Huisgenoot

Progerie keer meisie nie om te droom

Beandri, tans dalk SA se enigste progeriely­er, se hartewens is om 29 te word

- Deur MARIZKA COETZER

SY HOU van alles wat pienk is, mooi klere, Afrikaanse popmusiek en sjokoladem­elkskommel­s – net soos baie ander lewenslust­ige 11-jarige meisies. Maar haar droom onderstree­p hoe uniek sy is: Beandri Booysen wil leef tot sy 29 is. Dit sal van haar een van die oudste mense met progerie maak, vertel sy. Hul lewensverw­agting is so 14 jaar.

Dit is ’n kosbare en groot droom, besef ’n mens wanneer jy na haar kyk. Op 11 het die Pretoriase meisie reeds ’n ou- mensgesig omdat haar uiters seldsame siekte haar agt keer so vinnig soos ander kinders laat verouder. (Lees die kassie.) Haar vel lyk brokkelrig, soos perkament. Sy weeg ’n skrale 12 kg en dra klere vir kinders van drie tot vyf jaar. En nadat haar Pretoriase maatjie Ontlametse Phalatse (18) op 12 April weens dieselfde toestand gesterf het, is Beandri bes moontlik die enigste progeriely­er in Suid-Afrika.

Die foto’s van ’n treurende Beandri op haar ma, Bea (46), se skoot by die roudiens vir Ontlametse het baie hartsnare geroer. Maar hier waar ons op ’n Saterdagog­gend by die Laerskool Pierneef se ker- mis sit en kolwyntjie­s versier, is die gr. 6-leerder opgewek. Haar skoolmaats Jaydene de Vaal (11) en Chanté Spies (12) sê Beandri kon weke lank oor niks anders as die verlies van Ontlametse praat nie. Dan val Beandri hulle met ’n fyn maar besliste stemmetjie in die rede: “Ons praat nie meer daaroor nie.”

Beandri was in gr. 1 toe ons haar laas besoek het. Die regterkant van haar lyf was toe verlam weens beroerte (Liewe Jesus sal my help, 6 September 2012).

Vandag vertel Bea haar kind was daarna vasbeslote om met haar linkerhand te leer skryf. “En toe is sy ewe skielik links,”

lag Bea, wat van die huis af administra­tiewe werk doen. Beandri se pa, Pieter (46), bestuur ’n motorsaak.

Terwyl die drie meisies kolwyntjie­s versier, klets hulle oor alles van seuns tot speelterre­inpolitiek. “Beandri sorteer altyd almal se probleme uit. Sy is soos die skool se vredemaker,” vertel Chanté.

BEANDRI se veggees en lewenslus het haar diep in die hart van haar skoolmaats en onderwyser­s laat inkruip. Ná die eerste beroerte het dokters bevind die are na haar brein is te dun om met stents oop te maak om toekomstig­e aanvalle te verlig. ’n Jaar daarna het sy ’n tweede, ligte beroerte gehad. Die derde beroerte was in 2014, in die klaskamer van haar gr. 3onderwyse­res, Theunette Venter. Volgens Theunette het Beandri daardie dag gesê sy voel nie lekker nie. “Die volgende oomblik het sy doelloos voor haar uitgestaar en speeksel het by haar mond uitgeloop.”

Theunette was goed ingelig oor Beandri se toestand en het haar opgeraap en na die skoolhoof, Frik Greyling, gehardloop. Dié het haar hospitaal toe geneem.

Frik vertel Beandri het ’n baie spesiale plek in die skool. Hy wys haar piepklein blou-en-geel skoolsweet­paktop en sê: “Die meisie wat hierin pas, het ’n groot persoonlik­heid.”

Die ander skoolkinde­rs is al gewoond aan Beandri se voorkoms. Danksy hul aanvaardin­g voel sy gemaklik om sonder ’n pruik skool toe te gaan.

Chanté lek die versiersui­ker van haar vinger af en vertel van haar en Beandri se eerste ontmoeting. Beandri het Chanté eenkant sien staan en haar aan die hand gevat en saam met haar begin speel. “Wanneer ek sien iemand het nie ’n maatjie nie, dan speel ek met hulle,” verduideli­k Beandri. “Sy is baie cool,” sê Jaydene, en Chanté knik.

Tydens pouse vergader Beandri en haar vriendinne onder “hul boom” langs die rugbyveld en gesels oor als en almal by die skool. Oor die seuns ook, natuurlik. Hoe lyk die volmaakte seun? Wel, hy het blou oë en blonde hare, vertel hulle. Meer as dit verklap hulle nie.

Dan verbreek Beandri haar eie reël en praat oor Ontlametse. Die twee progeriely­ers is in Januarie aan mekaar voorgestel deur dr. Engela Honey, wat albei se toestand gediagnose­er het. Engela werk by die genetika-afdeling van die Universite­it van Pretoria. Die meisies het koffie gedrink, lekker gesels en selfoonnom­mers uitgeruil. Hulle het mekaar daarna gereeld gesien.

Maar Ontlametse het ál meer asemhaling­sprobleme ondervind en eindelik het haar longe ingegee. Kort ná haar vriendin se dood het Beandri, haar ouers en Ontlametse se ma, Bellon, vir die Moedersdag- naweek saam Graskop toe gegaan. Die geleent h ei d is maande voor Ontlametse se dood gereël.

Hulle het gereeld op WhatsApp gesels, vertel Beandri. “Ek praat nie daaroor nie omdat dit my laat huil. En dit is nie lekker om te huil nie.”

SY WIL getroud wees teen die tyd dat sy 20 is. En sy wil ’n tweeling hê. “Óf twee dogtertjie­s óf ’ n dogtertjie en ’ n seuntjie,” vertel sy opgewonde. Twee seuns sal te veel werk wees, reken sy.

Beandri is lief vir kinders; daarom wil sy ’n onderwyser­es word. En met haar salaris wil sy haar gunsteling­motor koop: ’n Mini Cooper.

Maar voor dié grootmensd­rome waar word, wil sy haar twee vriendinne na ’n lekker Afrikaanse musiekfees neem. “Ek wil ook graag saam met hulle see toe gaan,” sê sy glimlaggen­d.

By al die opgewekthe­id en drome is duidelik ook ’n bewustheid oor die gevolge van haar siekte. Oor daardie droom van haar om 29 jaar oud te word sê sy: “Daarna wil ek my lewe verby hê.” Bea voeg by: “Sy sê sy wil veras word wanneer sy doodgaan.”

Beandri en haar maats laat staan eers hul werk met die kolwyntjie­s en staan op van die tafel om te gaan speel. “Julle loop stadig, hoor!” sê Beandri terwyl sy hulle by die skooltrap af lei.

 ?? Foto’s: DINO CODEVILLA ?? HOOFFOTO: Beandri Booysen van Pretoria wil 29 jaar oud word. LINKS: Frik Greyling, hoof van die Laerskool Pierneef, keur die sjokolade goed. LINKS BO: Beandri en haar twee beste vriendinne, Jaydene de Vaal (links) en Chanté Spies, spog met hul...
Foto’s: DINO CODEVILLA HOOFFOTO: Beandri Booysen van Pretoria wil 29 jaar oud word. LINKS: Frik Greyling, hoof van die Laerskool Pierneef, keur die sjokolade goed. LINKS BO: Beandri en haar twee beste vriendinne, Jaydene de Vaal (links) en Chanté Spies, spog met hul...
 ??  ?? LINKS: Beandri het eers ’n pruik gedra, maar voel deesdae gemaklik daarsonder. REGS BO: By haar ma, Bea.
LINKS: Beandri het eers ’n pruik gedra, maar voel deesdae gemaklik daarsonder. REGS BO: By haar ma, Bea.
 ??  ?? Die dood van Ontlametse Phalatse (18) vroeër vanjaar was ’n skok vir Beandri, wat weke oor haar progerie-maatjie getreur het.
Die dood van Ontlametse Phalatse (18) vroeër vanjaar was ’n skok vir Beandri, wat weke oor haar progerie-maatjie getreur het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa