Huisgenoot

Wellington-brand spook by vriendin

’n Hegte vriendin van Sunita en Jacques van Dyk van Wellington kwel haar oor dinge van hul dood wat nie sin maak nie en oor wat Sunita so dringend met haar wou bespreek

- Deur ALMARI WESSELS

DIT was ’n’ chaotiese werkdag en Anelma le Roux het eers teen die aand tyd gekry om op haar boesemvrie­ndin Sunita van Dyk se boodskappe te reageer. Sunita het Anelma vroeër gesmeek om saam met haar ’n drankie te gaan drink; sy het iets op die hart en wil dit dringend met Sunita deel.

“Hallo, Soens. Jammer, ek was heeldag besig. Ek gaan jou môre bel,” het Anelma op WhatsApp geskryf. Maar vir Sunita het môre nooit aangebreek nie. Net ure later het sy saam met haar man gesterf toe hul huis rondom hulle afbrand.

Die storie vreet aan Anelma, want sy sal altyd wonder wat haar vriendin so dringend met haar wou deel.

Die 31- jarige Sunita, ’ n laerskoolo­nderwysere­s, haar man, die plaasbestu­urder Jacques (30), en hul hond, Skollie, is in die vroeë oggendure van 10 Mei in ’n vlammehel op die plaas Oakdene buite Wellington verswelg (Vrae ná paar doodbrand, 25 Mei).

Die puin van die plaashuis was nog nie eens opgeruim nie toe die skinderton­ge op die Bolandse dorp begin klap. Iets was ernstig verkeerd in die Van Dyks se huwelik, fluister die mense. Die woord “affair” word selfs genoem.

“Iets het Sunita gepla, maar ek weet nie wat nie,” sê die blonde Anelma, aanbieder van VIA se program Sê Net Ja en eienaar van die dekormaats­kappy Goeters.

Anelma se eksman het haar die oggend van die brand om 04:10 gebel om haar te sê die Van Dyks se huis het afgebrand. Sy het vergeefs probeer om Jacques en Sunita op hul selfoon in die hande te kry en eindelik om 04:30 in haar slaapklere in haar motor geklim en van haar huis op Wellington na Oakdene gejaag.

Daar is haar ergste vrese bevestig. Die verkoolde lyke van haar skoolvrien­de – die drie het saam matriek geskryf aan die Hugenote Hoërskool op Wellington – is in die badkamer aangetref. ’n Bad vol water en nat handdoeke het getuig van hoe Jacques vergeefs probeer het om hom en sy vrou teen die vlamme te beskerm.

Reeds voor die egpaar se gesamentli­ke begrafnis uit die historiese NG Moedergeme­ente Wellington het gerugte oor ’n beweerde affair tussen Sunita en Danie le Roux, hoof van die uitnemende Laerskool Paarl Gimnasium, in die media opgeduik.

Anelma is duidelik emosioneel. “Ek is so ontsteld. Almal skryf nou oor die soge- naamde affair, maar daar is so baie dinge rondom die brand self wat nie sin maak nie, en niemand vra die regte vrae nie. As die polisiever­slag bevind dit was ’n ongeluk, kan ek my daarby berus. Al wat ek wil weet, is wat presies met my vriende gebeur het.”

OP DIE stoep van die Laerskool Paarl Gimnasium lê uitgedroog­de blomme voor die ingang. ’ n Geliefde onderwyser­es is na haar ewige rusplek, maar die gerugte van ’n verhouding wat sy glo gehad het met Danie, haar skool se hoof en ’n getroude pa van twee, spook in dié skool se gange. ’n Ontvangsda­me wys ferm daarop dat “mnr. Le Roux nie beskikbaar is nie” en begelei ons paraat na die traliehek voor die skool se ingang.

Eloise, Danie se vrou, gesels wel met ons. “Ons is groot Christene. Ons loop ’n reguit pad,” sê sy voor haar ma, Mariana Symington, se huis in ’ n lowergroen woonbuurt teen Paarlberg se hange. “Ek en die Here weet wat die waarheid is. Die stories is alles leuens.”

Eloise, wat saam met haar ma ’n kliniek vir babas bedryf, beskryf Sunita as ’n baie goeie vriendin. Die sogenaamde

buite-egtelike verhouding tussen haar man en Sunita maak sy as totale onsin af.

“Ek weet nie hoekom dit oor ons pad moes kom nie. Dalk is dit die duiwel se toedoen. Die leuens verwoes mense se lewe.”

Sunita se broer, Manus Marais, sê hy het nie voor haar dood enige stories oor haar en Danie gehoor nie, maar sedertdien het mense hom daaroor ingelig. “Die bewyse is daar,” sê die 28-jarige.

Selfoonboo­dskappe aan ’n vriendin waarin Sunita na die beweerde verhouding verwys, is aan koerante gelek. “Wel baie kwaad vir Danie, want ek besef hy’t my gebruik . . . maar gee hom nie die skuld, was my keuse om gebruik te word. “Jac wil iemand gaan sien. “Ons albei baie gehuil,” lui gedeeltes van ’n WhatsApp-boodskap wat glo in Februarie gestuur is.

SUNITA het nooit die boodskap gelees waarin Anelma belowe het om haar die volgende dag te bel nie. Jacques is daardie aand om 20:27 didie laaste keer op WhatsApp opgemerk en Sunita om 20:43.

Een verklaring wat in omloop is, is dat hulle ’n kaggelvuur gemaak het. Toe hulle later gaan slaap, het van die gloeiende stompies weer vlam gevat en die huis laat afbrand. Maar Anelma is skepties hieroor. “As die huis teen 02:30 die volgende oggend begin brand het omdat hulle gloeiende stompies in die kaggel gelos het, hoe kon dit ure lank nog gesmeul het as hulle om 21:00 gaan slaap het?”

Sy spring op van haar stoel en demonstree­r hoe klein die egpaar se kaggel was. “Jy kon skaars ses stompe hout daar inpas,” voeg sy by.

Sy verstaan ook nie hoekom die egpaar in die badkamer aangetref is nie. Hoe- kom sou hulle daar skuil as hulle deur ’n venster kon uitklim? “Ek wil verstaan hoekom Jacques die tyd en die kop sou hê om ’n bad water te tap, handdoeke nat te maak en op hom en Sunita te sit as daar ’n venster was.” Volgens Anelma was ’n spieëlkas byderhand wat die Van Dyks sou kon skuif om ’n venster te bereik en so uit die huis te ontsnap.

Boonop lyk dit asof die brand nie die slaapkamer besonder erg beskadig het nie. “Sunita se bedkassie en Bybel het nie eens gebrand nie. Wat het hulle in die badkamer gesoek as die brand in hul kamer nie so erg was nie? En hoe het dit gebeur dat Skollie saam met hulle in die badkamer was? Dit is ’n hond se natuurlike instink om van vuur te vlug.”

Oor die stories dat Sunita ’n buite-egtelike verhouding met Danie gehad het, wil Anelma nie veel sê nie; net dat Jacques en Sunita aan hul huwelik gewerk het en voor hul dood gelukkig was. “’n Mens kry nie ouens soos Jacques nie. Sy het hom gekies. Hy was ’n amazing man. Hulle twee het eerlikwaar baie goed by mekaar gepas.”

IN SY sonnige kantoor wil lt.kol. Johan Barkhuizen, stasiebeve­lvoerder van die Wellington-polisie, nie veel oor die skinderpra­atjies sê nie. “Ons ondersoek strafregte­like sake, nie affairs nie,” sê hy oor ons vrae. “Die ondersoek na die omstandigh­ede rondom die Van Dyk-egpaar se dood is nog nie afgehandel nie; daarom gaan die polisie nie kommentaar lewer nie,” verduideli­k die polisiewoo­rdvoerder lt.kol. Andrè Traut.

“Ons versekerin­gsmaatskap­py meen tans alles dui daarop dat die brand in die kaggel ontstaan het en vermoed nie ’n misdaad nie,” sê Neil Ennis, eienaar van die plaas.

Jacques se ouboet, Reghard van Dyk (32), sê daar is talle onbeantwoo­rde vrae oor sy broer se dood, maar die Van Dykfamilie gaan eers kommentaar lewer wanneer die ondersoek voltooi is.

En intussen worstel Anelma. Die vrae ry haar en sy ruik lont. “Ek sukkel elke dag hiermee, want ek kan dit nie net laat gaan terwyl soveel goed nie sin maak nie.”

Sy weet as dit sy was wat in ’n verterende brand omgekom het, sou haar jare lange vriendin Sunita ook gekrap en gekrap het tot sy geweet het hoekom haar jong lewe so wreed moes eindig. “Sunita sou dieselfde vir my gedoen het,” sê sy beslis.

‘Hoe het dit gebeur dat die hond saam met hulle in die badkamer was?’

 ??  ?? HOOFFOTO: Sy wil weet hoe en hoekom haar vriende in ’n vuur verswelg is, sê Anelma le Roux (regs) oor Jacques en Sunita van Dyk. REGS: Ondanks die brandskade was die slaapkamer relatief ongedeerd.
HOOFFOTO: Sy wil weet hoe en hoekom haar vriende in ’n vuur verswelg is, sê Anelma le Roux (regs) oor Jacques en Sunita van Dyk. REGS: Ondanks die brandskade was die slaapkamer relatief ongedeerd.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO: Sunita (links) en Anelma was 22 jaar vriende. ONDER: Sunita en Eloise le Roux het bevriend geraak toe Sunita in die Paarl begin skoolgee. LINKS ONDER: Sunita en Eloise se skoolhoofm­an, Danie (links), het na bewering ’n verhouding gehad.
BO: Sunita (links) en Anelma was 22 jaar vriende. ONDER: Sunita en Eloise le Roux het bevriend geraak toe Sunita in die Paarl begin skoolgee. LINKS ONDER: Sunita en Eloise se skoolhoofm­an, Danie (links), het na bewering ’n verhouding gehad.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa