Hoe’t Basjar al-Assad ’n tiran geword?
Hoe het dit gebeur dat Sirië se diktator van ’n pynlik skaam oogdokter in ’n paranoïese massamoordenaar verander het?
HY WAS ’n sagmoedige man wat beloof het om sy oorlede pa se diktatorskap te hervorm, maar hy’t ’n tiran geword wat so desperaat aan mag vasklou dat hy bereid is om sy eie mense te vergas. En niemand weet waarom hy so ’n gedaantewisseling ondergaan het nie.
DIT het nooit gelyk of hy uitgeknip is om ’ n diktator te wees nie. As ’n jong man was die Siriese president, Basjar al-Assad, so pynlik skaam dat hy ’n mens nie tydens ’n gesprek “in die oë sou kyk nie; hy het sy mond met sy hande toegehou terwyl hy in ’n sagte stem praat”, vertel Ayman Abdel Noer, ’n universiteitsvriend.
Basjar, naasoudste seun van die outoritêre pres. Hafez al-Assad, het gewoon- lik ’n samekoms van meer as ’n hand vol mense vermy en met geboë skouers gestaan om sy lang lyf minder opsigtelik te probeer maak. “Hy was ’n doodgewone burger; jy sou nooit geraai het hy is die president se seun nie,” onthou Ayman.
Terwyl Basjar se windmaker-ouboet, Bassel, vinnig in die leër opgang gemaak het, het Basjar oogheelkunde bestudeer en ’n weermagdokter geword. “Die dokters word nie as die werklike weermag beskou nie,” sê Ayman. “Hulle is nie werklik vegters nie; geen weermag ter wêreld het ’n dokter as generaal-majoor nie.”
Maar Basjar se betreklik stil lewe het drasties verander toe Bassel in 1993 in ’n motorongeluk sterf. Basjar, wat toe in Londen studeer het, is na Sirië teruggeroep. Daar het sy pa, wat sedert 1971 aan die mag vasgeklou het, hom bestempel as die nuwe “hoop” van die Siriese volk.
Sewe jaar later, ná sy pa se dood aan ’n hartaanval, het hy as president oorgeneem. In 2013 het die sagmoedige aspirant-oogdokter met ’n voorliefde vir Phil Collins luidens berigte sowat 1 400 mense vermoor in wat die Verenigde Nasies bestempel het as die “mees beduidende bevestigde gebruik van chemiese wapens teen burgerlikes sedert Saddam Hoesein” in 1988. En op 4 April vanjaar het Basjar weer chemiese wapens teen sy eie mense gebruik.
“Daar is ’n onversoenbare dr. Jekyllmnr. Hyde-spanning in Basjar as mens,” sê Nadim Hoeri, wat Human Rights Watch se teenterreurprogram bestuur en Basjar se bewind 11 jaar lank gemonitor het. “Daar is die skoongesig-ou met wie nuusagentskappe onderhoude voer, die een wat altyd ’n Apple-skootrekenaar op sy lessenaar het en baie kalm praat. Hy is baie ver verwyder van die beeld van ’n Arabiese diktator soos Hoesein of (Moeammar) Ghaddafi met
hul gewere in die lug. Maar wanneer jy na sy bewind kyk, is dit baie soos ’n tipiese, wrede Arabiese diktatorskap: grootskaalse marteling en moord op burgerlikes, willekeurige en opsetlike bombardering.”
Die wêreld het met afgryse gereageer op Basjar se onmenslikheid, maar terwyl sy wreedheid niks nuuts is in daardie streek nie, is die transformasie wat hy ondergaan het meer onbegryplik. Wat kon hierdie sagmoedige man, wat beloof het om sy oorlede pa se diktatorskap te hervorm, laat verander het in ’n tiran wat so desperaat aan die mag vasklou dat hy bereid is om sy eie mense te vergas?
Vra 10 verskillende Siriese kenners en jy sal 10 verskillende antwoorde kry. Niemand weet regtig of Basjar (51) ooit ernstig was oor sy aanvanklike idees vir hervorming nie, maar daar was ten minste aan die begin ’n neiging tot ekonomiese liberalisme. Ons weet wel twee faktore het hierdie ideale keer op keer vertrap: die verskanste outoritarisme van die magte om hom, en die instinkte wat hom gevorm het.
“Hy is ’n kind van die Koue Oorlog aan die kant van die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke; van die ArabiesIsraeliese konflik aan die kant van die Arabiese state en bowenal is hy die kind van sy pa,” sê David Lesch, ’n geskiedenisprofessor aan die Trinity-universiteit in Texas en skrywer van twee boeke oor Basjar se Sirië. “Hierdie invloede het sy wêreldbeskouing gevorm eerder as om ’n rekenaarbleeksiel te wees wat van Westerse musiek hou.”
NÁ 29 jaar van Hafez se bewind – hy was ’n genadelose lugmagbevelvoerder wat ’n staatsgreep uitgevoer het – het Basjar met sy deftige pakke en Britse beleggingsbankier-vrou, Asma, soos ’n vars briesie gelyk. In sy inhuldigingstoespraak in Julie 2000 het hy “demokrasie” en “deursigtig “deursigtigheid” voorgestaan en “opbouende kritiek” gevra. Hy het selfs bedekte kritiek op sy pa gelewer. “Die toespraak het baie hoop geskep,” sê David.
Die inhuldiging is deur ’n tyd van relatiewe oopheid gevolg, bekend as die “Damaskus-lente”. Party opposisiepartye is toegelaat, die pers het ’n bietjie vryer geword en honderde politieke gevangenes is vrygelaat. Liberale intellektuele het oral in die Siriese hoofstad vergader en politieke pamflette en petisies vir hervorming opgestel.
Maar die openheid het nie lank gehou nie. “Skaars ’n paar weke later het mense ’n bewindsverandering geëis omdat die regering so korrup was,” sê Joshua Landis, direkteur van die sentrum vir MiddeOosterse studie aan die Universiteit van Oklahoma en skrywer van die blog Syria Comment. “Die hele ding het gestink; daarom moes enige soort kritiek tot ’n bewindsverandering lei.”
‘Mense het ’n verandering geëis omdat die regering so korrup was’
Binne maande het Basjar gemaan burgerlike groepe wat die regering kritiseer, help bewustelik of onbewustelik “die land se vyande”. Ewe onheilspellend het hy bygevoeg daar sal met hulle “afgereken word”. ’n Paar maande later is 10 opposisieleiers in die tronk gestop.
Ontleders verskil steeds daaroor of Basjar werklik wou gehad het dat die “Damaskus-lente” moes voortduur.
David glo Basjar se gematigde progressiewe ambisies is deur onversoenlikes uit sy pa se regering gefnuik. Baie ander meen die vroeëre retoriek was bloot ’n front om buitelandse beleggings na Sirië se agterlike ekonomie te lok. “Dit was ’n skakelveldtog om die regering te normaliseer,” sê Andrew Tabler van die Washingtonse Instituut vir Nabye-Oostebeleid.
Radwan Ziadeh, ’n menseregteaktivis en genoot by die Arabiese Instituut in Washington, stem saam. “Die Damaskus-lente was net ’n kosmetiese stap om geloofwaardigheid te probeer kry,” sê hy. “En Basjar het dit gekry, want talle internasionale leiers het hom aan die begin lof toegeswaai.”
Radwan was een van die opposisieintellektuele vir wie Basjar in 2001 in sy visier gekry het. Toe die regering begin toeslaan, het hulle sy paspoort teruggetrek, sy skryfwerk gesensureer en hom amper ’n jaar deur die veiligheidsdienste laat agtervolg, vertel hy. Hy het in 2007 na Amerika gevlug.
Selfs al was politieke hervormings net oëverblindery, het dit gelyk of Basjar toegewy is aan ’n liberale ekonomiese beleid. Sy pa het sy mag verskans deur wat Joshua ’n “outoritêre akkoord” noem. In die Sowjet-styl het sy regering basiese lewensmiddele aan die plattelandse werkersklas verskaf in ruil vir hul politieke steun.
Maar tydens sy pa se bewind van amper drie dekades het die land se bevolking meer as verdubbel. En namate die wêreld geglobaliseer het, was dit broodnodig dat die land sy ekonomie oopstel sodat ander sektore as die oliebedryf ook kon ontwikkel. Toe sy seun oorneem, is banke geprivatiseer, die internet in die land bekendgestel en buitelandse belegging vergemaklik.
Maar veranderings om gewone Siriërs se lewe te verbeter was glad nie boaan Basjar se lys nie, sê Ayman, sy universiteitsvriend wat in die vroeë 2000’s as ’n vrywillige regeringsraadgewer gewerk het. Vir Basjar was dit die belangrikste om sy vriende en veral sy familie te verryk. Dit het in 2003 eindelik tot Ayman deurgedring toe die Siriese parlement ’n hervormingswetsontwerp moes goedkeur waaraan hy gewerk het. Basjar se oom het die president oortuig om eers die wetsontwerp te onderteken nadat ses of sewe klousules bygevoeg is wat sy neef se sakeondernemings regstreeks sou bevoordeel.
Dit was die laaste keer dat Ayman met Basjar gepraat het.
“Ek het toe besef ek werk nie vir ’n land nie; ek werk vir ’n familieonderneming,” sê hy. “Ek het gesien al die praatjies oor hervorming was snert en propaganda. Toe besluit ek om die Siriese mense in te lig oor wat aan die gebeur is sodat hulle self op hervorming sou aandring.”
Ayman het opgehou om Basjar raad te gee en het begin met die opposisiewebtuiste All4Syria, wat hy nou uit Los Angeles bestuur.
Basjar se baantjies vir boeties het later geboemerang, sê Joshua, want dit het die “outoritêre akkoord” ondermyn wat sy pa aan die bewind gehou het. “Die klassegaping het skielik groter geword,” verduidelik hy. “Dit het ontsettende wrewel veroorsaak, want die elite het ongelooflik ryk geword.”
Hierdie verdeeldheid sou die weg baan vir Sirië se revolusie in 2011, ’n gebeurtenis wat ook Basjar se gedaantewisseling tot koudbloedige massamoordenaar sou aanhelp. Dit sou hom leer selfs beperkte verandering kan die opposisie aanhits.
Sy aandrang om die internet Sirië toe te bring het dit onmoontlik gemaak om mense so fyn dop te hou soos tydens sy pa se bewind. Die veiligheidsdienste kon dit maklik genoeg doen toe spioeneer behels het om foongesprekke af te luister en pos te onderskep, maar dit was vir hulle onmoontlik om die reusespinnerak van die wêreldwye web te dek. Die internet het ook mense toegang tot inligting gegee en debat moontlik gemaak. Albei faktore het die opstand in 2011 help aanvuur.
HOE meer Basjar van hervorming wegbeweeg en hom in ’n borrel van outoritêre mag onttrek het, hoe meer het dit sy persoonlikheid verander. David het ure lank onderhoude gevoer met die president, ’n pa van drie, terwyl hy in 2004 en 2005 ’n boek oor hom geskryf het. Hy sê hy het toe ’n “pretensielose, nederige ou” leer ken wat met homself kon spot.
Maar David het ’n verandering bemerk toe hy met Basjar praat kort nadat hy in 2007 herverkies is. As enigste kandidaat in wat tegnies ’n referendum oor sy presidentskap was, het Basjar met 97,6 persent van die stemme geseëvier.
‘Ek het toe besef ek werk nie vir ’n land nie . . . al die praatjies oor hervorming was snert’
Toe David hom oor die skynverkiesing pols, was hy geskok oor die antwoord. “Ek het regtig gedink hy sou sê: ‘Jy weet, dis nie regtig ’n verkiesing nie,’ ” sê David. “Maar hy het agteroor gesit en gesê: ‘Die mense is lief vir my; dit wys hulle is regtig lief vir my.’ Ek onthou ek het op daardie oomblik gedink hy het die Kool-Aid van mag gedrink en dat hy lewenslank sou president wees.”
Basjar se paranoia het ook merkbaar vererger. “Hy het ’n psigopaat geword wat glo as jy nie vir my is nie, is jy teen my en moet doodgemaak word,” sê Ayman.
Die president se vrese is versterk deur die Irakse oorlog en pres. George W. Bush van Amerika se retoriek oor “die bevordering van die demokrasie” en “bewindsverandering”.
Basjar se sterk veroordeling van die Anglo-Amerikaanse inval het sy verhouding met Amerika verder laat versuur. Dit was gespanne sedert Bush die “spil van boosheid” in 2002 verbreed het om Sirië, Kuba en Libië in te sluit.
Toe volg ’n nog meer regstreekse aanval: In Desember 2003 het Bush sanksies teen Sirië ingestel oor sy dekade lange beleg van Libanon en sy steun aan terreurgroepe. Basjar het eers geweier om sy troepe uit Libanon te onttrek, maar nadat hy daarvan beskuldig is dat hy die Libanese premier, Rafic Hariri, laat vermoor het, het hy aan die internasionale druk toegegee en onttrek.
Teen die tyd dat die joernalis Reese Erlich in 2006 ’n onderhoud met Basjar gevoer het, het hy ’n onseker diktator aangetref, behep met sy eiewaan dat sy mense hom liefhet en hervormings onnodig is. Die magte wat sou lei tot die burgeroorlog in 2011, het duideliker geword. Tog het Basjar geweier om prominente kwessies aan te pak, soos die moontlikheid van vrye verkiesings of opposisiepartye, of Sirië burgerskap moes toestaan aan sy honderdduisende etniese Koerde en hoe om die verskriklike ongelykheid in die land te hanteer. “Hy het basies al dié goed afgemaak as onbelangrik of sameswerings van die Weste,” sê Reese.
Paranoia het ook tydens daardie onderhoude duidelik geblyk. Basjar het kriewelrig geraak toe hy Reese se radiomikrofoon sien wat effens na ’n skietding lyk. “Die veiligheidsmense het dit ondersoek en het geweet dis nie ’n wapen nie,” sê Reese. “Maar hy het baie senuagtig geword. Ek het die mikrofoon na my eie mond laat wys wanneer ek gepraat het, en wanneer ek dit dan na hom gedraai het, het hy skielik gewip.”
Met die revolusie in 2011 was Basjar se sielkundige en politieke agteruitgang selfs duideliker. Toe betogers die strate invaar – en aanvanklik nie ’n bewindsverandering eis nie, maar wel politieke hervorming – was sy reaksie veelseggend. Basjar “het sy opponente gedemoniseer as Saoediese terroriste wat Islamitiese fascisme na Sirië bring”, sê Joshua. Hy het gesê dis nie Siriërs nie; dis buitelandse magte wat een van die laas- te vestings van pan-Arabiese sekularisme wil ondermyn. “Hy het dit begin beskou as ’n bestaanstryd en dat die mense wat teen hom veg buitelandse terroriste is, en hy het sy eie storie geglo,” sê Joshua. “In die oë van die Weste maak hy sy eie landgenote dood, maar ongelukkig sien hy dit nie so nie.”
As jy jou eers van dié onwaarhede oortuig het, sê David, regverdig dit die gebruik van verskriklike metodes om iets te beveg wat jou bestaan bedreig. Basjar se weermag “het nie die hulpbronne om van dorp tot dorp te gaan en dit van die opposisie terug te vat nie”, sê David; “daarom moet hulle asimmetriese metodes (soos chemiese wapens) gebruik.”
’n Ander beskouing, van afvalliges soos Radwan en Ayman, is dat Basjar nie sy slagting regverdig deur die rebelle as buitestanders te beskou nie. Pleks daarvan beroep hy hom op iets soortgelyks as die “goddelike reg van konings”, waarvan Westerse monarge in die Middeleeue oortuig was. “Soos sy pa het hy altyd geglo hy het die reg om enigiets wat hy wil aan sy eie mense te doen: hulle te vermoor, te martel, te laat verdwyn.” Basjar beskou homself as ’n pa wat sy ongehoorsame seuns straf. “Hy verstaan nie daar is ’n maatskaplike kontrak tussen die Siriërs en verkose amptenare nie.”
Ayman stem saam: “Sy verstand hou hom nie snags wakker en sê vir hom hy moenie hierdie aaklige dinge doen nie, want hy dink hy is die verteenwoordiger van God en dat mense wat teen hom gekant is teen God sondig.”
Wat laat ’n man in ’n monster verander? Dit is nooit ’n maklike vraag nie. By Basjar is die saad van wreedheid moontlik al vroeg geplant en het dit lê en sluimer, reg om te ontkiem wanneer die tyd ryp is. Of dalk het hy bloot geswig voor ’n stelsel wat dekades lank bestaan het met die hoofdoel om die mag te behou. Ná 2011 sou daar beslis geen omdraaikans wees nie.
Soos Nadim sê: Leiers wys hul ware kleure wanneer hul bewind bedreig word. “Ghaddafi het nie as ’n mal man begin nie; hy het so geëindig. Die ware toets kom wanneer jou gesag uitgedaag word, en Basjar se gesag is nooit voor 2011 werklik uitgedaag nie.”
En toe die uitdaging kom, sê Andrew, het hy dit die hoof gebied deur “wreder met sy eie mense te wees as wat Hoesein of Ghaddafi ooit was”.