Huisgenoot

Eie baba kweek begrip by Zephany

Sy verstaan nou die hel waardeur haar biologiese ma is, vertel Zephany vir Marelize Potgieter, maar haar grootmaakm­a sal altyd haar ma wees en sy voel eintlik of sy nêrens hoort nie

- Foto’s: JUAN VAN ROOYEN

DIE bondeltjie mens in die pienk babakomber­s is tjoepstil op haar ma se skoot. Die mondjie gaap, die arm strek en dan sink sy weer in ’n diep slaap weg. Die jong meisie wat die baba vashou, lyk nes enige ander jong ma. Maar sy is nie.

Sy is Zephany Nurse, die meisie wat wêreldwyd opslae gemaak het toe dit in 2015 aan die lig kom sy is amper 20 jaar gelede langs haar ma se hospitaalb­ed gesteel.

En nou is Zephany (19) ’n tienerma, nes haar biologiese ma, Celeste Nurse (38), destyds.

’n Sagtheid hang om die jong meisie wie se wêreld die afgelope twee jaar in duie gestort het en wat die afgelope paar weke nogeens ’n nuwe lewensfase moes begin toe sy ma word.

“Sy is te oulik,” sê sy toe sy na die lyfie met die pruilmond kyk. “So klein.”

Zephany se hare is in ’n poniestert op haar kop vasgemaak en in die swart spanbroek en gemaklike wit trui lyk sy gereed vir enige uitdaging wat Emma* haar moontlik kan bied.

Dit was nie maklik om die mensie in die lewe te bring nie, vertel sy. Die ongeloof lê steeds oor haar gesig toe sy dink aan die ervaring waarop sy nie heeltemal voorbereid was nie. “Toe ek haar sien, was ek net so bly die pyn is weg.”

Emma is vroegoggen­d op 20 Februarie gebore. Zephany sê sy het onmiddelli­k daarna uitgesien om haar huis toe te neem. “’n Mens is lief vir haar, want jy het haar nege maande lank gedra en jy kan nie wag om te sien hoe sy gaan lyk nie,” verduideli­k sy.

Tog erken sy: “Ek is nie gewoond daaraan om ’n kind te hê nie. Gewoonlik kon ek maklik uit verhouding­s met mense stap. Selfs skool; jy kan wegstap.

“Maar met haar is dit anders; ek moet na haar kyk.”

Hierdie onderhoud met Huisgenoot in die huis waar sy en die man woon wat haar grootgemaa­k het, Johan*, is Zephany se eerste met die media.

’n Niggie kom haal klein Emma om Zephany ’n blaaskans te gee. Haar oë volg die twee beskermend tot hulle by die vertrek uit is.

Dié pragtige jong vrou se verhaal klink soos ’n fliek se draaiboek, en kyk ’n mens so na haar, kan jy skaars glo sy kan on- danks alles so gemoedelik lag en gesels.

Eers het sy in 2015 in haar matriekjaa­r uitgevind die ma en pa wat haar grootgemaa­k het, is nie haar biologiese ouers nie en dat haar ma haar gesteel het. Dit was moeilik om skielik ’n band te smee met haar biologiese ouers, Morné (40) en Celeste Nurse.

Daarna was dit die uitmergele­nde hofsaak waarin haar grootmaakm­a, Maria*, aan ontvoering skuldig bevind en vir 10 jaar tronk toe gestuur is.

En toe raak sy swanger. “Ek weet nie hoe dit gebeur het nie,” sê Zephany. “Dit het net. Ek was veronderst­el om die jaar in New York te gaan studeer en toe sit die swangerska­p alles stop. Ek wil ’n loopbaan en ’n toekoms hê. Dit was my hoop; nie ’n baba vanjaar nie.”

DIE storie oor Zephany, wat in 1997 uit die Groote Schuurhosp­itaal in Kaapstad gesteel en in Februarie 2015 gevind is, het wyd opslae gemaak.

Dit het toevallig gebeur toe Morné en Celeste se naasoudste spruit, Cassidy, in dieselfde skool as Zephany beland. Klasmaats kon nie ophou om vir hulle te sê hoe baie hulle na mekaar lyk nie. Mettertyd het Cassidy haar ouers daarvan vertel.

Kort voor lank het die Valke Zephany een oggend by die skool gaan haal vir ’n DNS-toets.

“Ek het glad nie gedink dit kon waar wees nie,” vertel Zephany oor die dag toe die polisie by haar skool opdaag. “Die hoof het my na sy kantoor laat kom en die polisie was saam met twee maatskapli­ke werkers daar. Hulle het vir my gesê ek is dalk die baba wat gesteel is. Ek was seker ek is nie, maar het gedink: ‘Doen die toetse en kry dit klaar.’

“Ek het nie geweet hoe groot die storie is nie. Ek het nog nooit van Zephany gehoor nie. Ek het nog nooit van die Nurse-familie gehoor nie.”

Al wat sy geweet het, was dat sy baie na die ander skoolmeisi­e gelyk en dat ’n suster van dié meisie as baba verdwyn het. Zephany het Maria daarvan vertel.

“Ek het haar (Maria) ’n foto van Cassidy gewys. Sy het gesê dis waar dat ons op mekaar trek en dat ek haar moet oornooi. Dit was seker drie dae voor alles uitgekom het.”

Dan kyk sy skielik op en sê: “Sy sê steeds sy het nie die baba gesteel nie. ‘Ek het jou nie gesteel nie. En ek gaan dit

‘Hulle het gesê ek is dalk die baba wat gesteel is. Ek was seker ek is nie’

bewys wanneer ek uitkom,’ sê sy. Dis moeilik vir my.”

Haar oë dwaal weer af na haar hande. “Sou jy jou ma geglo het?” sê-vra sy. “Ek glo haar.”

Zephany was wel destyds geskok toe die polisie sê die Retreat-hospitaal, waar sy kwansuis gebore is, het nie haar geboorte gedokument­eer nie.

“Daar was rekords van ander babas wat op daardie dag gebore is, maar geen Leah Bekker* (’n skuilnaam vir haar grootmaakn­aam) nie.”

Destyds was sy kwaad vir haar ma. “Hulle het ’n prentjie van haar geskets as iemand wat die Nurse-familie soveel pyn veroorsaak het.”

Sy is toe na ’n plek van veiligheid geneem. Johan is ook daarheen geneem vir ondervragi­ng.

“Ek was kwaad,” onthou Zephany, “want al was daar bewyse teen my ma, was daar geen bewyse teen my pa nie.”

Dis ook hier dat sy Celeste en Morné vir die eerste keer ontmoet het. “Hulle was baie emosioneel, veral sy. Ek moes net voorgee.

“Sy het dalk gevoel ek voel niks. Sy wou heeltyd weet: ‘Is jy oukei? Wat voel jy? Wat makeer?’ Ek het nog gedink: ‘Hoe kan jy my vra wat fout is? Ek was geïrriteer­d en wou huis toe gaan. Ek wou net aangaan met my lewe en dinge vir myself uitpluis, maar dit het nie gebeur nie.”

Zephany is saam met ’n maatskapli­ke werker huis toe en het twee weke by haar ingewoon. Maria is op borgtog vrygelaat, maar verbied om met haar kontak te maak. Ná die twee weke kon Zephany besluit of sy by Johan of die Nursegesin wou gaan woon. Sy het die mense en omgewing gekies wat sy ken en waar sy veilig voel.

“Toe ek teruggaan, was alles anders – heeltemal. Ons het glad nie oor die saak gepraat nie; niemand het daaroor gepraat nie en ons het probeer aangaan,” vertel sy. “Dit was baie rou.”

Deesdae praat hulle maklik daaroor. “Die tyd het baie geheel. Ek wens net my ma was hier, dan sou ek kon aangaan met my lewe. Die baba het dinge kom vertraag, maar dis nou hoe dit is.”

HAAR dogter se geboorte het haar baie begrip gegee vir die trauma waardeur Celeste is, sê Zephany. “Ek probeer om nie daaraan te dink nie, maar ek weet nie wat ek sou gedoen het as dit met my moes gebeur het nie.

“Celeste is deur hel. Dit kan ek sê noudat ek my eie kind het.

“Net die gedagte maak my bang – en om dan jou dogter op te spoor wanneer sy so groot is en dis heeltemal anders as wat jy gedink het dit gaan wees. As ek my dogter 18 jaar later moes gevind het, sou ek jaloers gewees het en kwaad vir die vrou (wat haar gevat het).

“Maar soos ek al vir almal gesê het: My ma (Maria) sal altyd my ma wees. Daar is ’n volwassenh­eid in haar wat altyd daar sal wees, ’n volwassenh­eid wat ook deel is van hoe ek grootgemaa­k is.”

Zephany en Celeste kom deesdae goed oor die weg en sien mekaar af en toe. Sy het kontak met Morné, maar sien hom nie juis nie.

Dit was baie swaar toe sy uitvind haar biologiese ouers is geskei en sy sukkel nou nog soms om hul sienswyse te verstaan. Tog waardeer sy Celeste se hulp en raad met die baba.

“Ek is vasgevang in ’n situasie waar ek lief is vir my ma en nog leer om Celeste as ’n ma te sien.”

Zephany sê dis moeilik, want dit voel soms of Celeste en Morné se onopgelost­e kwessies haar aftrek.

“My lewe was sorgeloos. My ma het vir alles gesorg; ek moes net leer om eendag ’n loopbaan te kry. Niks meer is van my verwag nie.

“Celeste het self vir my gesê sy weet nie of hulle my ’n beter lewe sou kon gegee het nie. Ek is baie bly sy het dit teenoor my erken.”

Haar grootste vrees is om Emma eendag die “aaklige storie”, soos sy daarna verwys, te vertel. En sy wonder hoe sy Maria sal kan deel maak van haar babadogter se lewe.

“Ek wil haar gereeld na haar toe vat sodat sy gewoond kan raak aan haar, dat sy ook haar ‘ma’ kan wees.”

Zephany is so vasbeslote hieroor dat sy Emma al op vyf dae saamgeneem het om in die gevangenis op Worcester by Maria te gaan kuier.

“Ek het net gesorg dat ek haar toehou, want daar is baie kieme. Sy (Maria) was so bly, maar sy het nie gehuil of iets nie. Sy wens net sy kan nou by die huis wees.”

Zephany vertel haar pa kry swaar sonder sy vrou, maar hy sorg dat hy elke naweek by haar gaan kuier.

“Die storie is so ’n groot gemors,” sê Zephany moedeloos.

Sy besef sy sal eendag Emma se vrae moet beantwoord, soos: “Wie is my regte ouma en oupa? Wie is jou ouers? Wat het nou eintlik gebeur?”

Want sy besef as ’n mens oor alles lees, lyk haar “mammie” in die oë van die wêreld na ’n misdadiger.

“Vir mense wat haar nie ken nie, sal sy altyd ’n dief wees.”

Dan wonder sy hoe Emma oor Maria sal voel. “Dalk dink sy: ‘Jy wil hê ek moet hierdie mens ma noem, maar sy het jou gesteel. Hoe sal jy daarvan hou as iemand my steel?’ Dit maak dit baie ingewikkel­d. Ek weet nie; dis dalk te vroeg om daaroor te dink.

“Sy gaan grootword met dié familie en ek sal vir haar moet sê: ‘Dis nie jou regte nefie dié nie; dié vrou is nie jou regte tannie nie; dié een is nie jou regte oom nie.’ ”

Sy kyk stil voor haar uit.

“Ek wil hê sy moet lief wees vir die familie, soos ek vir hulle is.”

Haar hoop vir Emma is dieselfde as haar grootmaako­uers s’n vir haar: “Dat sy ’n goeie loopbaan en toekoms sal hê, dat haar lewe nie omgekrap word deur iets soos wat met my gebeur het nie. Ek wil nie hê sy moet seerkry soos ek seergekry het nie en ek wil nie hê die hele ding moet haar ontmoedig nie.

“Dis nou deel van haar lewe, of ek dit nou vir haar vertel of nie. Jy kan nie hiervan weghardloo­p nie. Mense praat en stories versprei en sy sal by plekke kom en dinge sal uitkom.”

SY TWYFEL nog of sy haar identiteit aan die wêreld sal bekendmaak en of sy haarself ooit met die naam “Zephany Nurse” sal vereenselw­ig, sê die jong ma. “Vir my kom die naam net saam met moeilikhei­d, afkeer en te veel bagasie.

“Ek weet nie. Dit klink dalk vreemd, maar ek dink nie ek sal Leah ooit weer vind nie. Sy was die meisie op skool. Leah het ’n kêrel gehad (die pa van haar kind) en die kêrel was ook in die skool. Sy het vriende en baie pret gehad. Sy het partytjies gehou en klubs toe gegaan en vir die volgende dag se eksamen geleer. Daai soort ding. “Dis nou asof ek nêrens hoort nie; ek is soort van verlore. ’n Mens probeer jou pad vind en uitpluis watter deel pas waar en hoe jy jou lewe moet lei. “Zephany is al die goed waardeur ek gaan. Leah – ek weet nie waar sy is nie. Sy is hier, maar sy is ook nie hier nie. Hoe bring ’n mens haar terug noudat Zephany boonop ’n kind het? “Jy wil studeer, maar jou ma is nie hier nie. Jou kêrel werk heeltyd en dis nie meer dieselfde tussen julle as op skool nie, want ek het so baie verander. Ek raas so baie met hom en maak sy lewe moeilik.” Tog voeg sy by hy het haar die afgelope twee jaar baie ondersteun. Sy huil nie oor alles nie, maar raak soms hartseer, sê Zephany. “Hoe kon dit gebeur het? Niks het ooit skeefgeloo­p met Leah nie. My lewe was so te sê normaal. Daar was niks weirds of slegs nie. Ek was die meisie in die gesin, die een met die hoëhakskoe­ne, die grimering en die vriende. Nou is ek die meisie met die meeste moeilikhei­d. “Dis so ’n gemors en dit vat so lank om uitgepluis te word. Ek hou nie daarvan om in moeilike situasies te wees nie; ek kry myself gewoonlik gou daaruit. “Maar dit duur lank en ek weet ek kan nie heeltemal hiervan wegkom nie, want dit gaan tog oor wie ek is en dit is ’n deel van my.” Zephany sê sy is vasbeslote om nog baie in die lewe te bereik en wil dalk vanjaar deur Unisa studeer. “Ek gaan nie toelaat dat ’n baba of Zephany my terughou nie; dit is net vir nou. “Ja, die baba is hier, maar sy sal ouer word. Sy sal skool toe gaan en ek sal kan gaan werk. My lewe sal beter raak. “As dit slegter raak, kan ek net myself daarvoor blameer.” * Skuilname, want die naam en identiteit waarmee Zephany grootgewor­d het, asook dié van haar grootmaako­uers en baba, word verswyg ingevolge ’n hofbevel wat verbied dat sy op enige wyse geïdentifi­seer word.

‘Dis nou asof ek nêrens hoort nie. Ek is soort van verlore’

 ??  ?? Zephany Nurse se babadogter is op 20 Februarie gebore.
Zephany Nurse se babadogter is op 20 Februarie gebore.
 ??  ?? REGS: Zephany hou haar slapende baba vas. ONDER en HEEL ONDER: So het Huisgenoot oor Zephany se grootmaako­uers berig. Hulle is steeds die mense wat sy as haar ouers beskou.
REGS: Zephany hou haar slapende baba vas. ONDER en HEEL ONDER: So het Huisgenoot oor Zephany se grootmaako­uers berig. Hulle is steeds die mense wat sy as haar ouers beskou.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Celeste enMornéenM­orné Nurse het jare lank op 28 April Zephany se verjaardag gevier sonder dat hulle geweet het waar sy is.
Celeste enMornéenM­orné Nurse het jare lank op 28 April Zephany se verjaardag gevier sonder dat hulle geweet het waar sy is.
 ??  ?? LINKS en ONDER: Zephany en haar baba. Sy is nou heeltydsy ma, maar wil binnekort beging studeer.
LINKS en ONDER: Zephany en haar baba. Sy is nou heeltydsy ma, maar wil binnekort beging studeer.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa