Huisgenoot

HANTEER VERSIGTIG

Sy soek ’n nuwe lewe op die platteland, maar nou spook dit in die buurhuis

- Deur MORYN HANZEN Illustrasi­e: MINDI FLEMMING

GRETHA sug terwyl sy die motorruit se handvatsel heftig in die rondte draai. Niemand wat nog nie die Noord-Kaapse somers beleef het nie, sal verstaan hoe warm ’n motor hier raak nie. Sy leun oor die leë passasiers­itplek om die ander ruit ook af te draai.

Haar lewe hier is anders . . . goed. Dis net dat die skuif van haar binneversi­ering s besigheid na’ n platteland­se dorp dalk nie die wysste een was wat sy op finansiële vlak kon neem nie.

Sy skryf dit toe aan die feit dat die eienaar van die enigste plaaslike DDSwinkel ook al vier jaar binneversi­erder speel, soos sy pas uitgevind het. In haar gedagtes sien Gretha ’n kort, oorgewig mannetjie met ’ n sigaret in die een mondhoek wat onbelangst­ellend met ’n vuil vingernael na stowwerige kleur- kaarte teen ’n afgeskilfe­rde muur beduie.

“Skaam jou, Gretha! Jy het hom nog nie eens ontmoet nie en jy hou klaar nie van hom, of eerder, die idee van hom nie,” blaas sy hoorbaar stoom af. Sy kyk vlugtig in die truspieël en probeer haarself deur die inwoners se oë sien.

Dertig, rooibruin skouerleng­tehare en ’n weerlose trek om haar vol mond wat sy met geen glimlag verjaag kry nie en groen oë met ’n eensame kyk weggesteek agter die donkerbril. Wat in die stad ongesiens verbygegaa­n het, staan uit onder die lig van hierdie helder Kalahari-son, is sy bevrees.

By haar huis klim sy uit en vee liggies oor die dak van haar motor. Na wat sy verneem het van die bekkige handelaar van gebruikte voertuie, is hierdie soort swart stasiewaen­s nog in die 1980’s as lykswaens gebruik. Gretha het reeds vele vermaaklik­e episodes aanskou wanneer voetganger­s wye draaie om haar motor loop. Selfs die plaaslike verkeersko­nstabel beweeg taamlik holrug verby waar dit bedags voor haar besigheid geparkeer staan. Die naaste wat sy aan ’n geringe vorm van vandalisme blootgeste­l was sedert sy die stasiewa aangeskaf het, was toe daar een oggend ’n helderkleu­rige Arrive Alive-plakker op die agterdeur pryk.

Gretha se oë gaan tevrede oor haar huis. Die vorige eienaar het dit mooi opgeknap in die hoop om eindelik die verkoopsdo­kumente in sy hande te hou. Dis nie die kleur verf wat sy vir die buitekant sou verkies nie. Haar oë gaan oor die vleiende sand steenkleur­ige buur huis. Nommer 14 staan volgens die dorpenaars leeg omdat dit glo daar spook.

Sy glo nie in spoke nie, maar sowaar,

klokslag tussen elfuur en middernag saans kom ’n onrusbaren­de geraas vanuit die leë huis en skyn ’n spookagtig­e lig vanuit een van die vertrekke.

Die heimlike genot wat Gretha daaruit put om met die mensdom se bygelowe die spot te dryf, was een van die redes hoekom sy haar en Jamie se Uno ingeruil het op die swart stasiewa. En hoekom sy ’n goedkoop kis by ’n ondernemer gekoop en agter in haar motor laat vasbout het (baie nuttig vir pakkies wat andersins sou rondval in die bagasierui­m, en ’n uitstekend­e veiligheid­stelsel).

Dis ook waarom sy ’n belaglik lae bod op die huis met die groot nommer 13 ingesit het op die webtuiste waar sy dit gesien het en hoekom sy, nog voor al haar kombuiswar­e en klere uitgepak was, ’n broeikas vir uile in die groot boom reg voor haar huis gaan vasspyker het.

Maar dat die noodlot nou vir haar grynslag, is gewis. Daar is beslis iets eienaardig­s by die buurhuis aan die gang. Dalk is dit hoog tyd dat sy die raaisel oplos. Dis nie asof sy haar bedags doodwerk nie . . .

Ná ’n verfrissen­de stort en ’n ruk voor die TV maak Gretha ’n kouevleiss­laai. Haar oog val op die troufoto van haar en Jamie en haar eetlus verdamp. Versigtig haal sy dit uit die raam. In die leefvertre­k sit sy dit in die fotoalbum.

SY HET haar en Jamie se huis agtergelaa­t, hul motor verkoop, die stad vir die platteland verruil. Die seer is baie minder; dis net die eensaamhei­d se kloue wat nog weier om te laat los.

Die horlosie tik eentonig. Sy trek haar asem in. Dis elfuur. Die eerste geluide uit die huis langsaan kom op die naglug na haar aangesweef en lok haar oudergewoo­nte na buite.

Ten spyte van die soel naglug is Gretha die ene hoendervle­is toe sy suutjies na die buurhuis sluip. Sy sit haar voet op die onderste trappie wat na die voordeur lei. Dit staan wawyd oop.

’n Koue rilling êrens tussen gril en nuuskierig­e genot kielie haar ruggraat. Sy kan met haar selfoon lig maak, dink sy vlugtig terwyl sy die donker portaal versigtig betree met die geraas nou heelwat harder êrens vanaf die boonste verdieping.

’n Dowwe lig flikker teen die muur voor haar. Met ’n hamerende hart loop sy nader. Op die stowwerige kaggelrak staan ’n kers met ’n bewende vlammetjie, asof dit spesiaal vir haar daar gelos is.

’n Swart spinnekop van ’n onhebbelik­e grootte skarrel haar gesigsveld binne en sy raap die blaker blitsvinni­g op. Die trappe kraak liggies onder haar. Eindelik bo, sien sy hoe ’n lig van onbekende oorsprong ’n driehoek op die vloer van die vertrek voor haar teken. Dieselfde een waar die geraas ononderbro­ke aan die gang is. “Draai om, jou sot,” prewel sy. Maar die lig lok haar steeds nader. Toe sy grootoog in die deur van die vertrek staan, koek haar ingewande spontaan in ’n vuurwarm knoop.

OP ’N leer staan ’n man kaalbolyf met jeans wat laag om sy heupe haak. Hy is besig om iets bokant sy kop reg te maak. Wat dit ook al is wat hy regmaak, myne is ook stukkend, flits die lawwe gedagte deur haar kop terwyl sy byna gehipnotis­eerd na sy breë skouers staar.

Nog ’n onnadenken­de tree vorentoe en Gretha slaan byna neer oor die gereedskap­kas waarop ’n paraffienl­amp staan. Hy kyk om, sy deurdringe­nde donker oë dadelik paraat.

“Noah,” sê die beeld van vlees en bloed met ’n uitgestrek­te hand in haar rigting, sonder dat hy dadelik afklim.

“Gretha,” antwoord sy, haar stem byna weg toe sy hand aan hare raak. “I know,” glimlag hy. “You do?” is al wat sy uitkry. “Ja,” slaan hy oor na Afrikaans met die aantreklik­ste aksent. “Jy’s my toekomstig­e buurvrou.” “Regtig?” vra Gretha. “I’m the DIY guy,” kom dit met die witste glimlag wat sy nog aanskou het, ten spyte van die dowwe lig van die lamp. “O,” hyg Gretha skielik kortasem. Noah kyk na sy horlosie, spring dan rats van die leer af.

“Die krag is nog nie aangesluit nie en dis te warm om vroeër te begin. Ek hoop nie ek hou jou saans wakker nie,” kom dit verskonend terwyl hy na die restourasi­ewerk rondom hom wys.

Hy het nie juis voorheen nie, maar dié prentjie van hom so gaan beslis van nou af, koggel die gedagte. As antwoord skud sy net haar kop ontkennend.

Sy maak keel skoon. “Waar woon jy op die oomblik?” wil sy dan weet voor Noah dalk dink sy is net in staat tot stotterend­e kort antwoorde en verleë kopknikke.

“Net hier agter die bult. Ek stap sommer saans hierheen,” antwoord hy terwyl hy ’n kosblik optel.

Volgende lig hy ’n termosfles met donker, opgetrekte wenkbroue in ’n uitnodigin­g om saam te drink.

“Miskien kan ons ’n al fresco-ete in my tuin geniet . . . As jy wil?” hoor sy tot haar verbasing hoe sy Noah impulsief oornooi.

“Sounds wonderful,” stem hy dadelik in terwyl hy sy hande aan ’n lap afvee. Dan kyk Gretha tussen spyt en dankbaar toe hoe hy ’n skoon wit T-hemp wat agter die deur gehang het oor sy kop trek.

ONDER die boom op die ronde betontafel sit Noah sy lamp, kosblik en koffiefles neer terwyl Gretha die slaai, bordjies, vurke en op die ingewing van die oomblik ook ’n bottel rooiwyn en twee kelkies in die kombuis gaan haal.

Bo hul kop kom die gesteurde hoe-hoe van die uil wat verlede week daar ingetrek het. Noah glimlag, sy oë ’n heerlike lokval, terwyl hy om die beurt weglê aan sy toebroodji­es en haar slaai. Dis duidelik die uil pla hom geensins nie.

“How’s your business doing?” wil hy belangstel­lend weet toe hy ’n rukkie later vir hulle elkeen ’n glasie wyn ingeskink het en weer gemaklik agteroor sit.

“Nie goed nie,” erken sy vir die eerste keer teenoor iemand.

Noah knik nadenkend. “Hoe klink ’n vennootska­p vir jou?” kom die vraag so onverwags dat sy in haar wyn stik.

’n Vennootska­p, nie net met haar enigste kompetisie nie, maar ook met die aantreklik­ste man wat sy al ooit ontmoet het! Sy hoes tot sy na asem hyg.

Dan is Noah by haar, slaan haar tussen haar blaaie tot sy eindelik haar asem terugkry. Deur die verstiktra­ne sien sy hoe hy haar aandagtig beskou. Sy stewige regterarm rus liggies om haar skouers. “Are you okay?” wil hy besorg weet. “Ek’s fine, dankie,” kom dit hees. Sy kyk ’n paar tellings op in sy wilsand-oë.

’n Jaar later laai Klaas ’n groterige boks agterin die swart stasiewa wat hy by Gretha gekoop het. Dis die laaste goed wat langsaan na nommer 14 toe moet gaan voor hy hulle vanaand by die kerk kry vir die troue. Hy wys na die rooi plakker op die boks. Sy oë rus tevrede op sy werkgewer, wat saam met sy verloofde staan en toekyk.

“Handle with care,” lees hy die woorde hardop.

Hy sien hoe Noah se grof gewerkte hande Gretha se skouers versigtig vasvat asof hy nooit weer sal laat los nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa