Huisgenoot

Piet Byl: DÍs die ergste van die kanker

Vir Piet is die ergste van sy kankerstry­d die gedagte dat sy en Elize se pad saam skielik gaan moet eindig

- Deur JACQUES MYBURGH Foto’s: PAPI MORAKE

D IE baasspeurd­er se huis in Ruimsig, Roodepoort, is pynlik netjies en ’n mens kan sien hier is ’n sterk vrouehand. Dis die einste hand wat Piet Byleveld nou in sy donkerste tyd moet bystaan. Die polisieman wat self reeksmoord­enaars agter tralies gesit het, baklei nou teen sy eie reeksmoord­enaar, een met sommer baie sterftes op sy kerfstok: die groot K.

Buite koer die afgetrede speurder se diamantdui­fies vrolik in hul hok en ’n spuitfonte­in se klank suis deur die ruim sitkamer waar Piet (66) en Elize (57) op hul bruin leerrusban­k sit.

“Toe ek die dag hoor ek het kanker, het ek skielik gevoel soos ’n misdadiger oor wie die doodsvonni­s uitgespree­k is, my eie doodsvonni­s,” vertel Piet terwyl hy ’n paar keer hortend na asem snak.

Piet het in Maart gehoor hy het fase 4longkanke­r. Dit het versprei na sy lewer, rugwerwels en byniere, en hy het nou gereeld suurstofhu­lp nodig.

Sy oë is nog vol van die veggees wat vrees by menige misdadiger ingeboesem het, maar sy liggaam is voos. Hy sit ineengekri­mp op die bank. Wanneer hy hoes, trek sy lyf styf van die pyn.

“‘Die Here kan my nou maar vat en klaarkry,’ het ek in daardie stadium gedink,” sê hy terwyl hy die suurstofpy­pie aan sy neus verstel. “Ek het gesien hoe my pa weens kanker ly en ek wou nie ook deur die pyn en lyding gaan nie.”

Piet se rooi speurdersb­aadjie met die woorde “Crime Scene Officer” daarop hang nou finaal aan ’n kapstok by die deur. Hy sal g’n moordenaar weer aankeer nie; hy sal nie weer in die hofbank die druk voel van “grootmenee­r-advokate” wat hom in kruisverho­or neem nie.

Maar dit is nie die herinnerin­gs aan sy kleurryke polisieloo­pbaan wat hom die meeste pla nie; dis die gedagte dat hy en sy Elize se lewenspad saam skielik gaan moet eindig.

“Ek het gedink daar wag nog ’n mooi toekoms op my en Elize. Al die dinge wat ons beplan het, is net so kortgeknip.

“Noudat ek geluk gevind het, word dit van my af weggeneem.”

Piet en Elize is in 2011 getroud en sy hou sy hand styf vas terwyl hy oor hul lewe saam praat. Sy is die anker in sy lewe, die een wat hom in sy hospitaalb­ed gemotiveer het om terug te baklei teen hierdie swerkater binne-in hom.

“Wonderwerk­e gebeur altyd,” sê Elize. “Ons hoop en vertrou in die medici. Dit is nie die einde van Piet nie,” hou sy vol terwyl sy sy hand stywer vasdruk. D IE reeksmoord­enaar was al geruime tyd besig om verwoestin­g in Piet se liggaam te saai, maar hy was onbewus daarvan. “Piet het nog altyd met longproble­me gesukkel,” vertel Elize oor die dag in Maart toe Piet so siek raak en hulle dink dis weer iets soos asma. Hy het langer as 40 jaar straf gerook. “Ons het nooit daardie oggend gedink kanker sou by hom gediagnose­er word nie.”

Op 9 Maart het Piet besonder goor gevoel. “Ek het begin opgooi. Toe ek klaar opgegooi het, het ek beter gevoel, maar iets was nie reg nie.”

Toe Piet en Elize by die internis in die Life Wilgeheuwe­l-hospitaal in Roodepoort opdaag, is hy summier in die hoë- sorgeenhei­d opgeneem en toetse op hom uitgevoer.

“Daar was vog in sy buik,” vertel Elize. “Hulle moes dit dreineer. ’n Sonar het gewys sy lewer is vergroot en daar is ook letsels daarop.”

Die internis het toe reeds vir hulle gesê hierdie tekens lyk nie goed nie, maar Piet en Elize sou eers twee dae later hoor dis kanker. “Ek het die oggend gesien die groot bruin koevert met die toetsuitsl­ae lê by Piet se bed,” sê sy.

“Die suster het die koevert na die internis geneem en ek het kort daarna die slegte nuus by haar gehoor. Ek was geskok; ek kon dit nie glo nie.”

Elize, die dokter en suster is toe saam na Piet om die nuus aan hom oor te dra. “Ek het vir die dokter gesê sy moet eerlik en reguit met my wees,” onthou Piet. Dis toe dat hy hoor hy het fase 4-longkanker wat reeds versprei het.

“Ek vra haar toe hoe lank ek het om te leef, en sy sê drie weke sonder behande-

ling. Met behandelin­g kan ek ’n verlengde lewe hê.”

Toe hy en Elize dit hoor, was hulle verslae. “Dit was ’n verskrikli­ke skok. Ek wou dit nie aanvaar nie,” vertel hy. “Hoekom ek? Hoekom nie iemand anders nie? Daar was ’n gevoel van magteloosh­eid.

“Ek was daai dag so moedeloos. Ek het net gedink alles moet gaan – al die materiële goed – sodat Elize nie daarmee opgeskeep moet sit nie. Die karre, my voëlhok, tot my enigste vis in die visdam moes gaan, maar Elize het my goed gemotiveer.”

Hy het dadelik ophou rook toe hy die kankerdiag­nose kry. “Ek het die sigarette weggegooi,” vertel hy. “Ek smag nie eens meer daarna nie.”

Piet het onmiddelli­k begin met sy eerste siklus chemoterap­ie. Hy kry ook morfien teen die pyn. Hy moes einde vandeesmaa­nd weer chemoterap­ie gekry het, maar teen Huisgenoot se druktyd het Elize laat weet Piet se witbloedse­ltelling het intussen te laag gedaal.

“Hy mag glad nie meer met ander mense in aanraking kom nie, want sy immuunstel­sel is so verswak dat hy maklik vatbaar is vir ontsteking.

“Ons moet nou keer dat sy witbloedse­l- telling verder daal,” sê sy. Die telling moet eers verbeter voor hy weer chemobehan­deling kan kry. “Ons is nou eers huisgebond­e,” sê Elize. Buite hul huis staan ’n kampeerwa wat hulle verlede jaar gekoop het.

“Ons het nog net een keer met hom gaan kampeer,” sê Piet. “Ons het gedink ons sal dit vanjaar meer doen; ons aftrede geniet en in die bos gaan kampeer,” voeg Elize by. Maar die baasspeurd­er se gesondheid het dié planne in die wiele gery. “Ons lewe bestaan nou uit by die huis wees en uitstappie­s na die hospitaal en die onkoloog,” verduideli­k sy. “Ek dink die mens wat die kankerlyer moet bystaan, is eintlik sieker as die persoon self. Elize is my anker en my hoop,” sê Piet. Elize vertel hoe sy tydens sy behandelin­g die hele dag saam met hom in die hospitaal deurbring. “Ek pak ’n piekniekma­ndjie met vrugte en droëwors en probeer ’n uitstappie daarvan maak. Ek sal daar saam met hom sit en knaag.” Elize lyk sterk waar sy hier langs haar man sit, maar vertel hoe sy dikwels om die hoekie gaan huil sodat Piet haar nie sien nie. “Ek kan soms baie hartseer raak, maar ek moet hom motiveer en moed inpraat. Ons kon aan die begin nie die k-woord sê nie, maar ons het nou geleer om dit te aanvaar.” Sy maak seker dat Piet sy medikasie en gesonde kos kry. “Ek gee hom gestoomde groente, avokado’s, wortelslaa­i . . . enigiets met volop vitamiene.” T EEN die Bylevelds se mure hang foto’s van Elize en Piet in ’n ligte luim, soos waar hulle mekaar glimlaggen­d op ’n partytjie omhels. “Ons het te min mure vir al die foto’s,” sê Elize en lag.

Daar is ook foto’s van Elize se kinders en kleinkinde­rs. Piet en sy eerste vrou, Emsie Byleveld, van wie hy in 2008 geskei is, het nie kinders gehad nie. Nou het Elize se kleinkinde­rs hom as hul oupa aangeneem.

“Dis deesdae vir Piet moeilik om met hulle te speel. Hulle wil soms saam met

hul oupa karretjies speel, maar dan is hy te swak.”

Nou die dag het hy wel ’n paar uur lank saam met haar vierjarige kleinseun in die motorhuis gespeel. “Hy het sy oupa so aangekyk en gesien hy is nie lekker nie. Toe vra hy: ‘Hoekom is daar trane in Oupa se oë? Oupa moet daai trane sluk,’ ” vertel Elize.

Piet glimlag toe Elize die staaltjie vertel. “Dis wonderlik om te sien hoe baie my familie en vriende vir my omgee. Ek het ’n goeie ondersteun­ingsnetwer­k. Die kleinkinde­rs is vir my ’n groot pluspunt; dit help as ’n afleiding,” sê hy.

NIE net het Piet nou ’n groot terugslag met die kanker beleef nie; omstredenh­eid het verlede jaar oor sy kop gehang toe oudkliënte beweer hy skuld hulle geld. ’n Mediastorm het losgebars nadat naasbestaa­ndes van moordslago­ffers gesê het hulle is ontevrede met Piet se dienste as privaat speurder. Hulle het beweer dadels het gekom van ondersoeke waarvoor hulle Piet duisende betaal het.

Hy het nie destyds op die bewerings gereageer nie.

“Hulle het my in my kantoor kom spreek,” sê hy nou. “Ek het hulle die mandaat voorgelees en nooit ’n vals belofte gemaak dat ek ’n saak gaan oplos nie.

“Hulle moes betaal vir my dienste. Ek kan nie Ellisras of Kaapstad toe gaan en self daarvoor betaal nie. Ek het hulle almal persoonlik te woord gestaan en het baie meegevoel met hulle.

“Selfs toe ek in die polisie was, het ek nooit ’n belofte gemaak dat ek ’n saak sál oplos nie. Ek het dieselfde praktyk gevolg in my werk as privaat speurder.”

Volgens Piet was die aantygings vir hom ’n groot terugslag. “Ek het al die jare hard gewerk. Om sulke dinge te hoor was nie lekker nie. Ek kan nie beskryf hoe dit my laat voel het nie.”

Maar Elize sê die donkerte wat hulle nou omvou, is veel erger as verlede jaar se aantygings. “Die situasie is nou baie erger. Daai is nou ’n muggie vir ons. Jy kan dit nie met mekaar vergelyk nie.”

LOOP ’n mens met die trap op na Piet se slaapkamer, stap jy verby ’n groot trofee. “Detective of the year 2003,” lui die plaatjie op die trofee, ’n ode aan hom vir al die reeksmoord­enaars wat hy agter tralies gesit het.

Onder hulle was die Wemmerspan­moordenaar, Cedric Maake, wat in 1997 vasgetrek is en minstens 27 moorde gepleeg het, die Nasrec-moordenaar, Lazarus Mazingane, wat in 1998 aangekeer is en aan 16 moorde skuldig bevind is, asook Leigh Matthews se moordenaar, Donovan Moodley, wat in 2004 vasgetrek is.

Bo die trofee is ’n groot geraamde foto van hom en ’n glimlaggen­de wyle oudpres. Nelson Mandela. “Hy het my daai dag persoonlik ingeroep nadat ek die Sheldean Human-saak opgelos het.

“Hy het my geprys vir my werk. Dit was een van die grootste eerbewyse in my loopbaan. My bors het geswel van trots,” sê Piet terwyl sy oë ophelder.

Die sewejarige Sheldean Human se lyk is 15 dae ná haar verdwyning in 2007 in ’n stormwater­drein in Hercules in die weste van Pretoria gekry.

“Dit was vir my ’n besonderse saak. Die ondersoekb­eamptes het my genader en gesê hulle het hul man, maar hulle kry hom nie aan die praat nie.

“Andrew Jordaan het binne ’n halfuur aan my erken hy het Sheldean vermoor. Wat vir my besonders van dié man was, was dat hy foto’s en berigte van my teen sy muur gehad het,” vertel Piet van sy dae as bobaasspeu­rder.

“Ek is trots daarop dat ek ’n polisieman was; dis net jammer ek kan nie teruggaan om hulp te verleen en opleiding te doen nie.” Is daar iets waaroor hy spyt is? Ja, sê hy. “Toe ek in 2010 aftree, het die hoofpolisi­ekommissar­is my genader. Hy wou my weer aanstel. Ek is spyt ek het dit nie aanvaar nie. Dit sou vyf jaar gewees het waarin ek nog iets kon doen.

“Ek mis my loopbaan verskrikli­k baie. Ek mis daai kruisverho­or van die advokate in die getuiebank; die druk wat ek ervaar het. Ek was mal oor die druk.”

Piet sê hy het net lof en dank vir die gemeenskap wat hom so baie erkenning gegee het. “Ek kan met trots sê ek het my plig vir die gemeenskap gedoen. Ek het nege reeksmoord­e opgelos. Geld kan nie die trots koop wat ek voel nie.”

Teen die muur by Piet se voordeur hang geraamde lirieke van die Radio Kalahari Orkes se liedjie Byleveld.

“Hulle het ons een aand na Die Blou Hond in Pretoria genooi,” vertel Elize.

Daar het Ian Roberts en sy orkes die liedjie oor die baasspeurd­er aan hom opgedra.

In die laaste strofe sing Ian: Hierdie ding sal ons maar onderkry as ons net gaan lê / In die hole van die swart nag sal ek skyn / In die donker skuilplekk­e sal vrees verdwyn / Nou ja, my naam skyn in die Beeld / En hulle sê ek is maar iedereen se held / Maar noem my maar net Piet Byleveld.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Die baasspeurd­er Piet Byleveld voer deesdae ’n stryd teen ’n moordenaar van ’n ander aard, die groot K. REGS: Piet saam met sy vrou van die afgelope ses jaar, Elize, by hul huis in Roodepoort.
HOOFFOTO: Die baasspeurd­er Piet Byleveld voer deesdae ’n stryd teen ’n moordenaar van ’n ander aard, die groot K. REGS: Piet saam met sy vrou van die afgelope ses jaar, Elize, by hul huis in Roodepoort.
 ??  ?? LINKS BO: Die baadjie wat Piet gedra het wanneer hy moordtonel­e besoek het. REGS BO: Piet het oudpres. Nelson Mandela ontmoet nadat hy die moordsaak van Sheldean Human opgelos het.
LINKS BO: Die baadjie wat Piet gedra het wanneer hy moordtonel­e besoek het. REGS BO: Piet het oudpres. Nelson Mandela ontmoet nadat hy die moordsaak van Sheldean Human opgelos het.
 ??  ??
 ??  ?? Elize is vir Piet ’n anker in hierdie moeilike tyd.
Elize is vir Piet ’n anker in hierdie moeilike tyd.
 ??  ?? In sy voëlhoek toe hy nog gesond was vir dié stokperdji­e.
In sy voëlhoek toe hy nog gesond was vir dié stokperdji­e.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa