SO WERK DIABETES
Dis nie ’n doodsvonnis nie, maar moet fyn bestuur word
HAAR ma het diabetes gehad, en dit het eindelik haar lewe geëis. Maar toe Carol Hendricks (60) van Kaapstad in haar vroeë 30’s hoor sy ly ook aan tipe 2- diabetes, wou sy dit eers nie aanvaar nie. Sy het aangegaan met haar lewe asof die siekte nie bestaan het nie, vertel Carol. “Ek was baie ongehoorsaam en baie oorgewig. Ek wou nie die insulieninspuitings gebruik nie, en elke keer dat ek myself moes inspuit, het ek vreeslik gehuil.”
Sowat ’n jaar en half het verbygegaan. Carol het eindelik besef dit kan nie so aangaan nie, want sy het jong kinders gehad. Sy het haar reggeruk, haar insulien getrou begin neem en boonop 30 kg afgeskud danksy gesonde eetgewoontes en oefening. “My enigste doelwit was om my kinders te sien grootword. Vandag is ek die ouma van vier kleinkinders,” vertel sy nou verlig.
Carol is begeesterd om inligting oor suikersiekte met die res van die wêreld te deel en het aangesluit by Diabetes SuidAfrika (DSA). Sy het reeds 17 jaar gelede ’n steungroep met 13 mense begin, en vandag is 120 mense haar verantwoordelikheid.
Haar les aan ander is dat diabetes nie ’n doodsvonnis is nie; dis ’n toestand wat ’n mens moet bestuur.
Carol was een van die gelukkiges. As sy nie dekades gelede die nodige veranderings aangebring het nie, was sy dalk een van die duisende vroue wie se lewe die laaste paar jaar deur dié siekte geëis is.
Statistieke Suid-Afrika het onlangs bekendgemaak in 2015 was diabetes die grootste oorsaak van sterftes onder vroue. In daardie jaar is altesaam 15 396 vroue daaraan oorlede.
Al kon net 1 681 van die sterftes spesifiek toegeskryf word aan tipe 1- (254) of 2-diabetes (1 427), meen kenners die meeste het aan tipe 2 gesterf omdat dit meer algemeen voorkom.
Vroue is wel die grootste slagoffers van die siekte, maar dis nie net tot hulle beperk nie. Volgens die Sentrum vir Diabetes en Endokrinologie (SDE) in Johannesburg toon syfers van die Internasionale Diabetesfederasie in 2015 het 7 persent van Suid-Afrikaners tussen 21 en 79 jaar diabetes gehad. Gegewe die mees onlangse bevolkingstatistieke, beteken dit tot 2,3 miljoen Suid-Afrikaners in dié ouderdomsgroep het suikersiekte.
Ons het gaan uitvind wat dié gevreesde toestand veroorsaak en hoe dit tot die dood kan lei.
WAT IS DIE VERSKIL TUSSEN TIPE 1- EN TIPE 2-DIABETES?
Tipe 1-diabetes is ’n outo-immuunsiekte, verduidelik Margot McCumisky van DSA. “Dit beteken die liggaam se eie immuunstelsel vernietig die selle in die pankreas wat insulien afskei. Insulien is soos ’n sleutel wat glukose toelaat om die selle in ons liggaam binne te gaan.”
Kos wat ’n mens eet, word deur jou liggaam omgeskakel in glukose, verduidelik Margot. “Elke sel in jou liggaam het glukose nodig om te werk.
“Wanneer jou liggaam nie meer insulien vervaardig nie, kan jy in ’n kort tydjie baie siek raak. Dan het jy lewenslank insulieninspuitings nodig.”
Dit is onbekend wat tipe 1-diabetes veroorsaak; dis vermoedelik verskeie oorsake wat oor ’n aantal jare voorkom, soos ontstekings en virusse, asook omgewings- en selfs sielkundige faktore, sê Michael Brown, ’n kliniese konsultant by die SDE.
Dr. Ankia Coetzee, navorser aan die
Universiteit Stellenbosch, sê die verskil tussen tipe 1- en tipe 2-diabetes is dat tipe 1 gekenmerk word deur absolute insuliengebrek by veral jonger mense. Dit gebeur gewoonlik skieliker en gaan gepaard met groot hoeveelhede urine wat uitgeskei word, dehidrasie, gewigsverlies, moegheid en, indien dit glad nie behandel word nie, ’n koma en selfs die dood.
Volgens haar het mense met tipe 2diabetes gewoonlik insulienweerstandigheid en later insuliengebrek.
“Dit kom meestal voor by pasiënte wat oorgewig is,” waarsku Ankia. “Leefstylveranderings is die eerste stap, maar pasiënte het wel in die verloop van diabetes insulienmedikasie nodig as die pankreas nie meer kan byhou om genoeg insulien te vervaardig nie.”
Michael sê mense met tipe 1- sowel as tipe 2-diabetes het ’n genetiese vatbaarheid daarvoor wat deur omgewingsfaktore geaktiveer kan word.
WAT VEROORSAAK DIE DOOD?
’n Mens kry nie iets soos ’n ligte vorm van suikersiekte nie, sê Michael. “Dit is ’n algemene wanopvatting. Enige tipe diabetes, 1 of 2, het die potensiaal om jou gesondheid skade te berokken as dit nie beheer word nie.”
Met tipe 1-diabetes is mikrovaskulêre risiko’s hoofsaaklik ter sprake, waar die kapillêre aartjies (die haarbuisies wat weefsel en organe van bloed voorsien) skade ly of doodgaan.
Volgens Michael kan jy ook komplikasies, soos die oogsiekte retinopatie en blindheid, ontwikkel weens die beskadiging van bloedvate in die retina. Nieraandoenings, hartversaking of ander hartkwale, senu-, velsiektes en erektiele disfunksie is ook moontlik.
Margot sê mense met tipe 1-diabetes kan maklik in hul slaap in ’n koma verval en sterf as hul bloedsuikervlak te hoog is.
Makrovaskulêre siektes, wat te doen het met jou slagare en groot bloedvate, kom meestal by tipe-2 diabetes voor, verduidelik Michael. Dit kan lei tot byvoorbeeld hartaanvalle, beroertes en amputasies weens vaskulêre probleme.
“Die groot probleem is kardiovaskulêre siektes. Mense met tipe 2-diabetes is twee tot vier keer soveel geneig om daaraan te sterf.”
Boonop het mense met tipe 2-diabetes gewoonlik hoë bloeddruk en cholesterol, en die risiko vir ontsteking in ledemate kan lei tot gangreen en amputasie as dit nie behandel word nie, sê Michael.
Ankia stem saam en sê met tipe 2diabetes moenie net aan suikerbeheer aandag gegee word nie, maar aan al die ander faktore wat kan bydra tot die risiko vir makrovaskulêre siektes in die brein, hart en ledemate.
HOEKOM VROUE?
Ankia sê sy vermoed tipe 2-diabetes kom veral onder vroue voor omdat hulle meer geneig is tot oorgewig: “Een van die grootste risikofaktore vir diabetes is ’n toename in gewig.”
Sy sê amper twee derdes van vroue weeg meer as wat hulle moet, vergeleke met net meer as ’n derde van mans, terwyl vetsug by 41 persent van vroue voorkom, teenoor 14,6 persent van mans.
Margot meen vroue sal alles vir hul gesin doen, maar hulself afskeep. “Ons sien gewoonlik om na almal; ons eie gesondheid kom laaste.
“Meer vroue werk ook deesdae en is geneig om die maklike uitweg te kies wat etes betref.”
HOEVEEL GEWIGSTOENAME KAN LEI TOT DIABETES?
Daar is nie ’n absolute gewig waarteen suikersiekte ontwikkel nie, sê Susan Liebenberg, ’n dieetkundige van George wat spesialiseer in diabetes. “Ek dink nie die mate van vetsug speel so ’n groot rol soos bloot die feit dat jy oorgewig is nie. Almal wat oorgewig is, het ’n verhoogde risiko om tipe 2-diabetes te ontwikkel.”
Vetverspreiding is die groot risikofaktor wat hand aan hand gaan met die gewig, verduidelik Susan.
“Mense met sentrale vetverspreiding – dit is vet rondom die middellyf of die sogenaamde appelfiguur – het ’n baie groter kans om tipe 2-diabetes te kry. Vet skei hormone af en veral sentrale vet vervaardig die hormoon resistien. Resistien maak mense insulienweerstandig, en dit kan lei tot tipe 2-diabetes.”
Margot sê hulle moedig mense met suikersiekte aan om minstens 5 tot 10 persent van hul oortollige gewig af te skud, want dit maak dat insulien doeltreffender kan werk.
KAN JY GENEES WORD?
Ongelukkig kan diabetes nie genees word nie, maar jy kan dit deur ’n goeie leefstyl bestuur, sê Margot. “Daar is soms mense wat hul medikasie staak en hul suikervlakke met die regte leefstyl beheer, maar die probleem is dat hulle maklik kan verval in vorige slegte gewoontes.”
DSA is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat alle diabeteslyers in die land steun en hul belange bevorder, onder meer deur opvoeding en die verspreiding van inligting. Besoek diabetessa.org.za vir nog inligting.