Huisgenoot

Niks so soet soos eerste soen, of hoe?

Nadat ’n 33-jarige vrou verklap het sy sal as bruid haar eerste soen kry, het ons lesers oor hul eerste ervaring gevra

- Deur MARELIZE POTGIETER

OP 33 h hett sy nog nooit ’n man gesoen nie, want die eerste soen bêre sy vir haar troudag. Sy het ook nog nooit seks gehad nie, want sy “spaar” haarself vir die huwelik. Voor die kansel sal sy nie net ewige trou aan haar man beloof nie; haar gelukkige bruidegom kry dié dag boonop die kosbaarste geskenke denkbaar: haar hart en haar reinheid. So vertel Sarah Careins in ’n artikel op Jacaranda FM se webtuiste.

Die Amerikaner reis nou Suid-Afrika plat om jong mense te oorreed om voorhuweli­kse seks te vermy. Sarah het van kleins gedroom van haar troudag, maar die regte man het nooit opgedaag nie.

Sy het al van ’n paar mans gehou, maar hulle het nie in haar belanggest­el nie. Dié wat wel twee keer gekyk het, het nie aan haar standaarde voldoen nie. “Ek besef nou God het my hart beskerm.”

Eindelik het die regte een opgedaag, en hy het heelpad uit Texas na Suid-Afrika gevlieg, waar Sarah sendingwer­k doen, om haar hand te kom vra, en dit nogal voor ’n vol kerk.

“Hy is waarlik God se geskenk aan my,” vertel sy oor Russ Farhoud, met wie sy in Augustus trou.

Sarah is nie die enigste mens wat haar eerste soen as iets besonders beskou nie. Toe ons lesers oor hul eerste soen uitvra, het ons gou agtergekom die meeste mense onthou dit haarfyn. Selfs al was dit nie noodwendig die sprokieser­varing waarvan hulle gedroom het nie.

JUDY GOVENDER (47), wat sê sy was nie ’n “tienerskoo­nheid” nie, was heeltemal onvoorbere­id op haar eerste soen, wat in gr. 8 gebeur het. “Ek het bloedrooi hare gehad. Almal het my Rooikop genoem, en vir ’n meisie met ’n dik bril, skewe tande, ’n skewe nek en vet bene het die skielike aandag grenslose plesier verskaf.

“Daar was ’n pretdag by ’n hoërskool in ’n ander buurt. Ek is saam met my mooi vriendinne soontoe. Blind soos ’n mol, want die dik bril sou my kans heeltemal beduiwel om ’n oulike ou te ontmoet. My vriendinne het my rondgelei.

“Ek ontmoet toe ’n oulike ou. Altans, ek het gedink hy is oulik, ek was mos stokblind, en dié vra my toe ’n soen. Sommer net so! Want ek is kamstig so mooi.

“Ek was platsak en sê toe ewe kordaat vir die seun: ‘Jy kan ’n soen kry as ek op die Big Wheel kan ry!’

“Dit was seker 50c of so iets. Hy gee toe plegtig die 50c.

“Ek moes hom later om ’n hoekie ontmoet om my kant van die transaksie na te kom. Ek was vreeslik skaam, maar ook nuuskierig, en het my oë styf toegeknyp. Hy’t my gesoen, en toe hardloop ek, maar nie voor ek gesien het hoe oulik hy was nie. Met die mooiste glimlag en spierwit tande. Ek is daar weg met die perskegeur van kougom op my lippe. Geskok oor my voorbarigh­eid, maar ook ingenome dat die oulike ou my wou soen.”

Mia* (27) van Kaapstad tel nie die eerste piksoen in die pastorie op die klein Noordwes- dorpie waar haar pa die dominee was as haar eerste nie. Sy ont-

hou wel haar 19de verjaardag in Potchefstr­oom toe ’n seun wat sy ’n rukkie geken het haar nader hark.

“Ons was eerstejaar­s en kon nie regtig êrens anders as by die koshuis kuier nie. Hy het by my kom koek eet saam met ’n vriend wat met een van my vriendinne uitgegaan het.”

Eers het hy net aan haar hand gevat, maar toe hulle mekaar voor die koshuis groet, kon sy voel hoe die spanning oplaai. “Ek het besef iets is vreemd, en ewe skielik was sy mond op myne. Dit was kort. Baie kort. Enkele sekondes. En toe dit verby was, wou ek net na my koshuiskam­er vlug.”

Eers daar het sy tot verhaal gekom en besef dit waaroor sy so lank gewonder het, het eindelik gebeur, sê Mia. “Dit was nie soos in die flieks nie, maar dit was ook nie so sleg nie. “Eintlik nogal lekker.”

Alta Olkers (59) van Palm Beach in KwaZulu-Natal vertel sy was in gr. 9 op Nylstroom (Modimolle) toe sy haar eerste “French kiss” kry.

Die seun het haar eers gevra om te sleep. “Ek was so onnosel en vra toe wat dit is, want ek het in my geestesoog gesien hoe hy my rondsleep. Toe hy verduideli­k hy wil met my uitgaan, dink ek: ‘ Wow, my eerste ou op hoërskool,’ en sê ek ken net van kys, maar dis reg so.”

Toe hy haar daarna vra of hy haar kan soen, was sy glad nie gereed nie. “Ek het my skoon simpel geskrik toe hy sy tong in my mond druk. Ek het hom ’n taai klap gegee. En dit was toe ook sommer die laaste van die slepery.” Alta sê sy het eers ná skool weer iemand probeer soen. * Skuilnaam.

 ??  ??
 ??  ?? Sarah Careins sien uit daarna om die eerste keer iemand te soen wanneer sy binnekort voor die kansel staan.
Sarah Careins sien uit daarna om die eerste keer iemand te soen wanneer sy binnekort voor die kansel staan.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa