi vir hulself hou. Sodra jou gas se besoek verby is, betaal Airbnb jou geld aan jou oor. So bly almal verantwoordbaar en kan skelms jou nie inloop nie, want die gasheer word eers betaal nadat die gasg tevrede huis toe is, sê Airbnb.
Boonop skryf gaste en gashere agterna resensies oor mekaar sodat almal ’n goeie idee kry van waarvoor hulle hulself inlaat.
TOG is dié skynbaar waterdigte plan nie sonder skuiwergate nie. In Augustus 2014 was die wêreld op hol toe die Amerikaner Jacob Lopez, wat toe 19 jaar oud was, sy Spaanse gasvrou daarvan beskuldig dat sy hom in haar woonstel toegesluit en seksueel aangerand het. ’n Man van Barcelona in Spanje is in dieselfde jaar tronkstraf van 12 jaar opgelê omdat hy sy twee Amerikaanse gaste verkrag het.
Mense het ook al nare ongelukke oorgekom, soos ’n gesin wat ’n huis in die Amerikaanse deelstaat Texas gehuur en hul pa en eggenoot verloor het toe die boom in die agterplaas op hom omval. In Argentinië is ’n man deur sy gasheer se rottweiler aangeval.
Slenters het ook ontstaan waar skelms gaste vra om die fooi apart oor te betaal pleks van Airbnb se betaalstelsel te gebruik.
En dan is daar gruwelike gaste wat blyplekke afbreek, bemors en besteel of dit selfs as bordeel bedryf tydens hul besoek.
Omdat dit nie as ’n hotel of gastehuis bedryf word nie, word gaste en gashere gevrywaar van die meeste maatreëls wat vir hotelle en gastehuise geld.
Dié instansies trek juis noustrop sedert Airbnb die mark oorgeneem het. Beheerliggame van woonstelblokke kla ook, want vreemdelinge kom nie die reëls so getrou na soos voltydse inwoners nie.
In ’n poging om Airbnb te reguleer bepaal party owerhede, soos dié van die Amerikaanse stad New York, Duitsland en die Kanadese provinsie Quebec nou byvoorbeeld dat besoeke nie korter as ’n sekere tyd mag wees nie, toestemming om ’n perseel te onderverhuur nie Airbnb insluit nie en dat dié wat munt slaan uit Airbnb belasting daarop moet betaal.
TOG het die mans wat die onderneming begin het nog hope vertroue in hul uitvindsel. Brian verhuur steeds sy eie woonstel op Airbnb en het boonop drie jaar lank net in ander mense se plekke gebly om sy produk voortdurend te toets. Hul maatskappy het intussen veiligheid opgeskerp en spanne op die been gebring wat werk om gaste en gashere se veiligheid te verseker.
“Mense wil nie net iets sien nie; hulle wil ook iets doen. Hulle wil iets ervaar en vriende maak.
“Hulle wil met mense praat wat hulle nie ‘Meneer’ en ‘Mevrou’ gaan noem nie,” is Brian se mening oor waarom Airbnb, ondanks al die risiko’s, steeds ’n beter opsie as ’n hotel of gastehuis is.