’n Wrak – en daar lê ons seun!
Vriende van gesinslede wat ná ’n sportdag verongeluk het, vertel van die verskrikking toe hulle op die wrak afkom waarin hul seun saam met sy boesemvriend was
DIE gesinne sou die aand saam braai. ’n Gesellige kuier aan die einde van ’n opwindende dag. Die Saterdagoggend het hulle nog saam-saam op Letsitele na hul kinders se skolesport gekyk. En ná die byeenkoms is hulle na ’n restaurant vir soesji, ’n gunstelingbederf wat nie op die twee egpare se tuisdorp, Phalaborwa, te kry is nie.
Maar die braai het nooit plaasgevind nie. Want kort nadat hulle die restaurant omstreeks 15:30 verlaat het en net ure voor Frank en Celesté Streicher (albei 40) saam met hul vriende Cornel Oberholzer (42) en sy vrou, Anél (31), om ’n knetterende vuurtjie sou lag en waarskynlik gesels oor hul sesjariges se eerste bulletjierugbywedstryd, het die Streichers se Prado reg van voor teen ’n vragmotor gebots (Weg, my vriend, en wat van klein Lua?, 18 Mei).
Hulle is op slag dood en hul sesjarige seun, Franko, het kort ná die ongeluk gesterf. Ook Lenisè Janse van Vuuren (19), ’n leerlingonderwyseres wat saam met hulle gery het, het omgekom. Janco (6), die Oberholzers se seun, was ’n passasier en is ernstig beseer. Lua (8), die Streichers se oudste kind, was nie in die motor nie; sy het saam met vriende gery.
Kort voor hulle by die sportbyeenkoms weg is, het Franko en Janco nog hand aan hand na ’n opblaasglybaan op die terrein gestap en ’n paar keer afgegly. “Hulle was baie erg oor mekaar,” sê Cornel oor die boesemvriende.
Omdat die Oberholzers se motor ver geparkeer was en die Streichers op die terrein stilgehou het, het Janco en sy driejarige sussie, Liané, saam met die Streichers na die restaurant gery. In die eetplek het hulle vreeslik lekker gelag. “Frank het op sy arms gelê soos hy lag,” sê Cornel.
Ná middagete wou Janco weer saam met Franko ry. Agterin die Streichers se Prado is ’n bed gemaak vir die twee seuns. Eers was Liané saam met die seuns agterin. Die deur was reeds toegeklap toe sy egter met haar vingertjie
teen die venster tik. “Mamma, ek wil saam met jou ry,” het sy beduie.
Hulle het die deur oopgemaak en Liané het uitgeklim. Met die wegry het die twee seuns nog uitbundig hul duime in die lug gehou. Die Oberholzers is sowat vyf minute later daar weg.
Die voertuig waarin Lua was, was ’n paar kilometer agter hulle nadat die vriende saam met wie sy gery het eers op Gravelotte, sowat 60 km buite Phalaborwa, stilgehou het om brandstof in te gooi. En toe hulle ’n ruk ná die Oberholzers op die ongelukstoneel aankom, het Lua bly sit in die bakkie, ’n hele ent van die toneel af.
Sowat 30 km buite Phalaborwa, net ná ’n draai, het Cornel en Anél die ongelukstoneel van ver af gesien. Hulle het nie dadelik besef dit is hul vriende se motor nie. “Ek het die trok gesien en ek het gesien daar is ’n kar onder die trok – en die kar was plat,” vertel Cornel.
Nader aan die toneel het hy die woorde op die seil rondom die spaarwiel gelees: Frank Streicher Fisioterapeut. “Dis Frank se kar! Dis Frank se kar en ons kind is daarin!” het Cornel gegil.
Toe sien Anél hul seun, Janco, se blonde haartjies tussen die gras, sowat 30 m van die wrak teenaan ’n draad.
Terwyl hy oor en oor sy seun se naam geskree het, het Cornel reguit na hom gehardloop. “In die hardloop het ek gedink my kind is weg. Sy kop was van oor tot oor oopgesny. Sy kopvel het oor sy voorkop gehang en sy kop was tot op sy skedel oop. Bloed het by sy mond uitgeloop en aan sy regterarm se onnatuurlike posisie was dit duidelik dis gebreek.”
Janco is met ’n oop kopwond, swelling op die brein, ’n gebreekte arm en ’n groot wond aan sy knie in die hospitaal opgeneem. Sy voortande is uit en hy het skraapmerke aan sy lyf. Hy is intussen ontslaan en volgens sy ouers gaan dit baie beter met hom vandat hy by die huis is.
Hy gesels al ’n bietjie, maar kan nie die ongeluk onthou nie. Sy ouers het net vir hom gesê hy was in ’n ongeluk; dis hoekom hy seer het. Hy weet nog nie van die mense wat dood is nie, maar sy pa sê as hy vra, sal hulle hom vertel. “Ons sal almal sielkundige berading moet kry, ook Janco,” sê Cornel oor die trauma wat hulle beleef het.
Die bestuurder van die motor waarin Lua was, is met hul aankoms dadelik na die wrak, waar hy Franko, wat nog geleef het, uit die voertuig gehaal het. Hy het mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering toegepas, maar vergeefs.
SEDERT haar gesin se tragiese dood trek Lua se naaste familie laer om haar. “Ek is flenters; dis onwerklik,” het Frank se ma, Herna Streicher, by wie Lua nou woon, enkele dae ná die ongeluk gesê.
Die Streicher- familie – Frank, sy broers en hul ma, Herna – was baie geheg aan mekaar, sê Anél. Almal het op Phalaborwa gewoon. “Hulle sal mooi na Lua kyk.” Cornel beaam sy vrou se woorde: “Lua is orraait; sy het ’n ongelooflike steunnetwerk.”
En te midde van die groot tragedie is klein Lua merkwaardig sterk. Sy is terug by die skool.
Juanita van der Sandt, haar klasjuffrou aan die Laerskool Phalaborwa, sê sy het ná die ongeluk gewonder wat van Lua se laggie gaan word, maar dit gaan goed met haar.
’n Ander onderwyseres, Marietjie van Heerden, beskryf Lua as ’n slim meisie wat alles ontleed. Sy sê Lua is ’n kind met ’n sterk persoonlikheid en leierseienskappe.
Linda van der Merwe, ’n jare lange vriendin van Frank en Celesté, beskryf hulle as ouers wat net die beste vir hul kinders wou hê en terselfdertyd baie objektief was.
“Frank kon baie praat, maar jy het hom nooit iets slegs van iemand hoor sê nie. Hulle was positiewe mense. Hulle het in 40 jaar meer geleef as wat baie mense in 90 jaar leef,” vertel Pieter Burger, die skoolhoof. “Celesté het begin vanjaar as gr. 2-onderwyseres aan die Laerskool Phalaborwa begin skoolhou. Kinders was haar passie.”
Inge Koch, wat saam met Celesté die o.10-netbalspan afgerig het, onthou hoe Lua onlangs kort voor ’n wedstryd na Celesté aangehardloop gekom en gesê het: “Mamma, Mamma, my horlosie!” Spelers mag nie met hul horlosies aan speel nie. En hoe Celesté op haar gemaklike manier gesê het: “Maar haal hom af.”
En by die heel laaste wedstryd, op die dag van die ongeluk, het Celesté Inge opgewonde vasgegryp en gesê: “Kyk net hoe speel hulle!”
Mense wat voluit geleef het. Dis hoe almal hulle sal onthou. En dit sal waarskynlik Lua se troos en herinnering word noudat sy haar lewe sonder haar ouers en boetie moet aanpak.