GULSIG AGTER BURGERS AAN
In ’n nuwe fliek word die verwoestende ambisie uitgebeeld van die man wat van McDonald’s ’n kitskosreus gemaak het
DIT is so Amerikaans soos Kerskalkoen: ’n doeltreffende eetplek waar Big Macs en Happy Meals teen die spoed van lig voorgesit word, kinders in sagte speelplekke baljaar en tieners met strooitjies in melkskommels kuier. Maar agter McDonald’s se geel boë lê ’n donkerder geskiedenis, ’n rykwordverhaal van ’n man wat op ’n meedoënlose wyse ’n enkele kitskosrestaurant omskep het in die wêreldwye maatskappy wat dit vandag is.
Dit is ’n verhaal van verpletterde hoop, verwoeste huwelike, meedoënlose ambisie en ’n goeie skeut patos. En nou word dit op die silwerdoek uitgebeeld.
In The Founder speel Michael Keaton die rol van Ray Kroc, die moedverlore gladdebekverkoopsman van Illinois wat die mat onder die oorspronklike McDonald-broers se voete uitgeruk het.
“Hoe bou ’n oor die muur 52-jarige verkoopsman van melkskommelmasjiene ’n kitskos-sakeryk met 1 600 restaurante en ’n jaarlikse inkomste van $700 miljoen (R9,45 biljoen)?” vra Ray in die lokprent vir die fliek. The Founder probeer dié vraag beantwoord – en dit is allesbehalwe ’n feëverhaal.
Kykers word na die 1950’s teruggevoer, waar Ray vrugteloos sy melkskommeltoestelle in Amerika probeer verkoop. Dan kom hy af op die innemende broers Maurice “Mac” en Richard “Dick” McDonald (vertolk deur John Carroll Lynch en Nick Offerman) se doeltreffende burgerrestaurant in San Bernardino, Kalifornië.
Die broers bestel agt melkskommelmasjiene om by hul ratse produksielyn te voeg, en toe Ray opdaag om dit af te lewer, is hy stomgeslaan deur hoe vinnig hulle kos berei en voorsit – “bestellings gereed in 30 sekondes; nie 30 minute nie”.
Ray sien dollartekens. “Daar behoort McDonald’s-restaurante oral te wees. Omskep die verdomde ding in ’n franchise,” sê hy aan die verblufte broers.
Die naïewe Mac en Dick vertrou Ray en hy bedink kort voor lank ’n manier om hom by die onderneming in te wurm.
Die broers word aanvanklik deur Ray se idealistiese denkwyse verlei, maar word uitgestoot toe die slinkse sakeman sy weg na groter winste en meer restau-
rante stoomroller. “Daar is ’n wolf in die skaapkraal en ons het hom ingelaat,” merk een van die broers later op.
RAY is vasbeslote om die handelsmerk te vestig en uit te brei, terwyl die broers nog altyd op vernuwing en ’n verbintenis tot gehalte gefokus het. Hul beskeie droom was om $1 miljoen te maak teen die tyd dat hulle 50 jaar oud is. Ray se droom? Om die wêreld te verower.
“Die sakewêreld is soos oorlog,” sê Ray. “Dit is ’n bedryf waar almal teen almal is. Ek wil die toekoms besit. Ek wil wen.”
En toe hy eers begin, is Ray onstuitbaar en genadeloos. Sy vrou, Ethel (vertolk deur Laura Dern), raak onthuts met die uiterstes waartoe hy sal gaan om sukses te behaal en sy huwelik stort ineen. Hy begin ’n verhouding met Joan Smith (Linda Cardellini), 26 jaar jonger as hy, vir wie sy ambisie bekoorlik is. Ray is in 1984 in die ouderdom van 81 oorlede.
Sy lewe klink boeiend, of hoe? Maar die fliek is nie sonder omstredenheid nie. Kritici meen dit verheerlik ongebreidelde kapitalisme en die verbruikersbedryf. Een het gekla dit is ’n illustrasie van hoe korporatiewe waardes hul weg tot in die hoofstroommedia ingewurm het – opgedis as vermaak.
“Wat merkwaardig is van The Founder, is dat dit ons vra om empatie met Kroc te betoon, iets wat vir my onmoontlik is omdat Kroc ’n amorele kansvatter was. Daar is geen ‘middelpuntkrisis’, geen onthulling dat hy ’n keuse moes maak tussen sy integriteit behou of verloor nie. Ons moet net sy opgang aanskou en sy durf prys.”
DIT is nie die eerste keer dat ’n fl iek oor McDonald’s gemaak is nie. Morgan Spurlock se dokumentêre rolprent Super Size Me (2004) het die onaangename kant van Amerika se onversadigbare lus vir Big Macs gewys. Hy het 30 dae niks anders as McDonald’s geëet nie en het elke item op hul spyskaart minstens een keer probeer.
Die drastiese gevolge wat wegneemkos drie keer per dag op sy fisieke en sielkundige welstand gehad het, word in die rol- prent saamgevat. Morgan (toe 32) het meer as 11 kg aangesit – ’n toename van 13 persent in sy liggaamsmassa. Sy cholesterolvlak het kommerwekkend hoog gestyg en hy het gemoedskommelings, seksuele wanfunksie en vetopeenhoping in sy lewer opgedoen. Dit het hom 14 maande gekos om die ekstra gewig af te skud.
Die dokumentêr was ’n verdoemende aanklag teen die kitskosbedryf.
In teenstelling hiermee word al die McDonald’s- klante in The Founder uitgebeeld as in die wolke oor hul hamburgers en skyfies. Die gehoor se aanvanklike simpatie met Ray maak wel later plek vir afkeer namate sy gierigheid die lewe van diegene vernietig wat in sy pad staan.
Michael is ’n uitstekende keuse vir die rol omdat dit aan die begin maklik is om van hom te hou. Wie hou nie van ’n vertrapte held nie? Maar dan word dit ewe maklik om hom te verafsku toe hy die McDonald-broers vertrap.
Of jy van hom hou of nie, ’n mens kan oor een ding dankbaar wees, merk ’n resensent droog op: Ten minste het hy die van McDonald beroemd gemaak en nie sy eie nie.
“Anders sou die planeet vol kinders gewees het wat op ’n Kroc aandring.”