WIE GAAN NOU LEI?
As deel van ons 101-jarige bestaan help ons lesers sin maak van aktuele gebeure. Dié week: ’n Fel stryd in die ANC lê voor. Kenners voorspel wie Zuma gaan opvolg
IN Desember is dit weer sulke tyd. Duisende ANC-lede van oor die land sal in Johannesburg saamtrek om besluite te neem wat Suid-Afrika se wel en wee in die jare vorentoe beslissend sal bepaal. By dié allerbelangrike vyfjaarlikse konferensie sal gestem word oor wie die party – en in 2019 dan ook SuidAfrika – as nuwe president sal lei. Ja, pres. Jacob Zuma se omstrede 10 jaar in die tuig nader sy einde. ’n Fel leierskapstryd lê egter voor.
Suid-Afrikaners, reeds vuisvoos weens die swak ekonomie, korrupsie en vrot dienslewering, hoop van harte Zuma se vertrek as president sal ook ’ n einde maak aan die beweerde staatskaping deur die skatryk en invloedryke Guptasakefamilie, die Zuma-vriende van wie gesê word dat hulle gans te veel lepels in die staat se pappot het.
Waarin Johannesburg die leierskonferensies al plaasvind, is nog onbekend, maar einde Junie word die voorbrandwerk in die Goudstad se Nasrec-sentrum gedoen.
Op dié konferensie, van 30 Junie tot 5 Julie, word partybeleid gesmee. Dis ook hier waar die slagordes in die stryd om die topses-leiersposte in die ANC duideliker opgestel sal word.
Adj. pres. Cyril Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, voormalige voorsitter van die Afrika-unie (AU) en Zuma se eksvrou, word as die twee voorlopers in die presidensiële wedloop beskou. Maar niks is seker nie.
“Daar is nog ses maande oor voor die verkiesing,” sê Pieter du Toit, politieke joernalis en adjunkredakteur van The Huffington Post South Africa. “Baie goed kan nog tot dan gebeur.”
Een ding is seker: Ons land kan politieke hoogdrama verwag soos ons laas in Desember 2007 gesien het toe die einste Zuma oudpres. Thabo Mbeki op die ANC-leierskonferensie in Polokwane onttroon.
En veral as Ramaphosa sou wen, sê die kundiges, is dit nie onmoontlik dat Zuma nog voor die einde van sy termyn as staatspresident herroep sal word nie.
HOE WERK DIE ANC SE LEIERSVERKIESING?
Ongeveer 4500 ANC-lede sal in Desember die party se leierskonferensie bywoon: afgevaardigdes van ANC-takke landwyd, van die ANC-vroueliga, die jeugliga en die ANC se oudstrydersliggaam van M K-veterane.
“Verteenwoordigers van die ANCalliansievennote, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en die vakverbond Cosatu, woon die kongres ook by, maar het geen stemreg nie,” verduidelik Dumisane Lubisi, uitvoerende redakteur van die Sondagkoerant City Press.
Ter voorbereiding benoem die takke en ligas van die ANC al van Junie hul kandidate vir die leiersposisies, soos die “topses” van die nasionale uitvoerende komitee. Onder hulle tel die adjunkpresident, nasionale voorsitter, sekretaris-generaal, adjunk-sekretarisgeneraal en tesourier-generaal. “Mense kan ook op die Desember-konferensie benoem word vir die posisies,” sê Dumisane.
Voor Desember sal ’n landwye oudit van ANC-takke gedoen word. Daar is duisende takke, maar die oudit moet bepaal presies watter as amptelikes erken sal word. Dit is kernbelangrik omdat twee afgevaardigdes van elke tak op die konferensie sal stem volgens die mandaat wat hul tak aan hulle gegee het.
Die oudit sal sogenaamde spooktakke identifiseer. “Spooktakke is ANC-takke wat nie regtig bestaan nie, maar bedrieglik geskep is deur plaaslike, streeken provinsiale leiers wat hul getal stemgeregtigde afgevaardigdes op die konferensie wil verhoog,” verduidelik Dumisane.
Enigeen kan ’n tak stig in ’n gebied waar nie een is nie, maar dit moet met die streekkantoor se toestemming gebeur en dit moet minstens 100 opbetaalde lede hê en amptelike partyverplig-
tings nakom. Eers dan sal dit aan die oudit voldoen.
Terwyl elke tak se afgevaardigdes volgens hul mandaat stem, kan provinsies hulle as ondersteuners van ’n sekere leier verklaar, na gelang van watter leier die steun van die meeste takke in daardie provinsie geniet. “Hoe meer takke jy in ’n provinsie het, hoe meer mag het jy dus. As ’n provinsie soos KwaZulu-Natal, wat met die 2012-konferensie 900 stemme gehad het, ’n spesifieke leier steun, het hulle ’n beter kans om die kleiner provinsies te beïnvloed om saam met hulle te stem,” sê Dumisane.
Geld speel ook ’n gewigtige rol. “Die mense wat elke kandidaat se veldtog dryf, moet die verskillende takke besoek om stemme te werf,” sê Dumisane. “En dit kos baie geld.”
DIS RAMAPHOSA VS. DLAMINIZUMA
Ramaphosa en Dlamini-Zuma – of NDZ, soos sy deesdae genoem word – is die mees senior kandidate wat die leisels by Zuma kan oorneem, sê Reggy Moalusi, redakteur van die dagblad Daily Sun.
Ramaphosa was Zuma se adjunk en tradisioneel word die adjunk die partypresident. Maar dit is nie seker dat dit in hierdie geval sal gebeur nie, sê Reggy.
Dlamini-Zuma word al jare beskou as die ideale kandidaat om die eerste vrouepresident van die ANC te word, en baie mense, ook die vroueliga, steun haar dus.
Maar sy word ook beskou as die ideale kandidaat om “Projek Zuma” (sy werk en belange) voort te sit. Sy omring haar die laaste tyd met mense wat hom steun en herhaal beleidsrigtings soos radikale ekonomiese transformasie, sê Dumisane.
Reggy sowel as Pieter meen DlaminiZuma sal die ANC se nuwe president word. “In dié stadium is sy in ’n sterker posisie as enigiemand anders, suiwer vanweë die feit dat sy haar veldtog vroeër begin het en dat sy dit doen met die president se steun en hulpbronne,” sê Pieter. Die vroue- en die jeugliga steun haar ook. “Op die oog af het sy meer institusionele steun as Ramaphosa.”
Albei kommentators meen Ramaphosa sal ’n beter president wees. “Hy word wêreldwyd baie meer gerespekteer en het ’n indrukwekkende rekord in die politiek en sakewêreld,” sê Reggy.
Pieter meen Ramaphosa verstaan die kuns van kompromieë aangaan en om ’n inklusiewe koalisie te bou. “Hy was ’n kernrolspeler en die ANC se hoof-onderhandelaar in die land se oorgangstyd ná demokrasiewording,” sê Pieter. “Hy verstaan wat dit geverg het om ’n onderhandelde skikking te bereik, en dit is wat ons land nou nodig het.”
TOG is daar kwelpunte, soos Ramaphosa se besluit in 2012 om Zuma se adjunk te word. “Hy het dit gedoen wetend wat die probleme rondom Zuma was. En sedertdien was hy relatief stil op die politieke verhoog,” sê Pieter.
“Die afgelope jaar het hy wel begin uitpraat oor sake soos die koste van Nkandla en die aanslag op Pravin Gordhan, afgedankte minister van finansies, maar daar was nooit aggressiewe kritiek nie.”
Daar is ook sy betrokkenheid by die Marikana-slagting toe polisie in 2012 altesaam 34 stakende mynwerkers doodgeskiet het. Ramaphosa het toe in e-posse aan die mynbestuur na die protes as misdadig verwys en daadwerklike optrede voorgestel. Hy het verlede week in die openbaar verskoning gevra vir sy woordkeuses destyds.
Nogtans bly hy die beste van die twee kandidate, meen Pieter. En slaag hy wel daarin om verkies te word, sal Zuma uiteraard nie meer die magsbasis binne die party hê om hom te probeer ondergrawe op sy weg om die land se president te word nie.
Die groot klad op Dlamini-Zuma se naam is die destydse Sarafina-skandaal, verduidelik Pieter, waar miljoene wan-
bestee is wat in dié blyspel oor vigs belê is .“Dit was die eerste groot wan besteding-en korrupsie skandaal ná 1994 in Suid-Afrika.”
Dlamini-Zuma het geen groot prestasie as hoof van die AU behaal nie. “’n Klomp Afrika-lande kon nie wag dat haar termyn eindig nie,” sê Pieter.
Reggy sê dit is onduidelik presies waarvoor Dlamini-Zuma staan. “Tot dusver is sy ’n draadsitter wat haar posisies betref en sy maak dit nie duidelik dat sy in die Zuma-kamp is nie. Ons weet sy het as kabinetsminister goeie administratiewe vaardighede gehad, maar haar politieke sienings oor die land ontbreek nog.”
IS ’N ANC SONDER ZUMA ’N ANC SONDER PROBLEME?
Die ANC se probleme hou nie by Zuma op nie. “Dit het ’n baie diep wortel,” sê Reggy, “hoewel Zuma dit vererger het. Die party sal ná Desember tot inkeer moet kom. Harde, eerlike gesprekke moet gevoer word met almal wat lei.”
Pieter sê daar is sistemiese en institusionele verrotting in die ANC.
“Ongeag wie wen, dit het amper onmoontlik geword om dit te stuit. Die nuwe leier gaan ’n erg verdeelde, korrupte, gebroke ANC erf wat in 2019 ’n opdraande stryd gaan hê om die meerderheidsparty te bly.”
As die nuwe leier partybelang bo dié van die land stel in ’n poging om die ANC te versterk, kan dit ’n klimaat van straf- loosheid en korrupsie in die hand werk en dienslewering knou, meen Pieter. “Dit skep geleenthede vir die opposisie, met nog moontlike verliese vir die ANC by die stembus in 2019.”
TIEN JAAR NÁ POLOKWANE
Vanjaar se leierskonferensie word reeds vergelyk met 2007 se konferensie in Polokwane, waar Zuma en Mbeki mekaar die stryd aangesê het vir die posisie van president, sê Dumisane.
Destyds was die ANC in twee kampe verdeel; ons is weer daar. In die een kamp is die Ramaphosa-ondersteuners met die redenasie dat hy as huidige adjunk die leier behoort te word; in die ander is die Dlamini-Zuma-mense, die president se mense.
“Haar opkoms as partypresident sal as ’n oorwinning vir Zuma beskou word, amper soos ’n derde termyn deur die agterdeur,” sê Dumisane.
Pieter glo die ANC gaan ná die konferensie in Desember meer verdeeld wees as ooit tevore.
“Die konferensie in Polokwane het die ANC op politieke, ideologiese, ekonomiese en etniese grondslag verdeel. Die Johannesburgse konferensie gaan die verdeling vererger, tensy hulle vooraf tot ’n vergelyk kan kom oor ’n kompromisleier, met poste wat tussen die verskillende kampe opgedeel word.”
Tog dink Pieter dit is onwaarskynlik. “Die twee kampe is magsbehep. Dit is ’n geval van die wenner vat alles.”