OM HUISVROU TE WEES NIE MAKLIK NIE
Ek is die huisvrou, die een wat jy elke dag droom om te wees. Maar jy weet nie hoe ek voel nie.
Ek sien jou soggens na jou betalende werk wegry, waar jou baas jou ’n klop op die skouer kan gee, terwyl ek met die kinders skarrel en almal se lewe rooskleurig probeer hou.
Die kinders is weg; die huis is stil.
En so begin dit. Bed opmaak, almal se klere optel, skottelgoed was. Elke uur van elke dag is vir my uitgelê. Dieselfde take. Oor en oor.
Ek mis die gevoel van opgewonde wees oor dit Vrydag is. Om ’n klop op die skouer te kry omdat jou werk goed was. So jy vra: Hoekom werk jy nie? Sommige vroue het nie ’n keuse nie. Ek het nie ’n graad nie, en met die kwalifikasie wat ek verwerf het, sal ek nie genoeg kan verdien vir nasorg of uitrustings om elke dag goed te lyk nie. Om nie te praat van die petrol om met die kinders heen en weer te ry nie.
Ja, ek wil werk. Ek probeer ’n onderneming van die huis af bedryf, maar dit vul nie daardie leemte nie.
Jy wat wens jy kon ek wees: Sien elke goeie ding van jou lewe raak: die feit dat jy kan opgewonde wees oor Vrydag; dat jy lof en geld kry vir die harde werk wat jy elke dag verrig; dat jy deur die dag meer as kinders het om mee te gesels; dat jou roetine van dag tot dag verander.
Wees dankbaar. Die gras is nie altyd so groen aan die ander kant nie. ADELE Na aanleiding van die artikel oor kinders en immuniteit (Laat hulle grond eet, 2 Maart): Ek het my dogter toegelaat om vuil te word en grond te eet. Vandag word sy nooit siek nie. Grond is goed! STOFFIE