Wees wakker en vermy wolhaarnuus
As deel van ons 101-jarige bestaan help ons lesers sin maak van aktuele gebeure. Vandeesweek: Wat is die implikasies van vals nuus en hoe ken ’n mens dit uit?
MEJ. Suid-Afrika met kokaïen van 2 kg op lughawe in hegtenis geneem.” “Dronk Hillary Clinton maak moles.” “Robert Mugabe sterf.” “Koningin Elizabeth abdikeer ten gunste van prins William.” “Die Kaapse stadsraad gaan watertoevoer vier uur op ’n slag onderbreek.”
Hoeveel mense sal nie op webstories met sulke opskrifte wil klik of sulke “nuus”-brokkies met hul vriende in die sosiale media wil deel nie?
As jy dit al gedoen het, het jy in een van die kuberruim se vele valsnuusstrikke getrap. Want feitlik geen woord daarvan is natuurlik waar nie. Dié sogenaamde
fake news, oftewel fopnuus, word saamgeflans om munt te slaan uit niksvermoedende lesers se goedgelowigheid. Geld is een van die vernaamste dryfvere van die toenemende verskynsel van vals nuus, want hoe meer kere sulke bogstories gedeel word, hoe meer mense sal daarop klik. En dit kan groot advertensiegeld vir webtuistes met fopnuus beteken.
Maar daar is ook ander, onheilspellende beweegredes om vals nuus te skep, soos om twyfelagtige politieke oogmerke te bevorder of selfs jou teenstanders daardeur te vernietig.
Intussen maak die wolhaarstories wat blitsig aanlyn versprei nie net ’n klomp kuberkonkelaars ryker nie; dit kan boonop ’ n beduidende invloed hê op hoe lesers op plaaslike en wêreldgebeure reageer, sê kenners.
DIE grapjas Leon Schuster het sy aanhangers skaars verseker hy is nog springlewendig nadat sy “doodstyding” op WhatsApp versprei is toe ’n woordvoerder van Sun International die vals gerug nek omdraai oor Ntando Kunene, die huidige Mej. Suid-Afrika.
“Mej. Suid-Afrika 2016 met 2 kg kokaïen op Heathrow-lughawe aangekeer,” het die opskrif gelui van die berig wat oorspronklik verskyn het op die fopnuuswebtuiste te1egraph.co.uk (let op die syfer “1” pleks van die letter “l”). Dié naam is ’n goeie voorbeeld van die sogenaamde
typosquatting, wanneer iemand doelbewus ’n domeinnaam registreer wat byna dieselfde is as ’n bekende handelsmerk, in dié geval die gesaghebbende Britse koerant The Telegraph s’n.
So kan internetgebruikers dan maklik op die webtuiste met vals nuus beland, pleks van die ware Jakob.
Nadat die bogstorie oor Ntando van die gewraakte webtuiste verwyder is, het dit ook op vals profiele in die sosiale media opgeduik. ’n Woordvoerder van Sun International, die hotelgroep wat die Mej. Suid- Afrika- wedstryd aanbied, moes sake in die nuusmedia regstel.
Intussen word gegis of vals nuus pres. Donald Trump van Amerika in November die verkiesingsveldtog help wen het.
Navorsing het getoon die 20 gewildste vals verkiesingstories is baie meer op Facebook gedeel as egte verkiesingsnuus van geloofwaardige nuusmedia. En die meeste van hierdie vals stories was ten gunste van Trump en anti- Hillary Clinton, sy teenstander. Wolhaarstories soos “Pous steun Trump se Withuis-veldtog” en “FBI-agent in Hillary se e-posskandaal dood aangetref ” is binne ’n paar dae miljoene kere gedeel.
Vals nuus “hou ernstige gevolge in vir die publiek wat betroubare inligting no-
dig het om belangrike besluite oor hul lewe te neem, soos vir wie om te stem,” sê dr. Glenda Daniels, senior lektor in mediastudies aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Vals nuus “kan soms op ’n lewe-endood-situasie uitloop”, waarsku sy. ’n Vroeë voorbeeld hiervan, dekades voor nuus in ’n oogwink met die internet en sosiale media versprei kon word, was toe die Jode in Nazi-Duitsland as die vyand voorgehou is wat vir alle probleme in die samelewing verkwalik moes word.
Die verskynsel van vals nuus is juis al voorheen met totalitêre regimes vereenselwig, beaam Arthur Goldstuck, kenner van inligtings- en kommunikasietegnologie en besturende direkteur van World Wide Worx. “Dit wek groot kommer wanneer nasionale leiers vals nuus legitimiteit gee, want dan het almal skynbaar die reg om dit as die waarheid te versprei,” sê hy.
WIE DOEN DIT, EN WAAROM?
Geldmakery: Dit blyk die skrywers van talle vals stories gedurende die Amerikaanse verkiesing het hulle in Masedonië bevind. Minstens 100 valsnuuswebtuistes oor die Amerikaanse politiek is uit die dorp Veles in dié staatjie in Suidoos-Europa bedryf. In die meeste gevalle was dit tieners wat bloot geld wou maak; hulle het uitgepluis pro-Trumpberigte sou baie trefslae kry.
Aandagsoekery, wraak: Die internet bied sommige mense ’n gevoel van mag wanneer hulle vals nuus versprei waarop mense reageer, sê dr. Denise Bjorkman, ’n Johannesburgse kenner in gedragsielkunde en kommunikasiekunde.
Sommige skeppers van vals nuus voel ook die lewe het hulle stief behandel of iemand of ’n groep het hulle te na gekom. Hulle span dan vals nuus in om wraak te neem, verduidelik sy.
Waninligting, propaganda: In die politieke oerwoud word vals nuus of halwe waarhede dikwels gebruik om twyfel oor teenstanders te saai, sê Denise.
Die Wladimir Poetin-regime het dit in Rusland gedoen. Vermoedelik het hulle deur die kuberruim ook elders dié truuk uitgehaal en Clinton tydens die Amerikaanse verkiesing in die visier gekry.
Ons moet waaksaam wees, het die politieke ontleder Max du Preez onlangs geskryf. “Ons gaan daagliks te make kry met verskynsels soos vals nuus.” Pres. Jacob Zuma se kamp gaan ál meer die terme “wit monopoliekapitaal” en “radikale ekonomiese transformasie” gebruik om die aandag van sy eie probleme te probeer aflei.
In die maande voor die ANC se leiersverkiesing in Desember vanjaar gaan “’n woeste propagandaoorlog” heers, voorspel Max. Suid-Afrika kan dan heelwat beleef van wat die Russe dezinformatsija noem (geplante berigte met hoofsaaklik leuens en enkele feite) en kompromat (deels fiktiewe en deels feitelike inligting om iemand te ondermyn).
WAAROM SO GOEDGELOWIG?
Navorsing toon baie mense bevraagteken nie juis wat hulle aanlyn lees nie. Hulle beskou sosialemedianetwerke soos Facebook as betroubare bronne omdat die inligting van ’n “vriendekring” kom wat hulle vertrou, sê Denise.
Daarby is mense geneig “om voorkeur te gee aan inligting wat met hul bestaande denkwyse en vooropgestelde idees strook”. Sosialemedianetwerke word hoeka as ’n eggokamer of - borrel beskryf: Mense is meer geneig om met eendersdenkendes vriende te wees en hoofsaaklik met dié vriende inligting te deel wat hulle graag wil hoor.