Huisgenoot

DIE SKOOLSAAL

Twee niggies kom af op ’n skool waar ’n tragedie lank gelede afgespeel het

- Deur HESTER APPELBOOM Illustrasi­e: MIEKE VAN DER MERWE

JANA lê plat op haar rug op die agter sitplek van hul viertrekvo­ertuig. Deur die getinte ruite sien sy hoe die telefoonpa­le vinnig verbyskuif. Sy voel lomerig, maar gaan sit regop, gooi haar lang blonde hare oor haar skouer en sug.

“Dit gaan so boring wees. Hoekom het ons nie liewer see toe gegaan nie? Dit gaan die lame- ste vakansie ooit wees,” kerm sy.

Haar ma haal haar donkerbril af en kyk in die sonklap se spieëltjie of haar lipstiffie nog reg lyk.

“Jana, dis net vir Kersfees; ons gaan nie lank kuier nie. Buitendien, jy het Adéle so lank laas gesien – julle twee niggies is mos lekker maats. Toe, glimlag, daar staan ouma-hulle en Adéle-hulle vir ons en wag.” Haar pa knipoog vir haar.

Ná die groetery stap almal die trap op na die breë stoep. Die grootmense trek stoele nader en gesels land en sand. Jana gryp haar niggie aan die arm en hulle verdwyn die huis in.

“Waar slaap ons?” Jana voel nou opgewonde.

Adéle maak asof sy saamgeslee­p word. “In die stoepkamer, jei! Kom kyk!” Die twee 13-jariges hardloop met lang bene die gang af, deur die kombuis na buite, waar ’n klein kamertjie op die agterste stoep ingerig is. Hulle val op die dubbelbed neer.

“Hoe cool!” roep Jana uit. “So, wat’s nuus?”

Adéle haal haar neonpienk selfoon uit haar broek se sak en rol die boodskappe met haar wysvinger af. “Ek het jou gewhatsapp . . . jy’t nie geantwoord nie.” “So, jy’s deur?” “Jip, Hoërskool Die Vlam, hier kom ek. En jy? Of wag, moenie sê nie . . . natuurlik, voorbeeldi­ge Jana het seker 10 onderskeid­ings!?” Jana gee haar niggie ’n speelse skouerstam­pie.

“My ma het dit op Facebook gesit. Ek kan dit nie vat nie!” Jana trek haar gesig.

“Kom.” Adéle se kort, donker hare staan windskeef op haar kop, haar kuif oor haar oë. “Ons was lank laas by die ou skool. Wonder of dit nog staan.”

“Daai creepy plek?” Jana se oë is gemaak groot. “Hoooeee . . .”

“Maar eers . . .” Adéle hou haar wysvinger in die lug. “Padkos.”

Soos in ’n toneel uit Maasdorp sluip hulle na hul ouma se spens en vat skelmpies elkeen ’n hand vol Kerskoekie­s uit die rooi streepblik en pak dit in Jana se Billabong-rugsak. Hulle giggel laf terwyl hulle weer by die agterdeur uitsluip.

“Moet ons nie liewer vra nie?” wil Jana

bekommerd weet en kyk terug in die rigting van die huis.

“Dan sê hulle dalk nee. Kom, Jana, moenie so ’n nat waslap wees nie!”

DIE veld lê wyd voor die niggies. Twee boerboele stap lui- lui saam. Die twee meisies volg ’n voetpad wat ál nouer en onduidelik­er raak.

Verder af in ’n laagte is ’n bloekombos waardeur hulle moet gaan voor hulle by die bouvallige ou skool uitkom. Dis naby ’n vervalle stasie geleë. Dié word ook nie meer gebruik nie, en die spoorlyn is al byna toegegroei.

Hul oupa het vertel dit was baie lank gelede ’n meisieskoo­l wat later in die Boereoorlo­g as kantoor vir Engelse soldate gedien het. Ná die oorlog het dit in onbruik verval en bouvallig, verlate en vergete geraak.

Jana en Adéle stap versigtig deur die bos. Takke en blare skuur grillerig teen hul bene. Spinnerakk­e blink plek-plek in ’n straaltjie son. “Ek haat spinnekopp­e!” gril Jana hardop.

Dan hoor hulle ’n gekraak. Jana versteen. Wat kan dit wees? “Adéle, iets freak my uit!” Sy tree terug. Haar eie stem klink spookagtig.

Adéle gryp van agter aan haar niggie se skouer. “Wat is dit?” kom dit benoud. Dan ’n gil. ’n Oomblik lank staar hulle mekaar aan. Voor een van hulle nog ’n gil kan gee, kom een van die honde te voorskyn en laat nog ’n tak kraak. Albei sug van verligting en bars dan uit van die lag.

Toe hulle uit die bos kom, is hulle by die skoolgebou­e. Dis skielik doodstil; dit voel asof alles asem ophou. Die gekwetter van voëls het stil geraak met net die effense ruising van boomblare agter hulle.

Jana en Adéle stap die stowwerige ou skoolsaal binne. Die houtvloer klink onheilspel­lend hol, en met elke tree kreun die houtpanele asof in pyn. Dit ruik na vlermuismi­s. Die wind laat klap ’n dakplaat ritmies op en af, soos waarskuwen­de tromslae.

Hul oë moet gewoond raak aan die skemerdonk­er. Heel voor is ’n soort verhogie met donker gate daarin. Dit lyk of iemand daardeur kan loer. Die paar ruite wat nog heel is, is dof en grys. Stofdeeltj­ies draal stadig in die strepies lig wat die vertrek binnedring. Jana voel hoe haar nekhare rys. “Adéle . . .” “Ja?” “Ek dink . . .” “Jy’s tog nie bang nie? Wag, kyk, daar is nog ’n deur . . .”

Adéle wys na ’n sydeurtjie net langs die verhoog. Spinnerakk­e kleef grys aan die hoeke van die kosyne. Die handvatsel hang soos ’n lam hand aan die deur.

“Kom ons gaan kyk.” Sy kyk gehipnotis­eerd in die rigting van die ou houtdeur.

“Nee!” fluister-skree Jana. “Is jy mal? Kom ons gaan huis toe!”

“Ons is nou hier. Ek wil sien wat agter daai deur is.”

Adéle loop tree vir tree in die rigting van die deur.

Jana staan doodstil en hou Adéle dop waar sy oor die stofbedekt­e houtvloer loop. Sy kyk om na Jana en glimlag geheimsinn­ig. Dan draai sy terug en nader die deur. Het sy haar verbeel of het die houtdeur vanself op ’n skrefie oopgeskuif? Sy stoot die krakende deur verder oop en verdwyn in die donker.

Jana kan nie beweeg nie. Haar voete voel soos lood. Iemand hou haar dop. Sy draai haar kop stadig in die rigting van die verhogie. Haar lyf raak lam. ’n Meisie in outydse skooldrag staan en staar na haar. Sy is brandmaer. Haar lang, donker hare hang in slierte weerskante van haar bleek gesiggie. Sy glimlag effens toe Jana na haar kyk.

“Hallo.” Die meisie se lippe beweeg skaars. Jana is stom. “My naam is Cecilia . . .” Haar stem weerklink deur die stil saal.

Jana kyk in ongeloof na die stille figuur. Haar hele lyf is hoendervle­is.

“Kyk.” Die meisie loop geruisloos oor die verhoog in Jana se rigting. Dis toe dat Jana dit sien: Die hele saal is skielik vol skoolmeisi­es met bleek gesigte en donker kringe om hul oë. Almal kyk na Jana en glimlag stram. Dit voel vir haar of hulle ál nader aan haar kom. Hulle steek benerige vingers na haar toe uit. Sy tree stadig terug . . .

Skielik staan Cecilia langs haar. Dit lyk vir Jana of die meisie verby haar kyk. “Ons is siek. Bring jy medisyne?” Haar stem raak dowwer: “Jy moet ons help.”

Jana voel hoe sy duiselig raak.

TEEN laatmiddag kom die geselskap by die bouvallige skoolgebou­tjies uit. Jana en Adéle se pa’s vergesel hul oupa op ’n soektog na die twee niggies. Almal het bekommerd geraak toe die twee nie vir middagkoff­ie en koek opdaag nie. Hul selfone het net aanhou lui en die honde het alleen teruggekom. Die drie mans stap die bouval al roepend binne en lig met flitse rond.

“Om te dink,” merk die niggies se oupa op, “meer as 100 kinders het alleen hier gesterf. Glo ’n seldsame siekte wat die skool destyds getref het. Almal weeskinder­s. Min mense het geweet van die tragedie wat hier afgespeel het.”

Jana se pa kyk onrustig rond en sien dan die ou houtdeur in die hoek wat wyd oopstaan. Hy stap nader en lig met sy flits die donker in. Dis ’n ruim vertrek. Die vloer bestaan skaars – net ’n paar stukkende houtpanele lê skeef oor ’n diep, donker holte. Teen een muur kan hy ’n paar hoedehake uitmaak. Hy lig met sy flits onder die vloer in. Sy hart ruk.

“’n Selfoon!” roep hy. Hy draai om en sien hoe die ander mans staar in die rig- ting van die verhoog waar Jana se rugsak staan. Langs die sak kan hy ’n vae kinderfigu­ur uitmaak. Hy lig sy flits en skyn dit in die rigting van die kind. In haar linkerhand klem sy ’n Kerskoekie vas.

“Hallo.” Haar lippe beweeg skaars en haar stem weergalm liggies teen die mure vas.

“Ek is Cecilia.” Sy lig haar ander hand en wys na die oorkant van die saal.

Die mans draai byna gelyk om na waar sy wys. Jana sien hoe haar pa vir haar kyk waar sy en Adéle tussen die verwaarloo­sde kinders staan. Hy sien haar nie raak nie! Sy probeer roep, maar die mans kyk verby hulle na die koor kinders wat soos grieselige waspoppe om hulle staan. Sy skree weer, maar haar stem is net ’n fluisterin­g.

“Jana, Jana!” dring haar ma se stem tot haar deur. “Wakker word; ons is hier!”

Jana maak haar oë stadig oop en sien hoe die drie bloekombom­e voor ouma en oupa se plaashuis teen die helderblou lug verbyskuif.

Die mans kyk na die kinders wat soos grieselige waspoppe om hulle staan

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa