TROMBOSE – OP 22
Eers toe sy met ’n dodelike toestand in die hospitaal beland, het Saskia Hill ontdek sy het ’n genetiese toestand wat die gebruik van die Pil gevaarlik maak
TOE die Kapenaar Saskia Hill uit die bloute rugpyn ontwikkel, het die vriendelike donkerkop gedink dit sou sommer gou oorwaai. Sy was immers net 22 en blakend gesond. Maar toe begin haar linkerbeen swel en eindelik moes sy in die hospitaal ’n draai gaan maak. Hier vertel die voormalige Huisgenootjoernalis van haar skrikwekkende ervaring met diepaartrombose kort nadat sy die voorbehoedpil begin gebruik het – salig onbewus van die gesondheidsgevare wat dit kan inhou.
DIT het begin as ’n knaende pyn in my lae rug en linkerboud. Dit was oor die naweek en ek het gedink die pyn sal waarskynlik teen die volgende dag weg wees. Maar teen die Maandag was dit steeds daar. Boonop het ek gevoel in my linkerbeen begin verloor. Teen die einde van Dinsdag het ek dit basies gesleep.
Saans ná werk kon ek nie wag om my jeans uit te trek nie, want my linkerbeen was erg geswel. My ma het elke aand my bobeen masseer en ek het bly glo dit sal beter word. Ek was dan net 22, met ’n aktiewe leefstyl en gesond. Maar toe ek die Saterdagoggend wakker word word, was die pyn ondraaglik. My linkerbeen was ook nie net geswel nie; dit was pers.
My ma is dadelik met my na ’n dokter, waar ons ontdek het dit is ’n bloedklont. Ek het gedink tablette om my bloed te verdun en ’n paar dae se bedrus is al wat ek nodig het. Eers toe ek inderhaas in die hospitaal opgeneem is, het ek besef hoe ernstig dit is.
Diepaartrombose (DAT) is by my gediagnoseer. ’n Week lank moes ek doodstil in die hospitaal bly lê om te keer dat die bloedklont loswikkel, moontlik met noodlottige gevolge. ’ n Ultraklankskandering het gewys presies waar die klont is: in my linkerlies.
Met verdere toetse is vasgestel ek het ’n genetiese bloedstollingstoestand. En die gebruik van die voorbehoedpil het my risiko vir ’ n bloedklont verhoog. Daarvan het ek geen benul gehad toe ek sowat drie maande tevore die Pil begin drink het nie.
Ná ’n paar weke se bedrus – my been was so geswel, styf en seer dat ek dit nie kon buig of beweeg nie – en daarna ’n paar weke op krukke kon ek weer sonder enige hulp begin loop.
Ek sal die res van my lewe elke dag bloedverdunners moet gebruik, want DAT is deels aan my genetiese toestand te wyte. Voorbehoedpille is nou vir my taboe. Toe my ma my daardie Saterdag dokter toe neem, was sy eerste vraag: “Gebruik jy ’n voorbehoedpil?”
By die hospitaal het die verpleegster en dokters my dieselfde vraag gevra. “Hoekom het niemand my vooraf hieroor gewaarsku nie?” het ek gewonder.
Dit het vyf maande gelede gebeur en ek sit steeds met een been wat in no. 32jeans pas terwyl die ander een in ’n no. 34 gemaklik voel. Die bloedklont is nog in my lies – dit sal eers in Oktober verwyder word, wanneer die wagperiode by my
nuwe mediese fonds verstreke is.
My dokter het my gerusgestel dat die grootste gevaar ná drie maande verby is. Tydens die operasie sal ’n stent ook in die aar geplaas word om te keer dat so iets weer gebeur.
WAT IS DIEPAARTROMBOSE?
Daar is twee stelle are in jou bene wat bloed van die hart en longe na die ledemate voer: die kleiner, oppervlakkige are onder die vel, en die groter are diep in jou spiere. Met diepaartrombose vorm ’n bloedklont in ’n diepliggende aar.
DAT kom meestal in die kuit voor, maar kan ook in die lies of maag vorm, wat gevaarliker is. Omdat dit nader aan die hart is, wat bloed deur jou liggaam pomp, is die kans groter dat die klont kan losskiet en ’n blokkasie in jou longe veroorsaak.
Onder vroue kom bloedklonte meer algemeen in die linkerkuit voor, sê dr. Judy Kluge van die Universiteit Stellenbosch se ginekologie-en-verloskundekliniek by die Tygerberg-hospitaal. Wêreldwyd kry sowat 1 uit 1 000 mense jaarlikse DAT.
WAT IS DIE SIMPTOME?
In die helfte van gevalle is geen waarskuwingstekens nie. Ander pasiënte kan een van die volgende simptome of ’n kombinasie daarvan ervaar: Beenpyn (soos met ’n verrekte spier). Swelling. Rooiheid van die vel van die kuit/been. ’n Warm gevoel of selfs verkleuring van die vel.
’n Gevoel van moegheid in jou been.
HOE GEVAARLIK IS DIE TOESTAND?
Die klont, of ’n deel daarvan, kan afbreek en in jou bloedstroom deur die hart beweeg en in jou longe beland. Daar kan dit die bloedtoevoer blokkeer en orgaanskade of selfs die dood veroorsaak,” sê dr. Pieter Zwanepoel, ’n vaskulêre chirurg by Mediclinic Milnerton in Kaapstad. Dit word pulmonêre embolisme genoem – ’n toestand wat soms geen simptome toon nie, maar in ernstige gevalle dodelik kan wees.
Komplikasies soos vergrote are, swelling en bene wat chronies moeg voel, kan later intree. Ernstige gevalle van DAT kan tot posttrombotiese sindroom (PTS) lei as die bloedklont ’n aar so beskadig dat die bloedvloei daarin belemmer word. Dit kan die bloeddruk in daardie been laat verhoog en swelling, velpigmentasie en swere veroorsaak. Die eerste simptome van PTS kan eers drie tot vyf jaar ná DAT kop uitsteek.
HOE WORD DIT BEHANDEL?
Bloedverdunners word in pilvorm gesluk of ingespuit.
Ten spyte van die naam verdun dit nie regtig die bloed nie; dit maak dit minder klewerig om te keer dat die klont groter word en nuwes vorm.
Die medikasie laat ook nie ’n bestaande klont opbreek nie; dit is die taak van ensieme in jou liggaam en kan van een tot drie maande duur.
Pasiënte word minstens drie maande met bloedverdunners behandel. As die klont in die lies of hoër in jou lyf voorkom, word ’n operasie gewoonlik aanbeveel om dit te verwyder.
WAT VEROORSAAK DIT?
“Bloed wil in ’n lekker gladde bloedvat vloei,” verduidelik Pieter. “Enigiets wat met die bloed, die vloei daarvan of die bloedvat inmeng, kan lei tot die vorming van DAT.” Jou risiko vir DAT is groter as jy: Langdurige bedrus moet kry. ’n Kankerlyer is. ’n Operasie ondergaan het. Ouer as 60 is. Rook. Oorgewig of vetsugtig is. Lang tye sit, soos op oorsese vlugte. Medikasie gebruik wat bloedstolling verhoog, soos die voorbehoedpil.
’n Onderliggende genetiese stollingsafwyking het. Vergrote are het. Tevore al DAT gehad het. Sowat een uit 30 mense sal dit weer kry.
“Baie mense het ’n genetiese bloedafwyking sonder dat hulle ooit DAT kry,” sê Pieter. “Maar een ekstra klein risikofaktor, soos ’n lang vlug of die gebruik van die Pil, kan die balans genoeg versteur dat hulle wel DAT kry.”
Vroue is ook meer geneig om DAT tydens ’n swangerskap of in die vier tot ses weke ná ’n bevalling te ontwikkel, want die hoër estrogeenvlakke in hul liggaam kan hul bloed makliker laat klonte vorm.
Die druk van ’n swanger vrou se vergrote baarmoeder kan ook die bloed stadiger in haar are laat vloei.