Huisgenoot

Liefde help Sergio García titel wen

Dit het 74 probeersla­e geverg, maar Sergio García het oplaas een van gholf se Groot Vier gewen – en hy sê dis omdat dit eindelik goed gaan in sy liefdeslew­e

- Saamgestel deur SANDY COOK

DIT was ’ n oomblik van verligting en vreugde vir die Spanjaard toe hy die wenner se groen baadjie aantrek. Hy het sy kritici en homself verkeerd bewys. Eindelik pryk Sergio García se naam op die Amerikaans­e Meesterstr­ofee. Maar vyf jaar gelede het Sergio (37) aanvaar hy sal nooit een van gholf se Groot Vier wen nie. “Ek is nie goed genoeg nie,” het hy destyds aan die media gesê, nogal langs die einste gholfbaan in Augusta, Georgia, waar hy onlangs geseëvier het. “Ek het nie daardie iets wat nodig is daarvoor nie. Ek moet speel vir ’n tweede of derde plek.”

Deur die jare het Sergio in 73 Grand Slam-toernooie gespeel – en vier keer was ’n tweede plek die beste wat hy kon doen. Sy bynaam as belowende jong speler, El Niño, het verander na El NearlyMan. Weg van die baan het hy die een mislukte verhouding ná die ander gehad.

En nou is alles anders. In Januarie het hy verloof geraak aan Angela Akins (31), ’n aanbieder vir die TV-netwerk Golf Channel. En Sergio glo sy langverwag­te sukses op die baan is danksy haar.

Sergio het op die laaste dag van 2017 se Meestersto­ernooi as gesamentli­ke voorloper saam met die Engelsman Justin Rose afgeslaan. Op putjies 10, 11 en 13 het die Spanjaard verbrou. Sy aanhangers het seker gedink: “Hier gaan ons weer! Jy kan altyd op Sergio staatmaak om droog te maak.”

Toe nie. Hy het dit met twee goeie houe en ’n voëltjie op die 14de opgevolg – en op die 15de bof sy eerste arend op Augusta. Ná 72 putjies was hy gelykop met Justin en ’n uitspeelst­ryd was op hande. Maar op die 19de putjie het Justin verbrou, en Sergio het die wenhou gespeel.

Toe daardie bal in die putjie verdwyn, het hy op sy knieë neergeval en met sy vuiste in die lug gepomp terwyl die skare “Sergio, Sergio” dreunsing.

Sergio, van die Spaanse kusdorpie Borriol, se lang reis na daardie wenhou het op die ouderdom van drie begin. Dis toe dat sy pa, Victor, ’n beroepspel­er, en ma, Consuelo, vir hom sy eerste stel gholfstokk­e gekoop het. Met sy pa as afrigter het hy op 15 vir die Europese reeks gekwalifis­eer. Drie jaar later het Sergio beroepspel­er geword en binne maande vir 1999 se Ryderbeker­toernooi – die tweejaarli­kse kompetisie tussen spanne van Europa en Amerika – gekwalifis­eer.

Hy het wêreldwyd 31 seges agter sy naam, nege van hulle in die PGA-reeks en 12 in die Europese reeks. Hy het ook Afrika se nieampteli­ke Grand Slam, die Nedbank-gholfuitda­ging, in 2001 en 2003 gewen. Hy het al sowat R945 miljoen in prysgeld verdien. Maar steeds het die Grand Slams hom ontwyk.

Toe, in 2015, het hy met Angela begin uitgaan. Intussen het hulle verloof geraak en hulle trou in Junie. “Om Angela te ontmoet het my natuurlik baie gehelp en ons is baie opgewonde oor wat vanjaar en in die toekoms op ons wag,” het Sergio gesê nadat hy die Desert Classic in Februarie in Doebai gewen het.

Sergio het voorheen met die tennisster Martina Hingis uitgegaan en later met die gholflegen­de Greg Norman se dogter, Morgan-Leigh. Hy was gebroke toe sy hom los. “Dit het seergemaak,” sê hy. “Dit het my ’n rukkie geneem om te verwerk.”

Die Duitse gholfspele­r Katharina Boehm was sy volgende meisie. Van hul verwagte troue het niks gekom nie.

En toe kom die pragtige Angela. “As dinge mooi uitwerk in jou lewe weg van die spel, is jy kalmer en gelukkiger,” sê Sergio. Angela was voorheen met die gholfspele­r Ross Hamann getroud.

Daar wag ’n bedrywige tyd op Sergio met die Amerikaans­e Ope en sy troue in Junie.

“Hopelik sal ek nog seges daarby kan voeg,” sê Sergio.

Sy aanhangers hoop beslis ook so. BRONNE: COMPLEAT GOLFER, TELEGRAPH,CO.UK, BBC.CO.UK, DAILY MAIL, GUARDIAN.COM, SERGIOGARC­IA.COM, HEAVY.COM, THEAUSTRAL­IAN.COM

 ??  ?? HOOFFOTO: Sergio García reageer nadat hy die wenbal op Augusta, Georgia, laat sink het. BO: Danny Willett, verlede jaar se Meesters-wenner, trek vir Sergio die groen wenbaadjie aan. HEEL BO: Sy verloofde, Angela Akins, stap na hom toe.
HOOFFOTO: Sergio García reageer nadat hy die wenbal op Augusta, Georgia, laat sink het. BO: Danny Willett, verlede jaar se Meesters-wenner, trek vir Sergio die groen wenbaadjie aan. HEEL BO: Sy verloofde, Angela Akins, stap na hom toe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa