Huisgenoot

Verhaal: Die Verkeerde Oomblik

Op haar beste vriend se huwelikson­thaal hoor Angelina ’n vreeslike skindersto­rie in die kleedkamer

- Deur CLIFFORDEN­E NORTON Illustrasi­e: LOUISA GERRYTS

ARME Kaylene! Om darem die res van jou lewe in ’n ander vrou se skadu te staan; dis nou nie juis die soort lewe wat ek wil hê nie,” klink ’n stem deur die dun houtdeur op. “Gelukkig weet sy darem nog nie,” gesels ’n sagter stem saam.

“En hoe lank dink jy gaan dít hou?” vra skinderbek nommer een.

Waar Angelina staan, vervies sy haar geweldig vir die twee vroue. Dat mense op haar troue so oor die bruid kan staan en skinder!

Praat van vieslik. Hulle kon ten minste die ordentlikh­eid gehad het om dit nie op die onthaal te doen nie. Of glad nie.

“Ja, siestog, en sy lyk so gelukkig. Haar gesig is een groot glimlag.”

Skinderbek nommer twee se tong klik om haar simpatie te beklemtoon.

Genoeg is genoeg. Sy kan . . . nee, sy sál dit nie vat dat hulle so op haar beste vriend se troue staan en skinder nie, veral nie oor sy bruid nie. Angelina skik haar brons strooimeis­ierok reg en trek haar skouers agteroor. ’n Stem fluister kliphard: “Praat van ’n

rude awakening wanneer sy eendag wakker skrik en besef West kyk met sy hart in sy oë na . . .”

Die deur klap teen die muur toe Angelina dit oopmaak.

“Genoeg!” gebruik sy haar strengste onderwyser­esstem. Sy kyk verbaas na West se twee niggies wat voor die spieël staan en hul grimering opknap.

“Liv, Beverley, skaam julle julle nie? Wat as Kaylene of een van haar familieled­e hier instap? Wil julle regtig hul aand opmors met ’n familievet­e?”

Wit geskrik en skaam skraap hulle vinnig hul goed in hul aandsakkie­s, en met ’n blitsige “jammer” maak hulle spore.

“My hemel.” Angelina probeer haar woede onderdruk en stap na die wasbak om haar hande te was.

Toe sy haar hande afdroog, tref die betekenis van hul woorde haar. Kaylene in ’n ander vrou se skadu? Van wie het hulle gepraat?

SY EN West is van kleintyd af beste maats. Hulle verjaar ’n week uitmekaar; dus het hul ouers van hul eerste verjaardag af hul partytjies saam gehou. Oor die groot roomkoek van hul eerste jaar het hulle ewige vriendskap­sbande gesmee.

Hul vriendskap het die tyd, baie stryery en hul onsekere tienerjare oorleef. Hy sou haar tog gesê het as daar ’n ander vrou in sy lewe was – of sou hy?

Ná verlede Oujaarsaan­d het ’n veranderin­g in hul verhouding ingetree; dit is nie meer so oop en eerlik soos voorheen nie. Weg is die gemaklikhe­id wat hulle húlle maak.

Hul ouers is lewenslang­e bure en volgens tradisie is daar ’n familie-ete ná die sesuurkerk terwyl hulle die Nuwejaar inwag. West se broer het musiek opgesit en jonk en oud het die grasperk in ’n dansbaan verander. Angelina het nog lekker saam met een van West se neefs gedans toe hy haar kom wegraap.

“Van wanneer af dans jy so baie met ander mense? Jy weet mos ons is part

ners,” het West haar laggend beskuldig. Voor sy kon antwoord, het sy jonger broer haar in ’n vinnige draaibeweg­ing voor sy neus weggedans. “Jy kan Angelina nie elke jaar skaak nie.”

Sy het gelag. Dit was elke jaar se toutrekker­y, veral omdat West twee linkervoet­e het wanneer hy met enigiemand anders dans. Hulle het ’n leeftyd se oefening gehad, en sy is steeds dankbaar die dae dat hy haar voete vermorsel het, is genadiglik verby.

“My familie werk op my senuwees,” het hy gekla toe hulle weer kans kry om met mekaar te dans.

“Hoekom? Jy weet tog elke jaar hulle gaan dit doen.” Sy het haar lag gesluk en met haar kop op sy skouer gerus. Daar was iets vertrooste­nds en veiligs aan sy arms; sy het so tuis gevoel.

West het haar op die voorkop gesoen. “Hulle weet ek deel jou nie graag nie, en ek is bang. Elke jaar kyk een van my neefs met Kersliggie­s in sy oë na jou . . . Ag, hulle werk net op my senuwees!”

Sy wou antwoord, troos, maar hy het sy kop geskud en hulle het verder gedans.

EN NOU, Angelina? As jy so in ’n dwaal sit?”

Angelina word uit haar gedagtes geruk en kyk op na West se ma. “Niks, aunt Claire, ek dink sommer net,” antwoord sy.

Haar tweede ma neem oorkant haar stelling in. “Is jy lus vir ’n snytjie kaaskoek? Ek het dit vir Nick gevat, maar hy het klaar ’n stukkie tjoklitkoe­k gegaps.”

“Ja, dankie.” Sy sluk die eerste vurk vol voor sy genoeg moed bymekaarsk­raap om te vra: “Was West op ’n ander meisie verlief voor hy Kaylene ontmoet het?”

Aunt Claire kyk weg van West, wat nou saam met háár ma dans. “Nie waarvan ek weet nie. Hoekom?”

Angelina probeer die gesprek verduideli­k wat sy vroeër in die badkamer gehoor het. Dalk was Liv en Beverley net lus vir skinder.

“West sou my gesê het as hy verlief was op iemand anders. Sou hy nie?”

“Ek dink tog so. Jy was die eerste een wat van Kaylene geweet het. Jy het eerste geweet hy gaan haar vra om te trou.”

Ja, sy het eerste geweet. Wat sy nie vir aunt Claire sê nie, was die skok. Voor Kaylene was West nooit oor enige vrou ernstig nie. Sy het nie verwag dat hy haar binne vyf maande die jawoord sou vra nie. Angelina het altyd gehoop hy sou opkyk en besef sy is lief vir hom.

“Ek, Nick en jou ouers het altyd verwag dat jy en West sou trou,” laat val aunt Claire gemaklik ’ n emosionele handgranaa­t.

Die kaaskoek word dik in haar mond. “Askies?”

West se ma gaan onverstoor­d voor. “Ons, eintlik almal wat julle ken, het gedink julle gaan trou. Ons het almal verwag hy sou eendag genoeg moed bymekaarsk­raap om die waarheid te praat. Niemand was nog ooit goed genoeg vir jou nie en niemand sal ooit wees nie; daarvan is West heilig oortuig. Hy is jaloers wanneer van die familieseu­ns vir jou ogies maak.”

Angelina neem nog ’n happie kaaskoek en hoop dat sy haar hart na sy normale plek terugsluk. Wat is dit met hoop? Die spertyd is tog al vyf uur en 13 minute gelede verby?

“En daaruit het almal afgelei hy moet lief wees vir my? Aunt Claire, dis maar almal se verwagting. Ek dink Hollywood of boeke skep die verwagting dat beste vriende moet trou. Dis ’n cliché. West is net beskermend.”

“Daar is ’n rede waarom sekere dinge clichés is: Waarheid skuil in hul dieptes. Ek glo verhouding­s wat as vriendskap begin, het ’n beter kans om te oorleef. Julle sou perfek vir mekaar wees – julle is al 28 jaar toegewyd aan mekaar. ’n Leeftyd sou baie makliker wees.”

WHAT would I do without your smart mouth? Draw

ing me in . . . begin die openingswo­orde van John Legend se All of Me. “Dank die hemel ek kan met jou dans. Ek vermorsel al amper die hele aand Kaylene se arme voete . . . Ek bedoel dit wat oor is van haar voete ná die hele dag in daai skoene.”

“Ek onthou ’n tyd toe mý voete onder jou moes deurloop. Eina!” West swaai haar in sy arms en Angelina probeer verby die knop in haar keel glimlag. “Weet jy wat sê jou ma netnou vir my?”

Hy lig sy wenkbrou vraend. “Sy sê hulle – ons albei se ouers – het gedink dit sou ons troudag wees hierdie.”

Sy lig haar kop verbaas toe hy nie uitbars van die lag nie. West se kake is styf opmekaar gespan en dit lyk of hy kners. “West?” “Angelina, ek . . .” “Jammer, nou’s dit weer my beurt!” Kaylene staan stralend langs hulle.

Angelina stoot haar tong oor haar droë lippe. Van iewers pluk sy ’n glimlag uit. Nie dat Kaylene dit raaksien nie; sy het net oë vir West. “Natuurlik. Dis jul aand!” Sy stap tot by die bruidsgevo­lg se tafel voor sy terugkyk, maar haar vriend kyk nie na sy pragtige bruid nie. Sy oë is op haar, en wat sy daarin sien, dwing haar byna op haar sybedekte knieë.

West se bruilof is die slegste – die heel slegste moontlike oomblik – om te besef haar beste vriend, die man wat haar hart besit vandat sy volwasse genoeg is om te weet daar is ’n verskil tussen vriendskap en liefde – het haar ook lief.

‘Ons, eintlik almal wat julle ken, het gedink julle gaan trou’

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa