EK MÓÉS WEET WIE MY BROER VERMOOR HET
Lee Schoombie het die mans help vang wat sy broer doodgeslaan het, maar vind min troos in hul skuldigbevinding
HY SOU die mans wat sy broer pap geslaan het lewenslank jag, al het mense hom gewaarsku hy raak te nou betrokke by die soektog. “Ek is nie ’ n held nie; enigiemand sou dit vir ’n familielid gedoen het. Dit sou my verbaas as iemand dit nie gedoen het as dit met sy broer gebeur het nie. Hoe kan jy dit net laat vaar?” hou Lee Schoombie (27) vol.
As dit nie vir Lee se speurwerk en vasbeslotenheid was nie, sou die mans wat Carl wreed aangeval het ná ’n aandjie uit in die Kaap dalk nooit aan die pen gery het vir sy moord nie.
Ons gesels met Lee enkele dae nadat Brent Henry en Juane Jacobs skuldig bevind is aan die moord op sy broer. Dié twee het Carl (27) glo in November 2015 aangesien vir iemand anders wat betrokke was by ’n stoeiery in ’n nagklub.
Carl, wat in 2015 ’n brugjaar geneem het nadat hy ’n graad in megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad behaal het, en drie vriende was op pad huis toe ná ’n aand uit in die suidelike voorstad Claremont. ’n Motorbestuurder het hulle agtervolg en hul Uber in ’n doodloopstraat vasgekeer.
Ten spyte van hul pleidooie dat hulle nie die moeilikheid in die klub Tiger Tiger veroorsaak het nie, het Henry en Jacobs hul hoofteiken, Carl, aangeval en toe gevlug. Dr. Gavin Kirk, die patoloog wat die geregtelike doodsondersoek op Carl uitgevoer het, sou later getuig sy ernstige kopbeserings het ooreengestem met ’n slagoffer van ’n motorongeluk s’n.
Toe hy van die aanranding op Carl hoor, het Lee nie kon dink daar was ’n kans dat sy broer nie sou oorleef nie.
Carl se foon is gebreek in die aanval in die vroeë oggendure van Saterdag 23 November 2015; dus kon die vriende wat by hom was – Victoria Packer, John Cannon en dié se suster, Sarah – nie sy familie in die hande kry nie. Hulle het Lee en sy suster, Jade (24), toe in boodskappe op Facebook gevra om hulle te bel.
“My suster was rasend toe sy my bel,” vertel Lee. “Ek het opgespring en gedink: ‘Hulle het hom opgedons; dalk het hy ’n paar gebreekte tande en is bewusteloos.’ Ek het Groote Schuur-hospitaal toe gejaag sonder om my ma te laat weet, want ek wou haar nie bang maak nie.
“Ek het ingegaan, en toe ek hom sien, was dit . . .” Die lang, lenige rekeningbestuurder wat twee Comrades-marathons en drie Ysterman-driekampe agter sy naam het, raak ’n paar oomblikke stil.
Sy ma, Carla (56), het van die aanval gehoor en haar ook na sy hospitaalbed gehaas. “Sy het ingekom. Ek en die dokter het langs hom gestaan, en my ma het gevra: ‘Waar is Carl?’ Hy het so sleg gelyk, sy het hom nie eens herken nie.”
Die speurder in Lee het dadelik na vore gekom. “Ek wou weet wie dit gedoen het,” vertel hy, en het begin rondvra.
Toe hy hoor van ’n bakleiery in Tiger Tiger die aand tevore, het hy die bestuurder gaan spreek en na videomateriaal gekyk. Daarop kon hy twee mans uitken wat oënskynlik aggressief optree. “Dié beeldmateriaal was ’n deurbraak in die ondersoek en het ons gehelp om hul name te kry,” vertel hy.
Maar voor die mans in die video ondervra kon word, het Carl vier dae ná die aanval gesterf. Dit was hul pa, Deon (57), wat die doodstyding tweeuur die oggend
gekry het. Deon, ’n onderhoudsbestuurder in ’n wildreservaat, het destyds in Botswana gewoon, maar Kaapstad toe gekom om sy eks en hul kinders te steun.
“Ek het nooit regtig gedink Carl sou sterf nie; ek het myself en almal om my oortuig hy sou leef,” vertel Lee.
HENRY is ’ n dag ná Carl se dood in hegtenis geneem, maar ’n soektog is op tou gesit na Jacobs, wat skynbaar verdwyn het. Lee het die Face book- blad Justice for Carl en ’n skarefinansieringswebtuiste gebruik om hom op te spoor. Ná drie maande as voortvlugtige is Jacobs eindelik in die Gautengse township Alexandra aangekeer.
“Een van ons bronne het hom opgespoor,” sê Lee, wat saam met talle privaat ondersoekers en die Valke gewerk het om die ontwykende Jacobs, wat al voorheen aan aanranding skuldig bevind is, voor die gereg te bring. “Hy het my heel onverwags gebel en gesê Jacobs sal binne ’n halfuur in boeie wees.
“Ek het hom met ’n glimlag die beloning van R65 000 gegee,” sê Lee. “Ek was nooit ’n aanhanger van die sosiale media of Facebook nie, maar was oorweldig oor hoe kragtig en invloedryk dit is. Ons het honderdduisende kykslae gehad en die vuur het homself verder gestook. Ek dink dit het baie mense geraak; party het boodskappe gestuur om te sê: ‘Ek kan net R10 gee.’ Dit was wonderlik.”
Sedert die ondersoek na Carl se dood amper 17 maande gelede begin het, het Lee en die ondersoekbeampte, sers. Marlon Marais, ’n hegte band gesmee.
“Hy was ongelooflik,” vertel Lee. “Hy is baie toegewyd en werk tot 17 uur per dag, maar hy’t altyd geglimlag wanneer hy my gesien het,” vertel Lee. Eers onlangs het hy gehoor Marlon het twee bevorderings van die hand gewys terwyl hy aan die saak gewerk het, want hy wou dit enduit deurvoer.
Sou Carl trots gewees het op sy kleinboet se vasbeslotenheid en planne om die Carl Strong-stigting te begin om ander slagoffers van geweldsmisdaad te help? “Ek hoop so. Hy sou dit waarskynlik nie hardop gesê het nie en my oor iets geterg het,” sê Lee en lag. Soos alle broers het hulle soms vasgesit en was hulle op die sportveld mededingend, maar hul band het in hul 20’s veel sterker geword.
“Ons was baie verskillend. Ek is baie baldadig en luidrugtig, terwyl Carl meer gefokus was. Hy was vasbeslote om ’n ingenieur te word nadat hy sy B.Com. aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, en ek is seker hy sou eendag daardie Ferrari besit het waarvan hy gedroom het.
“As ’n klein outjie het hy in 2007 ’n plek in die Sharks-rugbyakademie gekry. Hy was ’n gebore leier en ek dink sy vriende het iemand verloor na wie hulle altyd opgesien het. Hy was ook baie hardkoppig, maar ek dink dit was wat hom so suksesvol gemaak het.”
Die skuldigbevinding het Lee en sy familie nie regtig vertroos nie. “Ek dink sy dood is steeds so rou, maar dit het ons beslis nader aan mekaar gebring. Dit gaan lank duur voor my ma kan aangaan met haar lewe. Ons is steeds nogal op ’n donker plek en beslis nog nie genees nie,” sê Lee, en voeg by hy hoop die vonnisoplegging op 18 April sal ’n mate van berusting bring.
Hy sal sy broer se moordenaars nie vergewe nie, verklaar Lee. “Ek kan hulle nie vergewe nie. As hulle my broer met ’n motor omgery en weggehardloop het omdat hulle bang was en dan agterna vergifnis gevra en berou betoon het, sou ek simpatie gehad het. Maar dié ouens het nooit ’n greintjie emosie getoon nie; hulle is nie jammer oor wat hulle gedoen het nie. Vir hulle het my broer se lewe niks beteken nie.
“Hulle sê jy moet vergewe om aan te gaan met jou lewe, maar ek kan absoluut aangaan sonder om hulle te vergewe.”