Verhaal: Wat ’n vrou wil hê
Klara soek nie man vir trou of, die hemel behoed, kinders kry nie, maar sy moet om loopbaanredes iemand na die werkparty neem
KLARA kners op haar tande. Sy moes eerder huis toe gery, in die bed geklim en haar kop toegetrek het teen die dag, die aand en al haar patetiese pogings om op 30 ’n man vir een afspraak te kry.
Die kuierplek in die hartjie van Kaapstad is stampvol. Vasbeslote begin sy tussen die mense deur beur na die hoektafel waar haar vriendinne vir haar wag.
Dis nie asof sy wil trou nie, asseblief nie. As die oudste van ses kinders uit ’n eensalarisgesin moes sy haar sibbes help grootmaak. Sy soek dus beslis nie kinders in enige man se oë soos die liedjie jou wil aanmoedig nie.
Sy wil finansieel onafhanklik wees; daarom werk sy lang ure om eindelik aandele te kan koop in die maatskappy waar sy werk. Oor dividende kan sy droom. Maar mans en babas? Ernstig?
Een afspraak. Dis al. Vir die kantoor se jaar eind geselligheid. Sy het dié partytjie nog altyd op haar eie bygewoon. Maar as sy ernstig opgeneem wil word, het die grootbaas se sekretaresse verduidelik, sal sy pogings moet aanwend wat daarop dui sy gaan nie gou bedank nie. Byvoorbeeld, bring ’n man na die geselligheid sodat jy kan wys jy het ’n stabiele persoonlike lewe.
Asof ’n man noodwendig stabiliteit beteken. Maar oukei, sy kan die speletjie so goed soos enige man speel. Vandaar haar skielike soeke na ’n man. En dit is nie asof sy ’n ellelange lys vereistes het nie. Glad nie. Vandat haar pa sy gesin jare gelede net so gelos en met die een of ander flossie verdwyn het, verwag sy niks van ’n man nie.
Kry vir jou iemand aanlyn, het haar vriendinne haar aangemoedig; almal doen dit. Binne minute het hulle vir haar ’n aanlyn profiel saamgestel en kon sy begin kies. En daar was sowaar ’n paar mans wat, op papier in elk geval, heel aanvaarbaar gelyk het.
Maar die afgelope week se afsprake het haar mening oor mans en kinders net bevestig. Die spulletjie lamsakke saam met wie sy uit was, moet beslis nie aangemoedig word om voort te plant nie.
Sy koes en systap, beweeg stadig vorentoe. Dankie tog. In die een hoek is Ava se poniestert al sigbaar.
Klara se verligting is van korte duur. Van agter stamp iemand teen haar, en die volgende oomblik word sy vasgedruk tussen die rugkante van twee mans, haar gesig styf teenaan een in ’n spierwit hemp.
Grimmig druk sy teen die rug voor haar en trek haar asem in om die man te vra om pad te gee. Maar ’n hemelse reuk wat haar laat dink aan lang, soel nagte trek tot diep in haar longe. Wau.
“Klara!” Die geroep kom van baie ver. Agter haar is ’n geskuifel. Sy is vry om te
beweeg, maar haar voete het ’n wil van hul eie. Vasgevang deur ’n vreemde krag kyk sy op na die man se skouers. Breë, gespierde skouers.
Die lyf in die wit hemp beweeg. Oor sy skouer lag donkerbruin oë af na haar. Alles om haar word stil. Die gedruis van die mense vervaag. Wegkyk is onmoontlik.
“Hallo.” Sy stem is diep en sexy. ’n Spier beweeg in sy wang. So dis wat bedoel word met ’n gebeitelde kakebeen.
’n Blos kruip teen haar nek op. Sal sy nou na ’n man se skouers en kakebene staan en staar soos . . . soos . . . Wie doen so iets?
“Jy staan die paadjie toe,” kry sy uit voor sy wegvlug.
Weke lank soek sy al na ’n man wat haar net min of meer interesseer. Ná vanaand se aaklige afspraak het sy moed opgegee. En hier loop sy letterlik in ’n man vas wat haar knieë lam maak en haar bloed laat bruis. En sy het sweerlik tot haar kinders in sy oë gesien. En dit terwyl sy op pad was om vir haar pelle te sê sy soek nie verder na ’n man nie. “Klara!” Eindelik sien sy die tafel waar Ava, Lientjie en Mara vir haar sit en wag.
“Dit was ’n gesukkel. Hoekom op aarde het julle dié plek gekies?”
Klara gaan sit vinnig, haar binnegoed nog skoon bewerig.
“Kom sit; ek verduidelik,” sê Lientjie. “Ek weet nou hoekom al jou dates misluk.” Sy haal ’n tydskrif uit haar handsak. “Ons het die hele ding verkeerd benader. Die aanlyn ding het beperkings.”
“Hierso,” sê Mara en stop ’n glas vonkelwyn in haar hand. “Jou gunsteling. Ek dink Lientjie het iets beet.”
“Hierdie keer kan jy maar luister,” voeg Ava by.
Klara neem ’ n groot sluk van die vonkelwyn. Die reuk van die man in die wit hemp is nog om haar, in haar. Haar oë soek na hom tussen die mense, maar hy het verdwyn.
“Jy moet ’n man van aangesig tot aangesig ontmoet; dis die enigste manier om vas te stel of julle by mekaar pas.”
Lientjie beduie na die verhogie waar lede van ’n musiekgroep begin regmaak vir die aand se optrede. “Dit is ook belangrik om te kyk hoe hy dans.”
Klara skud haar kop. “Ek soek nie meer ’n man nie. Die maatskappy ken my werk, en as dit nie goed genoeg is nie . . .” Sy haal haar skouers op.
Ava se oë rek. “Maar sê nou die volgende ou wat jy ontmoet, is die regte een?”
Klara maak keel skoon. “Wel, om die waarheid te sê . . .”
Lientjie maak die tydskrif oop. “Wag nou, man, en luister. Daar is navorsing gedoen oor wat vroue in mans wil hê. Ons kies onbewustelik ’n man by wie ons gesonde kinders kan hê; daarom . . .” “Kinders?” vra Klara oorbluf. “Ja, oukei, oukei, ek weet hoe jy oor kinders voel. Onthou, ek het gesê onbewustelik.” Half geïrriteerd gaan Lientjie voort. “Lengte is belangrik. Lang mans is glo gesonder, sien, geniet meer respek en verdien meer as hul korter kollegas. En tweedens, vroue verkies mans wat sterk, gespierd en atleties gebou is. Jy weet, die tipiese smal heupe en . . .” “. . . breë skouers,” prewel Klara. “Presies! En derdens, vroue is aangetrokke tot mans met ’n sterk gesig. Hoe meer testosteroon ’n man gedurende puberteit afskei, hoe swakker is sy imuunstelsel. Wanneer hulle siek is, hou die liggaam testosteroon terug om eers die virus of siekte te beveg. Mans wat ’n sterk, manlike gesig het, het dus as tieners ’n hoë dosis testosteroon gekry, want hulle was gesond en sterk. Dis waarom dit sin maak dat hulle ook ’n goeie pa sal wees. Hulle is dus goeie voortplantingsmateriaal.” “’n Sterk kakebeen?” kry Klara uit. Lientjie haal ’n slag asem. “Net so. En ’n man se reuk is baie belangrik. Dis wat my laat besef het die aanlyn ding gaan nie werk nie. Volgens die artikel kan ’n vrou letterlik ruik of die man se genetiese pakket genoegsaam van hare verskil sodat hulle mooi kinders kan maak. Baie interessante eksperimente is daaroor gedoen. Hulle het vir 49 mans T-hemde gegee . . .”
Lientjie se stem dreun voort, maar Klara het ophou luister. Reuk. Sy weet waarvan haar vriendin praat.
“En dan, natuurlik,” sê Lientjie, “’n man se stem. Ons is aangetrokke tot mans met ’n diep stem . . .”
“. . . om die genepoel te versterk,” sê Mara.
“En laastens . . .” begin Lientjie en sit agteroor toe die musiekgroep se eerste note in die vertrek opklink. “It’s in his
moves, soos die artikel sê. Jy moet kyk hoe hy dans. Dit verklap so baie dinge – hoe oud hy is, of hy gesond is, hoeveel energie hy het . . .”
“. . . in kort, al sy moves.” Ava se oë vonkel. Klara hap in die lug.
“Ek weet,” sê Lientjie en druk haar hand. “Jy dink nie jy sal ooit so ’n man ontmoet nie. En jy wil nie trou nie en jy wil nie kinders hê nie, maar . . .”
Klara skud haar kop en lag verdwaas. “Ek dink ek het so iemand gesien. Breë skouers, diep stem, ’n sterk kakebeen, hy ruik soos niemand anders nie en ek kan nie glo ek sê dit nie, maar ek het wraggies my kinders in sy . . . Dis so stroperig, ek kan dit nie eens hardop sê nie!” Sy lag en druk haar gesig in haar hande.
Mara gryp haar hand. “Kinders. Jy praat oor kinders. Wie is die man?”
“Ek weet nie. Hy was hier. Nou net.” Klara gooi haar hande in die lug. “Maar hy is nou weg, en wat is die kans ek loop hom weer raak?”
Agter haar skuif ’n stoel en die volgende oomblik leun die man in die wit hemp oor haar. Donkerbruin oë vonkel.
“Die kans is 100 present. My naam is Douw. Douw van Wyk. Kom ons dans, Klaradyn, dan wys ek jou my moves.”
DIE kantore maak reeds die dag ná Nuwejaar oop. Die baas roep haar sommer vroegoggend al kantoor toe. “Klara, goeie nuus. Die besluit was eenparig: As jy jou nog aan ons maatskappy wil verbind, wil ons graag vir jou aandele gee. Jy kan ook bykoop. Soos jy weet, is die dividende uitstekend, en jy sal nooit weer oor jou toekoms bekommerd hoef te wees nie.”
Klara glimlag breed. “Baie dankie, ek aanvaar jul aanbod graag. Ek moet egter noem ek het ook ’n ander verbintenis aangegaan.”
Haar baas frons. “Ek weet nie of dit aanvaarbaar sal wees . . .”
Sy steek haar hand uit sodat hy die ring aan haar vinger kan raaksien.
“Dis ’n verbintenis met ’n ander soort dividend, een, het ek besef, waarsonder ek ook nie wil wees nie.”
‘Ek dink ek het so iemand gesien. Breë skouers, diep stem, ’n sterk kakebeen’