17 jaar vermis, maar familie bly hoop
Hul seun en broer het reeds 17 jaar gelede onder geheimsinnige omstandighede verdwyn, maar tyd kan nie sy familie se hoop demp nie
HAAR woelwaterseun het 17 jaar gelede net verdwyn, maar sy glo vas hy leef nog.
Antoinette Gerber is nie alleen in haar hoop nie. Die Pretoriase ma se drie volwasse dogters en Andries Gerber, die pa van haar vier kinders, deel Antoinette se oortuiging. Saam soek hulle onverpoos na hul verlore seun en broer.
Die susters het ’n paar jaar gelede die gesin se desperate soektog na die sosiale media uitgebrei en ’n Facebook-blad vir hul broer begin.
’n Lang ruk het die blad nie gevorder nie, maar verlede maand het hulle dit opnuut begin in stand hou, want hulle sal nie rus voor hulle hul vermiste broer, Eric Gerber, opspoor nie.
Selfs toe die jongste suster, JeanneMari Gerber (24), vroeër vanjaar haar B.Com.-graad in bemarking op Unisa se gradeplegtigheid in Pretoria ontvang, kon sy nie in die opwinding van haar medestudente deel nie.
Dit was die hoogtepunt van JeanneMari se akademiese loopbaan. Haar trotse ouers het in stoele weerskante van haar gesit, maar die hunkering het in haar bly knaag: As haar broer tog ook net hier kon gewees het . . .
Sowat 1 400 km verder suid het haar suster Antoinette de Wet (33) in haar sitkamer in Kaapstad gesit en oor haar vier maande swanger maag gevryf.
Sy wil nie hê haar ongebore dogter moet sonder haar oom grootword nie, het sy al hoeveel keer vir haar man, Jacobus, gesê.
Vroeër die dag het die twee vroue se oudste suster, Thea Pienaar (42) van Brakpan, vir die soveelste keer op Facebook gekyk in die hoop om iets van Eric te hoor.
Of van iemand wat dalk weet wat van hom geword het, sê Jeanne-Mari aan Huisgenoot. “Al is dit nou ook 17 jaar gelede dat hy verdwyn het. Niemand kan mos sommer net wegraak nie?”
Vir die drie susters en hul ouers voel dit soos gister toe Eric op 11 Februarie 2000 spoorloos in die Jakarandastad verdwyn. Ná al die jare glo hulle steeds hy leef en hoop nou iemand kom met inligting na vore om hom op te spoor.
Die Facebook-blad Missing – Eric Clody Gerber is reeds deur meer as 1 000 mense gedeel, maar steeds is daar geen nuus nie.
KORT voor Jeanne-Mari se gradeplegtigheid ontmoet ons haar en haar ouers in Centurion. Haar pa, Andries, het vroeër die dag op die O. R. Tambo-lughawe geland om die spesiale geleentheid by te woon. Hy en die kinders se ma is geskei en hy woon deesdae in Durban, waar hy as spesialisopleier in pypleiding werk.
Dan vertel hy van die vreemde omstandighede daardie dag in Februarie 2000 toe Eric weggeraak het.
“Dit is so vreemd dat niemand dit eintlik kan glo nie,” sê hy. “Ons ook nie.”
Eric was 22 jaar oud en het by City Glass in Centurion as glas-installeerder gewerk. Hy het die betrokke dag van naarheid en kopseer gekla. Hy het toe ’n doktersafspraak gemaak en sy werkplek op sy motorfiets verlaat.
Daardie aand het die vrou by wie hy in Claremont, Pretoria, loseer het sy ma gebel en gesê Eric het nie huis toe gekom nie. Sy selfoon was ook afgeskakel. Hy het ook nooit vir sy doktersafspraak opgedaag nie.
“Ons het daardie volgende paar dae van polisiekantoor tot polisiekantoor gery,” onthou Antoinette sr. “Van hospitaal tot hospitaal en van lykshuis tot lykshuis. Niks. Ons kon niks kry nie. Saans het ons sit en wag dat hy huis toe kom, maar hy het nooit opgedaag nie.”
’n Paar dae later het lede van die Wierdapark- polisiekantoor Eric se motorfiets langs die pad in Centurion gekry. Dit het op ’n oop stuk veld gelê, maar die fiets was nie beskadig nie en dit het nie gelyk of dit in ’n ongeluk betrokke was nie. Geen geld is ook uit sy bankrekening onttrek nie.
Die polisieondersoeke wat gevolg het, kon tot dusver nog niks oplewer nie. Ook nie die privaat speurders wat Eric deur die jare gesoek het nie.
Andries vertel ’n privaat speurder het hom drie jaar gelede gebel en gesê hy het ’n adres waar Eric nou in Port Elizabeth woon. “Ons het die polisie uitgestuur, maar die inligting was vals.”
Verlede maand het nog ’ n privaat speurder Andries gebel en gesê hy sal Eric gaan soek as hy hom R24 000 gee, maar bygevoeg hy kan niks waarborg nie. Toe antwoord Andries hom: “Kry my seun. Eers dan sal ek jou betaal.”
Andries gooi sy hande in die lug. “Ek is moedeloos. Moedeloos!” sê hy en sluk aan die knop in sy keel.
Maar iets pla Antoinette sr. ’n Paar dae voor sy verdwyning het Eric haar gebel en verskriklik gehuil.
“Hy het gesê hy kan nie praat nie, maar wil terugtrek huis toe.”
Die naweek voor hy verdwyn het, het hy by sy suster Thea op Brakpan gekuier. Sy onthou een van die laaste goed wat hulle saam gedoen het, was om te gaan soek na haar kat wat weggeraak het. Maar daardie naweek wou hy ook by haar weet of hy by haar kan kom bly as hy op Brakpan kan werk kry.
“Eric was ’n baie privaat mens,” onthou sy haar broer. “Hy was altyd ’n happy ou wat lief was daarvoor om grappe te maak en almal om hom gelukkig te maak.”
Dalk soek hy ook na hulle, wil sy glo. “Dit is so lank gelede. Ons almal se adres en telefoonnommer het al verander. Dalk is dit vir hom net so moeilik om ons te kry soos ons vir hom?”
Ja, sy klou vas aan die hoop, sê Thea. En sy sal optimisties bly tot daar ’n lyk is om te begrawe.
MENSE sal Eric uitken aan sy besonderse diepblou oë en blas vel, sê Antoinette sr. Op sy voor- en agterkop is twee littekens waar hy as kind steke gekry het. “Hy het gereeld uit bome of van mure afgeval,” onthou sy met ’n glimlag. “In ’n stadium was ek drie maande lank elke naweek met hom in die hospitaal se ongevalle-afdeling.”
Toe Andries ’n rukkie later sy emosies onder beheer het, vertel hy sy grootste wens was nog altyd dat hy van Eric ’n Springbok-gewigopteller wou maak.
“Dit is mos maar ’n pa-ding, dat jou kind in jou voetspore sal volg.”
Dan beduie hy met albei hande in die lug. “Tien jaar. Dit is hoe lank ek ’ n Springbok was,” vertel Andries. “Ek wou hê Eric moes ook een wees, maar in die gim het hy net so rondgeploeter. Dan dryf ek hom . . . tot ’n dag toe hy vir my sê: ‘Pa, dié ding is nie vir my nie.’ ”
Andries onthou ook hoe sy seun gereeld vir sy ma blomme gebring het. “Op pad terug huis toe ná skool sou hy sommer in ander mense se tuin gaan blomme pluk. Hy was dikwels in die moeilikheid daaroor.”
Eric is vandag steeds op die lys van vermiste mense in Suid-Afrika. Sy polisiedossier is ook nie gesluit nie, want hulle weier om hom dood te laat verklaar, verduidelik Andries en Antoinette sr.
Antoinette trek haar asem diep in. “Nee. Hy is nie dood nie,” sê sy.
Dan kom lê Andries se hartseer skielik weer klam in sy oë.