Boeke: Regsvroue handhaaf hoë peil
Met ’n debuutroman en kortverhale ko skuif twee regsvroue die dwarsbalk hoog in die Afrikaanse skryfkuns
Sy is nie eintlik baie lief vir misdaadstories nie en het “per ongeluk” ’n spanningsroman geskryf.
Naomi Meyer vertel wat die inspirasie vir haar debuutroman was: “Die storie-idee het my in Portugal getref, op die strand waar Madeleine McCann weggeraak het. Die vraag het by my opgekom: Wat as my kind wegraak? Dit was die raaisel om op te los, die vraag wat my storie gedryf het.”
Web is die verhaal van ’n Afrikaanse gesin wat ná baie jare in die buiteland terugkeer na SuidAfrika en intrek in ’n klein huis op Stellenbosch langs die tradisioneel bruin buurt Cloetesville. Sophia werk by ’n sukkelende webtuiste en haar man is ’n speurder. Die studenteprotes dreig; die dorp wil vlam vat.
Dan raak Sophia se dogtertjie, Magriet, weg.
Die titel van haar boek was eers Weg, vertel Naomi. “Ek het iewers heen gery en die woord voor my gesien, amper soos op ’n Scrabble-bord: Weg. Maar dit was nie heeltemal rég nie. Dit het my gehinder. Maar wat as ek . . . net een letter verander? Daar staan toe Web. By die huis aangekom, het ek die woordeboek oopgeslaan en daar is die definisie van web. Dit was asof ek die hele roman net daar in posisie sien val het. Wel, ten minste die temas en drade wat moes knoop.”
Net soos Sophia werk Naomi ook in ’n internetomgewing: Sy is webmeester van die aanlyn joernaal LitNet. Dit is dus nie vreemd dat sy sê haar gunsteling-newekarakter in Web is Google nie.
“Ek reduseer die wêreldwye web tot een karakter deur hom ’n naam te gee. Omdat ek daagliks op die internet werk, in hierdie onsienbare, voortdurend groeiende ruimte, is die web eintlik lankal ’n soort huis vir my. Dit is vir my bekend en tog ontdek ek heeltyd nuwe dinge,” sê Naomi.
“Die hoofstuk in die boek wat uit die perspektief van Google geskryf is, was nie net ’n waarskuwing nie. Dit is ’n sosiologiese beskouing; dit is ’n studie van die saamleef van mense (aanlyn).”
Wie is Naomi – ’n prokureur, violis of skrywer?
“Al die bogenoemde. Ook ma, vrou, kind en vriendin. Ek’s in 1999 as prokureur toegelaat. Terwyl ek en my gesin in Ierland gewoon het, het ek deeltyds vioollesse aangebied by die musiekskool op Navan, die dorp waar ons gewoon het. En skryf? Ek is al lief daarvoor vandat ek kan onthou.” Vir Maal, haar eerste kortverhaalbundel, het sy die Eugène Maraisen die UJ-prys ontvang en toe gesê sy is besig met ’n roman. Maar hier stel Nicole Jaekel Strauss ’n tweede gerf kortverhale bekend.
“Ek het ’n roman oorweeg en begin skryf, maar geniet op die oomblik kortverhale en die struktuur daarvan asook die dissipline wat daarmee gepaardgaan,” verduidelik sy. “Ek hou daarvan om die flitslig te skyn op ’n kwessie wat vir my belangrik is; dit is net so ’n groot dryfkrag soos die storie. Daar is dalk ’n roman, eendag, ’n volgende fase dalk.”
Nicole het as prokureur en advokaat gepraktiseer en is nou voltyds ma en skrywer in Kaapstad.
Kortverhaalbundels verkoop nie goed nie. Waarom sou ’n mens nie eerder ’n roman aanpak nie?
“Ek dink nie die motivering van enige kunstenaar lê bloot in hoeveel eksemplare sy kan verkoop nie; eerder in die oortuiging dat sy haar mark, beperk soos dit kan wees, in ’n bepaalde medium die beste kan bereik.”
As in die Mond bevat 12 meesleurende kortverhale. Daar is onder meer die meisie wat “ná die brand” by haar ouma en oupa moet gaan woon en Sondae stilletjies ’n hap uit haar mooi, lang hare knip; Christopher wie se ma haar werk by Parow Tuisnywerheid verloor omdat hy ’n suurlemoenmeringue-tert vir ’n honger kind steel; Marika wat op ’n Griekse eiland woon waar haar buurvrou se verbrande vla die reuk van “verkoolde vet, vel, hare, naels, been” oproep; Sulaiman wat Aisha word en in vroueklere haar bestellings by die tuisnywerheid gaan aflewer; Christopher, die sjef in New York wat nie sy mond aan suurlemoenmeringue sit nie . . .
Die draad wat deur al die stories loop, is die as van vuur, maar ook die “wat as?”. Dieselfde karakters duik in verskillende verhale op sodat ’n mens jou ’n potensiële roman kan verbeel.
“Ek wou eerder ’n eenheidsbundel bestaande uit kortverhale skryf wat elk op op sigself kan bestaan – elkeen met ’n eie, treffende slot,” sê Nicole. “Ek hou ook van die spel tussen stories en karakters wat soms hoof- en ander tye bykarakters is. Ek vind dit interessant en boeiend. Hopelik ervaar lesers dit ook so.”
Lesers kan hulle gereedmaak vir stories wat misleidend maklik lees, maar jou nie los nadat jy die boek toegemaak het nie.