OP ONS RUG WEENS MAGSUG
As deel van ons 101-jarige bestaan help ons lesers sin maak van aktuele gebeure. Vandeesweek: Hoekom het pres. Zuma die kabinet aangepas, en wat lê voor?
DIE rand het weer gebloei, rommelstatus is nou eindelik ’n werklikheid en die demokrasie in Suid-Afrika is in ’n krisis gedompel. Dit is in ’n neutedop wat pres. Jacob Zuma reggekry het met sy middernagtelike kabinetskommeling, meen kenners. Die vrees bestaan nou dat Suid-Afrika op ’n outokrasie afstuur ná Zuma se brutale magsvertoon waarin hy onder meer vyf ministers afgedank en nog vyf rondgeskuif het, en dit sonder oorlegpleging met senior leiers in sy kabinet en party.
Hy het onder andere ontslae geraak van die minister van finansies, Pravin Gordhan, teen wie hy al hoe lank ’n stille oorlog voer, en dié se adjunk, Mcebisi Jonas, wat ook Nommer Een se Guptavriende onbevrees gekritiseer het.
Maar wat sit daaragter, en wat is die implikasies van “Prexit”, die onregverdigbare ontslag van die hoogs bekwame en internasionaal gerekende Gordhan?
Suid-Afrika het nou sy vierde minister van finansies binne minder as 18 maande en ’n kabinet propvol Zuma-lojaliste in sleutelampte, onder andere die houer van die sleutel tot die staatskas.
Huisgenoot het kenners gevra wat ons kan verwag midde-in die toenemende politieke onsekerheid wat die vooruitsig op ekonomiese herstel beduiwel.
IMPLIKASIES VIR SUID-AFRIKA
Zuma se onlangse optrede “is absoluut verreikend”, som prof. André Duvenhage, ’n politieke wetenskaplike aan die Noordwes-universiteit, dit vir ons op kort voor S&P, een van die “groot drie” internasionale kredietgraderingsagentskappe ons land sou afgradeer tot benede beleggingsgraad, oftewel rommelstatus.
“Gordhan en Jonas is nou uit die stelsel, maar Suid-Afrika is nog nie halfpad in hierdie geveg nie.”
Die minister en sy adjunk is onderskeidelik deur die Zuma-lojaliste Malusi Gigaba en Sfiso Buthelezi vervang.
Die president se “nag van die lang messe” is met ’n golf van ontevredenheid en woede begroet. Van die ANC-topsesleiers, soos adj.pres. Cyril Ramaphosa, die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en tesourier-generaal, Zweli Mkhize, tot vooraanstaande sprekers op die struggle-ikoon Ahmed Kathrada se roudiens het sy optrede gekritiseer of reguit gesê hy moet nou wragtig skoert.
Dit is duidelik dat Zuma uit verskeie oorde “aanslae sal moet probeer afweer”, sê André. “Baie burgers op voetsoolvlak wil niks meer met hom te make hê nie; vir hulle is hy eenvoudig korrup.
“Die openbare weerstand teen hom kring vinnig uit. Dan is daar ook parlementêre weerstand, met die DA en EFF wat byvoorbeeld deur middel van ’n mosie van wantroue, met die hulp van Zuma-teenstanders in ANC-geledere,ere, van hom ontslae wil probeer raak.”
Die EFF en enkele kleiner partye e het dit ook oorweeg om hom in ’n staat t van beskuldiging te probeer plaas, maar ar dié alternatief sou moeiliker wees omdat dat dit groter steun in die parlement verg.g.
Zuma kry dus nou groot teenstand nd van “die gewone burgers, die parlement, ent, sy party, asook die regbank”, sê André André, “want daar is steeds ’n klomp hangende sake teen hom”.
“Suid-Afrika gaan lankal gebuk onder ’n afbrekende regime. Zuma se regering rig al ’n geruime tyd geweldige skade aan die ekonomie aan,” sê Dawie Roodt, bekende ekonoom en direkteur van die Efficient Group, uit Gauteng.
Dis juis een van die redes waarom die rand aanvanklik miskien nie heeltemal soveel verswak het as wat sommige mense gevrees het nie. Die geldeenheid en markte het as’t ware reeds swak regering in berekening gebring.
“Toe Zuma nou voortgaan met sy kaperjolle, was dit dus eintlik nie so ’n groot verrassing nie. Die land het reeds ’n reuseprys betaal.”
Ironies het die Zuma-kabinetskok Suid-Afrika juis getref toe sakevertroue weer effens begin verbeter en daar plekplek tekens van ekonomiese herstel was. Gordhan was oorsee om broodnodige beleggings verder aan te moedig toe hy teruggeroep word met die oog op die
roekelosekkelosels kkabinetskommeling. kabinetskommeling.bi tsk li g
“Zuma voer al langer as ’n jaar ’n koue oorlog teen sy minister van finansies,” sê ê Richard Calland, ontleder en professor in openbare reg aan die Universiteit van Kaapstad. “Dit het onsekerheid aangevuur en pogings ondermyn om die markte en kredietgraderingsagentskappe te oorreed die Suid-Afrikaanse regering doen alles wat hulle kan om die land uit ekonomiese stagnasie te kry.
“Zuma het gewetenloos maar ook lafhartig sy mes in Gordhan se rug gedruk,” meen Richard. “Hy’t nie eens die ordentlikheid gehad om sy destydse strugglekameraad in die oë te kyk nie. Demokratiese leiers pos nie hul ministers laat snags nie, en dit sonder die grasie om die een te kontak wat verwyder word.”
Die implikasies hiervan is “besonder nadelig op kort en lang termyn”, sê Ulrich Joubert, bekroonde ekonoom, uit Johannesburg. “Die president het geweet dit sou die rand laat verswak, die finansiële markte destabiliseer en dat dit ’n krediet- afgradering kon teweegbring. Met hierdie optrede toon hy hy gee regtig nie om vir die land nie.”
DIT GAAN OOR BELANGE: ZUMA EN SY VENNOTE S’N
“Misdadige, gesindikeerde regering is ’n monster wat ons almal kan insluk,” was die veelseggende opmerking van prof. Njabulo Ndebele, oudvisekanselier van die Universiteit van Kaapstad en Nelson Mandela-stigting-verteenwoordiger, tydens die Kathrada-gedenkdiens in die Johannesburgse stadsaal.
Ná hom het onder andere Gordhan en Barbara Hogan, ’n oudminister en Kathrada se weduwee, ook verdoemende kritiek op Zuma, die Guptas en staatskaping gelewer en gevra alle Suid-Afrika- ners moet saamstaan teen korrupsie.
Ja, al het die presidensie in ’n kortaf verklaring te kenne gegee die skommeling was gemik op groter doeltreffendheid, beter dienslewering en ekonomiese transformasie, het dit in werklikheid te doen gehad met Gordhan- hulle se onwrikbare beskerming van die staatskas teen onverantwoordelike besteding en korrupsie.
Die minister en sy span amptenare in die nasionale tesourie het, volgens Richard, tussen Zuma en sy meelopers en hul mees onderduimse planne gestaan, soos die veelbesproke kernooreenkoms met Rusland.
Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer, het ook in haar verslag oor
staatskaping uiteengesit hoe die Guptafamilie en ander opportuniste Zumahulle se swakheid uitbuit.
Met ander sleutelinstellings, soos die nasionale vervolgingsgesag, die Valke, staatsondernemings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens, en die SuidAfrikaanse Inkomstediens reeds onder die Zuma-kamp se beheer, was die onafhanklike en hoogs professionele tesourie een van hul laaste teikens.
“Dat die Guptas moeilikheid gekry het, beteken geensins hulle is uit die prentjie verwyder nie. Hulle het steeds baie invloed en Gordhan en Jonas, onder andere, was vierkant in hul pad,” sê André.
“Noudat Zuma blykbaar ook beheer oor die land se tjekboek verkry het, sal ons moet sien wat hy daarmee gaan doen,” sê Dawie.
WEB VAN BEGUNSTIGING
Die Zuma-web van gevestigde belange strek veel wyer as Nommer Een en die “Saxonwold-sjebien”, oftewel die Guptas.
Zuma funksioneer binne ’n duistere netwerk, verduidelik André, “wat nie net beperk is tot die Guptas nie, maar ook invloedryke mense binne die groter staat en samelewing insluit, soos die voormalige Eskom-baas Brian Molefe en die sogenaamde premiersliga, die premiers van die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga, wat Zuma steun.
“Hulle almal het vervlegte politieke en ekonomiese belange. Kortom beteken dit eintlik maar die selektiewe aanwending van politieke mag tot jou eie ekonomiese voordeel,” verduidelik André.
“Groot bedrae Eskom-geld het byvoorbeeld reeds in die netwerk se rigting gevloei, met onder andere die Guptas wat ingeskakel het op steenkoolvoorsiening aan dié nutsmaatskappy.
“Met Madonsela se staatskapingsverslag het Zuma se netwerk baie seergekry,” meen André. “Hy is duidelik in die moeilikheid en het nog geld nodig vir sy politieke oorlewingstryd. In sy politieke DNS verstaan hy net een ding: baklei. Om te kan wen, kort hy dus nog geld om daardie netwerk finansieel in stand te hou en mense om te koop.”
GUPTAS SE BANKKWESSIE
Die siening bestaan dat Gordhan-hulle se afdanking ook regstreeks verband hou met hofsake waarby die Guptas en hul vennote betrokke is. Die hofsake handel onder meer oor pogings van die Guptas om die uitvoerende gesag sover te kry om in te meng met die groot handelsbanke se besluit om die familie se rekenings by hulle te sluit.
Die tesourie onder Gordhan het juis die hof genader om duidelikheid te gee dat dit nie hul verantwoordelikheid of plig is om in ’n geval soos die Guptas s’n in te gryp nie.
In Gordhan-hulle se hofstukke was ook inligting oor meer as 70 verdagte transakies waarby die familie betrokke was, ’n rede vir die banke se besluit.
Maar daar is ook die kwessie van ’n Gupta-vennoot wat ’n beherende aandeel probeer verkry in ’n bestaande bank, Habib Overseas Bank. Gordhan-hulle het toestemming daarvoor geweier en die vennoot het toe ’n dringende hofaansoek teen hulle ingedien.
Die Habib-transaksie was ’n dringende vraagstuk vir die Guptas, want die laaste van die handelsbanke wat nog hul maatskappye bedien het, het ook hul rekenings begin sluit.
Blykbaar is gehoop die nuwe minister van finansies sou tjop-tjop die nodige dokumente onderteken. Maar die hooggeregshof in Pretoria het intussen daardie hofaansoek van die hand gewys.
‘MOEDER VAN ALLE TENDERS’ VIR KERNKRAG DIE EINTLIKE BEDREIGING
Die onbekostigbare en onnodige kernkragooreenkoms was ’n nog groter faktor. En noudat Gordhan uit die pad is, sal dit moontlik voortgaan.
Die drie ministeries wat ’n invloed op ons energiesektor het, is almal deur die kabinetskommeling geraak, verduidelik Hartmut Winkler, professor in fisika aan die Universiteit van Johannesburg, in ’n ontleding van die kernkragvraagstuk.
In die energieportefeulje is Tina Joemat-Pettersson deur die kabinetnuweling Nkhensani Kubayi vervang, moontlik omdat eersgenoemde onlangs met die kernkragplanne begin draal het.
Kubayi word beskou as een van Zuma se grootste lojaliste en het byvoorbeeld met mening vir hom in die parlement geskerm toe hy weens Nkandla onder skoot gekom het.
Die tweede ministerie ter sprake is openbare ondernemings, wat toesig hou oor Eskom as staatsnutsmaatskappy en nou ’n nuwe adjunkminister gekry het: Ben Martins.
“Maar die belangrikste veranderings was in die tesourie, wat nou in die hande van twee vermeende Zuma-lojaliste is, Gigaba en Buthelezi as sy adjunk. Gordhan is as ’n struikelblok beskou deur dié wat sal baat vind by megaprojekte, waarvan nuwe kernkragsentrales die grootste is,” meen Hartmut.
Volgens hom het die Russiese kernkragbedryf sedert 2011 groot druk geplaas op sleutelmense in die regering, Zuma in besonder, om met bouwerk te begin. Dit is vir hom ook veelseggend dat Eskom verlede jaar onder sy nou voor-
malige hoof, Molefe, teen Suid-Afrika se hernubare energiebedryf gedraai het, ondanks die sukses daarvan.
Molefe en sy opvolger, Matshela Koko, se besware was glo koste, hoewel hernubare energie goedkoper sou uitwerk as huidige kragopwekking uit steenkool en veel goedkoper as kernenergie, meld Hartmut.
“Ons ekonomie kan bloot nie die kernkragprojek bekostig nie; dit sal ons in ’n moeras van skuld laat wegsink,” meen André. Veral sedert die Tjernobil-kernongeluk in April 1986 in die voormalige Sowjetunie bestaan die siening dat “daar beter opsies is as Russiese kernkragreaktors. Die Franse word byvoorbeeld in dié opsig baie hoog aangeslaan.”
Maar die vermoede bestaan dat Zumahulle “reeds agter die skerms ’n ooreenkoms met die Russe aangegaan het. Die kernkragkwessie moet ook beskou word binne die konteks van die historiese verhouding tussen Rusland en die ANC.”
Groot kommer bestaan ook oor die uitwerking van die kabinetskommeling op Suid-Afrika se kredietgradering, wat S&P teen ons druktyd reeds tot rommelstatus verlaag het. Maar op langer termyn, sê Ulrich, moet ons ook onthou die staat is deur die tesourie en met belastinggeld “’n geweldige groot aankoper van alles en nog wat, van potlode, penne en rekenaars tot kernkragvermoë.
“Daarom is dit so belangrik dat daar beheer oor dié aankope moet wees. Ons moet mooi dophou of sekere belange gedien gaan word met aankope vir die kernkragprogram. So kan die Guptas byvoorbeeld geld maak deur die verkoop van uraan (wat kernbrandstof voorsien) uit hul mynbelange.”
Ulrich betwyfel dit ook sterk dat kernkragsentrales in Suid-Afrika hulself met die jare sal afbetaal, want die skuld wat die land daarvoor moet aangaan, is volgens hom te groot.
SO RAAK DIT DIE EKONOMIE
Gordhan was juis oorsee om buitelandse beleggers te oorreed om in Suid-Afrika te belê en hulle te verseker dat die land versigtig met sy besteding sal bly en rente op skuld getrou sal terugbetaal.
“Presies dit wat hy wou verhinder, het nou gebeur,” sê Dawie. Weens die skielike hernieude politieke onsekerheid en onstabiliteit kan beleggers nou weer hul Suid-Afrikaanse beleggings verkoop en broodnodige kapitaal landuit vloei.
“Ek dink Suid-Afrika se kanse is nou ver speel. Die kredietgraderingsagentskappe het ons reeds soveel moontlik speling gegee en ek kan nie sien hoe ons ná hierdie politieke ommeswaai nog afgraderings kan vermy nie.
“Die gevolge van Zuma se jongste kaperjolle is nog druk op ons swak ekonomiese groei, ’n swak rand wat lei tot hoër inflasiedruk en moontlik hoër rentekoerse,” sê Dawie. “En laer groei lei uiteraard tot nog groter werkloosheid en armoede.”
DEMOKRASIE EN IMMORELE LEIERSKAP: IS DAAR LIGPUNTE?
Die sakeman en filosoof prof. Willie Esterhuyse, wat ’n beduidende rol gespeel het in onderhandelings vir ’n nuwe Suid-Afrikaanse bestel, het al ’n ruk gelede vir ons twee simptome van gebrekkige morele leierskap in die huidige Suid-Afrikaanse regime uitgelig.
Die een is sistemiese korrupsie; dit is korrupsie as ’n gevestigde belang vir leiers. Die tweede is wanneer visioenêre leierskap vervang word deur transaksieleierskap, waar voordele geruil word vir politieke steun. “In ’n politieke transaksie word die staat ’n verlengstuk van die president, sy familie en vriende.”
En André sê nou: “Zuma word wel in ’n mate aan bande gelê deur die Grondwet en demokratiese prosedures, maar hy tree op soos ’n totale outokraat, iemand wat uit eie reg handel en in ’n sin doen wat hy wil. Hy begin ’n tipiese voorbeeld van Afrika se sogenaamde sterkmansindroom word.
“Dit is nie die einde van ons demokrasie nie, maar wel ’n groot toets daarvoor. As Suid-Afrika byvoorbeeld suksesvol van Zuma ontslae kan raak, kan dit ons groot krediet besorg wat die verstewiging van demokratiese waardes betref.
“(Die Suid-Afrikaanse staatsman genl.) Jan Smuts het altyd gesê die slegste gebeur nooit in Suid-Afrika nie; ons is êrens in die middel rond,” sê André.
“En kyk ’n mens na die geskiedenis, is dit min of meer waar; die uiterstes gebeur nie in Suid-Afrika nie. Tog moet ons as gewone burgers ook nie wag om slagoffers te word nie, maar proaktief meewerk aan strategieë om aan die land te bou, om maatskaplike samehorigheid oor ras- en kultuurgrense te bou.”
So kan ons in dié moeilike en onsekere tyd vorentoe demokratiese waardes, politieke stabiliteit en werklike ekonomiese groei help bevorder. EKSTRA BRONNE: THECONVERSATION.COM, NEWS24.COM