Huisgenoot

SLAAPKAMER­STRES OOR WERKLOOSHE­ID

-

Ek sukkel om enigsins my manlikheid in die slaapkamer te bewys. Is daar raad vir iemand wat nie ’n ereksie kan kry nie? Ek is nie oud nie, maar werkloos. AD, SMS

Daar is geen wonderkuur vir impotensie nie. Jy gaan ’n paar faktore moet hanteer om weer seksueel ’n vervulde lewe te kan lei. As jy ’n broodwinne­r is en nie vir jou gesin kan sorg nie, kan dit ’n ernstige uitwerking op jou emosies rondom jou seksualite­it hê. Die stres hiervan lei ook dikwels tot konflik in jou verhouding met jou maat en dit kan opnuut die bose kringloop ontketen.

Leefstylke­uses het ’n groot invloed op jou seksuele welsyn. As jy rook, dwelms gebruik of te veel drink, beïnvloed dit die bloedvloei deur jou are na jou geslagsorg­ane. Verder kan psigiatrie­se siektes soos depressie of fisiologie­se siektes soos diabetes en die medikasie daarvoor tot impotensie bydra.

As jy nie ’n normale ereksie kan kry of behou nie – of dit nou tydens die liefdespel of solospel is – moet jy mediese hulp soek. ’n Onderligge­nde mediese toestand soos ’n hartsiekte kan ook daartoe bydra.

Moenie hierdie uitdaging in stilte verduur en verdra nie. Een doktersbes­oek kan jou lewe verander. Medikasie is op voorskrif beskikbaar om jou prestasie te verbeter, maar om ’n pil te drink voor jy die slaapkamer­deur toetrek, is nie altyd op die lange duur die oplossing nie.

Kry meer oefening en eet gesonder. As jy oorgewig is en verslank, kan dit jou selfbeeld verbeter en jou meer selfvertro­ue tussen die lakens gee. Oefening help ook stres verlig. Jy hoef nie lid van ’n gim te word nie. Gaan stap of draf.

Ek is seker jy doen jou bes om werk te kry, maar miskien is dit tyd om nie net CV’s weg te stuur nie, maar ook by kennisse en vriende te hoor of hulle of iemand in hul werkkring jou nie in ’n nuwe rigting kan stuur nie.

Hou dinge in die slaapkamer vir eers eenvoudig. Konsentree­r op speelseks soos omhelsings, vuurwarm soene en voorspel. Liefdespel hoef nie altyd die einddoel te wees nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa