Huisgenoot

DIE WITTEBROOD

Die skoonheid van die Visrivier-canyon en die liefde oorval hulle tegelykert­yd. Sal hulle eendag hier kan kom wittebrood hou?

- Deur DAWIE LOUW Illustrasi­e: MINDI FLEMMING

BELOFTE is ’n belofte, Hanlie,” onthou sy Dolf se woorde. “Die Visrivier is waar ons twee ons wittebrood gaan hou,

’Nkom wat wil.”

Sy onthou hoe hy dit met ’n bewerige stem in haar oor gefluister het, skaars hoorbaar bo die biep-biep van die hartmonito­r langs sy hospitaalb­ed. Sy onthou ook hoe sy daarna dinge op haarself moes neem, onseker oor hoe sy so ’n belofte ooit gestand sou kon doen.

En nou is hulle hier vir hul wittebrood. Sy en Dolf, soos hulle mekaar destyds beloof het. Hier in die Visrivier-canyon op die rand van die eindelose Namibwoest­yn. Saam met die vier voetslaner­s wat ’n jaar gelede ook saamgestap het.

Sy rol Dolf se slaapsak op die sagte riviersand langs haar eie oop. Die res van die groep sit nog om die kampvuur met gedempte stemme en gesels. Die vlamme flikker vreemde skadu’s oor die gesigte. Dis ’n vuur van opdrifsels wat hulle hier langs die rivier versamel het, soos hulle ’n jaar gelede ook gedoen het.

Sy wonder vlugtig wat die ander van haar dink. Omdat sy haar dié keer so eenkant hou. Sy weet haar stapmaats vermoed iets, maar het seker besluit om anderpad te kyk. Nie dat sy omgee nie. Haar en Dolf se belofte aan mekaar is belangrike­r as die menings van ander.

Sy wikkel by haar slaapsak in en trek die ritssluite­r op tot teen haar keel. Die Namib is snags geniepsig koud. Asof die woestyn op ’n lomp manier wil vergoed vir die versengend­e hitte van die vergange dag waarmee hy mens, dier en plant deeglik gekasty het.

Sy kyk op in die sterreheme­l en verwonder haar weer aan die Melkweg. Sy kyk skuins na Dolf en wil vra of ’n mens nooit genoeg van sulke prag kry nie. Maar sy swyg. Woorde is nie nodig nie. Nie tussen haar en die man wat sy so intens bemin nie.

Woorde sal buitendien verhoed dat hulle na die nag kan luister. Soos laas toe hulle die jakkals hoor roep het. Wat sou van die vos geword het? wonder sy. Hy’t sedert hul aankoms nog niks van hom laat hoor nie.

Seker oor die dier weet hoekom sy en Dolf die vallei dié keer met hom deel.

Sy draai weer haar gesig skuins en bekyk die slaapsak langs haar. Toe, net soos hul eerste nag saam, trek sy haar sak se ritssluite­r oop, kruip langs Dolf in en druk hom styf teen haar vas.

“Kom, my liefde, kom ek vertel vir jou ’n slaaptydst­orie,” fluister sy. “Jy ken die verhaal, maar ek wil dit weer vertel. Om dit saam met jou te herleef. Die soet én die bitter daarvan.”

AI-AIS. Hulle ses sit by die braaivleis­vuur; drie vroue, drie mans. Middel 30’s, fiks, opgewonde en slaggereed vir wat wag: die uitmergele­nde staproete deur die verlate Visrivierc­anyon. Vyf dae van vasbyt en ontbering in die sprokiesmo­oie ravyn. ’n Ravyn wat volgens oorlewerin­g ontstaan het toe ’n woedende draak sy kronkelste­rt in die oeroue plato slaan.

Hanlie kyk die soveelste keer na die man wat sy vroeër die dag ontmoet het. Dolf. Hy sit oorkant die vuur en sy weet hy loer ook vir haar. Sy voel ’n gloed oor haar wange en weet dis meer as net die kaats van die vlamme uit die knetterend­e vuur.

Die volgende oggend vertrek hulle van Ai-Ais na die vertrekpun­t by Hobas. Daar begin hulle hul staptog al glyend teen die steil afgrond se wand. Na onder waar die Visrivier wag, soos wat dit millennia reeds doen.

Van meet af gee Hanlie haar oor aan die wonderwêre­ld waarin sy haar bevind. Sy’s betower deur die dorre landskap om hulle heen en nog meer bekoor deur die besef dat liefde by die eerste aanblik wel bestaan. ’n Liefde wat sy blosend weet in hierdie geval wederkerig is.

Die canyon is genadeloos. Hulle stap in ’n ry agtermekaa­r met stewels wat knarsknars-knars, skouers vooroor gebuig met rugsakke wat rem en rem. Hulle beur oor los sand, strompel oor gladde spoelklipp­e, kruis kniediep deur die vlak rivier na die oorkant en weer terug. Heen en weer in ’n poging om die maklikste roete te vind om hul kragte te spaar.

Deurentyd drink hulle gulsig uit hul waterbotte­ls en later sommer net so, gesig na onder, uit poele in die rivier.

Iemand wys na twee swewende arende in die blou en die pittige Dolf sê nee, dis g’n arende nie. Dis aasvoëls wat hoop om ses voetslaner­s binnekort op hul spyskaart te hê.

So knars hulle voort met die son skroeiend van bo en die woestynsan­d van onder af. Af en toe stop hulle om in die skadu van ’n oorhangkra­ns te rus. Dan tel Hanlie en Dolf mekaar se rugsakke af en kyk mekaar woordeloos in die oë, verstom oor die krag waarmee die liefde hulle so onkant betrap het.

Maar die woestyn se ware towerkrag bêre hy vir snags wanneer hulle om die vuur sit en stilweg in die vlamme tuur. En later in hul slaapsakke lê en in die Melkweg op staar, luisterend na die stil gekabbel van die rivier en ’n eensame jakkals wat iewers stroomaf roep. Asof dit nie genoeg is nie, verskyn ’n ronde maan vroegaand oor die oostelike rand van die afgrond om die rivier en die sandbanke om hulle in kwiksilwer te doop. Vergeet my as jy kan, daag die Namib op dié manier.

Reeds die eerste nag rol Dolf sy slaapsak langs hare oop, rits hom toe, draai sy gesig na haar en kyk stilswyend in haar oë. Sy woel ’n arm los, hou haar hand vir syne en besef kortasem dat ’n ware liefdesver­klaring woordeloos gedoen kan word. In die nanag kruip sy by sy slaapsak in en fluister in sy oor dat sy net vasgehou wil wees.

“Met graagte,” fluister hy terug. En dan, met ’n laggie vol selfvertro­ue: “Hoe gouer jy aan hierdie twee arms gewoond raak, hoe beter.”

Sy lag teen sy nek en hulle begin fluisteren­d gesels oor die dag wat verby is en die dae wat kom. Dolf sê saam stap en saam sweet is die beste manier om mekaar te leer ken. Net bitter jammer die blerrie canyon is so kort. Net 90 km en nie 900 nie. Of 9 000 nie, want hy wil van nou af altyd saam met haar stap.

Dan sal hulle hierdie ou kortetjie meer gereeld moet besoek, maak Hanlie plan, en Dolf sê ja, hoekom nie? Wat van ’n wedersydse belofte? Sommer hier in die slaapsak. Dat hulle twee die Vis voortaan elke jaar saam gaan stap.

Agt maande later staan hulle op trou en die besluit oor waarheen vir hul wittebrood, kom spontaan. Die Vis. Waarheen dan anders?

Maar die Vis, ’n huwelik én ’n wittebrood is hulle nie beskore nie. Kanker word by Dolf gediagnose­er en Hanlie se wêreld tuimel ineen. Dolf veg verbete terug. “’n Belofte is ’n belofte, Hanlie. Die Visrivier is waar ons twee ons wittebrood gaan hou, kom wat wil.”

Hanlie huil dwarsdeur die nag en die volgende dag sit sy langs Dolf se bed. Sy wil trou, so gou moontlik. Dolf bekyk haar, verbasing op sy bleek gelaat. Nee, keer hy, eers wag tot hy ’n bietjie beter voel. Wag se voet, sê sy, sy’t klaar besluit. Hulle trou en dan is dit Visrivier toe vir hul wittebrood, uit en gedaan.

’n Belofte is ’n belofte.

VROEGOGGEN­D, dag 5, laaste dag. Ai-Ais is nou net om die draai, dink Hanlie en woel haarself uit die slaapsak. Sy rek haar arms bo haar kop en beskou die son se stralekran­s teen die oostelike krans van die canyon. Ja, nog net 20 km of so, dan’s dit verby.

Want van môre af is sy alleen. ’n Gedagte wat haar voor hierdie staptog met angs vervul het, maar nie meer nie. Nee, nou wag die res van haar kosbare lewe, presies soos Dolf dit sou wou hê.

Sy beskou die ander slaapsakke wat nog roerloos oor die riviersand versprei lê. Daar’s moeë lywe en tam spiere in daardie sakke. Lywe wat soos haar eie uitsien na luilekker in Ai-Ais se warmwaterb­ron lê. Gevolg deur ’n nag se soete slaap op sagte matrasse.

Sy trek haar stewels aan en buig oor Dolf se slaapsak. Sy’s bly die ander slaap nog, want vir die ritueel wat nou kom, wil sy alleen wees. Moet sy alleen wees. Soos dit met elk van die rituele die vorige vier oggende was.

Sy stap weg oor die sand met stewels wat saggies girts-girts-girts, die klein porseleink­ruik styf teen haar bors vasgedruk.

Buite sig van die res gaan sy staan en lig die dekseltjie op. Dankie tog vir ’n ligte windjie wat nou deur die canyon waai, presies soos Dolf dit sou wou hê.

Sy lig haar gesig hemelwaart­s en voel haar wange is nat. Toe strooi sy die laaste bietjie as in die wind.

‘Hoe gouer jy aan hierdie twee arms gewoond raak, hoe beter’

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa