‘Ek’ ‘ aan die diep kant ingegooi en kon sink of swem’
Amalia Uys droom groot
SY GLO nie daaraan om te sit en wag op ’n droomrol nie. Dis dié dat Amalia Uys besluit het om nie net haar lyf aktrise te hou nie, maar ook self rolprente te begin vervaardig.
Amalia het groot gedroom, voelers uitgesteek en nou rol haar naam oor die silwerdoek as medevervaardiger en produksiebestuurder van die aksiefliek Jagveld uit die pen van die misdaadskrywer Deon Meyer.
“Dit is die hardste wat ek al gewerk het,” sê die rooikop-aktrise wat sepiekykers as San-Mari van Graan in 7de Laan en Margot Brink in Binnelanders leer ken het.
Al maak sy met Jagveld haar debuut as vervaardiger, is Amalia (32) geen groentjie in die rolprentbedryf nie. Fliekgangers het haar verlede jaar as die vurige Linda in Sy Klink Soos Lente en “die ander vrou”, Anja, in Sink gesien.
Maar met Jagveld, wat verlede jaar in die Groot-Karoo verfilm is, het sy agter die skerms gewerk in allesbehalwe ’n glansryke rol.
Op een dag het sy byvoorbeeld ses keer in ’n geleende Land Rover die 21 km lange stofpad aangedurf tussen Loxton, waar die filmspan tuisgegaan het, en die plaas Duikerfontein, waar die meeste tonele geskiet is.
“Wanneer ek aan die een kant gekom het, het iemand iets aan die ander kant vergeet en dan moes ek terugry. Ek het in ’n stadium langs die pad afgetrek, die enjin afgeskakel, uitgeklim en net geskree,” onthou sy laggend. Maar tóé was dit glad nie snaaks nie . . .
“Ek gaan nie jok nie: Daar was dae dat ek my oë uitgehuil het. Maar dan was daar ook dae dat ek nie kon glo wat ek alles reggekry het nie, veral wanneer ek terugkyk noudat die stof gaan lê het en die fliek eindelik draai.”
Sy sou nie die groot uitdaging kon aanpak sonder haar steunnetwerk nie, voeg
sy by. Haar gesig verhelder toe sy begin gesels oor haar verloofde, Shaun Golding (33). “Hy is my rots.”
Dan vertel sy van ’n moeilike dag toe sy uit pure frustrasie ’n pak gemmerkoekies teen ’n muur stukkend gegooi het.
“Shaun het met die stofsuier gekom en die koekies begin opsuig. Ek onthou hy het een opgetel, dit gehap en ewe rustig gesê: ‘Dis lekker!’”
Jagveld was Amalia, ’n gesoute aktrise op die verhoog, TV en silwerdoek, se uitdagendste projek tot dusver. “Vervaardigers word dikwels op die stel net op die agtergrond gesien. Maar ek het nou eerstehands beleef hoe hard hulle regtig werk,” vertel sy. “Ek is aan die diep kant ingegooi en kon sink of swem.”
VIR Amalia was dit nog altyd belangrik om veelsydig te wees.
“Die filmbedryf in SuidAfrika groei nog en geleenthede is soms beperk. Ek het besef dat my droomrol moeiliker hier oor my pad gaan kom as in Hollywood of Londen, waar die filmbedryf reeds sterk gevestig is.”
Wat sou so ’n rol vir haar behels? Sy beskryf dit as een waarin sy mense sal verbaas en laat sê: “Ek het nie geweet sy kan dit doen nie.”
Tog wou sy nie net op ’n rol sit en wag nie. “Ek wou uitgaan, groei en my vaardighede slyp om vir myself daardie rol en geleenthede te skep,” verduidelik sy.
Daarom het sy in 2013 die kans gewaag om ’n idee vir ’n fliek aan Deon Meyer en Diony Kempen van Karoo-films voor te lê. Al is die fliek nooit gemaak nie, het haar ontmoeting met hulle die bal aan die rol gesit.
’n Jaar later het hulle haar die rol van die verleidster Michelle in Double Echo aangebied, ’n nuwe fliek wat nog nie uitgereik is nie. In die tyd dat sy daaraan gewerk het, het Deon en Diony agtergekom sy stel in modes en stilering belang. Dit het daarop uitgeloop dat sy twee jaar later kostuumontwerper was vir hul fliek Last Broken Darkness. Dit is in Februarie vanjaar op die Bostonse Wetenskapsfiksierolprentfees in die Amerikaanse deelstaat Massachusetts as beste draaiboek bekroon.
Toe Amalia begin verlede jaar uit Johannesburg Kaap toe trek, was sy onseker oor werkgeleenthede in die Moederstad.
“Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Die een dag was ek nog in my agent se kantoor terwyl ek gewonder het wat ek gaan doen en hoe ek gaan geld maak. Ek was verskriklik gespanne.”
Net die volgende dag het Karoo-films se mense haar gebel. “Hulle was toe reeds bewus van my behoefte om my vaardighede agter die skerms te ontwikkel en het gevra of ek Jagveld sou help vervaardig.”
Amalia was opgewonde, maar ook onseker en effens angstig, erken sy. “Maar ek glo wanneer jy besluit om iets aan te pak, moet jy dit voluit doen.”
Sy het haar pa, Abé, ’n afgetrede bestuurder van ’n vervoermaatskappy, se kanniedood- Land Rover genaamd Dapper geleen en daarmee in die Groot-
Karoo opgedaag. “Dapper het al die hele Afrika platgery en my gered met al die gery op die Karoo se rowwe grondpaaie.”
In dié uitgestrekte wêreld het vyf weke se harde werk op haar gewag. “Dit was intens en uitdagend,” vertel Amalia.
Luister ’n mens na wat sy alles agter die skerms moes doen, besef jy hoe skrikwekkend hierdie omvattende taak vir ’n minder ervare vervaardiger moes wees.
Sy het onder meer die filmspan help aanstel, insette gelewer oor die kies van sommige lede van die rolverdeling, reëlings getref vir die filmspan en spelers se spyseniering, verblyf en vervoer, kos en koeldrank vir die filmspan aangery, die daaglikse verfilmingsrooster uitgewerk en borgskappe gekry om die koste te help dek. Sy het selfs vir die akteurs gevegsklasse gereël en opleiding oor hoe om vuurwapens te hanteer.
Deon was self nou betrokke. “Hy en Mariaan Vorster (sy lewensmaat) was ongelooflik. Hulle het my die koeldrank en kos vir almal op die stel help aanry. Deon se dogter, Lida, het hul vorige flieks soos Alles Wat Mal Is en Die Laaste Tango help vervaardig en my in die voorproduksiestadium bygestaan.”
Ook Nicolette van den Heever, eienaar van die plaas waarop die meeste van Jagveld se tonele verfilm is, het haar emosioneel ondersteun.
“Haar huis was soos die basiskamp vir die filmspan. Vyf weke lank het sulke rowwe jacks by haar huis ingevaar wat net oorgeneem het,” vertel Amalia.
Draf was haar uitlaatklep voor of ná ’n harde dag se verfilming. “Ek sou kilometers ver uitdraf op ’n oop Karoopad,” vertel sy.
Tussen die swaarkry deur was daar ook talle hoogtepunte, soos die heerlike Karookos wat Nicolette en Die Rooi Granaat-koffiekroeg op Loxton vir hulle voorgesit het. “Al daai Karoolamspastei, die koeksisters en pampoenpoffers was ongelooflik. Ek het in die tyd dat ons verfilm het omtrent 5 kg aangesit – en dis nogal snaaks, want ek is nie iemand wat maklik gewig aansit nie.”
Omdat Amalia self ’n aktrise is, stap sy al ’n lang pad saam met van die fliek se sterre, soos Leandie du Randt Bosch (Emma), Bouwer Bosch ( Jay), Neels van Jaarsveld (Bosman) en Tim Theron (Baz).
“Hulle het my veilig laat voel. Hulle het geweet dis die eerste keer dat ek vervaardig en was baie ondersteunend. “Die moeilikste was om myself daaraan te herinner om steeds die mooie en die goeie raak te sien, al
was ek partykeer op my nerwe.”
DIE lewe in die Kaap behandel haar die afgelope jaar en ’n half baie goed, sê Amalia. Hier is sy naby haar ouers, Celia en Abé (albei 67), wat op Port Owen aan die Weskus afgetree het, en broer, Theunis (35), ’n musiekvervaardiger op Somerset-Wes. Sy en haar verloofde, Shaun, ’n water tegnoloog, woon in Tamboerskloof aan die voet van Tafelberg. “Dit is lekker om so na aan my geliefdes en die natuur te leef,” vertel Amalia. “Ek geniet die see, die woude en berge. Dit alles
maak my rustig.”
Amalia reis nog gereeld vir haar werk. Ons gesels juis met haar op die stel van Binnelanders in Johannesburg, waar sy weer Margot speel.
Haar karakter in dié kykNET-sepie is ná die onmin wat sy voorheen in die Binneland-kliniek gesaai het uit die inrigting ontslaan, maar nou kom sy weer ’n draai in die hospitaal maak.
“Sy kom met goeie bedoelings, maar haar planne loop skeef en dan krap sy weer mense se lewe deurmekaar,” vertel Amalia. Dié tonele word in Mei uitgesaai.
Shaun staan haar by wanneer haar werk haar van die huis af wegneem. “Hy sien hoe gelukkig my werk my maak,” sê sy.
Hulle is al twee en ’n half jaar ’n paartjie en het verlede Desember aan die Weskus verloof geraak. Hulle het al ’n troudatum, maar dis al wat Amalia wil verklap.
“Hy is fantasties,” sê sy oor Shaun. “Wanneer ek hom vertel waaraan ek werk, sal hy my elke keer verbaas met die insette wat hy lewer. Sy hare staan soms penorent terwyl hy besig is met sy proefbuisies en chemikalieë; ek is daarom elke keer stomgeslaan oor sy kreatiewe kant.
“Sy vriendskap en wysheid oor die lewe verras my elke dag. Hy is my beste vriend,” vertel sy verder. “Ons lag verskriklik baie saam en geniet dieselfde soort goed in die lewe. Ek voel altyd veilig waar hy is. Hy is regtig my droomman.”
Sy beskryf Shaun as “’n totale linkerbrein(-denker)” wat elke dag met wiskundige formules werk.
Maar al verskil hul beroepswêreld hemelsbreed, kon hy haar danksy sy rekenaarkennis op haar taak as vervaardiger help voorberei.
“Hy sou saans saam met my sit en my help met die rekenaarprogram Excel, wat ons toneelspelers maar selde nodig kry. Hy het my gewys hoe om berekenings in Excel te doen en boek te hou van dinge soos die reis-, verversing- en verblyf koste.”
Al is sy opgewonde daaroor om meer agter die skerms betrokke te raak, bly die mooi rooikop passievol oor haar beroep as aktrise.
Die teater bly ’n groot liefde. “Dit brei jou as akteur en hou jou fiks,” verduidelik sy. Sy is vandeesmaand op die KKNK op Oudtshoorn te sien in die verhoogstuk Die Vrou uit die See. “Ek is gek oor die energie wat ’n mens van ’n gehoor in ’n teater kry.”
Tog wil sy ook graag flieks maak waarin sy stories kan vertel waaroor sy passievol is – veral in Afrikaans. “Omdat ek toneelspel studeer het, was die idee daarvan maar skrikwekkend,” sê Amalia. Maar ná Jagveld is die ys gebreek.
“Daar is nog baie wat ek moet leer, maar ná hierdie ervaring is ek minder angstig oor die vooruitsig om te vervaardig.”
Sy is vasbeslote om altyd haar loopbaan te vernuwe.
“Ek dink mense sal verbaas wees as hulle besef watter rykdom vaardighede en talente mense in die vermaakbedryf ontwikkel in die tye dat hulle minder werk het – party is opgeleide grimeerkunstenaars; ander fotograwe. Die lys is lank . . .”
Dit gebeur ook in Hollywood, vertel sy. “Iemand soos die aktrise Reese Witherspoon speel nie net toneel nie; sy vervaardig ook. Sulke mense herinner ’n mens dat jy nie jouself hoef te beperk nie,” sê sy blinkoog. “The sky is the limit!”
Sy en ’n vriendin gesels reeds daaroor om ’n produksiemaatskappy te stig. “Ek wil die goeie vat uit die ervaring wat ek nou met Jagveld opgedoen het, uit my foute leer en volgende keer nog beter vaar,” sê Amalia.
“Mense vra mos altyd nadat jy deur ’n uitdagende tyd is of jy dit weer sal doen.” Dan beantwoord sy haar eie vraag sonder om twee keer te dink: “Ja, ek sal . . .”