Katinka en seun oor Lafras Verwey
Kort voor sy dood het Chris Barnard vir sy seun vertel waar sy 1970’s-karakter vandaan kom wat nou eindelik op die grootskerm is
IN SY hospitaalbed in Nelspruit, met die bliep van monitors op die agtergrond, het die legendariese skrywer Chris Barnard sy seun Simon vir die eerste keer vertel waar Lafras Verwey vandaan kom. Dit was tydig, want Chris se geselskanse met sy laatlamseun het begin min raak. Lafras is die hoofkarakter in die fliek Die Rebellie van Lafras Verwey , wat nou in rolprentteaters vertoon word. Pa en seun het in 2014 en 2015 saam aan die draaiboek gewerk toe Chris siek raak. Simon het dié aangrypende gesprek in woord en beeld op sy selfoonkamera vasgevang. Nou wys hy die videogreep op sy foon en ons luister saam na die verswakte Chris se seer stem.
“Ek het in Londen in (’n kafee) gesit. Dit het gereën. Toe kom daar so ’n pateterige mannetjie op ’n trapfiets aan. Hy leun sy fiets teen die venster. Hy bestel vir hom ’n toebroodjie en ry toe weg in die reën in. Jy is ’n storie oor wie ek moet skryf (het ek by myself gedink).” Die werktitel van die beplande roman was ’n Man Soos Ek, vertel Chris verder.
Die skrywer was destyds in sy 20’s en die boek het nooit die lig gesien nie. Die idee het in die 1970’s in ’n radiodrama en toe ’n verhoogstuk gestalte gekry en baie gewild geraak. En in 2014 het pa en seun aan die fliek begin werk.
Saam met sy pa het Simon aan die draaiboek getimmer om dit meer modern te maak. Die jong Barnard is toe ten einde laaste regisseur en sy ma, Katinka Heyns, die vervaardiger.
Simon se groot wens was dat sy pa deel moes hê aan die redigering en die kies van musiek, maar toe sterf hy kort voor die redigeerproses aan ’n hartaanval.
In die videogreep hoor ’n mens aan Chris se stem hy is moeg waar hy in ’n hospitaaljurk lê.
“Het pa met die man geïdentifiseer?” wou Simon verder weet oor Lafras Verwey, die man in sy pa se verbeelding.
“Man, daar was in daai ou figuurtjie ’n kombinasie van hardegatgeit en patetiesheid saam in een bondeltjie vasgebind. Dit was vir my ’n vreemde kombinasie.” Dan dink Chris ’n bietjie na, sug en vertel: “En dis waar dit begin het.”
“Ja, dit maak sin,” sê Simon. ’n Paar sekondes verfilm hy nog terwyl sy pa dakwaarts kyk. Dan stop die video.
“Dit is die eerste keer dat jy dit vir ’n joernalis wys,” sê Katinka verbaas aan haar seun. “Ons kan nie meer daarna kyk nie, maar wil dit ook nie uitvee nie,” sê Katinka. Die video’tjie is sewe weke voor Chris se dood opgeneem.
“Ek is toe en nou gedurig met my pa se woorde in die fliek gekonfronteer. Dis moeilik. My pa is maar die een wat my op ’n sekere manier verstaan het. Ek voel steeds ’n bietjie verlore. Ons het dieselfde droë humorsin. Ek is ná my pa se dood deur hartseer oorweldig,” sê Simon (35).
Simon het as 24-jarige die eerste keer met bipolêre steuring te doen gekry. Hy moes die toestand leer bestuur en het op grond van sy eie ervaring besluit om ’n dokumentêre program getiteld Living with Bipolar Disorder te maak.
Hy het eindelik 64 programme oor soortgelyke onderwerpe vervaardig. Die terugvoer was oorweldigend. Hy is daarna terug Universiteit Stellenbosch toe en het sy finale jaar met lof geslaag.
Die rolprent kyk op ’n deernisvolle manier na mense soos Lafras. Lafras verteenwoordig die ewige buitestander, ’n “aartsverlore siel met waanidees” wat
nooit die werklikheid kon aanvaar nie. Hy sien homself as ’n sleutelfiguur in die voorbereiding vir ’n groot rebellie wat die wêreld sal verander.
DIT is tyd vir die Woordfees, waar Simon se fliek bekendgestel word. ’n Paar dae voor die première sit en gesels ons in die Katjiepiering-restaurant in die Universiteit Stellenbosch se botaniese tuin.
“Waarop ek die trotsste is,” vertel Katinka, en kyk na Simon, “is die eerlikheid waarmee Simon die fliek gemaak het. Dis hoekom Tobie Cronjé met soveel gestrooptheid die hoofrol vertolk het,” meen sy.
“Ek het nie besef hy het soveel aanvoeling vir die woord nie. Ek het geweet hy het dit vir die visuele,” voeg sy by.
Chris het saam met Katinka na ’n ongeredigeerde weergawe van die fliek gekyk. “Hy was baie ontroer en beïndruk, veral met Tobie se spel en hoe Simon die verhaal na die hede gebring het.”
Simon en Katinka (69) het in 2008 die eerste keer saamgewerk aan Leef met / Live with, ’n mediese TV-reeks oor hoe psigiatriese siektes mense en hul geliefdes raak. “Haar ervaring in die rolprentbedryf het my baie gehelp,” vertel Simon. “Ek het op filmstelle grootgeword.”
Hy het byna vier jaar op Stellenbosch visuele kommunikasieontwerp studeer en was al van voor sy geboorte af voor die kameras. Katinka het destyds ’n dokumentêre rolprent, Waar die Liefde Lê, gemaak oor swangerskap en die eerste 18 maande van Simon se lewe. Die produksie is met ’n Akademie-prys bekroon.
Simon se regisseur-ma het hom weer ingespan vir die verfilming van Dalene Matthee se Fiela Se Kind: Hy was die vyfjarige Benjamin.
In 2012 het Simon agter die skerms gewerk met die maak van Katinka se fliek oor Eugène Marais, Die Wonderwerker, waarvan Chris die draaiboek geskryf het.
“My werk agter die skerms van Die Wonderwerker het my voorberei op Lafras,” sê Simon.
“My pa het aanvanklik nie gedink dis ’n goeie plan om die fliek nou te maak nie, veral oor die verskil in die politiek tussen destyds en nou, maar toe hy my verwerking daarvan lees, was hy aangenaam verras,” vertel Simon trots.
Die verhouding tussen pa en seun het verder verdiep met die werk aan die rolprent. Katinka wou nie inmeng nie. “Hulle moes somtyds my arms vasbind terwyl ek na die monitors kyk,” spot Katinka. Chris het elke dag gebel om te hoor hoe dit gaan.
Maar sy was ook af en toe deel van die aksie toe sy Chantell Phillipus van Abraham-faam onder haar vlerk neem. Chantell speel Petra, ’n jong, swanger vrou. Ironies genoeg begin die revolusie waarvan Lafras droom juis die nag toe die baba gebore word.
RONIE het dikwels in hul lewe inslag gevind. Chris was besig om aan sy nou onvoltooide roman oor ’n plaasaanval, Nagana, te skryf toe hy aangeval is op Thulani (dit beteken “moenie huil nie” of “wees stil”), sy plaas naby Nelspruit. Vier rowers het hom op 19 September 2012 oorrompel en vasgebind. Hy is eers sowat 12 uur later deur werkers bevry. Katinka was in Pretoria toe dit gebeur.
Simon het in daardie tyd aan ’n profielprogram oor sy pa gewerk waarin Chris praat oor sy “paradys” daar op die plaas. Ná die aanval moes hy die plaas verlaat en dit eindelik verkoop.
“Hy was ’n ontwortelde man,” vertel Simon.
Chris het verhuis na ’n veiliger oord by Mataffin, dieselfde plek waar hy 76 jaar voor sy dood gebore is.
In November 2015 moes Chris se regterbeen weens ’n bloedklont geamputeer word en hy het oor sewe weke erg agteruitgegaan.
Die laaste paar dae moes Katinka eenkeer buite die waakeenheid ’n TV gaan soek om vir hom ’n kriekettelling te kry. Simon het sy selfoon op sy pa se skouer gesit en vir hom sy geliefkoosde musiek gespeel: een van George Enescu se Romeense Rapsodieë. Hulle het dit dae later op sy begrafnis gespeel.
“Ons mis sy lag,” sê Katinka. “Sy onverwagte sêgoed.”
“Hy kon lekker tong-in-die-kies wees en hy’t altyd gesê ’n mens moet jouself nie te ernstig opneem nie.”
En hul selfone is baie stiller. Chris het albei elke dag gebel, dikwels twee keer.
“Om my pa te verloor was my grootste vrees,” vertel Simon, wat so graag sy pa se reaksie op sy fliek wou sien en hoor.
“Die verlies van ’n geliefde is soos amputasie,” sê Katinka. “Al is die ledemaat nie meer daar nie, sal die skimpyne dalk vir altyd daar wees.”
Om Chris se storie van Lafras te vertel was vir albei “’n wonderlike voorreg”. En Tobie het Chris se karakter hierdie keer vasgevang en vir ewig op film laat leef.
Ander akteurs in die fliek, wat op 7 April landwyd deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik word, is Neels van Jaarsveld, Cobus Visser, Lionel Newton en Albert Pretorius.
‘Chris het altyd gesê ’n mens moet jouself nie te ernstig opneem nie’