PLANTBURGER: MMM, PURE VLEIS!
Slagdiere is die grootste oorsaak van kweekhuisgasse. Vandaar Bill Gates en Google se jongste groot idee: ’n vleislose burger wat in ’n laboratorium gemaak word, maar wat kan bloei en sis
TOT siens, biefburger? ’ n Burger wat van proteïen en sintetiese bloed gemaak word pleks van vleis word tans in byderwetse restaurante voorgesit. Die nuwe Impossible-burger proe glo nes ’n vleisburger, maar is goedkoper en minder besoedelend. ETS is vreemd aan die vervoerwa vol burgers. Dit parkeer net buite winkels met bouvoorraad, en daar is g’n teken aan wie dit behoort nie.
Dit moes vrae laat ontstaan het, maar toe gratis burgers uitgedeel is aan bouwerkers wat gereedskap en materiaal kom oplaai, het niemand vrae gestel nie.
Die burgerwa was heimlik besig met navorsing vir Impossible Foods, ’n bioingenieursmaatskappy in Silicon Valley. En die burgers was nie van beesvleis gemaak nie; dis vervaardig van proteïen en sintetiese bloed afkomstig van plante.
Die “geheime” vervoerwa het g’n naam op gehad nie, want die maatskappy wou nie verklap wie agter die projek is wat die wêreld se vleisbedryf van R20,3 triljoen kan deurmekaarkrap nie. Heelwat was dus op die spel vir Bill Gates, medestigter van Microsoft, Larry Page van Google en Li Ka-shing, ’n Hongkongse biljoenêr.
Voor hulle oop kaarte speel, wou die maatskappy die produk op geharde vleiseters toets, en meer gehard as ysterwerkers, pyplêers en sweisers kry jy nie. Vandaar die ligging van die vervoerwa in Amerikaanse stede. As hierdie mense oorreed kon word om op te hou vleis eet, kan miljoene ander ook.
Dit het gewerk: Die werkers het geglo die sappige burgers is van beesvleis gemaak. Party het volgehou hulle kan proe dit kom van beeste wat gras gevoer word.
Soos met ander waagstukke in Silicon Valley was die idee daarop gegrond om die middelman, in dié geval die middelbees, uit te skakel. Hoekom diere gebruik om plantaardige proteïen in vleis te omskep as dit goedkoper in ’n laboratorium gedoen kan word en op maniere wat beter is vir diere en die planeet?
Vee het baie grond en water nodig en stel baie kweekhuisgasse vry. Kan Impossible Foods vir vleis doen wat Amazon vir boekverkope en Apple vir musiek gedoen het deur ’n plaasvervanger te maak
wat goedkoper, en in hierdie geval, ook minder besoedelend is?
Vir Bill, wat die bestuur van Microsoft laat vaar het om wêreldwye probleme te takel, is die kommersiële en omgewingsvoordele vanselfsprekend. Namate miljoene mense in die ontwikkelende wêreld by die middelklas aansluit, sal die vraag na vleis eindelik onvolhoubare vlakke bereik. “Hoe ryker die wêreld word, hoe meer vleis eet dit. En hoe meer vleis geeet word, hoe groter is die bedreiging vir die planeet,” sê Bill. “Die uitkap van woude vir nog landbougrond dra by tot klimaatsverandering; so ook die kweekhuisgasse wat al daardie diere vervaardig.”
Die burger word al by 11 restaurante in Los Angeles, San Francisco en New York met belowende resultate verkoop. By Crossroads Kitchen, ’n byderwetse plek in Los Angeles wat van die kieskeurigste eters lok, is die nuwerwetse burger al onder andere vir Paul McCartney, ’n kampvegter vir vegetarisme, en Mick Jagger voorgesit. Albei was glo beïndruk.
Impossible Foods het met ongeveer R2,7 biljoen se waagkapitaal begin werk aan ’n nuwe aanleg in Oakland, Kalifornië. Daar wil hulle elke maand genoeg vleis vir 4 miljoen burgers vervaardig uit industriële hoeveelhede bloed wat gemaak is van “haem” oftewel “hematien”, ’n sleutelmolekuul in hemoglobien. Sonder om ’n enkele dier te slag. Pleks daarvan word die bloed deur geneties gemanipuleerde gis vervaardig. Van die burgers sal binnekort na ander dele van die wêreld uitgevoer word.
Omdat hulle die middelbees uitsny, meen die maatskappy die massavervaardiging van hul burgers sal goedkoper wees as die ware Jakob. Glad nie sleg vir ’n maatskappy wat met ’n terloopse opmerking begin het nie.
BAIE mense stel hulle Silicon Valley voor as ’n plek waar rekenaarbleeksiele wat van bier en pizza leef in slaapkamers of motorhuise uitvindsels bedink. Dis dus verfrissend dat Patrick “Doc” Brown eerder na ’n eksentrieke uitvinder lyk. Sy vorige bos grys hare het al vergelykings met sy naamgenoot van Back to the Future ontlok.
Ons ontmoet mekaar by sy laboratorium in Redwood City naby Palo Alto. Hy was twee dekades ’n dosent in biochemie aan die Universiteit van Stanford met ’n belangstelling in veeboerdery en die probleme daarmee. Toe, in 2009, kry hy ’n blink idee. Hy was 54 jaar oud.
“’n Vriend het vir my gesê as jy ’n burger kan maak wat McDonald’s pleks van ’n beesburger sou voorsit, sal dit die vinnigste manier wees om die probleem op te los. Dit was ’n terloopse opmerking, maar ek het besef dis in die kol. En met my wetenskaplike agtergrond het ek geweet dis heeltemal uitvoerbaar.
“Tot my verbasing het ek uitgevind niemand beskou dit as ’n oplosbare probleem nie. Ek dink mense het net gevoel ons het ’n ongelooflik verwoestende stelsel en dit gaan nie verdwyn nie. Hulle het gedink: ‘Dis ’n jammerte, maar nou ja.’ ”
Patrick sê die eerste fase van sy plan was so eenvoudig, dit het aan naïwiteit gegrens. “Om my idee te toets, het ek op ’n heuwel agter my huis begin klawerplante opgrawe. Dit was regtig so absurd soos dit klink. Klawerplante se wortels bevat baie proteïen wat feitlik identies is aan die hematienproteïen in spierweefsel. Ek het dit met ’n skeermeslem uitgesny en versap om te sien wat ek daaruit kon haal. In ’n stadium het ek genoeg data gehad, al was dit nie veel nie, om met waagkapitaalmaatskappye te gaan praat. Daar is belaglik baie van hulle in Silicon Valley. Ek het by hulle geld gevra.”
Met verkooppraatjies wat hy sê agterna beskou nie verdien het om te slaag nie, het hy R122 miljoen ingesamel. “Ek het met drie maatskappye gepraat. Ek het by elk die idee verkoop soos ’n wetenskaplike sonder enige sake-ervaring dit sou doen, maar hulle was almal gou bereid om daarin te belê.”
Ná laboratoriumproewe het die beleggers vinnig saamgespeel, onder wie Bill en Google. Patrick was skielik uitvoerende hoof van ’n maatskappy van R2,7 biljoen. Hy het sedertdien ’n uitkoopaanbod van R4 miljoen van die hand gewys.
Party het volgehou hulle kan proe dit kom van beeste wat gras gevoer is
(Van vorige bladsy)
Afgesien van ’n haarsny het sy leefstyl nie verander nie. Hy ry met ’n Nissan en woon in dieselfde beskeie woonstel op Stanford se universiteitskampus, naby sy laboratorium. Hy het wel nou 140 personeellede, onder wie 80 gretige, jong wetenskaplikes.
Rachel Konrad het van Tesla gekom om Impossible Foods te help bestuur (dit word so genoem omdat hulle so ’n groot uitdaging aanpak). “Ek het agt jaar elektriese motors aan mense verkoop sodat hulle hul koolstofvoetspoor kon verminder. Tog is die maklikste ding wat jy kan doen (om die voetspoor te verminder) om anders te eet. Ek het besef die kweekhuisgasse van die vleisbedryf verdwerg al die koolstofdioksied wat motors vrystel, trouens meer as alle vervoermiddels – voertuie, vliegtuie, skepe – saam.”
Chris Davis, ’n Brits gebore biotegnoloog wat aan Oxford studeer het, is die maatskappy se hoofwetenskaplike. Dis sy werk om ’n burger te ontwerp met dieselfde smaak, tekstuur en aroma as die weergawe wat van diere kom. Hy werk ook in sy laboratorium aan die “gesis” (die reaksie wanneer dit gaargemaak word) en die nasmaak wat deurslaggewend is vir vleiseters se bevrediging.
Vleismonsters word deur ’n massaspektrometer gevoer sodat dit “agteruit gemanipuleer” kan word. Kenners van die geur en smaak van kos help identifiseer wat die aroma en smaak kenmerkend maak. Daar was ’n paar verrassings; naas “botteragtig” en “aangebrand” was daar beskrywings soos “muishond” en “stink babadoek”.
Daarna word die smaak en tekstuur – en omdat dit Kalifornië is, ook die braai-eienskappe – met plantbestanddele gedupliseer. Chris gebruik die vesel van koring en aartappels as plaasvervanger vir spierweefsel, klapperolie pleks van dierevet, en konjak (’n plant uit Oos- Asië) pleks van gelatien. Die uiteinde, sê hy, is ’n burger wat meer proteïen as dié van vleis bevat, maar met minder vet en geen cholesterol. En soos met sagteware-bywerkings word elke verbeterde burger na ’n voëlspesie genoem (die jongste weergawe is Niltava, oftewel vlieëvanger).
“Dis soos die iPhone,” sê Chris. “Die burger smaak fantasties, maar ons sal ’n volgende een maak wat selfs beter gaan wees omdat dit beter proteïen, beter ru-stowwe bevat.”
Die maatskappy het al bewys hulle kan ook ander soorte vleis soos vark en hoender namaak, maar om te keer dat hulle te veel hooi op hul vurk het, beperk hulle hulle tot beesvleis, spesifiek maalvleis vir die burgers. Een rede hiervoor is dat burgervleis in groot hoeveelhede verbruik word. McDonald’s koop jaarliks minstens ’n halfmiljoen ton net in Amerika. Dit bied die moontlikheid van ’n reusemark vir ’n plaasvervanger.
Nog ’n rede is dat die Impossibleburger vergeleke met talle ander wat in kitskosrestaurante voorgesit word soos ’n heilsame alternatief lyk. Selfs in lande met streng koswette is dikwels ook vullers en bindmiddels in burgers en ook vleis wat meganies herwin is. Daarvoor word die oorskiet aan dierekarkasse met chemiese stowwe behandel om van bakterieë ontslae te raak (in die bedryf bekend as “pienk slym”).
Probleme soos die perdevleisdebakel vier jaar gelede in Brittanje het die burger se reputasie geknou. Dit het begin met die ontdekking dat ’n supermarkburger sowat 30 persent perdevleis bevat.
Sal dit party klante afskrik dat die Impossible- burger danksy bio- ingenieurswese geskep is? Rachel wys daarop dat die geneties gemanipuleerde gis wat gebruik word om hematien te maak nie in die produk beland nie en skadeloos is.
Die maatskappy koester groot ambisies. Kan dit sukses behaal? Met dié dat nog net ’n hand vol restaurante (maar geen supermarkte nie) die burger verkoop, het kritici nog nie kans gehad om hul tande daarin te slaan nie, maar hulle sal dit beslis nog doen.
PATRICK sal waarskynlik nie van restaurante die sterkste teenkanting kry nie; vir hulle is dit ’n goeie vooruitsig om “vleis” aan vegetariërs te verkoop. Maar hy kan wel van die veebedryf teenkanting kry. Die United States Cattlemen’s Association is so beskermend teenoor boere soos die National Rifle Association teenoor vuurwapeneienaars. Dit dek al 50 state, het steunwerwers in Washington en steun plaaslike kompetisies om Amerika se lekkerste biefburger te vind.
Jess Peterson is die uitvoerende
‘My seun is 12 en hy sal sê: “Ek gaan vandag ’n Impossible-burger eet” ’
adjunkvoorsitter. Dié vriendelike maar reguit veeboer met sy stetson van Custer, Montana, het nie tyd vir vleis wat in ’n “petribakkie” gemaak is nie. “Ek sal nie sê dit gaan nooit gebeur nie. Bill Gates het ’n goeie rekord om dinge gedoen te kry. Maar beesvleis is koning wat smaak en tekstuur betref, en ek weet nie hoe mnr. Gates en sy kollegas dit kan naboots nie. Jy kan reeds ’n sojaburger kry. Hulle gaan nie gou die biefburger klop nie.”
Hy verwerp die voordele wat dit glo vir die omgewing sal inhou en sê eintlik is die teenoorgestelde waar.
“Beesboerdery is ongelooflik goed vir die omgewing wanneer dit met behoorlike bestuurspraktyke gedoen word. As jy ’n klomp beeste uit Amerika wegneem en die bestuur wat daarmee gepaardgaan, sal jy die voordele daarvan vir die omgewing erg ondermyn.”
Jess se siening weerspieël waarskynlik dié van miljoene tevrede vleiseters vir wie daar nooit ’n plaasvervanger sal wees vir ’n egte biefstuk nie. In Amerika is trouens ’n groeiende beweging om elke deel van ’n dier se karkas te benut. Dit is gewild gemaak deur sjefs soos Chris Cosentino, Amerika se antwoord op die Britse glanssjef Gordon Ramsay.
Nes Jess weet Chris ’n ding of twee oor vleis. Hy is bekend vir sy varke wat heel gebraai word en biefstukke so groot, dit hang van die bord af. By Cockscomb, sy restaurant in San Francisco, skram klante nie daarvan weg om aan varkore, beeshart en die “slagterskeuse”-oorskiet te smul nie.
Daarom kan jy verwag dat die gourmet-burger van R257 wat hy voorsit aanloklik sal klink vir geharde vleiseters. Die vreemde ding is dat vegetariërs dit ook geniet.
Met my besoek aan sy restaurant is 85 van die 145 bestellings vir middagete vir Impossible Foods se burgers. Op die spyskaart is geen aanduiding dat dit nie van vleis gemaak is nie, en niemand het nog daaroor gekla nie. “Al klagtes wat ek kry, is wanneer ons dit om die een of ander rede nie voorsit nie,” sê Chris.
“Ek het hierdie geharde vleiseter-ouens wat gedurig hier inkom. En hulle sê: ‘Jy’t my die eerste drie keer geflous toe ek dit eet. Ek het regtig gedink dis burgervleis.’
“Die meeste mense wat hierheen kom, weet dit word hier voorgesit. Hulle vra dit. Baie vleiseters wil dit op die proef stel. Ons kry vegetariërs wat gedink het hulle kan nie hier kom eet nie omdat ons nie vegetariese geregte bied nie. Mense kom die eerste keer, eet dit en bring dan vriende hierheen.”
McDonald’s, die wêreld se grootste aankoper van beesvleis, het glo proeërs na Chris se restaurant gestuur. Impossible Foods wil nie gerugte bevestig dat dit met die kitskosreus samesprekings voer nie, maar Patrick wys daarop dat sy burger geen bedreiging vir hulle inhou nie. Niks keer McDonald’s om dit op hul spyskaart te plaas nie, sê hy.
Chris erken al sal hy nooit vleis prysgee nie, is die volgende geslag anders. “My seun is 12 en hy sal sê: ‘Ek gaan vandag ’n Impossible-burger eet. Ek wil nie ’n gewone burger hê nie.’ ”
Jonger klante by sy restaurant bevestig sy siening. Anna Molinski (24) en haar verloofde, Dev Saha (26), onderskeidelik ’n navorser en tuinboukundige van Edison, New Jersey, stel die burger vir die eerste keer op die proef. Hulle bestel dit ligtot halfgaar: Ds dan pienk in die middel, met bloed. Anna is ’n vegetariër; Dev ’n vleiseter. “Ek kon nie die verskil agterkom nie. Ek wou graag, maar eerlikwaar, dit voel en proe presies soos vleis,” sê hy.
Anna is ingenome. “Wat het ek jou gesê?” vra sy en voeg by: “Mense sal eendag terugkyk en wonder hoekom ons diere geëet het terwyl dit onnodig was.”