BLITS SONDER BRIEKE
Rosko ryg die drieë in; g’n wonder hy is deesdae aanlyn ’n ‘opgezoepte’ renmotor nie! Hy vertel waar sy sukses vandaan kom
SPECMAGIC, noem sy aanhangers dit. Dis wat die Blitsbokke se Rosko Specman doen wanneer hy die verdediging met suiwer vaart en vernuftige voetwerk oopvlek. Dis inderdaad asof hy toor met die bal l onder die arm: Sien my hier, , sien my daar . . . en siedaar! Ekk druk agter die pale!
Video’s van Rosko se drieëë word pal in die sosiale media a bekyk en selfs met rekenaar- truuks “opgezoep”, soos die eenn teen Kanada in die onlangse e toernooi in Vancouver.
In die gedokterde video is alss normaal tot Rosko die bal in sy kwartgebied kry; en dan wordd die rugbyveld ’ n soort sleepprenbaan, kompleet met weggspringligte. Die lig word groenn en ’n mens hoor brullende enjinsns en sien vlamme en vonke onder Rosko se stewels uitkom terwyl hy ses, sewe teenstanders klop op pad doellyn toe. In die hoek van die skerm is ’n “Specmagictoereteller”, en dis heeltyd in die rooi.
Naas Seabelo Senatla, wat onlangs na die vyftienmanspel verskuif het, is hy tot dusver die Blitsbokke se voorste driedrukker in vanjaar se Wêreldsewesreeks. In Las Vegas en Vancouver het hy die simboliese droomspan gehaal wat ná elke toernooi aangewys is uit die uitblinkers van al 15 deelnemende spanne.
Die Blitsbokkespan wemel van die sterre, maar dis Rosko met sy Rastalokke wat die verbeelding aangryp en ’n gevaar is sodra hy aan die bal raak.
“Specman is nou die speler wat ’n wedstryd op sy kop kan draai,” het die beheerliggaam Wêreldrugby in hul ontleding van die Vegas-toernooi verklaar.
DIS eintlik ’n skoolmaat aan Kingswood College in Grahamstad wat hom die bynaam Specmagic gegee het, vertel Rosko toe ons op Stellenbosch gesels met hom en sy meisie, Amber Cupido. Maar vanjaar het die bynaam aanlyn soos ’n veldbrand versprei namate sy spel vlam gevat het.
Kort voor ons druktyd sou hulle vertrek na Hongkong, die volgende hekkie in die Blitsbokke se pad na ’n moontlike tweede Wêreldreekskroon. Die span se eerste Wêreldreekssege was in 2008/’09.
Die Blitsbokke het ’n goeie voorsprong bo hul naaste mededingers op die punteleer. “Maar ons kan nie nou in ’n gemaksone ingaan nie,” sê Rosko. “Baie kan in die laaste vier toernooie gebeur. Ons kan beslis nie dink ons kan net opdaag en alles sal goed afloop nie.”
Hy meen die spanne wat Suid-Afrika se wêreldtiteldroom kan probeer kelder, is Engeland, Fidji en Nieu-Seeland. Engeland kon tot dusver uitwerk hoe om teen Suid-Afrika te speel. En van Fidji weet ’n mens nooit wat om te verwag nie. “Party mense meen nou hulle is die konings van die spel, maar ek glo nie so nie.”
En terwyl Nieu-Seeland die laaste ruk gesukkel het, “begin die jong span wat hulle bymekaargesit het nou jel”.
Rosko reken die Blitsbokke pluk nou die vrugte van drie jaar saam as ’n hegte groep. “Die lekker ding is hoe die afrigter, spelers – almal – in die laaste seisoene gegroei het. Kyk ek byvoorbeeld na myself, wou ek dalk nog tot verlede seisoen alles net vinnig doen. Hierdie seisoen was ek meer gedissiplineerd en het ek baie na my tydsberekening begin kyk.
“Ek sal nie bloot meer van die eerste fase af gaan probeer punte aanteken nie. Ek wag eerder vir ’n geleentheid soos by ’n turnover, wanneer die verdedigingstrukture deurmekaar is. Dan kan ek baie spanne seermaak as ek die bal kry. Bygesê, dis die ander manne wat my altyd in die gaping sit. Dan sorg ek net vir die afrondingswerk . . .”
Darem nie altyd net dit nie; daarvan getuig heelparty langafstanddrieë van die onwaarskynlike soort.
“Rosko is een van daardie X-faktorouens wat uit niks iets kan skep,” vertel Neil Powell, die Blitsbokke-afrigter. “Dis baie moeilik om net een verdediger op hom te sit. Dan is hy ook vinniger as wat baie mense dink. Hy is baie plofbaar, ontwykend . . . Hy dra baie energie by, nie net op die veld nie, maar ook andersins . . . Regtig ’n goeie ou vir die spankultuur.”
Rosko, wat in Grahamstad aan die Hoërskool Mary Waters en later met ’n sportbeurs aan die gesogte Kingswood skoolgegaan het, meen hy het heelwat van sy talent en vaardighede aan pa Joseph te danke. Dié het vyftienmanrugby, senter en vleuel, vir Grens gespeel.
Rosko het ook in krieket en veral atletiek uitgeblink. In die 100 m-naelloop was hy die Oos-Kaapse o.19-kampioen. Maar rugby het die oorhand gekry – en toe later sewes.
“In my laaste twee hoërskooljare het my pa gesê ek sou van toe af elke dag saam met hom gaan oefen. Ons het byvoorbeeld so ’ n koppie daar in Grahamstad uitgehardloop wat ons Selfmoordheuwel noem.”
Sodra sy huiswerk klaar was, sou Joseph half onheilspellend vir hom sê: “Jy weet waarnatoe ons nou gaan, nè?” Reën of nie. “Maar so het ek begin lief raak vir die spel en naderhand het ek gedink: ‘Jong, maar ek raak dan nou vinnig ook deesdae,’ ” skerts hy.
Op ’n dag het hy Fabian Juries (later ’n seweslegende en lank die Blitsbokke se topdriedrukker) in Grahamstad ontmoet. “Ek was so 13 toe ek verby ’n rugbyveld loop en Fabian roep: ‘Jis, mannetjie, kom vang ’n bietjie bal!’
“Van daai dag af het ek begin dink sewes kan miskien ook lekker wees. Toe ek nou hoor van dié man – ook van Grahamstad – wat so sewes speel, het ek die
game aan en af begin kyk.” Rosko het veral sedert 2009 sewes gespeel, maar ook goed gevaar in die vyftienmankode. So was hy in 2013 ’n groot ster in Jimmy Stonehouse se skitterende Poemas-span.
Kort ná sy Blitsbokdebuut in 2014 het hy ’n groot terugslag beleef. “In my derde wedstryd, toevallig ook in Vegas, teen Kenia, het ek my enkelligament geskeur. Ek was langer as ses maande buite aksie en het gedink ek gaan dalk nie weer dieselfde Rosko wees nie.”
Maar hy wou wys van watter stoffasie hy gemaak is “en het toe maar stadig daardeur gewerk”.
Een van “die lekkerste dinge” was toe Neil hom die jaar daarna bel en hy hoor hy moet weer by die Blitsbokke in Stellenbosch se sportakademie aansluit. “Toe het ek gedink: ‘Oukei, jy’t nog een kans.’ Naderhand het ek die voltydse span gehaal en daarna nooit teruggekyk nie.”
Hy het Amber, wat haar honneurs in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch loop, in 2013 in ’n Poemarugbyspanhuis in Nelspruit ontmoet. “Ek het eintlik toevallig gaan kuier by my suster en swaer, Danwel Demas, Rosko se spanmaat,” vertel Amber. “Dit was nou nie liefde met die eerste oogopslag nie; ons was eers vriende.”
Sy vertel Rosko lyk aanvanklik stil en ernstig, “maar sodra hy jou ken, maak hy oop”. En dan kan hy nogal jou siel uittrek.
“Ek hou net regtig van haar geselskap,” sê Rosko. “Sy sal my altyd bystaan en my ook herinner aan wat reg en verkeerd is.”
En Amber, ’n gebore Paarliet, het dikwels ’n mening oor sy spel. “Hy kry ná elke wedstryd ’n WhatsApp-opsomming – darem die goeie dinge eerste,” lag sy.
PARTY mense wil Rosko graag in vyftienmanrugby sien. Maar dié spoedvraat het nog nie sulke planne nie. “Ek moet sê, ek geniet dit baie by die sewes. Die spoed van die spel, om te sien hoe gelukkig al die mense is . . .”
En natuurlik die Blitsbokke se spankultuur. “Dis ’n groot faktor in ons sukses. Daar is niks soos senior of junior ouens nie. Ons geniet mekaar se geselskap en sal in ons af tyd dinge saam gaan doen. Daar is nie groepvorming nie.”
Die druk voor soveel toeskouers en kameras in groot wêreldstede kan intens wees. “Maar wanneer ’n afrigter wat jou in alles bystaan vir jou sê: ‘Geniet dit net. Jy is hier vir ’n rede. Jy het die talent,’ dan draf jy met ’n glimlag uit en wil jy altyd net jou beste gee, vir jou coach, jou spanmaats en jou land.”