Wonder ná twee van drieling sterf
Twee van die Van Vuurens se vroeggebore drielingdogters is oorlede – toe gebeur die ondenkbare . . .
OP ’N kas onder die trap staan twee houtkissies langs ’n bos geel rose. Daar was eers net een; ’ n tweede, groter ene het sy plek ingeneem nadat Jean-Mari van Vuuren (36) nog ’n babadogter aan die dood afgestaan het. Die fyn vrou sit op ’n gemakstoel in haar en haar man, Divan (35), se huis in Langeberg Ridge in die noorde van Kaapstad. In haar arms is die enigste oorlewende dogter van haar drieling, toegedraai in ’n pienk kombers: Lara. “Wonderwerk-Lara,” sê Jean-Mari. “Dis wat die fantastiese span in Mediclinic Cape Gate se neonatale waaksaal haar noem.”
Ná 118 dae in die hoësorgeenheid kon klein Lara die laaste Saterdag in Februarie eindelik saam met haar mamma huis toe gaan. Die pienk en wit ballonne wat haar verwelkom het, is nog teen die muur. Maar daar was ’n tyd dat JeanMari gedink het sy gaan nie eens een van die drie huis toe neem nie. “Dit is oorweldigend, maar ek is baie bly,” sê sy oor Lara se tuiskoms.
Lara en haar sussies Lily en Julia is op Sondag 30 Oktober gebore, sowat drie maande te vroeg. Die drie het elkeen boonop ’n groot opening (oop ductus arteriosus) in die hart gehad, wat onder meer spysverteringsprobleme veroorsaak het en gemaak het dat hulle sukkel om gewig aan te sit.
DAARDIE Sondagoggend voor kerk het Jean-Mari onverwags kraampyne begin kry. “Binne 10 minute kon ek nie meer loop nie,” onthou sy. Divan het hul twee ouer kinders, Mia (8) en Colin (5), by vriende gaan aflaai en toe met Jean-Mari hospitaal toe gejaag. Hulle was skaars om die hoek van hul huis toe Lara haar opwagting maak.
“My man het stilgehou en op die toeter gelê. Niemand het uit die huis gekom om te sien wie so toet nie, maar net daarna kom drie drawwers toe verby,” vertel Jean-Mari. Een van hulle het kom help en agter die bakkie se stuur ingespring.
Met Lara in Divan se hande het hulle by die hospitaal opgedaag. Mediclinic
Panorama, waar Jean-Mari se ginekoloog en fetale spesialis gewag het, was te ver; Cape Gate was al opsie.
“Hulle het net die naelstring geknip en dadelik met haar na die waaksaal ge- - haas. Toe sy daar kom, was sy koud en n blou. Ek kan nie alles onthou nie; ek was s nie heeltemal by nie,” sê Jean-Mari. “Toe e ek bykom, voel ek die tweede baba wil l kom. Toe word Julia in die hysbak gebore. . Hulle het haar ook gegryp en intensieff toe gehardloop.” Lily, die swakste, kleinste baba, is buite die kraamsaal gebore.
Lara, wat nou sowat 1,9 kg weeg, was omtrent so groot soos die helfte van haar hand, wys Jean-Mari.
Hulle het nie beplan om nog kinders te hê nie en het geskrik toe die dokter in Julie sê ’n tweeling is op pad. “Ek’t verskriklik gehuil. My man het van skok gelag.”
Met die volgende sonarondersoek het Jean-Mari self op die skerm gesien dis drie. “Ek was yskoud van skok. Tog raak jy dadelik weer sag wanneer die dokter met elke baba se aparte sonar begin.”
Die dokter kon sien daar is dalk hartprobleme. “By al drie, maar veral by Lily.”
Divan, ’n grondverskuiwingsmeganikus, was in Johannesburg en Jean-Mari moes alleen luister toe die dokter alles verduidelik. Daar was ’n groot kans dat minstens een van die babas Downsindroom of ander kwale sou hê.
Binne ’n week moes Jean- Mari en Divan sê of hulle nog riskante toetse of ’n selektiewe aborsie wou laat doen en of hulle met die swangerskap wou voortgaan. Die Van Vuurens het besluit om die swangerskap bloot sy gang te laat gaan.
Jean-Mari onthou die oomblik dat sy die babas die eerste keer in die broeikas gesien het. “Jô, dit was erg. Dit was net masjiene, maskers en pype . . . Ek kon nie hul gesiggies sien nie; net dié klein lyfies.”
Die dokter was eerlik. “Hy het van die begin af gesê Lily vaar nie goed nie. Die dokter het ook heeltyd gesê ons moet bid dat ’n hoër hand oor hulle is. Julia en Lara was kritiek maar stabiel.”
Lily is ’n dag later dood. “Dit was so erg, want ek het haar gesien toe hulle die masker en goed afhaal. Sy was volmaak. Daar was nie ’n geringe teken van ’n geboortedefek nie. Dit was net haar hart.”
Jean-Mari en Divan het ’n week gewag voor hulle Mia en Colin van Lily se dood vertel het. Hulle wou dit eers self begin verwerk. “Ons het op ’n kinderlike manier verduidelik Lily is nou ’n engel en by Liewe Jesus en sy kan hulle sien, al kan hulle haar nie sien nie.”
SyS sê êdi die tweet het ht eers omgekrapk gelyk,lk maar ’n uur later hul tekengoed gaan haal en Lily as ’n engel geteken. “Tot vandag toe teken hulle hulle (Lara, Julia en Lily) en bid heeltyd oor hulle.”
Die lewe moes aangaan, sê Jean-Mari. “’n Mens word onverwags in omstandighede geplaas. Jy vind êrens die krag om aan te gaan. Ons het ’n besige huishouding met kinders wat in die skool is. Dit kon nie net stilstaan nie. Jy raak so besig, jy dink nie aan alles nie. Dis wanneer ek alleen is dat die emosies my heeltemal oordonder.”
Twee maande later, op 3 Januarie, het die susters Jean-Mari en Divan gebel om te sê hulle moet dringend hospitaal toe gaan. Julia se toestand het onverwags versleg. “Ek was van my kop af. Ek het hardop gebid dat Hy haar nie nou vat nie. Sy kan nie gaan nie; sy was die vorige dag nog reg. Ek het haar nog vasgehou. Net haar magie was geswel. Toe ons die eenheid se deure oopmaak, het sy pas gesterf,” sê Jean-Mari en vee oor haar wang.
Hulle het in ’n aparte vertrek afskeid geneem van Julia, wat spysverteringsprobleme gehad het. “Ek onthou ek het heeltyd gesê, en ek voel nie meer so nie, dat Lara ook net gaan (sterf). Ek wou nie hê sy moes leef en die ander twee het dit nie gemaak nie. Ek het nie kans gesien vir die emosies en om vir haar te baklei as die ander dit nie gemaak het nie.”
Maar hulle moes hul fokus na hul oorblywende vegtertjie verskuif. Die dokters het Lara se voeding aangepas om haar geswelde maag te stabiliseer. Sy moes gewig aansit sodat die opening in haar hart herstel kon word. Hulle was ook bang al die antibiotika en suurstofhulp kan Lara se gehoor en sig benadeel.
“Omtrent oornag het ’n wonderwerk gebeur. Dit was die dokter se woorde ook. (Die opening in haar hart) het baie verklein en Lara se lyfie kon dit beter hanteer. Hulle hoef toe nie meer dadelik te opereer nie,” sê Jean-Mari.
En ná al die toetse is Lara, wat toe goed begin gewig aansit het, se gehoor en sig ook 100 persent. “Ons kon dit nie glo nie. Dit is nog ’n wonderwerk, want die dokter was baie bekommerd.”
Lara moet nog dan en wan hospitaal toe gaan. Op ses maande sal die dokter besluit of die operasie uitgestel of dalk selfs afgestel kan word. “Ek het nog nooit in wonderwerke geglo nie,” sê Jean-Mari. “Met Julia en Lily wat gegaan het (oorlede is), was ek kwaad en het ek die Here gehaat; nou het my geloof weer versterk.”
Sy dink nog dikwels hoe dit sou wees as al drie dogters by die huis was, sê JeanMari. Maar eendag gaan sy Lara van haar engelsussies vertel en vir haar sê: “Jy is ’n ongelooflike wonderwerk.”