Huisgenoot

Vermiste man se ma steeds hoopvol

Onsekerhei­d verteer ’n Wes-Kaapse ma nadat haar seun op sy 20ste verjaardag tussen neus en ore verdwyn het

- Deur JOANIE BERGH

LEEF my kind nog of is hy dood? Die onsekerhei­d treiter haar nog tot laatnag, al is dit reeds amper ses maande sedert haar seun spoorloos verdwyn het. “As iemand dood is en jy het ’n lyk, kan jy darem afskeid neem en deur die trauma werk. Ek het dit nie. Ek weet nie wat ek moet voel nie,” vertel Max Smith (54) emosioneel in haar huis op Hermanus.

Sy weet nie of haar geliefde bruinkopse­un seergekry het, of hy by sy volle bewussyn is en of hy dalk iewers aangehou word en nie kan ontsnap nie. Sy weet nie eens of hy nog leef nie.

Op 4 November verlede jaar het Barend “Barry” Leonard sy 20ste verjaardag gevier. Sedert sy geboorte in 1996 het dié dag nog net goeie herinnerin­gs vir Max ingehou. Maar nou is dit die datum waarop haar groot nagmerrie begin het.

Barry se onverklaar­bare verdwyning in die vroeë oggendure op hierdie kusdorp het verlede jaar die land diep aangegryp. Hy het saam met ’n groepie vriende sy verjaardag in ’n plaaslike kuierplek gevier en is sedertdien nooit weer gesien of van gehoor nie.

Ondanks al Max se pogings om inlig- ting te kry – hulle het selfs ’ n Facebook-blad, Find Barry, begin – hoor hulle niks. Plakkate van die vermiste Barry is steeds teen winkelvens­ters op dié dorp vasgeplak en hang ook nog aan lamppale in sekere dele van Kaapstad. “Soms dink ek as ek net ’n stuk van sy jeans kan kry wat hy daardie aand aangehad het, sal ek tevrede wees,” sê Max. Trane wel in haar oë op. “Maar ek kry dít nie eens nie . . .”

BARRY se kamerdeur is gesluit. Alles in die kamer is presies soos hy dit gelos het, sê Max. Op die deur is ’ n handgeskre­we nota geplak: “Maak my tienuur wakker!” Max lag. “Barry wou nooit later as tienuur opstaan nie. Wanneer hy nie self wakker geword het nie, moes ons hom tienuur roep,” sê sy en sluit die deur oop.

Dis ’n gewone kamer van ’n jong man. Onder die dubbelbed lê ’n skaatsplan­k, en langs al sy gholfpette op die lessenaar staan ’n geraamde foto van Barry en sy suster, Cora Leonard (25).

Barry het deelgeneem aan gimnastiek, stoei, atletiek, swem, dans en sommer ballet ook, vertel Max. Hy het sy hoërskooll­oopbaan aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria begin en einde gr. 10 het hy en Max Amerika toe getrek saam met sy stiefpa, Jim Smith. Hulle het twee jaar gelede teruggekom Suid-Afrika toe en hulle op Hermanus gevestig. Barry het toelating gekry tot Varisty Kollege in Kaapstad se sakeskool en tot ’n hoogaanges­krewe Kaapse ontwerpsko­ol. Hy sou vanjaar ontwerp begin studeer het.

Barry het die paar maande voor sy verdwyning by ’n plaaslike restaurant as kelner gewerk en uitgesien na sy studie, vertel Max. Maar toe, op sy 20ste verjaardag, tref die tragedie hul gesin.

“Ná Barry se verdwyning het ons hierdie kamer behoorlik gefynkam,” sê Max. “Ons het na elke papiertjie gekyk, in elke laai en bo-op alles. Ons het sy hele rekenaar en selfoon deursoek vir enigiets wat ons net nog inligting kon gee.” Vergeefs.

Selfs die privaat speurder wat die familie later aanstel het, het gesê Barry het ’n deursigtig­e lewe gelei. Hy het nie geheime gehad nie en niks probeer wegsteek nie. “Barry het geen van die boodskappe op sy selfoon uitgevee nie en sy wagwoorde vir sosialemed­iaplatform­s is nog nooit verander sedert die dag dat hy dit opgestel het nie. Die forensiese span het ook Barry se bankstate en e-posse deurgekyk, maar daar was geen eienaardig­e aktiwiteit­e nie.”

In ’n stadium het een van sy vriende beweer Barry was ’n dwelmhande­laar, vertel Max. Die polisie kon geen gronde hiervoor vind nie en het die ander moontlikhe­id begin ondersoek: selfdood.

Die privaat speurder het egter ook bevind Barry het nie sy eie lewe geneem nie. Sy gevolgtrek­king was dat misdaad by die verdwyning betrokke is.

Die balkon van die huis kyk uit op die donkerblou see. Dit is hier waar Max en Jim Barry die laaste keer gesien het toe hy die aand van sy verjaardag saam met sy vyf vriende braai. “Ek het ’n aarbeien-kondensmel­ktert gemaak, een van Barry se gunsteling­e,” onthou Max, en ’n effense glimlag vorm om haar mondhoeke.

Sy en Jim ken Barry se vriende goed. Hy kon nog altyd maklik vriende maak, want hy is ’n baie aangename mens, sê sy.

Omstreeks halfelf die aand het hy vir Max en Jim gesê hulle gaan ná die braai by ’n bekende plaaslike kuierplek kuier. “Dit was nie eienaardig nie. Barry het nie gereeld uitgegaan nie, maar dit was sy verjaardag en hy was saam met vriende. Sy laaste woorde aan ons was: ‘Lief Ma, love you, Jim,’ en hy het ons elkeen ’n lang, stywe druk gegee.”

Max bly ’n oomblik stil en sluk hard voor sy verder praat. “Hoe moes ek geweet het dit sou die laaste keer wees dat ek my kind sou sien en hom vashou?”

Vroegoggen­d, tussen drie- en vieruur, het hulle Barry se kar in die huis se parkeerrui­mte hoor stilhou. Hulle het aangeneem hy en sy vriende, wat saam met hom by die huis sou oornag, is terug.

Die volgende oggend het Jim opgemerk Barry is nie in sy kamer nie, maar hy en Max moes inderhaas Stellenbos­ch toe ry vir ’n afspraak. Hulle het geen onraad vermoed nie en aangeneem Barry slaap in ’n gastekamer by sy vriende. “As ons gedink het iets is eienaardig, sou ons sy vriende dadelik wakker gemaak het om te hoor waar Barry is,” sê Max.

Intussen het Max hom ge-SMS: “Laat weet my wanneer jy wakker is.”

Eers daardie middag op pad terug Hermanus toe het Max ’n oproep van een van Barry se vriendinne gekry. “Tannie,” het sy gesê, “ek weet nie hoe om dit vir Tannie te sê nie, maar Barry is weg. Ons kry hom nêrens.” “Wat bedoel jy Barry is weg?” wou Max weet. Sy het yskoud geword.

Hermanus is net so groot; almal op die dorp ken mekaar, het sy gedink.

Die vriendin sê toe hulle het reeds in al die hospitale en lykhuise gaan kyk – niemand weet waar Barry is nie.

Toe Max en Jim by die huis kom, was sy vriende weg. Hulle het Barry se beursie, karsleutel­s en selfoon op sy bed neergesit met ’n briefie wat sê hulle kon hom nêrens kry nie.

Max en Jim het dadelik polisiekan­toor toe gegaan en Barry as vermis aangemeld. Later sou hulle beeldmater­iaal van Barry se laaste bekende oomblikke sien op sekerheids­video’s van die restaurant­e rondom die kuierplek.

Die beeldmater­iaal wys die groep vriende het buite die kuierplek gaan sit. In ’n stadium loop Barry alleen in ’n paadjie af. ’n Groep onbekende mans loop van voor af na hom. Minder as ’n minuut later loop die vriende in dieselfde rigting agter Barry aan.

Ná ’n ruk sien jy net die vriende wat in die paadjie teruggeloo­p kom – geen teken van Barry nie.

“Ses vriende gaan uit; net vyf kom terug. Daar is geen lyk en geen teken van Barry nie. En al wat elkeen sê, is dat hulle niks weet nie,” sê Max en staar na

ie blou see voor haar.

IdN DIE eerste twee weke ná die verdwyning het die Nasionale Seeredding­sinstituut en ander duikspanne die see ingevaar om na Barry se lyk te soek. Die polisie het hul hondeeenhe­id ontbied en lede het al langs die kus op fietse gery om te kyk of sy liggaam dalk uitgespoel het.

Maar daar was steeds geen teken van Barry nie.

Die polisie het sy vriende ondervra en sommiges het reeds ’n verklaring afgelê.

Nou kyk Max saans na die maan en wonder of Barry dit ook kan sien en aan sy familie dink. Glo sy hy leef nog? “Ja,” sê sy sonder huiwering.

Sy het al aan alle moontlikhe­de gedink. “Dalk is mensehande­l betrokke, ek weet nie. Het hy pyn? Is hy bang? Weet hy waar hy is?” Max kyk af na haar hande. “Ek sal aanhou hoop dat my seun terugkom huis toe tot ek rede het om nie meer te wag nie. Al moet ek vir hom wag tot ek eendag doodgaan.

“Wat anders moet ek doen? Geen mens kan net verdwyn nie,” sê sy en vee nog ’n traan met haar hand af.

“En wanneer hy huis toe kom, sal ons daar wees vir hom.”

‘Daar is geen lyk nie . . . Al wat elkeen sê, is dat hulle niks weet nie’

 ??  ?? HOOFFOTO: Max Smith van Hermanus praat oor die foltering waardeur sy en haar gesin gaan sedert haar seun, Barry LeonardLeo­nard (INLAS), vermis geraak het. BO: Plakkate is ná sy verdwyning op die dorp opgeplak.
HOOFFOTO: Max Smith van Hermanus praat oor die foltering waardeur sy en haar gesin gaan sedert haar seun, Barry LeonardLeo­nard (INLAS), vermis geraak het. BO: Plakkate is ná sy verdwyning op die dorp opgeplak.
 ??  ?? LINKS: Max en haar man, Jim, by die plek waar Barry laas gesien is. NAASLINKS: Barry se vriende het dié brief op sy bed gelos om te sê hulle het hom probeer kry.
LINKS: Max en haar man, Jim, by die plek waar Barry laas gesien is. NAASLINKS: Barry se vriende het dié brief op sy bed gelos om te sê hulle het hom probeer kry.
 ??  ?? BOBO: DiDie llaaste ffoto wat MMax van BBarry geneem het. Ure later was hy spoorloos. LINKS BO: Barry was lief vir fotografie en het selfs foto-uitstallin­gs gehou.
BOBO: DiDie llaaste ffoto wat MMax van BBarry geneem het. Ure later was hy spoorloos. LINKS BO: Barry was lief vir fotografie en het selfs foto-uitstallin­gs gehou.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa