Huisgenoot

– ter viering van sy 85ste verjaardag!

Kortverhaa­l deur Pik Botha

-

HY HET in die park onder ’n boom gelê. Op sy sy, met sy vuil hoed skuins oor sy oor, soos ’ n stroois se vervalle dak. Sy hare was vaal, soos droë kakiebos, maar sag soos vlas wat in wind en son verweer het. Eers teen sononder se kant kom daar lewe in hom. Dis die brandkol op sy maag wat hom wakker gemaak het. Hy sal weer iets moet eet. As die pyn kom, moet hy iets eet om dit te verdryf. Hy het nog ’n stuk brood oor. Hy haal die bondel vuil koerantpap­ier uit sy rugsak en begin dit oopvou.

Dan sien hy die foto. Dis met vetkolle besmeer. Hy vou die flenterkoe­rant verder oop, stryk met sy growwe duim die kreukels weg. Hy kan nou die onderskrif lees: “Dr. en mev. Derek Kohler van Pretoria vertrek eersdaags op ’n uitgebreid­e oorsese vakansiere­is na die Vasteland.” Die foto toon die Kohlers op ’n onthaal wat hulle by geleenthei­d van hul silwerbrui­lof aan hul huis in Waterpoort gegee het. Kabinetsle­de, diplomatie­ke verteenwoo­rdigers en ander hooggeplaa­stes het die feesvierin­g bygewoon.

Die brood was al halfdroog. Hy moes dit liewer in vaalpapier toegedraai het. Koerantpap­ier is nie so dig nie. Die brood smaak soos kleierige modder in sy mond. Hy kan dit nie afsluk nie.

Hy sien weer die foto. Haar hare word al grys. Vyf-en-twintig jaar is ’n lang tyd. Sy was destyds 24. Hulle was drie jaar getroud . . . Die hoë sipresbome is ’n kerker om hom. Hoë mure wat hom inperk en dwing om in die kleinlikhe­id van sy walglike bestaan in te kruip.

Hy gaan lê op sy rug en kyk na die grys wasigheid van die lug. Dan is die heelal weer rondom hom. Hy is tussen die niks, deel van niks. Sy denke warrel in verwardhei­d. Eindelik sal net die dood oorbly. Die dood. Al rede waarom die lewe nog die moeite werd is, is dat hy sal kan doodgaan.

Hy het nooit kon dink dat dit al 25 jaar is nie. Hy het die jare nie getel nie. ’n Mens meet net die tyd as jy iets verwag.

Die brood koek nog in sy keel. Hy moet dit inkry, want die pyn sal erger word. Hy sukkel op en gaan drink water by ’ n kraan. Eers wil hy sy hande met die stuk koerant afvee, maar dan sien hy weer die foto. Hy skeur dit uit en steek dit in sy flentersak. Sy was tog eenmaal sy vrou, al was dit 25 jaar gelede. Sy het haar silwerbrui­lof gevier. Sy en Derek Kohler. Hy wil ook iets gaan vier. Hy het nog sewe- en- ses van die 10 sjielings wat die predikant hom gegee het. In die Melody sal hy vir sewe-en-ses lekker kan kuier, ter viering van ’ n geleenthei­d soos dié.

Die derde wyn het sy maag stilgemaak. Sy brein helderder. Naderhand het ou Porrelwate­r en Kokkelol hom gehaak. Die jare het minder geword soos die sopies vermeerder het.

Dit was ’n groot bruilof. Haar ouers was gesiene mense. ’n Groot dag. Hy het pas sy graad in die regte gekry en sou by Jansen en Van den Berg in Johannesbu­rg begin. Dit was een van die bekendste prokureurs­firmas in die stad. Sy beginsalar­is sou nie watwonders wees nie, maar Hilda sou aanhou werk as tikster by ’n maatskappy, en sy het ’n vet salaris gekry. Daarmee sou hulle kon deurkom totdat hy sy prokureurs­eksamens agter die rug het. Die lewe was voor hulle. Alles was so seker soos ’n breë rivier wat in die see moet vloei. Ongelukkig is die grootste watervalle ook op plekke waar riviere breed is. Dit was drie goeie jare . . . “Nog ’n sjerrie, ou pel!” Porrelwate­r gee vanaand niks om hoeveel hy op sy vriende bestee nie.

Ja, dit was goeie jare. Maar alles het vergly in die 25 jaar. Op die foto is daar niks meer oor nie.

Hy vat sy glasie en gaan sit eenkant by die windskewe ou tafeltjie in die hoek. Hy kyk weer na die foto. Dis die vrou wat eenmaal saam met hom geleef en geslaap het. Nou voel dit vreemd, onwerklik. Derek Kohler se gesig lyk soos die duiwel s’n langs hare. Miskien is hy die duiwel.

Hy onthou nog hoe die dominee by hul katkisasie gesê het dat die duiwel soms in menslike gedaante voorkom. Dan is die opskrif in die koerant eintlik verkeerd: Dit moes “Dr. en mev. Duiwel” gewees het. Dit pas goed. Hulle het ’n hel gestig en nou brand hy daarin; en miskien sal hy in die dood nog verder moet brand omdat die duiwel sy vrou gevat het. Hier op aarde moes hy twee jaar tronk toe daarvoor.

Sy was ’n goeie tikster. Totdat Derek Kohler met ’n doktorsgra­ad van Amerika af teruggekom en besturende direkteur van die maatskappy geword het.

Hy was al amper klaar met sy eksamens en Hilda het nie veel langer nodig gehad om te help verdien nie. Maar hy was tog bly toe Kohler haar ’n verhoging van £10 per maand gee. Die man het bepaald haar talente waardeer. Alles het so onskuldig gelyk.

En toe het daardie konferensi­e in Bloemfonte­in plaasgevin­d. Hilda het hom met trane in haar oë kom vertel van die arme ou tikstertji­e wat haar verlof sou moes kanselleer omdat dr. Kohler gesê het sy sal moet saamgaan om die notule van die konferensi­e te gaan tik. “En haar moeder lê op sterwe,” het Hilda haar treurmare afgesluit.

Hy het voorgestel dat Hilda dan maar moet inwillig om in haar plek te gaan.

Dit was ’ n fyn set! Hilda het eers geweier. Maar dit was deel van haar spel. Later het sy toegestem toe hy daarop begin aandring.

Min het hy geweet dat dit die begin van die einde sou wees!

Toe Hilda ná twee weke terug was, was sy nie meer sy vrou nie. Hy het dit geweet die oomblik toe sy hom soen. Sy het eers ’n week later beken dat sy hom nie meer liefhet nie. Hulle is geskei. Kohler het vir die hele besigheid betaal. Nie lank daarna nie is hy en Hilda getroud. Dis nou 25 jaar gelede. Porrelwate­r se gebrul laat hom opskrik. “Ek sjê, ou pel, djy daa’ doer, wa’s dan nou de mêrrie met die sjees? Kom weg uit die satanshoek en kom vat sjees? Hier’s nog sjerrie.”

Die kroegkoor het in sy ore gefluit. Selfs Porrelwate­r het heeltemal normaal gelyk. ’ n Gentleman. Maar iets het verkeerd gegaan met sy feesvierin­g. Een deel van sy herinnerin­g was dronk en een deel nugter.

Hy was nooit dié soort nie. Hy het ’n toekoms gehad. Nou het hy nie eens ’n verlede nie.

Hy het hulle nooit genoeg gehaat nie. Selfs nou haat hy hulle nie genoeg nie, omdat hy homself die meeste haat. Hy was op universite­it. Hy het ’ n graad. Porrelwate­r is ’n dronklap en ’n rondloper, en as hy nugter is, is hy ’n vark. Kokkelol se ma was ’n straatvrou.

Dis nie sy klas nie. Sy ouers was mense met beginsels. Hy kon parlements­lid gewees het.

Binne-in hom brand dit erger. Die pyn dring deur sy brein. Hy sluk dit weg.

Miskien, as Kohler nie daardie aand so astrant was nie, sou dit anders gewees het. Maar die twee jaar in die tronk . . .

Hy het daardie nag te bitter gevoel. Die egskeiding­saak was net verby toe Kohler by sy woonstel opdaag en Hilda se goed kom haal. Hy het alles gevat, ook die ring en oorbelle wat hy die vorige Kersfees vir haar gekoop het.

Dit was te veel. Die regter kon nie verstaan dat ’ n man onder sulke omstandigh­ede sy humeur so kon verloor dat hy ’n ander man bewusteloo­s slaan en dan nog aanhou slaan nie.

Twee jaar moes Bob daaroor gaan nadink tussen mense soos Porrelwate­r en Kokkelol. Jy word nooit weer dieselfde nie. Jy probeer, maar jy kom altyd terug, soos ’n hond na die vullisblik waar hy eenmaal ’n stukkie oorskietko­s gekry het.

Porrelwate­r skreeu in sy oor dat hy liewer moet loop lê en vrek soos ’n brandsiek hond as hy nie saam wil jol nie.

Miskien is hy reg. Hy is nie deel van die fuif nie, nie vanaand nie. Of dalk is hulle nie deel van sy fuif nie.

Buite laat die vars lug hom steier. Sy maag brand soos vuur. Hy moet by die park uitkom. Sy bene is styf en moeg, weier om hom reguit te dra.

Stringe motors jaag op en af in die straat. Die ligte verblind hom. Hy wil oorkant kom, in die park, by Louis Botha se standbeeld.

Miskien verbeel hy hom dat die motors so vinnig ry. Hulle mag nie in die stad vinnig ry nie. Hy onthou dat hy jare gelede toe hy self ’n motor besit het, dikwels spoedboete­s moes betaal as hy vinniger as 30 myl per uur gery het.

Hy strompel oor die straat. ’n Groot, luukse motor se bande skreeu op die teer soos die bestuurder die rem trap om hom mis te ry. Die motor swaai regs uit en bots van voor teen ’n aankomende motor. Hy hoor nie die slag nie en voel verlig toe die verkeer aan albei kante van die straat met ’ n helse lawaai van skurende bande en toeters tot stilstand kom. Nou kan hy veilig oorstap.

In die park gaan lê hy op die gras in die donker skaduwee wat die standbeeld gooi. Hy maak sy oë oop. Dit lyk asof die standbeeld op hom gaan val. Hy maak sy oë toe. Die pyn kruip op in sy bene, oor sy knieë tot by sy maag. Al die pyn spoel daar saam soos die reën in ’n plaasdam. Miljoene vrese pak hom beet.

Die pyn is al in sy kop. Agter sy oë druk dit soos warm, lopende lood, druk die sterre voor sy oë dood.

Derek Kohler dans voor hom met ’n vlymskerp stert en ’ n drietandvu­rk, gereed om hom te braai tot as. Hy hoor ’n ambulans se driftige sirene.

Dan verdof sy denke. Die pyn word minder. ’n Magtige iets het hom beet en voer hom weg, verder en verder . . . ’n Ster verskiet – ’n blink boog. ’n Wens is vervul. Die man wat die gras in die park sny, wonder al die hele oggend wanneer die boemelaar wat langs die standbeeld lê, gaan opstaan. Met die volgende baan wat hy moet sny, gaan die kêrel se skoene in die pad wees.

Hy stop duime duskant die verslete skoensole. Hy rol die man om. Sy oë is star en oop en dood. Hy hardloop na die opsigter. Die opsigter kom kyk. Die man is dood, sê hy. Hy is al styf.

Hy wonder of dit nie die vent is wat gisteraand voor die Melody-kroeg roekeloos oor die straat gewaggel en die ongeluk veroorsaak het waaroor al die koerante vandag berig nie.

Almal soek sy bloed, want ’n bekende sakeman en sy vrou, dr. en mev. Derek Kohler, is op slag dood toe hul voertuig uitswaai vir ’n man wat uit die kroeg gekom het en nog nie opgespoor kon word nie.

Die regter kon nie verstaan dat ’n man onder sulke omstandigh­ede sy humeur so kon verloor nie . . .

Hierdie kortverhaa­l is ook opgeneem in ’n bundel getiteld Kortverhal­e deur Pik Botha, uitgegee deur J. L. van Schaik, 1997.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa