Huisgenoot

GESOG NÁ DIE GESPOT

SA se Alexandra Binaris het op skool deurgeloop oor haar voorkoms; nou verskyn sy saam met die bestes op die loopplank

- Deur LARA ATSON

SY WAS net vier jaar oud toe ’n modelagent haar raaksien – en dit nogal ter wyl sy en haar gesin in die gehoor was by ’n kinderteat­erproduksi­e.

Tog was dit nie die laaste keer dat die jong Alexandra Binaris se skoonheid die koppe laat draai het nie. Ook as tiener het modelagent­e haar trompop geloop en probeer oorreed om haar lyf model te hou. Maar sy op ’n loopplank pryk? Nooit gesien nie!

Dié langbeenki­nd van Richardsba­ai se droom was om by ’n modetydskr­if te werk nadat sy graad gevang het. En kyk nou net . . .

Toe Alexandra (22) in April verlede jaar pas uit die universite­it die gesogte modelagent skap Boss Models in Kaapstad sonder ’ n sweempie grimering binnestap, het hulle haar met die eerste oogopslag ’n kontrak aangebied.

’n Dag later het die 1,79 m lange groenoogmo­del met haar unieke voorkoms en volronde lippe ’ n kontrak gehad met Elite, die agentskap by wie supermodel­le soos Gisele Bündchen en Cindy Crawford se loopbaan vlam gevat het.

’n Maand later was Alex, soos almal haar ken, op ’n vliegtuig Parys toe. Binne weke het sy die aandag getrek van Nicolas Ghesquière, kreatiewe direkteur van die luukse ontwerpers­huis Louis Vuitton. Alex het hom in Junie verlede jaar by ’n geleenthei­d raakgeloop, en toe sy later dieselfde maand ’n oudisie vir ’n modeverton­ing aflê, het hy haar herken.

“Hy het nog gevra of ek hom onthou. Ek het eers nee gesê,” onthou sy. “Jy het nie gedink ek sal jou so maklik vergeet nie, het jy?” was sy antwoord.

Vier maande later pryk Alex toe vir die eerste keer op die loopplank, sowaar vir Louis Vuitton se 2017-lente/somerreeks.

Alex is nou een van die modewêreld se blinkste opkomende sterre. Sy het al op die glansblaai­e van die Britse en Italiaanse Vogue en Harper’s Bazaar gepryk. Sy was ook al op die loopplank vir groot modehuise soos Chanel en Carolina Herrera en was al in vertonings saam met A-lys-modelle soos Cara Delevingne, die susters Gigi en Bella Hadid, die werklikhei­dster Kim Kardashian West se halfsussie Kendall Jenner en Lily-Rose Depp, dogter van die Pirates of the Caribbean-ster Johnny Depp.

Tydens die onlangse New Yorkse Modeweek was Alex op die loopplank vir groot name soos Oscar de la Renta en Prabal Gurung. Glad nie sleg vir iemand wat op skool oor haar voorkoms geboelie is nie!

HAAR paspoort wemel van die stempels van ’ n rits lande waar sy al modelwerk gedoen het: Duitsland, Amerika, Frankryk, Italië, Engeland, noem maar op. Dié stralerjak­ker woon deesdae om die beurt in die modestede New York en Parys.

Sy het onlangs drie weke lank in haar geboortela­nd kom uitspan. Op Richardsba­ai bars die inwoners uit hul nate van trots. “Die steun wat ek daar kry en van die hele Suid-Afrika, is so wonderlik en oorweldige­nd,” vertel sy.

Ma Veronica en pa Gregory besit ’n eiendoms- en kleinhande­lsaak op die dorp. Wat haar voorkoms betref, is sy ’n “goeie balans” van hulle, sê sy. Haar broer, Nicholas (20), studeer B.Com. (Finansies) aan die Universite­it Stellenbos­ch (US).

Kleintyd was sy ’n rabbedoe, mal oor die buitelewe en om in bome te klouter. Naweke het sy gereeld saam met haar pa en broer kampeer, onthou Alex.

Sy bieg oor ’n ondeunde streep in haar kosskoolda­e aan die St. Mary-meisieskoo­l in Kloof by Durban. “Aan die einde van matriek het ek die meeste wasgoedpli­gte van almal agter die blad gehad. Dit was ’n vorm van straf, en die vroue wat die wasgoed gedoen het, het selfs my naam geken,” vertel sy en lag.

Tog was haar skooljare nie altyd rooskleuri­g nie. “Ek is gespot omdat ek te maer en onderontwi­kkel was,” onthou sy. “Hulle het nare goed gesê, soos dat ek ‘op ’n winderige dag sou omwaai’. Ek het altyd ontsteld by my ouers gekla. Hulle het my verseker ek sou eendag dankbaar wees (vir my voorkoms). Ek het dit nooit verstaan nie, tot ek ouer was; nou kan ek my sterre skaars genoeg dank.”

Alexandra was 18 en in matriek toe ’n modelagent van Boss Models haar in 2012 vir die soveelste keer raaksien, nogal op Tafelberg. Weer wou sy niks hoor nie; sy was vasbeslote om media en kuns aan die Universite­it van Kaapstad te studeer. Kort nadat dié slimkop in Desember 2015 haar graad verwerf het met ’n dekaanspry­s vir ’n onderskeid­ing daarby, het sy by Boss Models aangeklop. Sy was so lomp, sy het oor ’n hoofagent se hond gestruikel toe sy by die kantoor instap, onthou sy. Tog het dit hulle nie afgeskrik nie.

“Sy het die ongeloofli­kste energie gehad,” vertel Linda Bruchhause­n, direkteur van Boss Models in die Kaap. “Ek dink amper selfs al was sy nie so pragtig nie, sou ons haar steeds wou verteenwoo­rdig. Persoonlik­heid speel nou ’n groot rol in die bedryf,” sê Linda.

“Alex het die perfekte kombinasie van wat hulle nou verlang: ’n sterk, moderne voorkoms; boonop is sy pragtig.”

Toe Alex ’n dag later haar kontrak by Boss Models teken, was Iris Minier van die modelagent­skap Elite ook daar. Dié het haar dadelik ’n kontrak aangebied. ’n Maand later was sy in die modesentru­m Parys. “Ek het verlief geraak op die stad,” onthou sy. “Ek het in ’n pragtige woonstel in Victor Hugolaan gebly, 10 minute se stap van die Eiffeltori­ng en Arc de Triomphe af. Wat meer kan ’n vrou vra?”

Alexandra is nou deel van Boss Models en Elite wêreldwyd, asook die New Yorkse modelbestu­ursfirma The Society Management en Promod in Duitsland.

Sy word gereeld met die Australies­e model Catherine McNeil (28) vergelyk, vertel sy. “Dis nogal ironies, want ons het saam in die Chanel-vertoning geloop.”

En ja, daar was al tye dat sy gebloos het. Sy het op ’n gesellighe­id in Junie verlede jaar met die ontwerper Marc Jacobs gesels en geen benul gehad wie dit is nie – tot haar vriende, wat wou bars van opgewonden­heid, haar ingelig het.

“Ek vermoed dis wat kliënte na my lok, want dis verfrissen­d en ek is plat op die aarde,” vertel sy. En sy is altyd haarself.

Sy is allermins volmaak, sê Alex, wat 16 000 aanhangers op Instagram het. “My vriende noem dit Alexisms – die snaakse en vreemde goed wat my mý maak. Sou jy ’n meisie wat ’n irrasionel­e vrees vir lewende vis het as perfek beskryf? Ek ook nie,” laat sy ewe hoor.

Haar daaglikse grimeerroe­tine bestaan net uit vogroom, sê sy, en sy bly fiks danksy joga en weerstands­oefeninge. “En ek stap elke dag minstens 10 km.”

Alex is ’n pesketarië­r en eet dus vis en ander seekos, maar geen ander vleis nie. Sy bederf haarself graag en is mal oor sjokolade. Sy sê ook nooit nee vir vars sjokoladec­roissants nie; hul geur hang immers heeltyd in die strate van Parys.

In haar vrye tyd verken sy stede. “Ek is mal oor kuns en geskiedeni­s en gaan dikwels na kunsuitsta­llings en museums. Of ek lees net ’n boek onder die wilgeboom langs die Seine of eet saans uit saam met vriende,” vertel sy.

Alex en haar kêrel, Sean Chapman (23), is al twee jaar saam. Hy is besig met sy honneursgr­aad in B.Com. (Logistiek) aan die US. Hulle is dol oor reis en het Europa onlangs ’n maand lank verken.

Haar raad vir ontluikend­e modelle? “Jy moet selfvertro­ue hê, bly getrou aan jouself en wees net jy. En moenie die boksie pleisters vergeet nie; jou voete sal jou bedank.” Wyse raad van ’n wyse vrou.

 ??  ?? HOOFFOTO: DDie Suid-Afrikaanse model Alexandra BinBinaris op die loopplank tydensdens vanjaar se New Yorkse Modeweek. ONDER: Tuis in Parys. Sy word gereeld vergelyk met die Australies­e model Catherine McNeil (LINKS BO), vertel Alexandra (REGS BO).
HOOFFOTO: DDie Suid-Afrikaanse model Alexandra BinBinaris op die loopplank tydensdens vanjaar se New Yorkse Modeweek. ONDER: Tuis in Parys. Sy word gereeld vergelyk met die Australies­e model Catherine McNeil (LINKS BO), vertel Alexandra (REGS BO).
 ??  ?? BO: Dié boorling van Richardsba­ai aan KwaZulu-Natal se noordkus was al in modeverton­ings vir groot name soos Louis Vuitton. ONDER: Saam met haar kêrel van twee jaar, Sean Chapman.
BO: Dié boorling van Richardsba­ai aan KwaZulu-Natal se noordkus was al in modeverton­ings vir groot name soos Louis Vuitton. ONDER: Saam met haar kêrel van twee jaar, Sean Chapman.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa