Gesin praat oor sakeman se skietdood
Japie se vrou en oudste dogter vertel van sy laaste oomblikke nadat ’n oudvennoot hom geskiet het
IN DIE sitkamer waar ’n geliefde ou oupaupaupa saans ná werk saam met sy kleinindogter op die bank gaan sit en wafels en kondensmelk eet het, staan die ruikers ingeryg. Tussen hulle troon ’n foto uit van die 48-jarige sakeman wat daarna uitgesien het om in Julie vir ’n tweede keer oupa te word. Maar in die gesinshuis op ’n groot erf in Meyerton-Suid het die blye afwagting op ’n nuwe lewe nou plek gemaak vir rou.
“Ek het my pappa gevra om vas te byt; hy moet nog sy tweede kleinkind ontmoet,” onthou sy oudste dogter, Jacqeline Els (24), wat haar en haar man, Jaco, se eersteling verwag. Dit was toe haar swaar gewonde pa by die ingang van hul familieonderneming inmekaarsak nadat ’n gewese sakevennoot, Coen Fourie, hom twee keer in die rug geskiet het. Ná ’n derde en laaste skoot het Japie Erasmus in sy vrou, Johanna, se arms gesterf. Coen, wat in sy 50’s was, het homself in die kop geskiet toe die polisie op die toneel opdaag.
Nou sit Johanna strak voor haar en uitstaar terwyl ’n kind iewers op die agtergrond huil. Dis Mia (13 maande), hul jongste dogter, Jo-lene (22), en haar man, Ruan Booyens, se eersteling. Sy was Japie se oogappel.
Dan vang die foto van Japie Johanna se oog. Sy neem dit in haar hand en kyk aandagtig daarna. “Dit is so bitter seer,” sê sy oor haar man se skielike dood op 24 Februarie.
Japie sal nou nooit weet of sy tweede kleinkind ’n dogter of seun is nie. Jacqeline laat ’n hand op haar bababoep rus. In haar oë blink die trane toe sy sê: “Nou gaan ons maar eendag vir hom of haar van oupa Japie moet vertel . . .”
SY VROU en dogters onthou hom as ’n werkslaaf wat sy lewe aan sy gesin, onderneming en kliënte gewy het. “Wanneer jy hom gesoek het, was hy maar by die werk of besig met werk,” vertel Johanna. Op sy sterfdag was hy dan ook al halfsewe die oggend op kantoor by Vaal Industrial Development, sy onderneming wat skoonmaakdienste aan nywerhede lewer. Sy vrou, oudste dogter en albei sy skoonseuns werk daar.
“Ja, dit was ’n doodgewone dag, behalwe dat my man se lewe van hom af weggeruk is,” sê Johanna, die woede duidelik in haar stem. Sy was verbaas toe Coen sowat ’n uur later daar opdaag, want sedert 2008, toe hy en Japie in “’n lelike hofsaak” gewikkel was, het hulle geen kontak met hom gehad nie.
Die twee mans het mekaar in 2001 ontmoet terwyl albei by ’n onderneming in Vereeniging gewerk het. Hulle het bevriend geraak en koppe bymekaargesit oor hoe hulle met hul eie besigheid kon begin. Die volgende jaar het albei bedank
en vennote geword in ’ n eie onderneming, Vacuum It (Vanderbijlpark).
“Hy was ’n baie vriendelike man; altyd vol grappies,” sê Johanna oor haar man se eertydse vennoot. Eers het hulle gesukkel op kop bo water te hou, onthou sy, want hulle moes nog klante kry.
Later het dit beter gegaan, maar toe begin Coen die een luukse ná die ander koop: ’n splinternuwe Mercedes-Benz SLK, ’n huis langs die Vaalrivier, ’n motorboot en duur vakansies.
Die Erasmus-egpaar het agterdogtig geraak. Japie het ’n siviele eis teen Coen ingestel nadat dit geblyk het dié het sonder Japie se medewete van die onderneming se bates verkoop. Japie het die saak in die hooggeregshof in Johannesburg gewen en hom aan die onderneming onttrek.
Kort daarna het ’n onbekende man haar gebel en beweer Coen het hom betaal om Japie te vermoor, vertel Johanna. Die man het glo gesê tensy sy hom R20 000 betaal, sou hy Japie se oë met gom toeplak, sy bene breek en hom doodskiet. Johanna het gemaak soos die man gevra het.
“Wat anders moes ek doen? My man se lewe was in gevaar. Ek sou nooit gedink het Coen is tot sulke goed in staat nie. Maar ná die hofsaak het ons vir ons lewe begin vrees,” vertel sy met die hofdokumente in die een hand en ’n snesie in die ander.
Sy het ’n nuwe onderneming in haar naam gestig en Japie het by haar aangesluit. “Ons moes ons lewe en besigheid van voor af opbou. Nou is dit die tweede keer dat (Coen) ons lewe uitmekaarskeur.”
Toe Coen daardie Vrydagoggend by Johanna se kantoordeur instap, kon sy haar oë nie glo nie. “Ek was kwaad, maar kalm.” “Is Jaap hier?” het Coen gevra. Johanna het haar man in die werkwinkel gaan roep. “Wat soek hy hier?” wou Japie enkele minute voor sy dood by sy vrou weet.
Coen het Japie met die hand gegroet en gesê hy wil hom iets in sy motor gaan wys, ’n Honda Civic. Die twee mans het pas uit die kantoor gestap toe Johanna en Jacqeline twee skote hoor klap. Japie het bebloed tot by die kantoordeur gesteier en by die ingang ineengesak.
“Toe Coen my pa agternasit met die vuurwapen en nog patrone onder sy arm vasgeknyp, was ek oortuig daarvan ons is volgende,” vertel Jacqeline met haar hand beskermend op haar babamagie. Sy het vervaard haar pa binnetoe probeer trek en wou die kantoordeur toeklap, maar Coen het haar met die deur weggestamp. Toe rig hy ’n laaste keer sy wapen op Japie waar hy in die deuropening lê en skiet hom ten aanskoue van sy vrou en oudste dogter in die maag.
Intussen het een van die werkers met ’n vurkhyser op Coen se motor afgepyl en dit daaraan vasgehaak. Daarna het ’n werker die polisie ontbied. Terwyl Coen gesukkel het om sy motor uit die vurkhyser los te kry, het werkers die perseel afgesper. Toe die polisie opdaag, het hulle Coen oor ’n luidspreker beveel om hom oor te gee, maar hy het homself in die kop geskiet.
Johanna het met Japie gejaag na die nabygeleë brandweerstasie, waar nooddienswerkers hom dood verklaar het. “Ná die eerste twee skote het die bloed reeds by sy mond begin uitloop, maar ons was hoopvol,” vertel Jacqeline. Sy het haar pa gesmeek om te veg ter wille van sy ongebore kleinkind. Japie kon geen woord uitkry nie. “Asseblief, liewe Heer, moet hom nie vat nie; ons het hom nog baie nodig . . . ek het hom nog nodig,” het Johanna huilend gebid.
Nou herinner die huis Japie se weduwee en kinders aan hul hardwerkende man en pa, wat jare lank eiehandig hier vertrekke aangebou en herstelwerk gedoen het. Wanneer hy nie daarmee besig was nie, sou ’n mens hom in die agterplaas kry by die twee skape en ’n bees wat hy daar aangehou het; sy hondjie, Seuntjie, kort op sy hakke.
Hy was ’n besorgde oupa wat op voorskrifmedisyne vir Mia aangedring het selfs al het sy net ’n gewone verkoue gehad, vertel Jo-lene met die kleinding op haar skoot.
Al is Japie nie meer daar nie, wil hulle met die onderneming voortgaan omdat dit sy passie was.
Johanna kyk weer na die foto van haar oorlede man tussen al die ruikers van meegevoel. “Kon Coen nie maar sy eie lewe geneem en Japie s’n gespaar het nie?” sug sy.