Huisgenoot

Rasherries laat wrang smaak na

-

Die video van die tierende man in die Spur, die bohaai oor Helen Zille se twiet . . . Hoekom moet ras altyd alles versuur?

My hart breek wanneer die kleurkaart gespeel word of ek van rassisme hoor of lees. Ons leef in ’n demokratie­se land. Ons het almal die reg om vry en gelukkig te wees.

Pienk, wit, swart, bruin . . . Wat maak dit saak? Ons is almal mense met gevoelens. God het ons geskape volgens sy unieke beeld.

Ons moet wegbreek van die haat en bitterheid; dit laat ’n wrang smaak na.

Ons is ’n lieflike reënboogna­sie wat in ’n pragtige land woon. Kom ons aanvaar mekaar, wees lief vir mekaar en maak Suid- Afrika ’n beter plek vir almal om in te leef.

Kom ons verenig ter wille van ons kinders in liefde, vrede en blydskap, want hulle is die leiers van môre. NICOLENE, BLOEMFONTE­IN

’n Mens lees en hoor van soveel rassevoorv­alle, maar op ’n onlangse bootvaart van sewe dae het ons presies die teenoorges­telde ervaar, ’n duidelike bewys dat alle mense wel in vrede en met respek vir mekaar kan saamleef.

Ons was 2 500 passasiers aan boord wat als saam gedoen en beleef het. In ’n kwessie van sewe dae het ons wonderlike vriende van alle rasse en kultuurgro­epe gemaak.

Ons was net ’n klomp mense wat saamgegooi is en mekaar se andersheid geniet het.

Ons het tyd ingeruim om werklik na mekaar te luister, sonder oordeel, om die mens agter die velkleur raak te sien en te besef: Ons is almal net mens.

Dalk moet al die rassehater­s wat mekaar so aanval en byt liewer op ’n bootvaart gaan sodat hulle kan ontspan en weer perspektie­f op die waarde van die lewe kan kry. DRIEKIE GROBLER

Die video van die Spur-voorval was vir my so hartseer om te kyk. En nog meer omdat dit oor ’n onderonsie tussen twee jong kinders gaan.

Ek en my boeties het op die plaas grootgewor­d en kleintyd was die plaaswerke­rs se kinders ons speelmaatj­ies. En ja, soms het ons stry gekry, soos kinders maar doen. Maar dan het ons dit tussen ons uitgewerk en gou was dit vergete. Die volgende dag het ons weer rustig saamgespee­l.

Dit is so jammer dat ons as grootmense die vergewensg­esindheid van kleintyd verloor. KLEILAT

Wat gaan aan met ons mense? Die woede wat ’n mens in die Spur-voorval sien, het so algemeen geword.

Ek sien dit elke dag in die verkeer. Mans en vroue van alle rasse bestuur so aggressief en roekeloos.

Toet jy, word jy verskrikli­ke vloekteken­s gewys.

En jy weet nie of een van hierdie padvarke jou dalk gaan aanrand of iets ergers aandoen nie. Ons nasie is in die waaksaal. BESWAARD

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa