Hulle kry hul deel, sê Joost se broer
Die Bokheld se broer en prokureur reageer op Amor se kommer en beskuldigings oor sy testament en boedel
IN ’N prokureurspraktyk in Hatfield, Pretoria, sit die twee mense wat Joost van der Westhuizen waarskynlik die meeste vertrou het om sy laaste wense uit te voer: die ontslape rugbylegende se ouboet, Pieter, en sy jare lange prokureur, Ferdinand Hartzenberg. Voor hulle lê ’n dokument duidelik in swart letters gemerk: die laaste testament van Joost Heystek van der Westhuizen. Joost (45), wat op 6 Februarie vanjaar ná ses jaar sy verbete stryd teen motorneuronsiekte (MNS) verloor het, kon weens sy verlamde arms nou wel nie op 2 September 2015 dié testament onderteken nie, maar niks het met sy verstand geskort nie, sê hulle.
Ferdi, soos hy bekend is, wys ’n toestemmingsertifikaat wat daaraan geheg is en wat hulle in ’n hof sal voorhou as hulle moet bewys die testament is geldig.
“Joost wou gehad het sy kinders en hul belange moet beskerm word,” sê Pieter (47), die eksekuteur van sy boedel. Twee maande ná die dood van sy geliefde broer wat hy tot die einde help versorg het, lê die hartseer nog onmiskenbaar in sy oë. Hy het ingestem om met Huisgenoot te praat nadat Joost se vervreemde vrou, die sangeres Amor Vittone, beweer het sy is met net “drie televisiestelle gelos” en moet nou self opdok vir hul kinders, Jordan (13) en Kylie (10), se uitgawes. (Sien die artikel op bl. 8.)
Pieter sê hy het nooit vir Amor gesê sy sal “vir alles moet opdok nie”, maar wel dat sy vir die helfte van alles moet betaal. Alle uitgawes is ná Joost se dood tot die einde van Februarie betaal, maar sedertdien nie meer nie, vertel hy. Amor het aan Huisgenoot vertel sy het twee weke ná sy dood begin vrae vra oor die stand van sake met sy testament, maar hieroor skud Pieter sy kop. “Nee, sy het die dag van Joost se dood al gevra. Ek het pas sy oë vir hom toegemaak toe sy vra: ‘Moet ek nou op straat gaan sit?’ ”
Hy en Ferdi kan verstaan dat Amor “angstig” is, maar hulle voel haar beskuldigings teen hulle en die Van der Westhuizen-familie dat hulle nie haar kinders “hul deel uit Joost se boedel” wil gee nie, is onregverdig. “Ek dink nie sy wil verstaan daar is ’n boedel wat afgehandel moet word nie,” sê Ferdi. “Amor is nie uniek of spesiaal nie. Dié goed vat tyd.”
WAT die testament betref, sê Pieter: Daarin word twee trusts genoem: een waarvan Amor en Joost die trustees is, en ’n tweede, die J9- trust, waarvan hul twee kinders die begunstigdes is, asook die J9-stigting. Laasgenoemde is ’n afsonderlike entiteit, ’n organisasie wat Joost vir MNS-lyers gestig het om hulle van kruideniersware en me- diese sorg te help voorsien. Hy was ’n direkteur daarvan, maar het self geen geld daaruit ontvang vir sy mediese onkoste nie. Hy het niks aan die stigting nagelaat nie en sy kinders is nie begunstigdes daarvan nie, anders as wat Amor beweer.
Oor haar aantyging dat die trust waarvan sy en Joost die trustees is, bankrot is, gee Ferdi toe dit kan die geval wees. Hy weet die enigste bate in dié trust is ’n eiendom in die mislukte Nondela-eiendomsontwikkeling, waarin Joost belê het, maar hy kon nog nie die akte opspoor en bevestig wat dit nou werd is nie.
In die J9-trust is twee eiendomme in die Dainfern-kompleks geregistreer. Joost se wens was duidelik dat sy kinders uit die huurinkomste en rente en kontant daarin moet leef. Die algehele inkomste van die trust, ná instandhoudingskoste en heffings, word reeds vir die kinders se onderhoud gebruik. Dit sluit onder meer hul skoolgeld en geld vir Kylie se perdrylesse in.
Pieter en Ferdi bevraagteken hoekom Amor, as die kinders se ma, nie ook daartoe bydra nie. Toe Joost nog geleef het, het hy “vir alles, selfs vir Amor se haarafspraak betaal wat eenkeer R9 000 beloop het”, beweer Pieter. “Sy het Joost se kredietkaart vir ’n tyd gehad en R1 300 000 in een jaar en sewe maande gebruik, toe stop hy dit,” voeg hy by.
“Die vraag is ook: Wat is daar (beskik-
baar)?” sê Ferdi. “Dit is dalk nie wat Amor wil hê nie, maar alles wat daar tans is, gee ons net so vir haar. Ons vra nie eens vrae oor waarvoor dit gaan nie.”
Omdat die boedel nog nie afgehandel is nie, is die inkomste uit die trust beperk; dus het hulle Amor versoek om net vir verlede maand onder meer minstens die helfte van Jordan se skoolfonds te betaal, maar sy het dit nie gedoen nie. Daar is ’n groot verskil tussen wat Amor eis en wat die trust kan bekostig, sê hulle. Sy “begroot” onder meer “R16 000 per maand vir vakansies oorsee”, sê Ferdi.
Amor beweer sy en die kinders is van Joost se ouers, Gustav en Mariana, se mediese fonds afgehaal, maar Pieter haal ’n e-pos aan die fonds uit wat die teendeel bewys. “Hulle het die afgelope ses jaar die kinders én Amor se medies net so uit hul eie sak betaal, en betaal dit steeds twee maande ná Joost se dood,” sê hy.
Sy ouers het wel ná Joost se dood gevra dat Amor die mediese fonds in haar naam oorplaas sodat dit voortaan uit die kinders se trustgeld betaal kan word. Sy weier glo. Pieter vertel op 68 kan sy ma, ’n personeelbeampte, nog nie aftree nie omdat sy tot met Joost se dood grootliks tot sy versorging bygedra het.
In die res van Joost se boedel is weinig bates benewens die waardevolle aan- denkings uit sy rugbyloopbaan. Ná sy diagnose het hy langer geleef as wat almal verwag het, verduidelik Ferdi, “want hy het vasgebyt en hierdie ding beveg”.
Maar Joost se versorging het groot uitgawes meegebring. Aan die einde het drie heeltydse versorgers hom in skofte in sy huis versorg.
Die sowat R380 000 wat Joost ná ’n lang regsgeding van die Getrouheidsfonds vir Prokureurs verhaal het toe sy eertydse prokureur Robert Klinkenberg vermoor is, is alles vir sy astronomiese mediese uitgawes gebruik, sê Ferdi.
Vir die Van der Westhuizenfamilie is Joost se dood “steeds ’n baie groot aanpassing”, vertel Pieter. “Dit gaan nog moeilik; dis nog rou . . .” Hy sug toe hy oor die onmin met Amor sê: “En nou het ons dit ook nog op ons hande.”
Hulle wil graag met haar aan ’n tafel gaan sit en tot ’n vergelyk probeer kom. “Die trane vloei nog baie in ons familie. Ons het dít nie nou nodig nie.”
Amor ontken dat sy Pieter pas ná Joost se dood gevra het of sy op straat gaan sit. Sy het hom wel twee uur later gevra of die kinders versorg sal wees.
Sy ontken ook dat sy ’n trustee van die eerste trust was.was Sy sê ook sy het geen trusteedokument onderteken nie. Die R18 000 wat sy maandeliks uit die J9-trust ontvang, is nie eens genoeg vir Jordan se skoolgeld, spraakterapeut, speelterapeut en fasiliteerder nie, sê sy. Pieter sê hieroor hoewel hulle nog in gesprekke is, sal Amor dit kan bybring as sy die ander helfte daarvan betaal.
Oor haar hareafspraak waarvoor Joost glo R9 000 betaal het, sê Amor: “Ek het nog nooit soveel geld op een slag by ’n haarsalon bestee nie. Ek sal ook nie.”
Die uitgawes op sy kredietkaart was vir onder meer ’n houtdek by hul huis, veiligheidsreling by die swembad, nuwe matte en spieëls, instandhoudingskoste, en uitgawes vir die kinders, sê Amor. “Joost het van alles geweet. Hy het die kaart weggevat nadat ek die kinders sonder sy toestemming vir ’n paar dae weggevat het vir vakansie.”
Oor die R16 000 vir oorsese vakansies sê Amor: “Ek het altyd my kinders weggevat vir vakansies, al was dit net vir ’n paar dae. R16 000 betaal nie eens ’n vliegtuigkaartjie oorsee nie.”
Oor die mediese fonds sê Amor sy het gewag dat die testament voorgelees word om uit te vind wie betaal wat. Dit is nou in haar naam oorgeplaas en van einde vandeesmaand sal sy daarvoor betaal. “Ek soek niks van Joost se ouers nie.”
Oor die bewering dat die R380 000 van die Getrouheidsfonds vir Prokureurs vir Joost se mediese uitgawes gebruik is, sê haar prokureur, Louis Baartman: “Nou waarom sou hy twee weke voor sy dood in ’n e-pos aan Amor aanbied om die kinders se jaarlikse skoolgeld te betaal wat ongeveer R200 000 sou beloop? Amor vra waar is daai geld nou. Dit gaan oor die kinders en oor Joost se wense.”
‘Die trane vloei nog. Ons het dít nie nou nodig nie’