Fotograaf se blik op Liz en Richard
Hy het 12 jaar as Elizabeth en Richard se persoonlike fotograaf saam met die wêreld se voorste glanspaar gereis – en toe die twee finaal skei, het die ‘ koning van die kamera’ ook van sy lens geskei. Gianni Bozzacchi deel sy blik op een van die grootste l
GRACE KELLY, Audrey Hepburn, Al Pacino, Raquel Welch, Clint Eastwood, kunstenaars soos Pablo Picasso en staatshoofde – Gianni Bozzacchi het hulle almal afgeneem. Maar veral sy betowerende foto’s van Richard Burton en Elizabeth Taylor het hom ’n skitterende loopbaan help opbou. Dié Italianer het 12 jaar as hul persoonlike fotograaf saam met hulle gereis en so ’n unieke blik gekry op die eertydse glanspaartjie se intense, ongewone en stormagtige verhouding. In ’n nuwe boek skryf hy oor dié unieke ervaring.
MEI 1967. Monte Carlo. Ek het Elizabeth Taylor en Richard Burton vyf maande tevore in Afrika op die stel van The Comedians ontmoet. En hier sit ek as ’n gas op hul seiljag. Toe ons vasmeer, gaan soek ek dadelik ’n telefoonhokkie, druk ’n stapel kleingeld daarin en praat die enigste taal wat ek ken – Italiaans in ’n suiwer Romeinse dialek: “Haai, Ma, hoe gaan dit? Ek is op Elizabeth Taylor se seiljag saam met Richard Burton. Grace Kelly en Rainier gaan hier kom kuier.” Mamma: “Jy’s oukei, of hoe?” Ek: “Ja, Ma, maar het jy gehoor wat ek gesê het?”
Mamma: “Moenie my bel met ’n boel leuens nie!” Klik . . . Sy het afgelui.
Ek kan my ma nie verkwalik dat sy my nie glo nie. Sy het nog altyd gesê ek het ’n sterk verbeelding . . .
Pierluigi Praturlon, eienaar van ’n privaat fotoateljee in Rome, het my op 20
aangestel. Ek het as retoesjeerder begin, maar stadig ook begin foto’ s neem. Pierluigi het vir’ n klomp rolprent produksie-maatskappye gewerk: MG M, Paramount, Warner Bros. Hy het fotosessies en uitlegte vir groot sterre gedoen.
In 1966 word ek gestuur na die Republiek van Dahomey (nou Benin), waar Elizabeth en Richard The Comedians verfilm. Niemand in die ateljee wil Afrika toe gaan nie, ek ook nie, maar Pierluigi oortuig my ek sal goeie ervaring opdoen. Hy sê ek sal elke aspek van die werk hanteer: Elizabeth en Richard afneem en al die foto’s daar retoesjeer en afdruk. Dit klink alles heel goed; daarom stem ek in.
Op my eerste dag ontmoet ek Bob Penn, die fliek se stelfotograaf, en besef Pierluigi het gejok. Elizabeth se reklameagent, Jean Osbourne, sê my wat ek toe al geraai het: Ek mag Elizabeth geensins afneem nie. Sy het blykbaar van ’n paar foto’s gehou wat Pierluigi se agentskap afgedruk en geretoesjeer het en hulle gevra om die mens te stuur wat die retoesjeerwerk gedoen het. Dit was ek.
Ek kan enige foto’s wat ek wil van enigiemand anders neem; net nie van haar nie. Sy het algehele beheer oor wie haar op die stel mag afneem en wie nie. Ek is daar om Bob se foto’s te retoesjeer; dis al. Dis soos om ’n kind na ’n lekkergoedwinkel te neem, geld in die hand te stop en dan te sê hy mag nie lekkers koop nie.
Ek is woedend. Maar al raad is om aan die werk te spring en foto’s te retoesjeer. Tog begin ek ook ’n paar foto’s neem. Ek wil met of sonder toestemming die ervaring opdoen wat Pierluigi my beloof het.
Omdat ek nie hier is om as fotograaf te werk nie, is ek nie verplig om foto’s te neem volgens die regisseur en kamera- man se raamwerk vir elke toneel nie. Deur vir my te jok het Pierluigi my eintlik die vryheid gegee om foto’s te neem soos ek graag wil: spontaan, sonder dat my onderwerpe weet hulle word afgeneem, in natuurlike situasies, vanuit watter hoek ek ook al wil.
Toe die verfilming klaar is, gaan ek Rome toe. Daar ontwikkel en druk ek my foto’s af, retoesjeer dit ligweg en oorhandig dit aan Pierluigi. Hy stuur toe almal sonder om my daarvan te sê – en dalk per ongeluk – na die produksiemaatskappy saam met Bob se amptelike foto’s. Elizabeth merk dadelik op ’n paar foto’s is sonder haar medewete geneem en wil weet wie dit gedoen het. Toe sy uitvind, vra sy die vervaardigers moet my Nice toe stuur, waar sy aan nog tonele vir The Comedians werk.
Pierluigi probeer ’n ander fotograaf in my plek stuur, maar Elizabeth veto dié idee. Sy wil my en al my toerusting dadelik in Nice hê.
Met my aankoms laai haar chauffeur my op en neem my na haar seiljag. Ek kan sien sy is vies vir my. “Jy’s goed,” sê sy. “Maar jy’s ’n skobbejak dat jy dié ( foto’s) sonder my toestemming geneem het.”
Ten spyte van dié openingswoorde bied sy my ’n drankie aan. En toe, met Claudye (haar persoonlike haarkapper en later my eerste vrou) wat help vertaal, verduidelik ek met watter valse beloftes Pierluigi my oorreed het om Afrika toe te gaan, en voeg by ek het bloot die werk gedoen waarvoor ek soontoe gestuur is. Elizabeth het al sy metodes geken, en dit help die spanning tussen ons verlig.
Richard, daarenteen, is nie juis vriendelik nie. Toe ek hom sien, stamel ek: “Haai, mnr. Barton,” en hy stel dadelik my swak uitspraak reg. Ek is so verleë, ek waag dit nie om weer sy naam te uiter nie, en die res van my tyd in Nice oefen ek my uitspraak van Engelse klinkers.
Toe The Comedians klaar verfilm is, nooi Elizabeth my om ’n naweek saam met haar en Richard op hul seiljag deur te bring; hulle wil my beter leer ken. Sy hou ook van die idee van my en Claudye as paartjie en wil ons romanse aanhelp.
Ons doen San Remo eerste aan. Ek, Elizabeth, Richard en Claudye klim van die boot af om na ’n restaurant te gaan. Ons het skaars voet aan wal gesit toe die paparazzi se kameras begin flits. Richard stap agter my en Elizabeth, langs Claudye, en om die een of ander rede gryp Elizabeth my arm.
Die volgende dag verskyn foto’s die wêreld vol van Elizabeth wat by my ingehaak is. Ek word oornag haar nuwe persoonlike fotograaf.
My gesig verskyn in al die koerante langs Elizabeth en Richard s’n. Foto’s wat ek op ’n stel in Hollywood geneem het, verskyn onder my naam. Ook het ek ’n beeldskone nuwe meisie. Dit alles laat my kop draai.
Kort voor lank word ek amptelik ’n lid van die Taylor-Burton-gevolg. Elizabeth hou daarvan om my in die omtrek te hê, deels oor my talent en deels omdat ek en Claudye saam is.
Mettertyd voel ek ál meer op my gemak in die nuwe wêreld wat my omgeef.
Toe ek hom sien, stamel ek: ‘Haai, mnr. Barton,’ en hy stel dadelik my swak uitspraak reg
Vreemd genoeg is die mens wat my eintlik die ongemaklikste moet laat voel – Elizabeth, die beroemdste ster ter wêreld – die een wat my die tuisste laat voel. Sy het ’n wonderlike humorsin en is baie liefdevol en lief vir pret.
Ek voel nooit seksueel aangetrokke tot haar nie. Talle kere sou ek gevra word: “Het jy by haar geslaap?” Die eerlike waarheid is dat die gedagte nooit by my sou opkom nie. Ons word so vinnig en maklik vriende dat sy altyd net vir my ’n vriendin is en bly.
DIE wêreld neem ’n heel ander dimensie aan wanneer ek saam met Elizabeth en Richard reis. Dit is soos om in ’n reusagtige Technicolor-rolprentskerm in te klim. Die lewe raak skielik baie maklik. Geen gewag in toue, geen verlore bagasie, geen vertragings nie – behalwe natuurlik wanneer Elizabeth en Richard die lughawe bel om ’n vliegtuig te laat wag. Niemand is ongeskik nie. Wanneer jy ’n probleem het, los iemand dit op. Wanneer jy iets vergeet het, gaan haal iemand vir jou ’n ander een. Wanneer jy iets sien waarvan jy hou, kry jy dit dadelik present.
Wanneer Elizabeth en Richard handelsvlugte haal, bespreek hulle die hele eersteklas gedeelte. Hul gevolg bestaan gewoonlik uit sowat 40 mense, en amper almal is gay. Richard se persoonlike sekretaris is gay. Elizabeth s’n ook. Die man wat na hul seiljag omsien, is gay. Alexandre die haarkapper ook.
Ek vra Richard eendag hoekom hy en Elizabeth hierdie voorkeur vir gay mense het. Ek is nie bevooroordeeld nie, net nuuskierig. “Gianni,” antwoord hy, “hulle het nie ’n gesin wat hulle oral volg nie.
“As ons personeel huweliksmaats en kinders gehad het, sou ons nog meer mense moes onderhou het as wat ons reeds onderhou.” So eenvoudig is dit.
Teen dié tyd maak Richard al reg vir sy volgende fliek, Where Eagles Dare, en hy erken teenoor my hy doen dit net vir die geld. Ek begin stadigaan besef hy en Elizabeth is vasgevang in hul eie roem.
’n Helikopter, vliegtuig, luukse motor, ’n seiljag, huise in verskeie lande, ’n gevolg, prokureurs oral, om nie van kinders te praat nie . . . Daarvoor moet alles betaal word, en dit beteken werk, baie werk. Boonop het hulle eindelose belasting probleme. Geeneen van die twee kan langer as 90 dae agtereenvolgens in Engeland of Los Angeles bly nie, anders moet hulle belasting op hul inkomste uit flieks betaal.
Elizabeth en Richard geniet dit om wêreldburgers te wees, maar wat na ’n sorgelose geswerf lyk, is eintlik deel van ’n fyn uitgewerkte plan.
Die produksie van Where Eagles Dare verskuif van Oostenryk na Engeland.
Elizabeth het toe al ’n kontrak onderteken om in ’n ander fliek, Secret Ceremony, te speel. Dit word oorkant die straat – in ’n ander deel van die ateljee – verfilm. Ek moet op die stel van albei flieks foto’s neem. Dis immers Elizabeth en Richard. Hulle moet werk. En nou moet ek ook werk!
Ek verras almal, ook myself, met my werk op die stel van Secret Ceremony. Vir die eerste keer kry ek groot komplimente van die vervaardiger en die akteurs. Dit laat my voel ek het as fotograaf gegroei. ’n Onderhoud met my verskyn in die Londense dagblad Daily Mirror met die opskrif “Die nuwe koning van die kamera”.
Ek en Claudye trou op 22 Junie 1968 op die dorp Saint-Lô in Normandië, Frankryk. Elizabeth en Richard, ons hoofstrooimeisie en strooijonker, kom en gaan op dieselfde dag per helikopter. Hul trougeskenke aan ons is ’n Dior-rok vir Claudye en ’n Mini Cooper S vir my.
Ons wou ’n klein, privaat troue hê, maar hul teenwoordigheid maak dit natuurlik onmoontlik. Die hele dorp daag op om na die bruidspaar en hul gevolg voor die kerk te kom kyk.
’n Ruk later het Elizabeth en Richard ’n af tydjie voor hul volgende rolprent en besluit om saam met die familie en hul gevolg vakansie te gaan hou by hul woning in Mexiko, Casa Kimberly, naby Puerto Vallarta.
Elizabeth lyk ontspanne en pragtig en is amper onherkenbaar. Sonder die grimering, haarstyle en kostuums lag en skerts sy haar dae om met almal.
Maar toe word haar rus en vrede versteur. Elizabeth en Richard is op die strand toe Ron Galella, waarskynlik die wêreld se knaendste steelfotograaf, haar afneem in ’n posisie waarin geen vrou graag betrap wil word nie. Hy neem ’n foto wat haar laat vet lyk, met rolletjies op haar maag.
Sy foto word wêreldwyd versprei en oral met feitlik dieselfde onderskrif gebruik: “Dis klaarpraat met die wêreld se mooiste vrou!” Elizabeth is woedend.
Ná Ron se foto’s verloor almal belangstelling in my foto’s van haar. Wanneer ek nuwes het, stuur ek dit deur al die gewone kanale vir publikasie, maar niemand publiseer dit nie. Geen van die redakteurs glo hulle vertel die waarheid nie. “Dis alles ligtruuks en retoesjeerdery,” sê hulle.
As haar persoonlike fotograaf is dit my verantwoordelikheid om die skade te herstel. En op ’n dag kry ek ’n kans. Toe sy uit haar kleedkamer gehardloop kom, neem ek foto’s sonder om daaroor te dink. Ek kniel, leun agtertoe teen dieselfde spoed waarteen sy aangedraf kom, en neem drie foto’s.
My beweging vergoed vir hare en skep ’n gevoel van roerloosheid al het Elizabeth gehardloop toe ek dit neem. Niks is geposeer nie, daar was geen truuks nie,
Twaalf jaar het ek die waarheid gewys: ’n man en vrou wat mekaar intens liefhet
en hoe haar top om haar lyf vou,u be beklemtoon haar kurwes – en hoe beeldskoon sy is.
Almal wil daardie foto hê. Duisende publikasies aanvaar dit binne ’n enkele week. Skielik dink niemand meer Elizabeth het lelik geword nie. En hulle hou op om my daarvan te beskuldig dat my foto’s lieg.
DIE Taylor-Burton-sirkus verskuif na Boedapest, waar Richard die hoofrol vertolk in Bluebeard, ’n f liek met Edward Dmytryk as regisseur. Een oggend omstreeks drieuur kry ek ’n oproep van Richard. Hy is dronk en huil onbedaarlik. Elizabeth en Claudye is weg vir ’n kostuumtoets en ek is vreesbevange dat hy huil omdat hul vliegtuig geval het.
Nadat ek aangetrek het, hardloop ek op na sy woonstel. Ek maak die deur na sy kamer oop en sien sy medester Raquel Welch op sy bed. Kaal. “Gianni!” sê Richard in trane, “ek moes dit nooit gedoen het nie! Nooit!”
Vir ’ n oomblik dink ek hy het haar doodgemaak en skree: “Richard, wat het jy gedoen!?” Maar hy hou net aan in ’n huilstem: “Ek moes dit nooit aan Elizabeth gedoen het nie!” Maar ek het geen benul wat regtig gebeur het nie.
Ek het geen mens nog so dronk gesien nie. Hy kan nie op sy voete bly nie. Ek skud Raquel wakker, help haar aantrek en neem haar na haar kamer. Richard sou my nooit vertel wat daardie nag gebeur het of nie, heel moontlik omdat nóg hy nóg Raquel enigiets kon onthou.
Die lewe saam met Elizabeth en Richard raak ál moeiliker. Hulle baklei gedurig, en altyd oor dieselfde goed: geld en roem, wie van hulle werk en wie nie.
Met ons dogter Vanessa se geboorte in 1974 bring ek en my vrou meer tyd in Rome deur. In dié tyd kom ’n tyding wat wêreldwyd opslae maak: Elizabeth en Richard gaan skei. Dis ’n aaklige tyd vir my en Claudye. Die “Taylor-Burton-egskeiding” is op elke voorblad. Ons is met albei vriende en wil nie kant kies nie. Wat vir die res van die wêreld ’n lekker sappige sepie is, is vir ons ’n baie delikate oomblik in die lewe van ’n man en vrou vir wie ons baie omgee.
’n Mens hoor baie gerugte van affairs in die rolprentbedryf, en jy weet nie altyd wie om te glo nie. Ek sal nie daarop aanspraak maak dat ek weet wat die waarheid is nie. Maar almal, Elizabeth inkluis, vermoed Richard het ’n affair met Sophia Loren, teenoor wie hy in die fliek The Voyage speel.
Ek soek ’n manier om Richard van Sophia af weg te kry. Ek is oortuig daarvan Elizabeth en Richard is nog lief vir mekaar. Hul assistente sê my hulle bel mekaar nog elke dag. Ek sê vir Claudye miskien moet ons ’n ete vir Elizabeth en Richard reël om hulle te help versoen. Toe nooi ek albei na ons woonstel.
Dit is ’n wonderlike aand. Die ete self is niks besonders nie; net lekker kos. Maar ek doen alles in my vermoë om ’n lekker atmosfeer te skep. Elizabeth en Richard is baie beleef met mekaar, maar teen die einde van die aand slaan elkeen sy eie koers in.
Kort daarna nooi Richard en Elizabeth my saam met hulle Mexiko toe. Ek gaan, maar bring so min tyd moontlik saam met elkeen deur. Ek wil hulle tyd gun om ongestoord te gesels, om die eggo van hul woorde te hoor. Hulle verlaat Mexiko saam, net hulle twee. Niemand weet waarheen hulle gaan nie. Hulle wil dit ’n geheim hou.
Ons hoor later hulle was in Suid-Afrika en het weer getrou. Maar dit het nie gehou nie; die skeuring het onherstelbaar geword. Daar is selde net een rede vir ’n egskeiding. Elizabeth en Richard het met die jare ’n reeks meningsverskille gehad wat opgehoop het, en die las daarvan het hulle ondergekry.
Die sirkus het vir hulle albei te veel geword. Maar wat in die media oor hul epiese rusies geskryf is, is onsin. Ek was daar. Dis waar, hulle het gestry – net soos enige ander paartjie. Maar hul liefde het geen ruimte gelaat vir die soort woedende woordewisselings wat hulle na bewering gehad het nie.
Van hul eerste ontmoeting tot hulle finaal uitmekaar is, het Elizabeth en Richard een van die grootste liefdesverhale van alle tye gehad. Dis net dat die beloop van die lewe soms die oorhand oor mense kry.
Twaalf jaar het ek die wêreld die waarheid gewys: ’n man en vrou wat mekaar intens en volkome liefhet, vasgevang in ’n vertoning wat die meeste van ons ons skaars kan voorstel. Maar nou is daardie liefdesverhaal verby.
Ek wil groei. Ek is ’n getroude man en pa. Ek wil iets vir myself doen. Ná net 13 jaar en met ’n loopbaan wat oënskynlik eindeloos voor my uitstrek, hou ek op foto’s neem. Die man wat eens die “koning van die kamera” genoem is, haal sy kroon af.
Nadat Gianni sy kamera gebêre het, het hy na Los Angeles verhuis en in die rolprentbedryf begin werk as vervaardiger en regisseur.