Coligny-inwoners vat hande ná geweld
Die donker wolk oor Coligny ná die dood van ’n seun maak die mense bang en kwaad, maar laat hulle ook hande vat
DIE sonneblomme wat eens die wêreld om Coligny in Noordwes goud geverf het, staan nou gebukkend met hul gesig na onder, ’n dorre bruin, so amper asof hulle treur. Treur vir ’n kind wat dood is. Vir ’n arm dorp, nou platgeslaan en middeldeur geskeur. Vir huise wat in puin staan.
Een van daardie huise het behoort aan Diana Swart (45), ’n vrou wie se hart en hand oop was vir die mense van die dorp wat minder in die lewe het as sy.
Ons stap deur die skelet van roet en gesmelte glas waar Diana eens gewoon het – die tragiese nadraai van die dood van ’n 16-jarige seun wat dalk van ’n bewegende bakkie na sy dood gespring het, of dalk afgestamp is deur boere wat hom in ’n sonneblomland betrap het, na gelang van wie jy glo.
Hoe ook al: Die naskoolsentrum wat Diana hier bedryf het en waar talle kinders van die Tlhabologang-nedersetting smiddae ’n heenkome gevind het, is nou net as.
Die truie van die oorwegend swart sewesrugbyspan wat sy afgerig het, het saam met die huis in vlamme opgegaan.
Haar kleinseun, Pikkie (3), sal nie weer hier by sy ouma met haar diere kom speel nie. Diana se oudste worshondjie het doodgebrand. Ook die budgies, met hul kuikens. En die hase.
In haar ruim huis aan die buitewyke van Coligny was Diana nooit bang nie. “Ek sou baie aande buite onder die boom sit,” vertel sy.
Maar op 23 April het sowat 50 betogers haar huis aan die brand kom steek. “Ek het alles verloor,” sê sy. Haar stem kraak. “Ek is hier weg met die klere aan my lyf.”
Toe ons by die erf opdaag, spring twee seuns met skrootmetaal oor die draadheining en laat spaander.
“Kyk daar! Ek het niks, maar steeds word by my gesteel,” skree Diana.
Pikkie hou sy ouma se hand vas terwyl hulle tussen die puin deurstap. “Dit was nog altyd vir Pikkie ’n plek om te ontsnap,” vertel sy. “Hier was baie liefde in hierdie huis en nou is dit alles weg.”
Sy bly nou by haar seun in ’n tuinwoonstel op die dorp.
In die 35 jaar dat sy op Coligny woon, het sy nog altyd ’n verskil probeer maak. Veral ook vir die kinders van Tlhabologang.
“My huis was altyd oop vir hulle. As dinge sleg gegaan het by hul ouerhuis, het ek gesorg dat hulle kos het en hulle kon hier speel so lank as wat hulle wou.”
Sy het ook geld ingesamel om te sorg vir meisies wat nie matriekafskeidsrokke kon bekostig nie.
“Ek sou seker maak hulle lyk mooi vir daardie spesiale dag in hul lewe.”
Sy bestuur ook reeds drie jaar die o. 21-sewesrugbyspan. “Ons is meer getransformeer as die Springbokke,” sê sy. “Amper 80 persent van die span is swart.”
En een van die spelers is haar “lieflingskind”, Lesego Mosiatlhaga (19). “Maar ons almal noem hom Habana omdat hy so vinnig kan hardloop,” sê sy.
Sy gaan stel ons voor by die gim, waar hy vir die eerste keer sedert die betogings weer kan oefen. “Die optogte het my oefenroetine beïnvloed, want die gim is toe wanneer so iets aan die gang is,” sê hy. “Ons kan ook nie rugby oefen nie, want al die skole en sportvelde is toe.”
Die blitsige Lesego kan die 100 m in 11.1 sek. hardloop. “Ek sal glad nie omgee om eendag vir die Springbokke se sewesspan te speel nie,” sê hy glimlaggend.
Diana vertel: “Ons het Rustenburg se span getrap. Daar is beslis baie talent in ons ou spannetjie.”
Haar span is haar trots. “Ons het drie jaar ná mekaar die liga gewen,” spog sy. “Hulle is die rede hoekom ek Coligny nooit sal verlaat nie.”
DIE donker wolk wat hier kom saampak het ná die dood van die 16-jarige Matlhomola Mosweu op 20 April het wit én swart se lewe op hierdie eens vreedsame en vredeliewende dorpie omver kom gooi.
Dit het alles begin toe twee boere die seun glo betrap het dat hy sonneblomsaad steel.
Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) sê hulle het hom met hul bakkie polisie toe aangery, maar toe spring hy af en breek sy nek. Maar mense van die nedersetting vertel ’n ander storie, want daar is glo ’n ooggetuie wat ’n aanranding gesien het. ’n Moordklag staar nou die boere in die gesig.
Wat daarna gebeur het, staan reeds op donker blaaie in die Suid-Afrikaanse geskiedenisboek geskryf. Die seun se dood was die vonk in die kruitvat vir drie weke se geweldsoptogte waartydens winkels geplunder en vier huise afgebrand is.
Met ons besoek staan die winkels verlate met gebreekte vensters. By sommige word gekap en geboor om die skade te herstel.
By die Shalala-meubelwinkel is alles gesluit. ’n Nuwe paalheining beskerm die paar meubelstukke wat nog oor is nadat dié winkel geplunder is.
Buite vee drie munisipale werkers glasstukke uit die pad so asof hulle die verrinneweerde beeld van die dorp met hul besem wil beter poets.
“Hierdie ding is nog nie verby nie,” sê ’n boer wat anoniem wil bly. “Die dorp staan op ’n naaldpunt.”
Die mense op die dorp is bang en kwaad. ’n Boer groet van die dorpenaars in Tswana. “Ek verstaan die mense se frustrasie en woede,” sê hy, “maar dit is vir my ’ n skande dat ons dorpie, wat reeds swaarkry, so moet ly. Ek weet nie hoeveel houe die dorp nog kan vat nie.”
By die slagpale op die dorp is die werkers op hul pos. Van vieruur die oggend moet daar geslag en die vleis verpak word. “Ons is bang om in die oggend te kom werk,” vertel ’n werknemer wat anoniem wil bly. Hy werk al 11 jaar hier.
“Ek is al ’n paar keer geslaan wanneer die betogers sien ek gaan werk toe; dan vra hulle vir my hoekom ek vir die wit mense wil gaan werk, maar nie omgee oor die kind wat dood is nie.
“Ek gee om. Dit is erg dat ’n jong seun dood is, maar ek moet kos op die tafel sit vir my kinders.”
In die Coligny-hotel heers ’n gemoedelike atmosfeer. Vier swart vroue van die dorp het ná werk hier ’ n lafenis kom soek. Hulle lag en skerts in Tswana.
“Ons ken Coligny nie so nie,” sê een. “Ek bly my hele lewe al hier en dit is die eerste keer dat ons met sulke geweld te doen kry.”
Die kroegman, wat net as William bekend wil staan, is nog net twee maande op Coligny nadat hy van Pretoria verhuis het.
“Ek het gekom omdat hier ’ n beter werk vir my is,” sê hy, “maar soos dinge nou gaan, weet ek nie of ek die regte besluit geneem het nie.”
In die NG kerk het 14 inwoners kom hande vat om vir hul dorp te bid. Santie Fourie het die bidgroep gereël. Die grootte van die groep stel haar teleur. Tog sê sy: “Hier is min mense, maar ek is seker die Here sal na ons gebede luister.”
Gert du Toit vertel hoe die optogte hul lewe geraak het.
“Hier sou ’n groot byeenkoms gewees het om geld in te samel vir die hoërskool. Dit sou ’n stoeikompetisie gewees het, WrestleMania, maar ons moes dit uitstel. As dit ooit gebeur, want wie sal nou ooit weer na ons dorp wil kom?”
Santie sê hulle word nou as ’n klein regse dorpie afgemaak. “Maar dit is nie waar nie. Net omdat ons arm is, beteken dit nie ons beweeg nie saam met Suid-Afrika nie.”
Die inwoners vat hande saam op die gras terwyl die oranje gloed van die straatligte die houtkruise voor die kerk verlig.
“Here, seën asseblief hierdie dorp se ingange,” begin Santie. “Verdryf die bose. Help die mense wat met klippe in hul hart rondloop. Maak ons dorp weer heel.”