Boeke: Dubbelspel-opvolg is hier
Wilna Adriaanse se langverwagte opvolg op Dubbelspel is eindelik hier
SO OF suiker nie in haar mond kan smelt nie sit die skrywer op haar publisiteitsfoto. So asof die leser niks meer van haar kan verwag as ’n storie wat sussend van A tot Z loop nie.
Maar nee, gordel liefs vas vir ’n polisieman wat tronk toe is vir bedrog en die verlies van sy gesin nie kan hanteer nie, ’n orrelis wat uit die erediens moet vlug toe sy twee vreemde mans by ’n kerkbank sien inskuif, rampokkers wat nie huiwer om helder oordag die insittendes van ’n voertuig in die verbyry dood te skiet nie, en manne wat praat asof hul ma nooit kleintyd hul mond met seep uitgespoel het nie. Wilna Adriaanse lag. “Ek het nie besef ek lyk na ’n ordentlike vrou nie! Dalk kom ek so voor, maar dit maak my nie blind en doof vir wat in die wêreld aangaan nie. Ek is verslaaf aan die nuus en is self ’n groot aanhanger van spanningsverhale.” Eindspel is die vervolg op haar blitsverkoper Dubbelspel, hoewel sy op haar webtuiste skryf sy sal nooit ’n opvolgboek skryf nie. “Ek voel steeds so. ’n Opvolg moet sterk energie hê en dit moet ’n volledige verhaal op sy eie wees, nie ’n flou afwatering waarin vorige karakters net herwin word nie,” sê Wilna. “Ek hoop ek het dit met Eindspel reggekry. Wat hierdie opvolg anders maak, is dat Eindspel se storie eerste na my toe gekom het. Ek wou aanvanklik Dubbelspel se gebeure as terugflitse wys, maar het besef dit is te veel, en die agtergrond is eintlik ’n storie op sy eie.” Haar snaaksste dialoog gee sy vir Brenda, die Seepuntse prostituut. “O, nee, ek het nog nooit vir Brenda dialoog gegee nie. Sy het van die begin af met haar eie manier van praat haarself aangemeld. Dit gebeur mos dikwels dat ’n newekarakter eintlik die kollig steel. “Ek vermoed dit het te doen met die feit dat ’n mens bereid is om hulle baie meer vryheid toe te laat,” sê Wilna. “Dit is nie die hoofkarakter nie, so jy het nie soveel om te verloor as dit nie werk nie.”
Happy, die koerantverkoper en ’n bron van baie inligting, se taal is weer anders, maar net so eg.
“Ek het grootgeword op ’n dorp waar ’n mens meer kontak het met al die dorpsmense – nie net jou eie woonbuurt se mense nie. En ons dorp het besonder bekkige en interessante koerantverkopers gehad. Happy is seker gebore uit almal wat ek in dié jare gehoor het.
“Ek is van nature nuuskierig, en mense interesseer my eindeloos. Ek vermoed ek versamel al daardie mense wie se pad myne kruis en op ’n dag kristalliseer ’n karakter.”
Wilna se sekstonele in Dubbelspel was van die voortreflikstes in Afrikaans, maar in Eindspel sou die leser afgeskeep voel wat hierdie saak betref. ’n Mens wonder of die dominee haar voor stok gekry het . . .
“Ek is jammer as ek die lesers afgeskeep het wat die seks betref. Die karakters was ongelukkig ’n bietjie besig in Eindspel; daar was nie soveel tyd vir lakenspeletjies nie. Ek het darem nog nie ’n oproep of besoek van ’n dominee gekry nie! Buitendien is dit moeilik om sekstonele in Afrikaans te beskryf. Voor jy jou kom kry, verval jy in die gebruik van clichés.”
Was sy al spyt oor haar Nuwejaarsvoorneme op 31 Desember 1999 om in alle erns te begin skryf?
“Wanneer ek so sukkel om ’n boek klaar te skryf, wens ek altyd in ’n stadium dat ek in ’n produksielyn in ’n fabriek gewerk het. Maar sodra die karakters weer met my begin praat, is ek bly ek werk nie in ’n fabriek nie. Ek is mal daaroor om stories te vertel.”
Wilna het nog nie met ’n nuwe storie begin nie. “Op die oomblik kyk ek of my gesin, familie en vriende my nog wil ken.”