’N WATERAAR, SOWAAR!
Party dink om water te wys is ’n toordery, maar ons het dit self beproef saam met ’n man wat al 30 jaar vir baie mense ’n redder is
TUSSEN die klippe en wilde makatane op ’n oop stuk veld in Kraaifontein, noord van Kaapstad, loop ’ n bruingebrande blondekopman voetjie vir voetjie. In sy hande hou hy ’n draad vas. Dit is in die vorm van ’ n wensbeen gebuig en in ’n stuk dun groen tuinslang toegewoel. Eers stap Nic Joubert (58) stadig van oos na wes, dan van noord na suid.
“In Suid-Afrika loop water net in daardie twee rigtings,” verduidelik hy tussendeur. Wanneer sy waterwysstang opwip soos nou hier in sy hande, wys dit dis die beginpunt van die breedte van ’n breuk tussen die ondergrondse rotslae waardeur die water suidwaarts vloei. En rem die stang ondertoe, is dit die ander kant van die breuk. So kan hy die stroom se breedte bepaal. Dan merk hy daardie plekke met wit klippies.
En moenie dink dis blote wensdenkery of ’n geldmaaktruuk hier midde-in die ergste droogte wat die Wes-Kaap in dekades beleef nie.
Ondergrondse water “werk” op hom, vertel Nic. Dis ’n “gawe” wat hy geërf het van sy oorlede pa, Johan Joubert, vertel hy trots, nes sy ouboet, Johan jr. (68), en Nic se seun, Ryno (33), en dié se seun, Kieon (11). Maar Nic, ’n opgeleide passer en draaier, is al een in die familie wat ’n beroep daarvan maak.
In die huidige droogte is water soos vloeibare goud wat diep uit die aarde ontgin word. Dis dié dat Nic die afgelope vyf maande baie besig is.
Hy kry selfs oproepe uit Knysna, waar teen ons druktyd nog net vir skaars drie weke water oor was. Die damme hier in die Kaap rond is nog net sowat 20 persent vol.
Nic wens hy kon die boere by Garies en Springbok nog meer help, maar in dié distrikte van Namakwaland is die ondergrondse water se gehalte nie oral goed genoeg nie en meestal net-net drinkbaar vir die vee. Die boere moet van hul skape ontslae raak. Dit breek sy hart.
Daar is mense wat hom van toordery beskuldig oor sy waterwysery of meen dis afgodediens om ’n “stuk hout” te “aanbid” en daarmee water aan te wys. Dan herinner Nic hulle aan Moses se staf wat in die woestyn water uit ’n rots laat kom het.
“Niemand kan water onder die grond sien nie,” sê hy. “Ek is net God se instrument om water te vind waar die nood is.”
V IR hom is water amper iets magies. Om Nic se huis in Kraaifontein is plaveisel pleks van ’ n grasperk en blombeddings om water te bespaar. Hy het vir homself ook ’n boorgatposisie aangewys en daardie water gebruik hy vir skottelgoedwas en om die toilet te spoel.
Hy was net agt jaar oud toe hy vir die eerste keer die gevoel ervaar van ’n kwepermikstokkie wat in sy hande beweeg. Ditwasophulplaas, Losberg, naby Fochville in die hedendaagse Noordwes.
“Dit was opwindend, ’n nuwe speelding,” onthou hy. Saam met sy pa het hy die wêreld platgery agter water aan. J ohans r. was’ n gerespekteerde waterwyser en wou later ook gaan olie uitsnuffel, maar die destydse regering wou hom nie prospekteerregte gee nie, vertel Nic.
Die afgelope 30 jaar volg hy in sy pa se voetspore en wys boorplekke vir water aan – op privaat erwe, by skole, fabrieke, ondernemings en plase. Daarvoor gebruik hy alles van ’n mikstok, gebuigde draad of twee dun koperstawe wat reg bo ’n wateraar vanself na mekaar swaai.
Op sy webtuiste, waterdivining.co.za, spog hy met sy suksesse, en tevrede kliënte bevestig dit: Op ’n hoenderplaas in die omgewing van Atlantis lewer een van die boorgate wat hy aangewys het op 85 m diep 45 000 L per uur.
En danksy hom het ’n plaas aan die N7 tussen Kaapstad en Malmesbury nou drie van die sterkste boorgate in dieWesKaap. Op tussen 100 en 120 m diep lewer elk van die boorgate 300 000 L per uur.
“Ek is nie altyd by wanneer die are raak geboor word nie,” vertel hy. “Maar dit was wonderlik om te sien hoe die water op daardie plaas uit drie sterk boorgate spuit. Sakemanne en boere het my gelukgewens oor die ‘rivier’ wat ek help raak boor het. Daar was trane in my oë.”
Hy werk nou as projekbestuurder van ’n waterboorprojek by ’n Kaapse bakkery wat 300 000 brode daagliks lewer en duisende liters water per uur verbruik.
Nic weet nie hoeveel betroubare waterwysers Suid-Afrika het nie, want sommige “boorkontrakteurs” wys sommer self water aan. “Daar is grootpraters wat beweer hulle kan voor die tyd al die diepte en sterkte van ’n wateraar skat. Dan word dubbel die diepte geboor en net die stof draai.”
Hy is veral skepties oor waterwysers uit ander provinsies wat wil kom munt slaan uit die Wes-Kaap se droogte, maar nie die grondformasies hier ken nie.
Dieervaringhethombyvoorbeeldgeleer die klipbanke in Constantia is baie hard vir die boor van diep gate, maar water is wel te vind in die verweerde formasies.
Benewens die grondformasies moet waterwysers ook hul mark ken, sê Nic. Gestel iemand nader hom uit die noordelike voorstad Plattekloof, waar baie graniet is, sal hy waarsku ’n boorgat sal nie groot volumes water oplewer nie; net sowat 200 tot 800 L per uur. “Dit kan eers in ’n tenk gepomp word. Dan is dit oorgenoeg vir tuin natmaak.” Groenteboere, skole met groot sportvelde en woonkomplekse se tuine kortenigietsvan15000Lper uur.
’n Boorgat van ongeveer 100 m diep kan die eienaar tot R70 000 uit die sak jaag, sonder ’ n pomp of watertenk. “Dan kan jy mos nie raai waar om te boor nie.”
Wanneer Nic op ’ n plaas waterare moet soek, vra hy aansienlik meer as in woongebiede omdat hy dikwels ver moet ry en baie lang ente moet stap om water op te spoor: enigiets van R2 500 by huise tot R4 800 op ’n plaas. O M SY slag te wys, neem Nic ons na ’ n stuk veld in ’n nuwe uitbreiding van Kraaifontein. “Hier is diep gate met water van goeie gehalte,” vertel hy. En kort voor lank wys die groot wensbeen van draad in sy hande sowaar dis wel so.
“Die magnetiese veld van die aarde werk op baie mense. Nie almal weet dat ook hulle kan water aanwys nie,” sê Nic en voeg by: “Vroue verstaan nie eintlik hierdie soort goed nie.”
Dit laat Huisgenoot se fotograaf, Misha Jordaan, besluit sy wil kyk of sy met die waterwysery hond haaraf kan maak. Sonder om grond toe te loer loop sy met ’n koperstafie in elke hand. Sy giggel soos ’n opgewonde kind toe die stafies mekaar kruis op ’n plek wat Nic vroeër afgemerk het. “No ways!” roep sy uit.
Ek moet ook probeer. Met toe oë loop ek ’n rigting in en voel wraggies ook die stafies vanself na binne draai. Ek maak my oë oop en sien ek staan op die aar wat Nic en Misha aangewys het.
“Vat my regterhand,” nooi Nic. En toe voel ons hoe die stroom daar doer onder nog sterker aan die stafies trek.