Huisgenoot

Gestremdhe­id kry ma, kroos nie onder

Hul gestremdhe­id kry nie dié ma en kinders onder nie, en ná ousus se merkwaardi­ge sukses wil kleinsus haar navolg

- Deur HILDA VAN DYK Foto’s: ROWYN LOMBARD

DIE twee Swanepoel-sussies staan langs mekaar, reg om te hardloop. Lara (7) trek weg. Elke tree is moeilik. Veral op haar voetjies wat so na buite optrek. Toe Lara so drie treë weg is, begin Mia (8). Sy is dadelik op spoed. Met haar lang, reguit bene gaan sy haar sussie met gemak verby.

Albei lag. Want wat hier gebeur, is eintlik ’n wonderwerk. Toe albei nog babas was, het dokters voorspel nie een van hulle sal op hul eie kan loop nie. Maar Mia het van kleins af net een wens gehad. “Ek wil hardloop, Mamma,” sou sy keer op keer vir haar ma, Mandie, sê.

Mia het twee jaar gelede op haar eie begin loop. Voor dit het sy met ’n loopraam oor die weg gekom, maar ná ’n groot operasie twee jaar gelede het sy met krukke begin loop. Aan die begin van verlede jaar het sy met tye selfs die krukke eenkant gesit en op haar eie geloop. “Sy voel sy stap vinniger sonder die krukke en gebruik dit net as sy ver afstande moet loop,” sê Mandie.

Dit is veral wanneer sy hier in die tuin van haar ouerhuis in Sinoville, Pretoria, saam met Lara en hul boetie, Henog (5), speel dat sy dit nie gebruik nie.

Mia, Lara, Henog en Mandie ly almal aan spastiese paraplegie (sien die kassie regs). Mia loop met krukke, maar Lara en Henog gebruik ’n loopraam.

Lara se wens is om soos Mia te kan loop. In Januarie vanjaar het sy die eerste tree sonder enige hulpmiddel­s gegee. Dit gaan nog sukkel-sukkel, maar wanneer sy op dreef is, kan sy ’n rukkie loop. Andersins moet sy óf iemand se hand vashou óf haar loopraam gebruik.

Lara het ekstra probleme omdat sy met ’n breingewas gebore is. Sy was net ’n paar weke oud toe die gewas verwyder is, maar dit het gemaak dat van haar ander spiere swak is en nie ten volle ontwikkel het nie. Haar voetjies was ingedraai, Mia s’n nie; daarom het Lara ekstra operasies nodig.

Mandie (34) gebruik ’n spesiale ryding vir gestremdes. Toe sy jonk was, het sy haarself leer loop. Nou kan sy weens haar rug en knieë wat aan die ingee is glad nie meer op haar eie loop nie.

Kuier jy by dié ma en haar drie bondels liefde, word heeltyd gelag en gespeel. Net af en toe kry Mandie ’n traan in die oog terwyl sy oor haar kinders praat. “Toe die toestand by hulle gediagnose­er is, het ek myself die skuld gegee; dit kom van my af. Ek weet ’n mens moenie so dink nie, maar ek wens ek kon meer doen om dit vir hulle makliker te maak. Mense dink nie dit is so erg nie, want hulle doen alles. Hulle besef nie hoeveel inspanning dit van die kinders verg om te loop nie,” sê sy. (Loop? Nee, ons hol!, 4 Julie 2013)

MANDIE het op twee jaar nog nie geloop nie. Ná ’n verskeiden­heid toetse het dokters vir haar ouers gesê sy is serebraal gestrem. “Volgens die mediese boeke sou ek moes doek dra, ek sou vir die res van my lewe in ’n rolstoel wees, ek sou nooit beheer oor my blaas hê nie en my baarmoeder en alles sou nie werk nie,” sê Mandie.

Maar dié verdoemend­e diagnose het haar nie van stryk gebring nie en sy het as kind haarself leer loop deur haar bene te swaai. “Die dokters het toe vir my ouers gesê ek loop omdat ek wil loop, nie omdat dit medies moontlik is nie.”

Sy het ook met hulp geloop en is op krukke deur laer- en hoërskool. Op universite­it, waar sy onderwys studeer het, het haar ouers vir haar ’n driewielka­rretjie gekoop.

Twee jaar nadat sy en Jansie Swanepoel (38) getroud is, het Mia haar opwagting gemaak. Toe die paartjie mekaar ontmoet, het Mandie nog meestal met krukke oor die weg gekom. Sy het die karretjie net soms gebruik, soos wanneer hulle winkel toe gegaan het. Nou is sy afhanklik van die ryding.

Hoe het sy swanger geraak? “Ek weet nie. Dit was seker ’n wonderwerk,” sê sy.

“Op 16 maande het Mia steeds nie geloop nie. Ons is met haar na dieselfde ortopeed wat my behandel het. Ná verskeie toetse is spastiese paraplegie by haar gediagnose­er. Dit was nie iets wat ek wou hoor nie.”

In daardie stadium was Mandie ver swanger met Lara. Toe Lara as baba ook nie haar mylpale behaal nie, is spastiese paraplegie ook by haar gediagnose­er.

Mandie en Jansie het dieselfde slegte nuus gekry met Henog.

“Ons probleme is net in die onderlyf; in die bene. Die kinders is hiperintel­ligent. Die res van die lyf is normaal. Mia en Henog is ook baie sterk in hul bolyf,” vertel Mandie.

Haar gestremdhe­id het haar nooit ondergekry nie. Wanneer sy byvoorbeel­d haar klein kinders gedra het, het sy met die een hand teen die muur en ’n kind onder die ander arm gestap.

Sy bestuur self ’n motor wat Jansie, ’n tegniese bestuurder by ’n maatskappy wat fasiliteit­sbestuur doen, vir haar omgebou het.

Mandie gee elke dag klas by ’n privaat skool in Pretoria en smiddae gaan haal sy haar kinders self.

Net soos sy geleer het om alles self te kan doen, leer sy ook haar kinders om op hul eie oor die weg te kom.

“Ek het hulle van kleins af geleer om alles self te probeer doen, want daar gaan nie altyd iemand wees om hulle te help nie,” sê Mandie.

Mia het haar ma se vasberaden­heid en wou van die begin af volmaak loop. Nou “draf ” sy elke middag van hul huis tot by die straathoek, sowat 200 m ver.

Voor die operasie het Lara nie omgegee hoe sy loop nie, net solank sy kon beweeg. Maar toe Mia begin loop, wou sy nes haar suster loop. Soggens is nog ’n gesukkel.

“Nadat ons geslaap het, is ons bene stokstyf. Jy kan dit nie sommer net buig nie,” vertel Mandie.

Met baie geduld buig hulle hul bene met hul hande en loop aanvanklik maar erg stywebeen. Ná ’n halfuur of wat begin die bene losser raak en word die seer minder. Dan is dit in die motor en word die kroos by die Laerskool Die Poort, ’n gewone laerskool, afgelaai voor Mandie werk toe gaan.

ELKE jaar is minstens een van die kinders in die hospitaal vir ’n groot operasie. Daar is óf ’n liesspier wat langer gemaak moet word óf die sening aan die agterdyspi­ere wat verleng moet word. Die kinders moet ook skroewe in hul voete kry.

Lara is die volgende een wat ’n operasie moet ondergaan. Verlede jaar is haar onderbeenp­ype gebreek om haar voete reguit te maak omdat dit binnetoe gedraai was. Nou moet prosteses van R23 000 in haar voete ingeplant word, maar die gesin se mediese fonds dek nie dié koste nie en hulle het nie die geld daarvoor nie. As Lara nie gou genoeg die operasie ondergaan nie, gaan haar voete ál meer na buite optrek en sal sy later glad nie kan loop nie.

Tot tyd en wyl pak die drie Swanepoelt­jies elke dag aan asof hulle onafhankli­k kan loop, nes hul maats. Hulle hardloop rond, loopraam en al. Hulle spring op die trampolien. En Henog kan al ’n goeie hou met ’n gholfstok slaan.

By die skool het Lara en Mia selfs aan atletiek deelgeneem. Die gr. 1’s het elke jaar ’ n wedloop waaraan almal deelneem. Met hul looprame het die sussies saamgehard­loop en laaste gekom, “maar hulle het dit gedoen”, sê Mandie.

“Hulle gaan aan asof hulle gewone kinders is. Volgens die dokter is daar verskillen­de grade van die probleem. Ek het dit baie erg, maar die dokter reken die kinders gaan óf met krukke oor die weg kom óf baie naby daaraan kom om normaal te loop. Maar om normaal te loop, sal hulle nog ’n klomp operasies moet ondergaan,” sê sy.

 ??  ?? HOOFFOTO: In die Swanepoelh­uishouding kom Mandie en haar drie kinders, Mia (links), Henog en Lara, almal met ’n hulpmiddel oor die weg.
HOOFFOTO: In die Swanepoelh­uishouding kom Mandie en haar drie kinders, Mia (links), Henog en Lara, almal met ’n hulpmiddel oor die weg.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Henog speel ’n bietjie gholf. Sy loopraam is naby vir wanneer hy die bal moet gaan haal. LINKS: Mia help haar ma om ’n bak bo van die kas af te haal.
BO: Henog speel ’n bietjie gholf. Sy loopraam is naby vir wanneer hy die bal moet gaan haal. LINKS: Mia help haar ma om ’n bak bo van die kas af te haal.
 ??  ?? Pa Jansie (middel) is geduldig met haar en hul kinders, vertel Mandie. Langs Jansie sit Lara (links) en Mia. Henog sit by sy ma.
Pa Jansie (middel) is geduldig met haar en hul kinders, vertel Mandie. Langs Jansie sit Lara (links) en Mia. Henog sit by sy ma.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa