Huisgenoot

Courtney-moord: Tyd vir selfonders­oek

-

Die wrede moord op klein Courtney Pieters vervul ’n mens met afgryse (As ek net geweet het, 1 Junie). Ons SuidAfrika­anse samelewing is in die waaksaal. Dis asof haat en woede en die drang om te breek en vernietig soos ’n kanker deur als versprei. Kyk na padwoede: Dis mos niks anders as ’n simptoom van ’n groter probleem nie.

En selfs “alledaagse” misdade, soos huisbraak, gaan met uiterse geweld gepaard. Waar kom al hierdie haat en woede jeens ons medemens vandaan?

Miskien is dit tyd vir nog ’n Waarheids-en-versoening­skommissie – dié keer vir ons as land om selfonders­oek in te stel en maniere te soek om ons respek vir die lewe te herontdek. SANTIE, POLOKWANE

Die laaste tyd moes ons weer telkens lees van onskuldige kinders en vroue wat hul lewe verloor weens die een of ander selfsugtig­e booswig wat verkrag en moor.

Wie is ons om ’ n kosbare lewe te neem? Dis so onmenslik om mense wat hulself nie kan verdedig nie leed aan te doen. Ons almal het die reg om vry en gelukkig te wees.

Misdaad is iets wat ons nie kan wegwens nie, maar ons kan ook nie niks daaraan doen nie. Ons as Suid-Afrikaners moet opstaan en die euwel met wortel en tak uitroei.

Ons kinders is die leiers van môre. Kom ons staan saam en verseker hulle van ’n toekoms sonder vrese en pyn.

Verwond jy een mens, verwond jy ons almal. Genoeg is genoeg! Ons moet opstaan teen booswigte, geweld en misdaad. Kyk uit vir mekaar. KEELVOL, BLOEMFONTE­IN

Ek en my gesin kyk rustig saam 7de Laan. Daarna volg die nuus – en die skok van die moord op klein Courtney. Watter soort monster doen sulke dinge aan ’n kind van drie jaar? My eie dogtertjie is net twee jaar oud. Ek is ’n enkelma en lê weens sulke mans elke nag wakker met die vraag: Sal my kind ooit veilig wees?

Ander mammas raak opgewonde oor hul kind se eerste skooldag, maar ek sien glad nie daarna uit nie. My hart word gevul met vrees en angs wanneer ek daaraan dink dat ek my kind eendag skool toe moet stuur.

Vroue en kinders is nêrens meer veilig nie. Wanneer ons nie agter ’n geslote deur sit nie, voel ons bang. My vraag aan Suid-Afrika is: Tree ons streng genoeg teenoor oortreders op?

Ons sal dringend aan ’n plan moet dink om die kinders en vroue in Suid-Afrika te beskerm. RAADOP

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa