Huisgenoot

KÊREL MORS MET HAAR EMOSIES

-

Ek bevind my in ’n hartverske­urende situasie. Vandat ek op 19 swanger geraak het, het ek en my kêrel ’n aan-af-verhouding. In die vier jaar dat ons saam is, het hy my emosioneel verniel. Ek wil hom regtig net vergeet en met my lewe aangaan, maar ons het ’n pragtige seun. My kêrel het my al soveel hoop gegee en dan net weer teleurgest­el. Ek het myself vergeet en doen nie meer moeite om mooi aan te trek en te grimeer nie. Dink jy dit is tyd om eerder op myself te fokus? (Hierdie brief het in die uitgawe van 11 Mei verskyn, maar ongelukkig is die antwoord op ’n ander brief toe verkeerdel­ik daarby geplaas.)

SKL op KV

Dit is altyd tyd om op jou kind te fokus. Geen kind vind baat by ’n verhouding tussen ouers waarin enige vorm van mishandeli­ng – emosioneel, fisiek of finansieel – is nie. Vier jaar is ’n lang tyd saam met iemand wat jou so afkraak dat jou selfbeeld daaronder ly.

Jy en jou kind het min stabilitei­t in hierdie situasie. Kinders het ouers nodig wat hulle aan mekaar en hul gesin toewy. Dit gaan nie help om hom nog ’n kans te gee as hy jou telkens teleurstel nie. As jy ’n vaste werk het en voorsorg getref het vir jou kind se versorging bedags, moet jy met hom praat en jul verhouding beëindig.

In jul gesprek sal hy vir jou moet uitstippel hoe hy in die toekoms vir jul seun gaan sorg en watter reëlings julle oor gedeelde toesig kan tref. Sorg dat jy vooraf ’n prokureur raadpleeg sodat jy jou kêrel se argumente met die nodige inligting kan troef. Wees ferm, want dikwels wanneer ’n verhouding­smaat sy verantwoor­delikhede in die oë moet kyk, kom hy skielik tot ander insigte en maak mooi maar ydele beloftes.

’n Nuwe toekoms wag op jou, jou kind en kêrel, maar in ’n ander formaat as waarop jy dalk gehoop het. ’n Enkelma se lewe is nie maanskyn en rose nie, maar dit sal jou help om jou selfrespek te herwin en jou kind sal daarby baat vind.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa