Huisgenoot

Halfbroer praat ná polisielid verbrand

Die meisie van ’n geliefde polisieman met ’n ‘sagte hart’ is in hegtenis geneem nadat hy verbrand het. Sy halfbroer vertel van die tragedie

- Deur JACQUES MYBURGH Foto’s: DINO CODEVILLA

DIE werf lê aan die einde van ’n grondpad wat verby die polisiekan­toor hier in die Bosveldse nedersetti­ng Zebediela kronkel. Die netjiese voortuin met sy rye mielies, patats en tamaties dui op ’n sorgsame hand. Maar die gekraakte vensters, swartgebra­nde mure en opgekrulde sinkplaatd­ak van die ou staatshuis getuig van die raaiselagt­ige tragedie wat onlangs hier afgespeel het.

Ao. Nico du Plessis (47) se verkoolde lyk is in die gang van sy brandende huis gekry waar hy vermoedeli­k na veiligheid probeer kruip het. “Nico was ’n polisieman vir wie almal lief was,” vertel Hendrik Smit (39), sy halfbroer, terwyl hy die voordeur oopmaak. Volgens Hendrik het Nico “26 jaar lank misdaad beveg, maar ons het nooit kon dink hy sou so sterf nie. Dalk aan diens, ja, maar nie so nie.”

Hendrik, ’ n sakeman van Naboomspru­it, was kort op die brandweer se hakke. Jana Roets (33), Nico se meisie van die afgelope ses jaar, het buite die brandende huis gestaan. “Toe ek by die huis aankom en die vlamme sien, het sy dadelik na my gekom en my omhels. Dit was vir my vreemd. Sy het heeltyd gesê hoe jammer sy is. Waaroor was sy jammer?”

Laat dieselfde aand is Jana weens Nico se oënskynlik­e moord in hegtenis geneem. Teenoor ons beweer Hendrik hy was by toe Jana op die grasperk buite die uitgebrand­e huis aan die polisie beken sy het paraffien oor Nico se bene gegiet waar hy op sy bed gelê het en hom toe aan die brand gesteek.

Van Jana weet Hendrik min, net dat sy van Nico afhanklik was vir verblyf en geld. “Ek het baie vir Nico gesê hy moet ontslae raak van dié vrou; sy teer op hom. Maar Nico het ’n sagte hart gehad en net gesê sy het nie ’n ander heenkome nie,” vertel sy halfbroer.

Nico het swaarkry geken. Hy het twee egskeiding­s agter die rug gehad en homself op 22 Januarie 2002, sy 32ste verjaardag, probeer doodskiet.

Oor wat regtig voor sy vlammedood in die huis aan die einde van grondpad gebeur het, is in hierdie stadium steeds meer vrae as antwoorde.

Op die toonbank in die swartgebra­nde dop van die kombuis lê ’n 2013-dagboek met ’ n landswapen en Nico se naam daarop. Maar binne-in is hartjies geteken en die kontaknomm­ers daarin is Jana se familie s’n.

Op een bladsy, in dieselfde vroulike handskrif as Jana se kontaklys, staan groot geskryf: “I love Nico forever.” Op nog een: “Ek haat myself.”

BY Zebediela se polisiekan­toor groet Nico se kollegas ons vriendelik. Hy was al wit polisieman hier op die dorp, “maar Nico het nie kleur gesien nie; hy het geregtighe­id en gelykheid gesien”, vertel een van die konstabels. Volgens hulle het hy goeie werk in die gemeenskap gedoen.

Op Donderdag 2 Maart het Nico sy kollegas vertel sy rug is seer en dat hy vroeg huis toe gaan. “Twee van Nico se rugwerwels het begin verkrummel,” verduideli­k Hendrik. “Hy het baie pyn gehad en sterk kalmeer- en slaappille geneem.”

Min het Nico se kollegas geweet hulle sou hom nie weer lewend sien nie.

Toe Nico tuiskom, vertel Hendrik verder, het hy Jana glo van sy rugpyn vertel.

En toe sy broer aan die slaap begin raak, beweer Hendrik verder, het Jana volgens haar bekentenis die paraffien oor hom uitgegooi en hom aan die brand gesteek.

Toe Hendrik by die brandende huis opdaag, kon hy nie dadelik ingaan nie. “Ek het net op die gras sit en staar na die vlamme en gehoop my broer is nie daar binne nie,” vertel hy.

Maar nadat die vuur geblus is, het hy Nico se lyk in die gang gesien. “Dit het gelyk of hy op sy elmboë weg van die vuur af probeer kruip het; daar was niks van sy bene oor nie,” vertel Hendrik. “Ek het my hand ’n paar sentimeter van sy gesig af gehou om te voel of hy dalk nog asemhaal . . . Ek kon die hitte van sy liggaam voel.”

Nico is onherkenba­ar verbrand en kon net uitgeken word aan die ou litteken op sy voorkop waar hy hom destyds geskiet het, vertel Hendrik.

Nico en Jana het elkeen hul eie slaapkamer gehad, vertel hy verder. Hy wys ons Nico se slaapkamer. Al wat die vlamme nie kon verwoes nie, is die ysterraamw­erk van sy bed.

Volgens Hendrik was daar veel minder brandskade in Jana se kamer en het die polisie van haar klere netjies gevou op haar bed gekry. “Dit was asof sy beplan het om iewers heen te gaan,” bespiegel Hendrik.

Kol. Moatshe Ngoepe, provinsial­e polisiewoo­rvoerder, het later aan Huisgenoot bevestig Jana het beken dat sy die huis met Nico daarin aan die brand gesteek het.

Jana sou op 15 Maart in die streekhof in Lebowakgom­o verskyn op aanklagte van moord en brandstigt­ing.

Wat die motief vir die beweerde moord op Nico sou wees, weet niemand nie. “Ons weet nie veel van Jana nie,” sê Danie van der Merwe, ’n restaurant­eienaar op Naboomspru­it. “Nico het nog altyd met vroue gesukkel. Sy tweede vrou het hom ná hul egskeiding aan Jana voorgestel.”

Nico het ’n dogter (26) uit sy eerste huwelik en ’n seun (12) uit die tweede. Sy eksvroue wou nie met ons praat of geidentifi­seer word nie. Maar ’n vriendin van Jana wat ook naamloos wil bly, het bevestig Jana het sowat ses jaar gelede by Nico se tweede eksvrou ingewoon en Nico so ontmoet. “Toe ons weer hoor, het Jana ewe skielik by Nico ingetrek.”

Jana was werkloos en volgens die vriendin het sy twee kinders gehad by ’n vervreemde man. Die welsyn het die kinders glo op ’n kol van haar af weggeneem.

“Nico het ’n baie groot hart gehad en sou enigiemand help wat in die moeilikhei­d was,” vertel Hendrik. Volgens hom het Jana en Nico ooreengeko­m sy sou die huis skoonhou in ruil vir haar verblyf.

EN Nico se mislukte selfdoodpo­ging? Nico was baie na aan hul stiefpa, Eddie, verduideli­k Hendrik. “Hulle het altyd saam verjaardae gevier. Nico het op 22 Januarie verjaar en oom Eddie die 17de. Nico het oom Eddie se dood baie swaar gevat en hom toe destyds op sy verjaardag geskiet.” Nico se biologiese broer, Ockert du Plessis, vertel hy was op sy gelukkigst­e langs die viswaters of wanneer hy tuinwerk gedoen het. Dit het hom in onlangse jare gehelp om die spanning van sy polisiewer­k te verwerk. Jana het oënskynlik geen soortgelyk­e uitlaatkle­p gehad nie, lei ’ n mens af uit haar inskrywing­s in die dagboek op die kombuistoo­nbank. “Ek het baie stres,” het sy op een plek geskryf. “Niks wil regkom nie en ek is moeg vir alles wat verkeerd gaan. “Ek is so negatief. Daar is nog baie dae in die maand oor en ons gaan agtertoe en nie vorentoe nie. Daar is nie kos, gas of elektrisit­eit nie.”

‘Jana het skielik by Nico ingetrek. Hy het ’n baie groot hart gehad en sou enigiemand help wat in die moeilikhei­d was’

 ??  ?? HOOFFOTO: Hendrik Smit staan in die huis in Zebediela waar Nico du Plessis, sy halfbroer, doodgebran­d het. REGS HEEL BO: Nico, ’n geliefde polisieman in die gemeenskap, was mal oor visvang. REGS BO: Jana Roets, wat by hom gewoon het en sowat ses jaar...
HOOFFOTO: Hendrik Smit staan in die huis in Zebediela waar Nico du Plessis, sy halfbroer, doodgebran­d het. REGS HEEL BO: Nico, ’n geliefde polisieman in die gemeenskap, was mal oor visvang. REGS BO: Jana Roets, wat by hom gewoon het en sowat ses jaar...
 ??  ?? AlA Nico se besittings is in die brandbr verwoes. Net die raam vanva die bed waarop hy geslaap het,he het oorgebly.
AlA Nico se besittings is in die brandbr verwoes. Net die raam vanva die bed waarop hy geslaap het,he het oorgebly.
 ??  ?? Nico het volgens sy kollegas nooit tou opgegooi wanneer hy aan ’n saak gewerk het nie. Hier is hy in vroeër jare as ’n jong konstabel.
Nico het volgens sy kollegas nooit tou opgegooi wanneer hy aan ’n saak gewerk het nie. Hier is hy in vroeër jare as ’n jong konstabel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa