Politiek se Pik ook flink woordsmid
Pik Botha word op 27 April 85. As minister van buitelandse sake was hy nooit op sy mond geval nie, maar min mense weet hy het in sy jong dae ook kortverhale geskryf, waarvan ’n hele klomp in Huisgenoot verskyn het
SKRYF jong mense nog liefdesbriewe vir mekaar? Ons generasie het. Maar ’n liefdesbrief van 90 foliovelle was selfs in ons era van pen en papier hoogs uitsonderlik. In die borskas van ’n man wat vir sy nooi so ’n brief geskryf het, en ’n pak minnegedigte op die koop toe, het ’n romantiese, passievolle hart geklop.
Een skrywer van so ’n brief was die jong Tukkie-student Pikkewyn (Pik) Botha – in die vroeë 1950’s ’n “woelige, gewilde student, intervarsity-sangleier; wat in vakansies sakgeld verdien het as kelner op die treine”, in die woorde van sy skoonsuster, wyle prof. Elize Botha.
Die ontvanger van die brief, opgemaak in ’n netjiese pakkie, was Helena Bosman, ’n Matie-student. Sy het in 1953 mev. Helena Botha geword terwyl haar man as kadetdiplomaat in die departement van buitelandse sake begin werk het. Hulle was 43 jaar getroud toe sy op 29 April 1996 oorlede is.
Haar oë het geskitter toe ons in Maart 1978 in die ministersbuurt Bryntirion, Pretoria, vir my rubriek Onder Vier Oë in die dagblad Beeld gesels oor haar vurige eggenoot, wat kort tevore minister van buitelandse sake geword het.
Die diep spore wat die legendariese minister in sy loopbaan getrap het, is geskiedenis. Hy was beroepsdiplomaat, ambassadeur en langs dienende minister van buitelandse sake ter wêreld, wie se plek in die geskiedenis onder meer oopgekerf is deur sy deurslaggewende rol as dryfveer in die proses wat tot Namibië se onafhanklikheid gelei het.
Min mense kan soos hy daarop aanspraak maak dat sy biografie, bronnelys, eindnotas en register ingesluit, amper 1 000 bladsye beslaan; ’n ware magnum opus waarvoor die geskiedenis sy biograaf, Theresa Papenfus, volgens een resensent “’n guns verskuldig is”.
Ná daardie laatsomermiddag in die gesellige studeerkamer van hul groot wit ampswoning in die boomryke Bryntirion moes baie van dié geskiedenis nog geskryf word. My gesprek met die sprankelende Helena was meer oor die mens Pik, die man wat sy liefhet: die terggees met die aansteeklike humorsin, die geesdriftige veerpyltjiespeler, die musiekliefheb-
ber, die romantikus, die harde werker.
Die Pik met die klein hartjie wat homself amper verongeluk om ’n verkleurmannetjie te red; wat in die middel van die nag sou opstaan om hom na die sterfbed van ’n mindere amptenaar te haas; die een wat die gesin soggens lewenslustig wakker sing met: “Opstaan, opstaan, dis ’n lieflike dag.”
Oor hom – haar Pik – het sy met onverbloemde trots haar hart oopgemaak.
ONS het begin by die begin: by die studenteromanse wat tot ’n huwelik uitgeblom het. Daarna lank stilgestaan by die dae as jong getroudes in Pretoria terwyl Pik ’n loopbaan begin bou het onderwyl hy buitemuurs vir die graad LL.B. studeer. Geld was bra skraps.
’n Woonstelletjie op die grondvlak van Victory Court in Kerkstraat was hul eerste woonplek, net enkele blokke van die Uniegebou, waar hy gewerk het. Op die klein stoep, met diefwering toegemaak, het hy vir hom ’n studeer-en-werkplek ingerig. Sy “lessenaar” is sommer uit kissies en kasplanke opgetower.
Daar het sy vir hom tikwerk gedoen. Laataand, wanneer hy sien sy raak moeg, het hy die gewoonte gehad om vir haar ’n vleiende persoonlike boodskap boaan haar tikwerk te skryf. Iets soos: “Jy lyk vir my so mooi agter ’n tikmasjien.” Tikwerk soos? Briewe en so aan, het Helena geantwoord. “Maar wag.” Toe gaan haal sy ’n plakboek uit ’n donker eikehoutkas. Binne-in is ’n onbekende literêre skat: haar eiesoortige man se eiesoortige kortverhale. Oor dié sy van Pik kon jy hierdie koerantman met ’n veertjie omtik.
Dit blyk by die deurblaai dat 21 kortverhale uit sy pen in Die Huisgenoot en die destydse Die Byvoegsel (gewilde naweekbylae van Nasionale Pers se dagblaaie) verskyn het – gemiddeld amper een per maand. Vir die Perskor-publikasie Avontuur en Liefde het hy vier bydraes gelewer en vir die koerant Die Nataller een. In die plakboek is verskeie briewe van verhaleredakteurs. Hulle pleit vir meer stories van die talentvolle jong skrywer.
Op 14 Julie 1955 skryf W.A. Boonzaaier van Die Huisgenoot byvoorbeeld namens die redakteur: “Hoekom was u so lank stil? Ons betaal deesdae beter vir goeie kortverhale en hoop om somaar binnekort weer van u te hoor.”
Net een Pik Botha-storie het nie ver- skyn nie – sy heel eerste. Daarin het hy die Russiese leier Josef Stalin ’n hartoorplanting laat ondergaan. Dit was in 1954. Eers 13 jaar later, in 1967, het daardie verbeeldingsvlug werklikheid geword toe prof. Chris Barnard in die Groote Schuur-hospitaal, Kaapstad, die sterwende Louis Washkansky se siek, ou hart uitslag en met die springlewendige hart van ’n jong ongelukslagoffer, Denise Darvall, vervang.
“Darem te fantasties en onwerklik, ” was Die Byvoegsel se oordeel oor die verhaal Die Waarde van ’n Hart. As troos is darem bygevoeg: “U het ’n lekker styl . . . kan net ’n bietjie meer ter sake wees.”
Wonder wat die redakteur se kommentaar ná die hartoorplanting in 1967 sou gewees het. Of hy toe nog met ons was, dit weet ek nie.
Die kadetdiplomaat los toe maar die wetenskapsfiksie en wend sy “lekker styl” aan vir smeulende liefdesverhale, oorlogstories en moordrillers, almal uit te ken aan sy kort, kragtige verteltrant en die verrassende kinkels. Pik hou nie van
happy of onrealistiese eindes nie, het Hele na opgemerk .“’ n Bietjie O. Henryrig ”– met verwysing na daardie meesterlike kortverhaal skrywers e“grimmighumoristiese manipulasie van die toeval”, om by prof. Elize Botha ’n uitdrukking te leen.
Een verhaal wat treurig eindig, is La Golondrina (Die Byvoegsel, 9 Oktober 1954) oor ’n terugkerende soldaat wie se gedagtes deur daardie mooi lied teruggevoer word na sy ontmoeting met ’n Italiaanse sangeres, Sideritta Pella, wat kort daarna in ’n bomaanval sterf.
Die verhaal wat die skrywer self, volgens Helena, uit ’n taaloogpunt as sy beste beskou het, is Oorsaak en Gevolg (Die Huisgenoot, 5 Maart 1956). Dit is die storie van ’n prokureur wat boemelaar word nadat sy jong vrou met haar baas ’n verhouding aangeknoop het. (Lees die verhaal op bl. 101.)
Sy langste storie, Loftus Versfeld en Daarna (Die Huisgenoot, 14 November 1955), is ’n speurverhaal oor ’n Tukkiedosent se betrokkenheid by ’n sinistere uraanprojek en die dood van ’n knap jong student wat daarby ingesleep word.
Iemand wat in die verhaal sterf, is Madelein Hechter, ’n pragtige studentenooi en vriendin van die skurk, wat die speurder uitlok tot hy op haar verlief raak.
’n Romantiese oomblik tussen haar en die speurder word soos volg beskryf: “Sy het op my skouer geleun. Haar liggaam was warm tussen my hande, en ek het verlore gevoel toe ek in haar oë die sterre sien wat nog altyd vir my onbereikbare spikkels was, ver teen die donker, vreemde ewigheid van die nag, en toe was haar lippe voor my, vol diep geheimenisse, soos ’n verre see wat al die leemtes in my lewe, al die verlange vir ewig sou stilmaak.” Vintage Pik Botha . . .
W.A. Boonzaaier van Die Huisgenoot skryf daaroor terug: “As dit ’n kortverhaal was, sou ons u die maandelikse prys daarvoor toegeken het. Maar ons las die vyf pond maar by die gewone betaling vir die verhaal. Ook nie om dowe neute nie . . . dit besit alles wat goed is.”
Van geld gepraat: In twee verhale verwys die aspirantdiplomaat halfskertsend na die inkomste van ’n staatsamptenaar. In Geld Is Rond (Die Huisgenoot, 24 September 1954) skryf hy: “As staatsamptenaar (en getroud ook nog daarby) moes ek my ontspanning en plesier altyd baie sorgvuldig kies om te kon pas by die fooitjie wat ek elke maand van die staat ontvang het as erkenning van my dienste.”
Ek is die middag na Bryntirion vir my rubriek. Ek is daar weg met ’n voorbladstorie op die koop toe. Die gedugte min. Pik Botha se skrywery in sy jong dae was vir baie mense nuus. In 1997 het ’n boek met sy kortverhale by J.L. van Schaik verskyn. Die titel was kort en kragtig: Kortverhale. Waarskynlik het die tantième daaruit darem sy vorige “fooitjies” ietwat aangevul.
Hennie van Deventer is oudredakteur van Volksblad en voormalige uitvoerende hoof van Naspers se koerantegroep. Die uittreksel kom uit ’n manuskrip met geleentheidstukke wat hy ná sy aftrede in 1998 geskryf het.